Anderkant die scrap. Dana Snyman
vreemd: Aan die een kant het ons hierdie vrees vir die stad gehad, aan die ander kant hierdie verwondering vir die stad se dinge. Of is “vrees” ’n te sterk woord? Was dit meer iets soos wantroue? Of agterdog? Agterdog teenoor iets wat ons op ’n manier aangetrek het?
Die skouterrein was toe nog naby die Johannesburgse middestad, in Braamfontein. Op pad soontoe, terwyl Oupa ’n benoude Psalm fluit, het Ma my seker honderd keer daaraan herinner dat ek dadelik na die Total-toring toe moet gaan as ek dalk wegraak.
Die Total-toring by die skou was soos ’n reddingsboei op die oop see vir ons plattelanders. In ’n hokkie onder die toring het ’n man in ’n blou-en-rooi Total-hemp gesit. As jy verlore of tydelik van jou geliefdes geskei was, het jy soontoe gegaan – of iemand het jou soontoe geneem – en dan het die man ’n aankondiging oor die luidsprekerstelsel gemaak: “Hier’s die mooiste ou seuntjie by my. Hy sê vir my sy naam is Wynandjie. Wynandjie is in trane. Hy soek sy pappie en mammie. Kan Wynandjie se pappie en mammie hom asseblief kom haal? Hy wag vir julle hier by die Total-toring.” Of: “Tant Pop Visagie van Vrede is hier by my. Sy sê sy is verdwaal. Kan haar dogter Makkie haar asseblief hier by die Total-toring kom haal?”
Ek onthou allerhande dinge van die skou: By die Suid-Afrikaanse Lugdiens se stalletjie het ons lapelwapentjies present gekry: sulke goue springbokkies met vlerke. Ek en Pa en Oupa het ons s’n aan ons pakke se lapelle vasgesteek en só kerk toe gegaan.
In een van die uitstalsale, by ’n stalletjie van die Departement van Gesondheid, het twee mense se longe in versterkwater in twee glastenkies gehang: Een paar longe was ’n nieroker s’n, die ander dié van ’n roker.
“Sien, dis waarom jy nie moet rook nie,” het oom Ys gesê, aan sy Gold Dollar gesuig, en beduie na die paar longe wat soos gebraaide marshmallows gelyk het.
Die Paasskou was die naaste wat ons aan ’n besoek aan die buiteland sou kom. Dit was immers ’n internasionale skou, al het Suid-Afrika toe maar min vriende gehad. Portugal, Taiwan, Paraguay, Lesotho en die Transkei, elk van dié lande het ’n uitstalsaal gehad, tradisioneel gedekoreer.
Ons het deur daardie sale gestap asof dit die lande self was. Die Taiwannese het ’n Taiwannese restaurant gehad, en een middag het ons daar geëet. Ek onthou nie wat ons bestel het nie, maar dit was maar ’n gesukkel om dit met daardie stokkies in ons monde te kry.
Ná die ete het Ouma een van die Taiwannese kelnerinne nader geroep en in Afrikaans vir haar gevra: “Kan jy nie asseblief vir die oubaas ’n nat lappie bring om sy hande mee af te vee nie?”
Die vrou het nie mooi verstaan nie.
“Ek sê: Bring asseblief vir die oubaas ’n nat lappie.”
Die Taiwannese vrou het steeds nie verstaan nie, toe tjip Oupa ook sommer in: “Kan jy nie hoor wat die miesies sê nie? Bring. Vir. My. ’n. Nat. Lappie.”
Ek dink dit was die jaar toe oom Ys te lank in die biertuin gekuier het. Of nee, oom Ys het te lank in die biertuin gekuier die jaar toe Pa vir Ma die Lowrey-orrel gekoop het.
Huisorrels was toe die in-ding. Almal wou soos John Massey speel. Hy het altyd uitvoerings by die Lowrey-stalletjie op die skou gegee en liedjies soos “Groen koringlande” en “Spanish Eyes” op die orrel gespeel.
Ons het die nuwe orrel sommer boks en al op die Valiant se dakrak gelaai, maar toe ons oom Ys soek, was hy weg. Pa het laat die man in die Total-toring afkondig, maar op die ou end het hulle hom in die biertuin opgespoor, lekker aan die kuier.
“Vat ons net terug Uncle Charlie’s toe.” Oupa het sy vuis kwaai in oom Ys se rigting geskud.
“Nou maar fyn pikkewyn,” het oom Ys gesê toe hy ’n rukkie later agter die Anglia se stuurwiel inwip. “Follow the leader.” En toe laat waai oom Ys, met tollende bande.
Ek sal nie vertel hoe Pa daardie dag terug Uncle Charlie’s toe deur die verkeer by oom Ys probeer bly het nie. Dit sal ons net na groter bekvelders laat klink.
