Die afreis van Abel Lotz. Chris Karsten
een van die velle wat Abel uit die sneespapier ooprol en plaas die velyn op ’n tafel met ’n groot glasblad en druk ’n skakelaar vir gedempte wit lig. Hy leun oor, skuif die loep in posisie en begin die velyn bestudeer. Tydsaam, asof hy ’n ou perkamentrol lees – soos die Dooie See-rolle, dink Abel, want dié is ook op perkament geskryf.
“Uitstekende werk,” sê Ignaz, laag gebuig oor die ligtafel, die punt van sy neus enkele millimeters van die vel af.
Abel gloei ingenome, sy velyn op die ligtafel byna wit en deurskynend van onder verlig. Hy het ook ’n loep gebruik om na onsuiwerhede en verhardings te soek, maar had nie ’n diffuse lig nie.
“Pragtige velyn, so delikaat, byna soos die sneespapier waarin jy dit toegedraai het,” sê Ignaz. “Is dit uteriene kalf?”
Hy draai die vel om, begin opnuut die rugkant bestudeer.
“Nie kalf nie,” sê Abel.
Ignaz lig sy gesig op na Abel oorkant die tafel, sy oog groot agter die lens van die loep. “So wit aan die vleiskant, die effense verkleurings van die grein aan die rugkant. ’n Lamfetus?”
“Jong haas,” sê Abel.
Dis die vel van die haas wat hy in die vergane groentetuin agter sy huis in Doradopark geskiet het, kort voor hy die Lepus van die jong vrou se bors geoes het. Dié het hy natuurlik ook gebring, vir die oordeel van Ignaz se loep.
“Nee!” sê Ignaz, “’n Háás?”
Abel staan tru, sy hande agter sy rug gevou, sy buik uitgestoot, ’n blos van behae op sy rosige wange. Die eens los bakkevelle is verwyder in die onsuksesvolle kosmetiese operasie, sy gesig daarna verder geskend deur die skerp rand van ’n gebreekte engel van kwarts in daardie geveg om lewe en dood.
“Jy’t wonderlike talente, Abel. Jy sou ’n gesogte huidenvetter gewees het.”
Abel, ongewoond aan komplimente, verskuif sy voete. Dis die eerste kompliment wat hy in sy hele lewe ontvang, en hy is al vyftig. Sy moeder het hom darem ’n slag ’n goeie seun genoem, maar dit was die nag toe hy van haar afskeid moes neem. Op die marmerblad in haar kamer kon hy daardie angstige nag haar stem van agter die Idia-masker oor haar gesig hoor.
Verder het sy nooit ’n vleiende woord vir hom gehad nie. Niémand had nie. Hy moes sy hele lewe, van kindsbeen af, saamleef met nimmereindigende hoon en versmading.
Sy lui oog knip twee keer onwillekeurig en hy sê: “Hoop jy’s ook met die ander tevrede. Ek’t moeite gedoen, jou resep gevolg.”
Ignaz knik. “’n Resep wat die toets van die tyd deurstaan het. Spesifiek vir perkamente bedoel, nie vir leer nie. In die veertienhonderds al het Van Gavere en Van der Lende daarmee geëksperimenteer. My familie, en ek, het dit net verfyn.”
“Die Boutstegniek,” sê Abel met ontsag.
“Die Boutstegniek,” sê Ignaz. “Gee die ander.”
Hy bestudeer elkeen tydsaam en deeglik. Die velle van die das, kat, mol en rot. Skuif uiteindelik die loep op, terug oor sy wenkbrou.
“Ek’t nóg twee.”
Abel vou die laaste sneespapiere oop, kyk hoe Ignaz die ligtafel poets voor hy die laaste twee velle sagte velyn met sy wit hande op die verligte glasblad neerlê. Dan afbuk, die loep voor sy oog verstel.
“A, ’n pou! En so perfek bewaar. Kyk die pigmente van gloeiende blougroen aan die kop en bors, die kastaiingoranje van die rug, die bronsgroen oë aan die stertvere. So ’n diep versadiging van al die kleure.”
Abel voel hoe hy warmer gloei. Hoe het hy nie daardie sagte, soepel vel in sy hande gebrei en gekoester nie. En Ignaz is reg: dit ís perfek, veral die simboliek van die pou, opgedra aan Juno, godin van die hemelruim en sterre; die pou, simbool van die konstellasie Pavo.
“Dis vir die omslag van my Kosmiese Reise, Volume I,” sê Abel.
