Anderkant die scrap. Dana Snyman
Oom Kerneels en tant Mary het voor die sinjaalkamer vir ons gewag. Binne het ’n man in ’n blou uniform voor sulke lang hefbome gesit en oor die perron het ’n ander man aangedraf gekom. Hy het ’n bruin oorpak aangehad en in sy hand was ’n hamer waarmee hy teen elke treinwiel geklop het, “pieng-pieng-pieng, pieng-pieng-pieng”. Dit was ’n wheel-tapper. Sy voltydse werk was om teen elke inkomende trein se wiele te klop en aan die geluid te oordeel of daar nie dalk ’n kraak in die wiel is nie.
Oom Kerneels het hom gegroet: “Dag, Driesman, hoe gaan dit?”
Driesman het strammerig orent gekom, sy hand in die waai van sy rug: “Nee wat, my oom, dis weer net werk, werk, werk vandag.”
Voor ons in oom Kerneels se Chev Impala plaas toe is, het ons eers in die stasie se restaurant gaan eet: pie-en-gravy – die lekkerste pie-en-gravy waaraan jy kan dink.
Die pastei was tuisgebak met regte Karoo-vleis in, en dik, souserige sous, en eenkant ’n pers spatseltjie beetslaai. Jy het dit met ’n silwer Sheffield-mes en -vurk geëet, op ’n Royal Dalton-bord, op ’n tafel met ’n wit gestyfde tafeldoek.
Terwyl ons aan die eet was, het ’n man met net een arm voor die venster verby gestap. Hy het ’n bruin uniform aangehad en in sy enigste hand het hy ’n silwer skofboks gedra. “Foei tog,” het tant Mary gesê. “Dis ou Swanepoel. Hy het een nag tussen twee treine in die shunting yard beland.”
Dit was nie die laaste keer dat ek pie-en-gravy op De Aar geëet het nie. Oor die jare heen het ek sporadies trein gery: na oom Kerneels-hulle toe, Kaap toe, of tot op Touwsrivier waar ek ’n meisie gehad het.
In 1982, ek dink dit was in September, was ek ook op De Aar-stasie, in ’n troepetrein op pad na die destydse Suidwes-Afrika – op pad Grens toe. Maar daardie dag het ek nie pie-en-gravy geëet nie. Ek en Charlie Gagiano, wat saam met my in die peloton was, het in die kroeg gaan sit en cane, passion fruit en lemonade drink terwyl ons gewag het vir ’n aansluiting Noorde toe.
Dit was ’n bewolkte, triestige dag. Of miskien onthou ek verkeerd. In September is dit gewoonlik warm op De Aar.
Bewolkte, triestige dae in die verlede word nooit sonskyndae wanneer jy daaraan terugdink nie.
Ná die tweede of derde cane, passion fruit en lemonade, het ek by ’n tiekieboks op die perron huis toe gaan bel. Pa en Ma was nie tuis nie. Ek het maklik tien minute met Sheila, die vrou wat in ons huis gewerk het, oor die telefoon gepraat en toe ek terugkom in die kroeg, sit Charlie Gagiano daar met ’n boek, Inleiding tot die abnormale sielkunde – dit, as ek reg onthou, was die boek se titel. Charlie het dit by sy suster wat B.A. op Tukkies geswot het, geleen en in sy balsak saamgebring.
“Hier’s die antwoord, buddy,” het hy gesê en die boek voor ons op die toonbank oopgeblaai. “Kies vir jou ’n siekte.”
“Wat bedoel jy?” Ek het na die diagramme in die boek gekyk.
“Dis easy, buddy: Hier beskryf hulle die crazy siektes. Kom’s kies elkeen een, dan swot ons dit op en maak of ons dit het. Maybe stuur hulle ons huis toe.”
Ek het besluit ek wil ’n katatoniese skisofreen wees. Dit het vir my die maklikste geklink om na te maak, want katatoniese skisofrene praat glo nie, hulle sit net en staar stil voor hulle uit. Charlie wou aan ’n manies-paranoïese versteuring ly. Of so iets. Hy het manies begin grynslag, nes Jack Nicholson in One Flew over the Cuckoo’s Nest, en goed gesê soos: “Sien jy daai ou daar in die hoek, buddy. Ek dink hy tape ons gesprekke.”
Dit is dwaas om te wil hê dinge moet dieselfde bly. Die lewe is verandering.
Miskien word De Aar-stasie – en al die ander vernielde stasies in die land – eendag opgebou. Ek hoop so.
