Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten
te betaal. Dan nóg ’n fortuin om dit te laat restoureer, die los bladsye te laat herbind in ’n duursame en duur omslag van leer of perkament. Soos daardie ou boek waarin Dionisio Minaggio, hooftuinier van Milaan in 1618, elke voël in sy Il Bestiario Barocco met werklike voëlvere geïllustreer het.
Maar dis nie sodanig die inhoud van die boeke waarin Ignaz belangstel nie, eerder die bladsye self, die gehalte en toestand van die papier. Behalwe soms, dan vang sy oog iets anders: ’n titel of ’n skets of ’n kaart of illustrasie wanneer hy met eindelose geduld en gevoelige vingers in sy katoenhandskoene die bladsye van die rug lostorring vir ’n nuwe binding.
Soos die bundeltjie met argeologiese verslae van 1848. Toe hy die bladsye lostorring, het hy die essay opgemerk deur ene Albert Way met die titel “Some Notes on the Tradition of Flaying Inflicted in Punishment of Sacrilege; the Skin of the Offender Being Affixed to the Church Doors”.
Maar wat hom wérklik aan die dink gesit het oor ’n spesiale omslag vir sy eie ou Rodenbach-boek, was die versoek van ’n klant dat Ignaz ’n bloemlesing bind van essays uit ou uitgawes van Notes & Queries. Die joernale het teruggestrek tot 1865, en in Volume 187, Uitgawe 12, gedateer 2 Desember 1944, het A.H.W. Fynmore se essay, “Books Bound in Human Skin”, sy aandag getrek.
Namate hy sy Rodenbach-boek lees en herlees, het twee gedagtes begin ontkiem, alles te danke aan eers Way, toe Fynmore – en nou Abel se donateurs van velle. Want Rodenbach se storie oor Hugues Viane is byna identies aan Ignaz se eie onsterflike liefde vir sy dooie vrou, daarom wil hy sy ou boek laat herbind as nóg ’n memento aan Jute, nóg ’n herinnering en hulde. Maar vir só ’n omslag benodig hy ’n baie spesiale maagdeperkament sodat hy die boek, met die haarlok bo-op, ook in die klokfles kan verseël.
In die rakke in sy kelder het hy gaan soek vir ’n saggebreide eksotiese perkament. Hy het verskeie oorweeg vir sy Jute-boek: die jugleer uit Rusland, maar net die yuft van die pensvel van ’n jong kariboe. Die marokyn en selfs fyner saffiaan uit Marokko. Die galuchat uit Frankryk van die vel van ’n haai. Die segryn uit Turkye van die vel van ’n gepêrelde pylstertvis. Die seems van ’n jong bergbok van die Tatra in die Balkan. Die suède van ’n gemsbokkalf uit Namibië.
Die groot vraag is: is enige daarvan eksoties genoeg? En die antwoord, ná Abel se byna terloopse onthulling oor sy twee donateurs, is natuurlik: nee.
Hy sal die oorspronklike omslag van die Rodenbach-boek behou, soos hy doen met ál sy klante se ou boeke. Die frontispies, hoe beskadig en beduimeld ook al, is van onskatbare waarde, en ’n nuwe leeromslag is bloot bedoel om die oue teen verdere slytasie en verweer te beskerm.
In die geval van sý boek, in 1892 deur Marpon & Flammarion in Parys gepubliseer, is die frontispies deur die Belgiese kunstenaar Fernand Khnopff, wat ook gesorg het vir 35 binne-illustrasies van bekende Brugse bakens om die verhaal toe te lig. Die stad Brugge is per slot van rekening een van die belangrikste karakters in die boek, naas Hugues Viane en Jane Scott.
Hy draai van die klokfles met die haarlok weg, en bel sy dogter by die Kempinski, net ’n paar strate van die Pietje Pek waar hy Abel op Karmelietbier en mossels en paling wil gaan trakteer.
“Wat’s fout, Pa?”
“Niks is fout nie. Mag ’n pa sy dogter nie bel sonder dat iets fout is nie?”
“Is dit weer die rug? Dis van al die gebuk oor ou boeke dat die rug dit nie kan hou nie.”
“Die rug makeer niks nie, Sofie. Wanneer los jy die hotel? Ek’t jou hier nodig.”
“Pa, ek hou van my werk, ek hou van mense om my.”
“Boeke is vol mense.”
“Ek hou van régte mense, mense met wie ek kan praat en lag.”
Hy dink aan Hugues en sê: “In boeke praat mense.”
“Praat hulle met Pa? Wat sê hulle?”
“Hulle vertel stories . . .”
“Boeke is vol stof, en stof gee my hooikoors. Pa weet mos, ek nies van boeke.”