“Hierdie velyn met sy kleure herinner my aan ons eie Vlaamse Primitiewe.”
“Primitief?”
Ignaz moet die teleurstelling in sy stemtoon gehoor het. “Jy ken nie die Vlaamse Primitiewe nie? Natuurlik, jou belangstelling is in die kosmos, nie die kunste nie.”
Hy kom orent. “Primitief soos afgelei van die Latynse woord primus, éérste. As jy in Brugge wil aanbly, Abel, moet jy gou vertroud raak met hulle – Brugge is die geboorteplek van die Vlaamse Primitiewe. En verstaan dit as kompliment, nie kritiek nie. Die Italiaanse meesters van die Florentynse Quattrocento het in die vyftiende eeu Europa se kunswêreld oorheers met hulle temperaverf, hulle skilderye vol harmonie, vol ideale skoonheid. Toe kom Jan van Eyck en gebruik ’n nuwe tegniek in die plek van tempera. Hy eksperimenteer met ’n olieglans, en ’n nuwe styl van realisme, van natuurlike, sensuele voorstellings van mense en hulle omgewing. Ná die formele perfeksie van die antieke kuns word Van Eyck en die Vlaamse skilderskool die nuwe rigtinggewers, die voorlopers vir die kuns van die Renaissance. Die Vlaamse Primitiewe was éérste, was primus.”
“En die pou laat jou aan hulle dink? Die pou is primus?”
“Nie net die pou nie, die hele vel. Dis asof die lig deur die hele vel én deur die kleure van die pou straal. Dis wat die Primitiewe in hulle skilderye bereik het: die byna deursigtige olieglans en die diep, versadigde kleure. Ook die res van hierdie velyn is so delikaat. Amperwit.”
“Cosmic latte,” sê Abel. “Dis hoe die kleur heet. Net ’n tint van room.”
“Ek dog die hemel is blou?”
“Die heelal se deursneekleur word Cosmic latte genoem.”
Ignaz se aandag is terug by die velle. “Selfs hierdie een, die hasie, al is dit net in swart ink gedoen, is asof in die looiproses ingebed in die velyn.”
“Dis vir die omslag van my Kosmiese Reise, Volume II.”
“Maar hierdie twee velynvelle is vir my vreemd. Dié kleur en tekstuur ken ek nie. Die grein is so lig en fyn, sonder die ligtafel en loep skaars merkbaar. Is dit maagdeperkament? En wanneer is die tatoes aangebring? Die huide moet nog lewend gewees het toe hulle getatoeëer is, vir die verfpigmente om só in die dermis te vestig. Die effek en tekstuur van die tatoes sou nie so gelyk het as dit agterna op ’n dooie vel aangebring is nie.”
“Nie?” sê Abel.
“In hierdie velle het natuurlike heling van die naaldprikkels lankal plaasgevind. Die ink en arsering is in die porieë en olies van die vel opgeneem, het in ’n natuurlike proses in die keratien gefikseer terwyl die velle se lewende selle en bloedvloei nog aanwesig was.”
“Die pou en die hasie is van donateurs,” sê Abel. “Hulle was bereid om dit vir my Kosmiese Reise te skenk.”
Ignaz se kop ruk op. “Jy bedoel dis . . . dis ménslike vel? Van régte, lewende mense?”
Abel knik. Hy kan sien hy het Ignaz onkant betrap.
Ignaz se kop sak terug na die ligtafel. “Dis ’n wonderlike donasie. G’n wonder dis so sag nie, so soepel.”
Nou die groot vraag, die allerbelangrikste vraag.
“Uhm . . . sal jy dit as omslag vir ’n boek kan bind, Ignaz? Vir twéé boeke, miskien met goue stempel vir die titel, goue aksent om die rande?”
“Soos die randmotief op die omslag van Hakluyt Travels and Voyages, die foto van die boekomslag wat ek vir jou gestuur het?” Ignaz knik, sy blik op die getatoeëerde velyn. “Ja, ek dink dit sal besonderse omslae wees. Wil jy dit kleur? Miskien ’n bietjie donkerder maak, miskien holstein . . .”
“Nee!” sê Abel. “Die latte bly net so. Geen kontaminasie van die kleur nie. Natuurlike en sensuele realisme – dis mos hoe jy die styl van die Vlaamse Primitiewe beskryf het.”
“Goed, nou die formaat. Oktavo? Nie groter nie. Hierdie velle is net groot genoeg vir die voorblad van ’n oktavo-omslag. Vir die rugkant van die pou-omslag kan ons een