Anderkant die scrap. Dana Snyman
Anderkant die scrap
Dana Snyman
Human & Rousseau
FAMILIEFOTO
Ons sit by die kombuistafel, ek en Pa. Ons deel ’n blikkie Black Label en kyk na daardie foto van ons klomp, laggend voor die ou huis op Daniëlskuil.
Dit is op Kersdag geneem – 1974, dalk ’75.
Links staan oom Apie in ’n groen safaripak. Pa se vinger gly tot op hom. “Foei tog, ou Apie is ook al dood.”
’n Brahmaanbul het oom Apie een middag op sy Bosveldplaas onderstebo gestamp en hom vertrap.
Voor oom Apie sit uncle Ted op sy hurke, met ’n pakkie Gold Dollar in sy hemp se bosak. (Jy kan ook ’n gedeelte van die getatoeëerde anker op uncle Ted se voorarm onder sy mou sien uitsteek.)
“Ja,” sê Pa, “en ou Ted is seker ook nie meer daar nie.”
Wie sal weet? Uncle Ted het op ’n dag in 1977 verdwyn en antie Ann gelos met die skuld by Russells, die twee katte, die flat op Newcastle, en die verdriet.
Pa-hulle het ’n noodberig oor Radio Suid-Afrika laat uitsaai: “Daar word dringend gesoek na meneer Ted Wallace van Claredon Court nommer 3, Newcastle. Hy is laas gesien in ’n geel Toyota Corona Merk II, registrasienommer NN 3598. Ons herhaal ...”
Maar uncle Ted het nooit van hom laat hoor nie. Antie Ann het later die flat opgegee en tydelik by ons in die spaarkamer kom woon met haar Pat Boone-plate en haar skelm bottel cane in die spieëlkas se laai. Later het sy werk by Langeberg-koöperasie in Benoni gekry, en nog later was sy slegs ’n asem in ’n kankerlyf op ’n wit TPA-laken in ’n hospitaal in Boksburg.
Langs uncle Ted hurk oom Jorrie, Ma se oudste broer.
“Wanneer is oom Jorrie nou weer dood?” vra Pa en neem ’n sluk bier.
Ek weet nie wanneer oom Jorrie dood is nie. Ek weet net hy het ’n Ranger-stasiewa gehad en hy was nie baie gewild onder die familie nie want hy was nie ’n Nat nie. Hy was ’n Jannie Smuts-man, ’n Sap wat in die Tweede Wêreldoorlog in die Noorde teen die Duitsers gaan veg het.
The only good Nat is Nat King Cole, het hy altyd gesê.
Oom Jorrie se vrou, tant Johanna, lewe darem nog. “Maar sy het mos Alzheimer’s,” sê Pa. “Sy herken nie eens meer haar kinders nie.”
Voor tant Johanna staan neef Fanie op die foto, oom Apie en sy vrou tant Lena se enigste seun. Hy het ’n blou safaripakkie aan en in sy hare blink iets soos Vitalis.
Pa se vinger talm ’n oomblik op neef Fanie. “Die hartseer wat dié kind darem sy ouers aangedoen het,” sê hy.
Twee jaar gelede was daar stories in die koerante oor neef Fanie en sy manlike lover wat ’n vigs-wesie uit Lesotho aangeneem het.
Pa se vinger skuif verder regs, oor oupa Plaas – hy is ook al dood, een valstandlose nag op Volksrust – tot op ouma Plaas wat heel links staan, met haar een Scholl-sandaal op die geut se afvoerpyp.
“Hoe lank is Ouma nou al dood? Ses jaar? Sewe?”
Langs Ouma staan Ma met ’n pers doek om haar kop. Sy lag die lekkerste van almal. Of só lyk dit as jy mooi na die foto kyk.
Pa se vinger vertoef ’n woordelose oomblik op Ma, gly dan tot op oom Ys sy enigste broer, wat heel regs op die foto staan – oom Ys wat nooit getroud is nie en ’n majoor in die polisie was wat onder meer na doktor Verwoerd se hond Punch omgesien het.
Pa se vinger skuif verder en kom tussen oom Abie en tant Baba in die agterste ry tot rus. “Dié twee is mos uit mekaar uit,” sê hy.
Oom Abie het sy sigarette deur ’n lang swart koker gerook en hy en tant Baba is geskei min of meer ’n jaar nadat hul seun Frits (ook in die agterste ry) in die operasionele gebied in die ou Suidwes dood is toe ’n mortier per ongeluk ontplof het in die basis waarin hy was.
