Anderkant die scrap. Dana Snyman
organise.”
Ek loer deur een van die Gypsey se ruite. Binne is allerhande goed: koffers, ’n kartondoos waarby ’n teddiebeer uitsteek, ’n bottel Limousine-brandewyn, ’n Soda Stream, ’n Blou Bul-vlag, en daardie twee geruilde visstokke, nogal met Penn 49-katrolle aan.
Die vrou het intussen ’n mandjie te voorskyn gebring, twee breipenne uitgehaal en begin brei aan iets wat na ’n geel trui lyk.
“O, sorrie, dis Meisie, my vrou.”
Sy knik skamerig en brei voort.
Ons sleep die Gypsey nader aan die Condor, haak dit. Toe klim almal in: Louwtjie voor langs my, Meisie en die kind agter.
Ek verwonder my altyd aan die gelatenheid waarmee mense soos Louwtjie hulp aanvaar. Ons is skaars tien kilometer weg, toe sit hy lekker diep weggesak in die sitplek met daardie twee Jordans hier voor op die paneelbord, en hy “Meneer kan nie dalk ’n bietjie aanstoot nie? ’n Man wil nie in die donker langs die pad staan nie.”
Ek het aangebied om hulle te tou tot op Britstown waar die pad wegdraai na Port Elizabeth, via De Aar, Middelburg en Cradock. Maar dis moeilik om “aan te stoot”, die Gypsey is heeltemal uit balans.
Duskant Strydenburg leun Louwtjie vorentoe en help homself aan ’n pepermentjie uit die dosie in die holte by die rathefboom; en anderkant Strydenburg, toe haal hy ’n kasset uit sy broeksak en gee dit vir my aan. “Gee Meneer om om dié een vir ons in te sit? ’n Man is lus om weer ’n slag goeie musiek te hoor.”
Ek laat glip die kasset in die masjien, en toe sing Bles: “Ruiter van die windjie wil ek bly, vryer as die voëltjies rondom my ...” terwyl Devontjie agtertoe oor die sitplekke klouter, en skreeu: “Milo! Milo! Oom, kan Milo nie ook maar hier voor by ons kom ry nie?”
Toe vang my oog die truspieëltjie: In die Gypsey, op die slaapbank voor die venster, staan ’n groot bruin hond na ons in die Condor en kyk. Milo.
Dis nou een ding van die gesuis van ’n motor se bande op die teer: Dit maak jou bewus van allerhande nuwe moontlikhede. Toe ons by daardie windpomp en dammetjie reg teen die pad naby Gert-se-pan verby ry, neurie Louwtjie vrolik saam met Bles. In sy kop het hy klaar daardie werk by Goodyear.
“Ek dink ek gaan dié keer ’n Opel koop – ’n Astra, sixteen valve,” sê hy en help homself aan nog ’n peperment. “’n Man moet wiele hê, ’n man sonder wiele is niks. Ek meen, as ’n man sy vrou movies toe wil vat, of hy wil kerk toe gaan, of hy en sy laaitie wil gaan rugby kyk, wil ’n man nie stap nie.”
Die gesuis van bande op teer laat jou ook allerhande beloftes aan jouself maak.
“En dié keer koop ek vir my een van daardie Home Theatre Systems,” voeg Louwtjie by. “Ek’s klaar met rondloop saans. ’n Man moet by sy family wees.”
Agter hom op die sitplek sit Meisie steeds stil en brei aan daardie geel trui.
Naby Witput kan ek die kind se geneul oor Milo nie langer verduur nie. Ek trap rem, swaai van die pad af en hou stil. Louwtjie gaan maak die Gypsey se deur oop.
Milo is duidelik tuis op die langpad: Hy gaan lê op die Condor se agtersitplek en byna dadelik lig hy ons met ’n reukie van sy teenwoordigheid in.
“Die stomme dier,” sê Louwtjie en sak weer in die sitplek terug. “Dis nie maklik vir hom nie. Maar ek het net gesê not te hel los ek my hond op Secunda.”
Duskant Britstown, by die afdraaipad na De Aar, hou ek vir oulaas met hulle stil. Die son hang laag oor die vlakte.
Louwtjie gaan maak Milo weer in die Gypsey toe. Ons haak die Gypsey af. Iewers in die veld roep ’n korhaan. Ek groet Louwtjie en die kind met die hand. Meisie knik net stil in my rigting en laat sak haar oë. Toe ry ek verder.
Eers toe ek by die petrolpompe op Victoria-Wes uitklim, sien ek die geel trui op die agtersitplek lê. Klaar gebrei en netjies opgevou wag dit daar vir my.