Maar ’n groot gedeelte van ’n mens is jou herinneringe, en ek wil myself ken. Daarom het ek nou die dag meer as ’n uur daar op De Aar-stasie rondgestap en probeer dink hoe dit eens op ’n tyd was – ook hoe ek eens op ’n tyd was.
Ek het slegs met een mens gepraat terwyl ek daar rondgestap het – nie dat daar baie was om mee te praat nie. Hy was ’n sinjaalmeester en het op een van die afgeskilferde hortjiesbanke op die perron gesit.
“Shunt hier nog treine saans?” het ek hom gevra.
“Net soms.”
Die klank van treine wat shunt – dis ’n klank wat ek van altyd af ken. Jy is klein, jy lê warm in jou bed en slaap. Dan, diep in die nag, word jy wakker van goed wat in die verte teen mekaar stamp en enjins wat brul en fluite wat blaas. Eers skrik jy daar in jou bed, maar dan weet jy jy is veilig. Dis net die treine op die stasie wat shunt.
Mislei mens se herinneringe jou nie soms nie? wonder ek dikwels. Was daardie pie-en-gravy wat in die restaurant op perron 4 bedien is, regtig so lekker? Of is dit nou vir my belangrik dat dit lekker moes gewees het?
Het ek nou die dag nie eintlik maar na my verlore onskuld daar op De Aar se stasie gaan soek nie?
Ek en Charlie Gagiano het daardie middag in 1982 tot laat in die stasiekroeg gesit en cane, passion fruit en lemonade drink. Een van die ander ouens in ons peloton het later kom sê: “Korporaal Venter gaan ons almal opfok as julle nie nou kom nie.”
Ons het ons nie aan hom gesteur nie. Charlie het sy Jack Nicholson-grynslag geflits en ek het katatonies voor my uit gestaar.
Later hét korporaal Venter gekom, al 5 voet 3 duim van hom, gillend: “Ek tel drie, dan is julle op die dubbel, troepe! Ek sal julle borskaste ooppluk en op julle longe kak, lees julle my! Ek sê: Lees! Julle! My! Wil julle hê Swapo moet jul susters kom verkrag?”
Ek het voor my bly uitstaar.
“Is dit ’n kamera wat jy daar het, korporaal?” het Charlie gevra en na korporaal Venter se sakke beduie.
“’n Kamera? Is jy fokken mal, Gagiano? Ons is nie op pad fokken Margate toe nie.”
“Dis ’n kamera daai, korporaal. Kom uit met die waarheid.”
Toe klap korporaal Venter Charlie bo van die stoel af en uit sy manies-paranoïese versteuring uit.
Ons is kort daarna terug trein toe, ek en Charlie. Op die dubbel.
Twee dae later het ons met die trein op Grootfontein in die noorde van Suidwes aangekom, van waar ons agterop Samil 20-vragmotors na die operasionele gebied geneem is. Die tweede dag daar bo het ek die eerste keer ’n lyk gesien.
Ek was toe agtien jaar oud.
SOLITARY MAN
Nou die aand bel Floors met die nuus: Borrie Borman is dood – Borrie met die holte in die kop groot genoeg om ’n dubbele tot rum in te skink.
Borrie het die laaste paar jaar in ’n rondawel op Katima Mulilo in die Caprivi gewoon. Hy het gesukkel om in die gewone lewe in Suid-Afrika aan te pas nadat hy een middag in 1985 tydens ’n skermutseling met Kubaanse en Swapomagte in Angola in die kop gewond is.
Ek en Borrie het net een keer saam gekuier, in ’89, in die Hippo Lodge op Katima se kroeg. Die oorlog was vir die meeste van ons toe al verby. Ek was op pad na Barotseland in Wes-Zambië en het die middag in Katima stilgehou om vir Borrie te gaan sê Floors stuur groete. Die twee was saam in die army, in dieselfde peloton.
Borrie het daardie middag Red Heart Rum en Coke gedrink, met ’n skyfie suurlemoen in. Hy het die skyfie self met ’n steak-mes gesny, uit ’n suurlemoen wat in ’n piering op die toonbank gelê het. Neil Diamond se plaat Hot August Night het op die hi-fi gespeel.
Ek ken omtrent die hele Hot August Night uit my kop. Dit is ’n opname van ’n live show wat Neil op 24 Augustus 1973 in die Greek Theatre in Los Angeles gegee het. Pieta Nel het dit in 1975 die eerste keer vir my op hul plaas naby Crecy op die Springbokvlakte gespeel. Ons was toe in standerd 5 en in daardie stadium was dit die opruiendste musiek wat ek al gehoor het. Op kant 1 sing Neil in dieselfde liedjie (“Done too soon”) van Jesus en Patrice Lumumba.
Die liedjie