“Wie is dié?” vra Pa en druk sy vinger op ’n meisietjie met ’n wit strik in haar hare wat langs tant Baba staan. “Is dit Pinkie van oom Flip en ant Breggie – die een wat vir die ANC in die verkiesing gestaan het?”
“Nee, Pa, dis nie Pinkie nie, dit is Santie wat nou al hoe lank in Kanada woon.”
Ons sak in ons stoele terug, ek en Pa, en sit stil na die foto en kyk, asof dit ’n spieël is waarin ons gesigte gereflekteer word.
“Seun, weet jy dalk,” vra Pa ná ’n ruk, “weet jy dalk hoekom lag ons almal op dié foto?”
DUSKANT HOPETOWN
Dis moeilik om by iemand wat op daardie droewe vlakte duskant Hopetown gestrand is, verby te ry. Daarom besluit ek dié middag om maar stil te hou by die man, die vrou en die seuntjie wat by ’n ouerige Gypsey-woonwa langs die pad staan.
Ek het ook skaars van die pad af getrek, toe kom druk die man ’n hand met drie vingers by my venster in: “Middag, Meneer. Ek’s Louwtjie, Meneer.”
Hy het so ’n tuisgebreide, moulose truitjie aan, ’n Jet Stores-denim en ’n paar nerfaf wit Jordan-skoene – van daardies wat eens op ’n tyd deur die popgroep The Soft Shoes op TV geadverteer is.
Die seuntjie kom staan met skurwe kniekoppe by hom. Die vrou wag by die karavaan.
“Kan’k help, Louwtjie?” vra ek.
“Ons soek ’n geleentheid, Meneer. Ons is op pad PE toe.”
“Nou waar’s julle kar?” vra ek want dis net die Gypsey wat daar staan.
Louwtjie laat sak sy kop en kyk na daardie Jordans asof dit die bron van al sy probleme is. “Dis nou eintlik ’n ander ding. Meneer, sien, ons het nie ’n kar nie.”
“Nou hoe’t julle tot hier gekom, Louwtjie?”
“’n Ou het ons vanmôre van Warrenton af tot hier gesleep, Meneer.”
“En hoe’t julle op Warrenton gekom?”
Louwtjie wil nog antwoord maar die seuntjie spring hom voor. “’n Ander oom het ons teen ’n snotspoed van Orkney af met sy Camry getrek, Oom.”
“Devontjie, stil jy!” Louwtjie sit sy hand op die kind se kop en kyk na my met ’n breë frons tussen die oë. “Ek weet eintlik nie hoe om dit vir Meneer te sê nie, maar ons hike met hierdie karavaan, Meneer. Ek sien Meneer het ’n tow bar. Kan Meneer ons nie dalk ’n sleep gee nie?”
Dit moet ek van nader beskou, besluit ek, en maak my deur oop.
Louwtjie is een van daardie ouens, besef ek gou, wat al so baie in die lewe gesukkel het dat hy dit nie meer as sukkel herken nie. Vir hom is dit maar hoe dinge moet wees.
Sulke ouens spaar jou gewoonlik ook mos nie die feite nie. In die rukkie wat dit ons neem om van die Condor tot by die Gypsey te stap, vertel hy my sy hard luck-storie: Hoe hy ’n ketelmaker op Secunda was, met ’n huis, ’n Ford Cortina Interceptor, ’n motorboot, ’n swerm wedvlugduiwe en hierdie woonwa.
Toe verloor hy twee vingers in ’n werkongeluk. En toe, later, verloor hy die werk ook. Toe begin hy en ’n vriend ’n tuindienstebesigheid. Maar toe verdwyn die vriend met die geld en die grassnyers. En toe verloor hy die huis. En die kar. En die boot. Die swerm wedvlugduiwe het hy verruil vir twee visstokke.
En toe, bankrot en desperaat, stoot hulle maar een oggend die Gypsey tot langs die pad buite Secunda en wag daar vir genade. En genade het gekom in die vorm van ’n motor met ’n trekstang wat hulle tot anderkant Hammanskraal gesleep het, op pad Thabazimbi toe, waar glo die moontlikheid van werk was.
Dit het hulle drie dae geneem om op Thabazimbi te kom, maar Louwtjie het nie die werk gekry nie. Toe het hulle ’n draai op Rustenburg gaan maak, steeds afhanklik van motors met trekstange.
Op Rustenburg het Louwtjie wel werk gekry – as nag-wag by ’n hoenderplaas. Maar skaars ’n week nadat hy daar begin werk het, breek daar toe Newcastle-siekte onder die hoenders uit en omtrent al die hoenders vrek.
Nou