UNCLE CHARLIE’S
Vir ons was dit nie sommer net vir in die Valiant klim en Pretoria of Johannesburg toe ry nie. Pa het omtrent ’n maand voor die tyd al oom Ys, sy broer wat in Germiston woon, gebel om te hoor of hy ons op daai dag en daai tyd by Uncle Charlie’s sal kom ontmoet met sy Anglia.
Byna almal het in daardie jare – die 1960’s en 70’s – geweet van Uncle Charlie’s, ’n padkafee en garage net duskant Johannesburg. Die hoofpaaie uit die suide, ooste en weste het daar bymekaar gekom en vir ons rou plattelanders was dit min of meer die einde van die bekende wêreld. Nooit sou ons op ons eie verder as Uncle Charlie’s ry nie. Iemand moes ons altyd daarvandaan die grysland in begelei.
In ons koppe was Johannesburg en Pretoria een plek: Die Stad – die groot onbekende. Amper soos daardie gebiede wat op ou wêreldkaarte met drake aangedui is.
Pa-hulle het soms ook van Johannesburg en Pretoria as “die Rand” gepraat, asof dit ’n plek is waar jy kan aftuimel as jy te ver gaan. “Jy weet, daar word elke dag driehonderd en vyftig nuwe huise op die Rand gebou,” sou hulle sê. Of: “Op die Rand is daar elke drie minute ’n motorongeluk en elke ses en ’n half minute ’n moord.”
Ons het allerhande nare dinge oor die Rand geglo: Dat dit ’n goddelose plek is waar vroue minirokke dra, Jehovagetuies jou op straat probeer werf, ’n ducktail maklik ’n skerpgemaakte fietsspeek tussen jou ribbe laat inglip, en Griekse kafee-eienaars dwelmmiddels in hulle lekkergoed spuit, wat maak dat jy altyd teruggaan om weer by hulle te koop.
Ons het ook geglo die hele Rand is uitgehol oor al die gegoudmynery daar.
Maar ondanks al die gevare het ons minstens een keer ’n jaar soontoe gegaan, gewoonlik in April wanneer die Randse Paasskou aan die gang was.
Die aand voor ons ry, het Ouma omtrent die hele dorp gebel en afskeid geneem. “Nee, nee, ou suster, ons sal nooit alleen in daai Gomorra ingaan nie,” hoor ek haar nog oor die telefoon sê. “Ys kry ons by Uncle Charlie’s.”
Een jaar het Pa die dag voor ons sou vertrek ’n skaapveloortreksel gekoop en dit oor die Valiant se stuurwiel getrek. Dit was, vermoed ek, om te verhinder dat sy hande op die stuurwiel gly wanneer hy op sy senuwees raak en begin sweet.
Ons het donkervroegoggend gery. Wanneer dit die vroegmôre-oordenking oor Radio Suid-Afrika was, het Pa langs die pad stilgehou. Oupa het sy tiervelhoed afgehaal en die Valiant se enjin het kwaai onder die predikant se gebed gekraak.
Anderkant die Westonaria-afdraai, naby die Danie Theron-monument, het jy die Rand se geboue al in die verte sien lê. Dit is ook waar Oupa, wat altyd voor langs Pa in die Valiant gesit het, Psalms begin fluit het, eers sag, dan al harder, hoe nader ons aan Uncle Charlie’s gekom het.
Pa en Oupa was veldmense. Jy kon hulle in die middel van die nag in die Kalahari aflaai, sonder kos, en kalm sou hulle in die veld oorleef en hul weg terugvind na waar hulp is. Maar hulle het hierdie byna irrasionele vrees gehad om in die stad, omring deur derduisende mense en met genoeg kos en water, te verdwaal. En omdat Pa en Oupa daarvoor bang was, het ek en Ma en Ouma dit ook gevrees. Was dit bloot vrees vir die onbekende? Of was dit iets anders?
Nie dat ons besoeke aan die Rand slegs met vrees gepaardgegaan het nie. Oom Ys moes Ma en Ouma altyd na die Oriental Plaza in Fordsburg neem sodat hulle rokmateriaal kan gaan koop, en ons het nie sommer teruggegaan huis toe voordat ons by Wemmerspan se waterorrel was nie.
Ons het uit die droë Noord-Kaap gekom, onthou. Ons het nie eens genoeg water gehad om ’n grasperk te hê nie, en die vorige jaar het Oupa een en dertig skape weens die droogte verloor.
Ek sien nog hoe staan Oupa met sy hand in verwondering voor sy mond en staar na daardie spuitende waterpluime, rooies en geles en bloues, terwyl ’n swakkerige weergawe van Orff se Carmina Burana iewers uit ’n luidspreker rammel.
Van die waterorrel af is ons gewoonlik na Tiny Town toe: ’n miniatuurweergawe van Johannesburg se middestad. Ek vermoed Tiny Town is gebou om dorpsjapies soos ons gemakliker te laat voel in die stad. Pa en Oupa