Oupa het die Psalms later nie meer gefluit nie. Hy het dit hardop gesing: ‘Al dreig die vyand met die dood, al storm sy leërbendes aan ...” Oor ’n rooi verkeerslig, al agter oom Ys aan. “Al word ons hier omgeef, ons sal nie beef of rugwaarts gaan ...”
Terwyl Pa se kneukels wit aan daardie skaapveloortreksel om die Valiant se stuurwiel klou en die Lowrey heen en weer op die dakrak skuif en Ma aanhoudend sê: “My orrel, my orrel.”
Daardie dag het die Rand werklik vir my gevoel soos ’n rand waaroor ons enige oomblik kon tuimel.
Onlangs, op pad terug van Potchefstroom af Pretoria toe, het ek op die ingewing van die oomblik weer by Uncle Charlie’s afgedraai. Dit was ook nie so maklik nie. Ek moes ’n hele ruk soek voor ek Uncle Charlie’s gekry het.
Die wêreld daar is nou die ene snelweë en verleggings en nuwe geboue. Die ou padkafee bestaan nie meer nie. Daar is wel nog ’n garage, maar niks daar is meer dieselfde nie.
Ek het teruggery snelweg toe, sonder om stil te hou, terug in die drie bane verkeer, terug na Pretoria waar ek nou al meer as twintig jaar woon.
16 DESEMBER
Elke jaar op 16 Desember het ons die Geloftefees-byeenkoms op die Vaalbos-feesterrein buite ons dorp bygewoon.
’n Week voor die tyd het oom Swart, voorsitter van die Geloftefees-komitee, en ’n span werkers die terrein gereed gemaak: die kweek en bossies uitgeskoffel, die wieletjie bo-op die vlagpaal geolie, en die rooibye uit hulle neste onder die saal se dak gerook.
Eintlik was dit nie regtig ’n saal nie. Dit was ’n tamaaie afdak en ’n sementvloer met ’n kombuis aan die agterkant. Almal het hulle eie stoele saamgebring – almal behalwe oom Jassie wat altyd eenkant gestaan het, skuins gestut teen ’n sitkierie.
Die mans het pakklere gedra en die vroue hoede, en elke jaar is die baie bejaarde tant Breggie Stols, uitgevat in ’n Voortrekkerrok en -kappie, deur ’n verpleegster nader gelei en op ’n riempiestoel heel voor in die saal geïnstalleer. Tant Breggie was as kind in die konsentrasiekamp by Norvalspont en elke jaar moes sy vertel hoe die Engelse soldate glasstukke in die mieliemeel gegooi het.
Oom Jassie het die Steinway-klavier uit die kerksaal soontoe gebring met sy Chev-bakkie en voor die tyd het ons afgerolde programme ontvang waarop die verloop van die verrigtinge uitgestippel is: Verwelkoming. Vlaghysing. Diens. Rede.
Daardie jare was daar nie toesprake op Geloftefees nie: ’n Rede is gelewer.
Op dorpe soos ons s’n was dit dikwels ’n adjunkminister wat die rede kom lewer het. Hy het in ’n swart Mercedes daar aangekom, vergesel van ’n borselkoplyfwag. Mevrou Dokter Nel het ’n angelier aan sy lapel vasgesteek terwyl oom Jassie goed sê soos: “As ons als moet weet wat daai man weet, slaap ons nie snags nie.” Of: “Hy’s ’n baie plat op die aarde mens, die minister.”
Oom Swart het min of meer almal behalwe die tortelduiwe in die bome verwelkom, dan het oom Badie nader marsjeer in sy Voortrekkeruniform, sy Hou Koers-gordel styf om sy maag gespan, met twee verkenners, ’n seun en ’n meisie, agterna. “Liek-ja. Liek-ja. Halt. Stuit. Een, twee.” Dan het oom Badie beveel: “Maak gereed om die vlag te hys!” Dan het die seun en meisie nader aan die vlagpaal getree en die tou losgemaak, waarna oom Badie gebulder het: “Hys die vlag! Ontplooi die vlag!”
Daarna het Willempie, wat jare later ’n verhouding met ’n bekende manlike Kaapse modeontwerper sou hê, sy trompet gelig. Dan het ons die vlaglied gesing: “Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra: ‘Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika’?”
Daarna het Oudominee orent gekom en gepreek van die wonderwerk wat daardie dag by Bloedrivier gebeur het:
43 000 Zoeloes deur voorlaaiers gedood; een Trekker lig deur ’n assegaai gewond. (Die getalle kan verkeerd wees, maar dis hoe ek dit onthou.)
Daarna was dit ’n bie-sondere voorreg vir oom Swart om die minister aan die woord te stel. Dit het ’n goeie adjunkminister meer as ’n uur geneem