Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten
van ’n dooie?”
“Of Stinger-missiele?”
“Zoem in op die gesigte,” kom die opdrag.
Danny kyk na die greinerige stilfoto op sy skerm, die gesig van die jong man wat hulle soek, maer en bebaard soos almal daar, tulband om die kop, tuniek en wye broek ingetrek om die enkels.
Hy sê: “Almal het baarde, almal het tulbande, almal in dieselfde drag.”
’n Beweging vang sy oog: ’n man wat wegdraai van ’n groep, na die bakkie stap met die kis agterop.
Danny loer na die aftelling: 08:50, H-minus 10 minute.
Die informant het gesê die begrafnis, die skynbegrafnis, is sesuur die middag. Dan sal almal daar wees, ook die teiken, die maer man – Nasir Raza, leier van Tehrik-i-Taliban in die FATA-stamgebiede.
Op die CIA-skerms hou alle oë die man dop wat na die bakkie stap.
“Is dit hy?” vra iemand.
“Nee, die teiken is jonger, nog nie dertig nie,” sê Danny. “Het ’n litteken aan sy wang. Soek vir ’n meswond.”
“Soek vir ’n litteken tussen sy baard?” vra Frank.
Die maere leun by die bakkie se oop ruit in, geselsend met die man agter die stuurwiel. Hy kom orent, gaan hurk in die koelte van ’n boom, asof moeg van die lank staan en wag.
“Hulle wag vir iemand, dalk is die teiken laat?” sê Danny.
“Daar loop nog twee na ’n ander bakkie,” sê Frank.
“Hulle’s besig om uiteen te gaan,” sê ’n stem in Danny se oorfone.
“Frank, daardie ou wat onder die boom hurk, bly op hom, probeer sy gesig kry,” sê Danny.
“Sy gesig is afwaarts, in die skadu.”
“Bly op hom!”
Hulle leun vooroor, nader aan die skerms, vernou die oë, soek na die gelaatstrekke van die man in die skadu. Hy kom orent, beduie iets aan die ander. Van die mans in die groep kyk op na hom toe, die son vang hulle gesigte in profiel.
“Daar’s hy,” sê Danny, “derde van links.”
“Het hy ’n letsel?” vra Frank. “Ek sien niks nie.”
“Hy’t ’n letsel, dis hy.”
“Jy seker?” vra ’n ander stem.
“Vat hulle uit,” kom die opdrag.
Danny, regterhand om die stuurstok, luister na die aftelling. “Drie . . . twee . . . een . . .”
In sy hand ’n ligte trilling van spiere wat span. Sy duim druk die rooi knop aan die hefboom.
Hy lig sy duim en wag, luister na die tweede aftelling deur dieselfde stem: “Drie . . . twee . . . een . . .”
Op die skerms kyk niemand in die begraafplaas in die lug op nie, niemand hoor die dood aankom nie. Dan bars die hel geluidloos los, ’n wolk van vlamme, gevolg deur stof en rook en puin.
In Langley en Khost en Jalalabad is die satellietstemme stil. Almal wag. Danny loer na die tyd: H-minus 1 minuut – een minuut voor nege die oggend in Washington, een minuut voor ses die middag in Kanigoram.
Almal wag in stilte. Die rook trek weg en Frank zoem die neuskamera in, die Predator nou skaars ’n duisend meter bokant die toneel.
Van die bakkies is net puin oor. Hier ’n ratkas, daar ’n enjinblok, wiele nog aan ’n stuk van ’n agteras. Die reste van liggame lê versprei.
“Bring hom terug,” sê ’n stem.
Danny sit agteroor, neem die laaste sluk van sy Red Bull, dink: Ek moet onthou om vir melk en brood te stop op pad huis toe. En moenie vergeet om vir Jill te vra oor Sondag nie. Of hulle by Frank en Liz kan gaan braai om na die Redskins se wedstryd te kyk, teen die Steelers.
8
“Ek’t jou . . . uhm . . . anders voorgestel,” sê Ignaz Bouts in die kar van die stasie af.
“Anders?”
“Jy weet, sonder ’n baard.”