Hy verswyg boekluise. “Niks ruik so lekker as die leer en velyn van my boeke nie.”
“My neus is bedoel vir goeie wyn.”
“’n Ryk gas by die Kempinski gaan jou nog wegvat, ek sien dit kom.”
“Ryk of arm, ek soek nie ’n man nie. Nog nie.”
“En as hy jou vat, bly ek alleen oor. Luister, Sofie, ek’t jou vertel van my vriend Abel uit Suid-Afrika. Ek wil hom uitvat vir ete, gedink dit sal gaaf wees as jy kan saamkom, hom ook ontmoet, help om hom tuis te laat voel.”
“Dis reg, Pa, ons kan so maak. Wat van Pa se medisyne, drink Pa dit gereeld? Moet ons weer ’n afspraak maak by dokter Smeden?”
“Nee, g’n afspraak nie, ek drink my medisyne. Ek bel jou oor ’n datum vir die ete.”
Hy sit die foon neer. Voel skuldig, want hy drink nie gereeld sy medisyne nie. En hy kan dit agterkom. Hy voel soms snags weer die angstigheid.
Maar hy vermy dokter Smeden, wat hom vir sy senuwees en neerslagtigheid behandel het ná Jute se dood. Hy was al drie keer in die Sint Raphael-inrigting in Antwerpen, en het besluit: nooit weer nie.
11
In sy kantoor by die Rekord lees Jake die artikel “Counter Corruption and Security” op binnelandse sake se webwerf. Daarna bel hy die Johannesburgse streekkantoor en vra om met meneer Heilbron te praat. Stel hom nie voor as joernalis nie, oortree omtrent al die Persombudsman se gedragskodes.
“Meneer Heilbron, ’n vriend het my jou naam gegee. Gesê jy’t hom gehelp, hy’s seker jy kan my ook help. Hy’t gesê as ek ooit in die nood is, bel daardie gawe meneer Heilbron by binnelandse sake.”
“Ja?”
Jake skakel die digitale opnemer aan. “My vriend sê: moenie meneer Heilbron verkeerd opvryf nie, niks onwettigs nie, hy is ’n etiese man, volg die reëls soos die evangelie. Maar jy weet van die toue, staan heeldag in ’n tou en as jy voor by die toonbank kom, sê die klerk: ‘Waar’s jou vingerafdrukke?’ En jy sê: ‘Niemand het iets genoem van vingerafdrukke nie?’ En sy sê: ‘Gaan vat eers jou vingerafdrukke, val weer agter in.’ En jy wag in die tou om jou vingerafdrukke te vat . . .”
“Wat’s jou punt, meneer . . .?”
“Diamond,” sê Jake sy regte van voor hy kan dink. “Al daardie rompslomp en toue en drie maande later kry Piet de Wet sy ID-boek met ’n foto van Bhekuyise Ninela, en Bhekuyise kry sy ID met ’n foto van Gert van der Merwe, en so aan, weet wat ek bedoel? My vriend sê meneer Heilbron kan help . . .”
“Wie’s jou vriend, het hy ’n naam?”
Jake het dit verwag, gedink aan ’n paar name. Hy’t nie Pakistani-vriende nie, weet nie hoe ’n Pakistanse van klink nie, maar onthou Khan, Imran Khan, krieketkaptein van Pakistan. In 1992 se eindstryd teen Engeland die wêreldbeker gewen, Ian Botham uit vir ’n nulletjie, geboul deur Wasim Akram.
“My vriend? O, Wasim Khan, onthou jy hom?” Hy hoop die naam laat ’n klokkie lui, nie té hard nie, net genoeg om meneer Heilbron se geheue te terg.
“Ek help honderde klante, kan nie elkeen onthou nie. Khan?”
“Khan, ja. My vriend Wasim sê: ‘As meneer Heilbron jou help, wys jou dankbaarheid, moenie inhalig wees.’ Hy noem dit ‘largesse’, vir al meneer Heilbron se moeite. Dis wat Wasim sê, nie ek nie. Ek’s in die nood, meneer Heilbron, kan jy my help? Kan ons daaroor gesels, miskien môre oor ’n lekker middagete? Aangesien dit Vrydag is, sal niemand ons mos jaag nie. Hoe lyk jou dagboek, is daar plek oop vir ’n ete, vir ’n stewige largesse as jy my kan help?”
12
Majid kry die boodskap van sy persoonlike assistent in sy mezzaninekantoor. Hy het deur ’n glasmuur ’n panoramiese uitsig op die uitgestrekte binneruim van sy superwinkel. ’n Staal-en-sink-konstruksie