“Kon nie skeer met al die wonde nie,” sê Abel. “Van die ongeluk waaroor ek in die e-pos geskryf het. Dis nou genees, net die letsels nog, dit sal bly, daarmee moet ek saamleef. Sal die baard weer afskeer, nie gewoond aan ’n baard nie.”
“Die ongeluk wat jou gesig geskend het, hulle sê dis jóú skuld? En alles was so mooi gereël vir jou besoek.”
“Ek moes vlug soos ’n boef. Kan nie in ’n tronk gaan sit nie, nie in Suid-Afrika nie. Jy weet nie hoe lyk daardie tronke nie.”
“Ek’t self al ’n onderonsie of twee gehad, ek weet hoe hulle jou kan verpes . . . die polisie.”
Abel wonder oor die onderonsies. In hulle jare lange kubervriendskap het Ignaz so iets nooit laat blyk nie.
Ignaz parkeer en sê: “Die huis wat ek vir jou gekry het, is net hier uit Katelijne. Kort voetgangersteeg, sentraal maar privaat. Niemand sal jou pla nie, soos jy gevra het. Billike huur, gemeubileer, hoop jy hou daarvan.”
Abel knik sy dankbaarheid. Hulle klim uit.
Met sy kleresak in die een hand, die vioolkis in die ander, stap Abel agter Ignaz aan. Hulle kruis Katelijne na die straathoek langs die deli. Draai in Stoofstraat in, ’n smal voetgangersteeg, weerskante aaneengeskakelde geboue, twee en drie verdiepings hoog met antieke trapgewels.
Ignaz vroetel met die sleutel en hulle stap by die voorhuis in. Outydse muurpapier, uitgetrapte plankvloere. Krakend op met die houttrap na ’n enkele klein slaapkamer en badkamer. Voor die vensters hang gordyne van moeselien en die kant waarvoor sy moeder so lief was.
“Wat dink jy?” vra Ignaz.
“Ek sal dit vat,” sê Abel.
“Jy kan jou persoonlike stempel afdruk, jou eie versierings aanbring.”
“Kan mens in die nag die sterre hier sien?”
Abel het nie huisversierings nie. In die huis waarin hy en sy moeder saamgewoon het, het hy in sy kamer net etniese maskers teen die mure gehad.
“Buite die stad is die beste vir sterre,” sê Ignaz.
Die maskers was nie vir versiering nie, maar vir geselskap. Hy kon met die maskers gesels, kon na hulle stories luister, terwyl die klanke van die viool deur die vertrek gespoel en sy gees gevoed het. Dit was goeie geselskap, hy en Paganini en die maskers. Hy kan dit hier ook so inrig, het juis die Idia van Benin tussen sy klere saamgebring. Hy sal dit uitpak en teen ’n muur hang, die Idia-masker wat sy moeder oor haar gesig gedra het.
Hy kan deur die Idia met sy moeder gesels, soos die Punu met hulle wit maskers wanneer hulle om die vuur dans en die gees van ’n stamvader oproep. Hy sal nie dans nie, maar hy sal sy moeder oproep, die enigste bekende in hierdie nuwe, vreemde wêreld.
“Ek wil ’n teleskoop aanskaf. Ken nie die sterre en konstellasies van die noordelike lugruim nie.”
“Jy kan die bus vat na die Beisbroeksterrewag toe,” sê Ignaz. “Ek los jou nou eers. As jy uitgepak het, gaan wandel, verken jou omgewing. En soos jy weet, ek’s in Dijverstraat, skaars tien minute se stap. Wanneer jy gereed is, bring jou velyn. Kan nie wag om dit te sien nie. Moet ons Engels met mekaar praat? My Engels is nie goed nie, maar as jy sukkel om die Vlaams te verstaan . . .”
“Nee, jy praat Vlaams, ek praat Afrikaans, ons verstaan mekaar.”
“Ja, jy moet die taal leer praat as jy hier wil bly, Belgiese identiteit wil kry. Ek sal jou leer.”
Hulle stap saam terug na die hoek met Katelijne.
Ignaz beduie: “Op met Katelijne, oor die kanaal, die groot kerk daar regs, dis die Onze-Lieve-Vrouw,