Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
in haar grys oë, weg na die groot, wonderlike stad, die wonderlike universiteit waar ’n nuwe lewe vir haar gewag het. Hoe jonk en naïef was ek tog nie, dink Debbie, ’n glimlaggie van herinnering om haar mond. Hoe dankbaar was die ou groentjie nie vir die leiding en beskerming van Trudie Hiemstra nie. Hoewel Trudie ’n vierdejaarstudent was, was sy die gaafste vriendin wat ’n meisie ooit kon kry.
Vol verwagting het sy gegaan en haar verwagting is nie beskaam nie. Sy was nie net diep gelukkig in haar nuwe omgewing nie, maar Paul het ook gekom. Paul. Waar is hy vanmiddag? Sy verlang elke uur van die lang somerdae na Paul en in die warm nagte droom sy van hom. As sy die dag ’n brief van Paul kry, is die wêreld sommer mooi: Die klipkoppies is vriendelik, die sonsondergang wonderlik, die aandskemering vreedsaam. As sy nie van Paul hoor nie, wag sy maar net vir môre om te kom. Sy hoor dikwels van hom en sy briewe is vol liefde en verlange. Soos sy droom hy ook van die dag wanneer hulle weer bymekaar kan wees.
Doortjie verskyn op die stoep met ’n swaar gelaaide skinkbord wat sy op die rottangtafeltjie neersit. Doortjie is byna sewentien jaar oud, sterk en mooi gebou met bloesende rooi wange. Sy het ’n swart krulkop en helderbruin oë. Sy is in baie opsigte haar pa se dogter, koppig en gedetermineerd, en haar sterk bruin hande staan vir niks verkeerd nie. Sy is vrolik en opgeruimd – daar aard sy nie na haar stil, meer teruggetrokke pa nie – en rusteloos van gees, altyd aan die gang. Debbie is die dromer. Sy is nooit so gelukkig as wanneer sy haar in ’n boek kan verdiep en die wêreld om haar kan vergeet nie.
Glimlaggend sit Doortjie die skinkbord neer.
“Het Ouma al sulke mooi beskuit gesien?” vra sy spoggerig.
Ouma neem haar koffie by Doortjie en betrag die boerbeskuit, geurig, wit en fyn.
“Dankie, Dora. Nee, my kind. Waarlik, ek het lank laas sulke pragtige beskuit gesien. Jy sal ’n knap huisvrou uitmaak. Die dogters van vandag dink mos dis ’n skande om in die kombuis te werk. En die dag as hulle trou, moet die huishulp maar bak en kook in die kombuis en netnou is die man moeg vir die hele spulletjie en as die vrou weer sien, sit sy terug by haar pa in die huis.”
Debbie en Dora lag albei. Debbie neem ’n snytjie van die mosbeskuit wat Dora vir haar gesmeer het omdat sy weet hoe lief haar suster vir die vars beskuit is.
“Dis regtig mooi beskuit, Doortjie. Jou man sal jou nooit weer terugbring huis toe nie. Ek wens ek was so knap soos jy. Waar is Moeder?”
Net toe verskyn Miem Malan op die stoepie. Sy gaan sit op die bankie langs Deborah en begin haar koffie drink. Sy lyk moeg en warm en Debbie voel skielik skuldig. As sy so bekwaam en ywerig soos Doortjie was, kon hulle twee saam gebak het en kon haar ma hier op die koel stoepie saam met Ouma gesit en naaldwerk doen het. Sy sal meer belang moet stel in die huishouding. As sy eendag Paul se vrou is, moet alles volmaak wees. Paul se vrou, dink sy dromerig. Soos so dikwels in die afgelope weke dink sy weer aan daardie aaklige, vernederende oomblikke in die landdroshof. Sy en Paul verwys nooit daarna nie, maar tog kan sy dit nie vergeet nie. Haar maag voel nou nog hol en naar as sy net daaraan dink.
Sy sien haar ma kyk na haar, ’n begrypende glimlaggie in die grys oë, en sy bloos.
“Droom Debbie al weer?” terg sy haar dogter so ’n bietjie.
“Sy dink natuurlik al weer aan die brief wat Vader netnou huis toe sal bring,” terg Doortjie verder. “Die dokter skryf darem so gereeld en dis sulke lekker dik briewe.”
“Ag, jy’s laf, Doortjie,” sê Debbie vinnig. “Hy is nie ’n dokter nie en sal nie een wees voordat baie jare verby is nie.”
“Mag wees. Maar hy skryf darem lekker dik briewe.”
“Ag loop, Doortjie.” Debbie se wange is vuurrooi.
“Ek sou graag die jong kêrel wil sien,” sê Ouma en sy neem nog ’n stukkie beskuit. “Waar is Popsie? Is sy weer saam met Pieter dorp toe?”
“Ja, Moeder, sy het so gepleit om saam te gaan.”
“In dié hitte,” sê Ouma half ontevrede. “Die kind is alreeds pikswart verbrand.”
“Sy het ’n groot kappie op, Moeder. Sy geniet dit tog so om met die perdekar te ry en sy is lekker geselskap vir Pieter. Is die koffiekan op die stoof, Doortjie? Jou pa-hulle sal seker netnou hier wees en dan sal hy baie dors wees.” Pieter werk darem so hard, dink sy. Dis van vroeg in die môre tot laat in die aand, dag ná dag, dieselfde storie. Maar hy hou daarvan. Hy is lief vir diere, lief vir die vrugbare stukkie grond wat aan hom behoort, lief vir die ruimte en vryheid en die weidsheid van die wêreld om hom. En nou gaan dit darem al ’n bietjie beter met hulle en kan Pieter dit bekostig om ’n ekstra werker aan te hou, wat hom oneindig help. Maar in die begin . . . Sy onthou nog daardie eerste dae toe hy saans byna te moeg was om uit te trek, hoe hy alles in die stryd gewerp het om die vertroue wat sy in hom gestel het te regverdig. Hy is verkeerd, het baie mense gesê, om sy vaste werk te verruil vir die wisselvallige, onseker bestaan van ’n kleinboer sonder enige kapitaal om op terug te val as die dae van teëspoed kom. Hoe sal hy wat ’n kantoorman is ooit ’n bestaan kan maak op grond waar ’n ander man uitgeboer het? Maar Pieter het kans gesien om die verwaarloosde plasie weer op te bou en ’n goeie bestaan daaruit te maak. Sy het nie in sy pad gestaan nie. En Pieter het gewerk. Hy het soos ’n besetene gewerk.
Geleidelik het daar orde op die plaas gekom, het sy boederytjie vorm aangeneem en vrugte begin afwerp. Baie stadig en op ’n baie klein skaal. Maar Pieter was tevrede en wat oor was, het hy maar weer in die plaas gesteek. Die grootste seën was dat hulle volop kos gehad het, melk en vrugte en groente en vleis. Dis net die huis waarmee sy nie vrede kan maak nie. Sy wil so graag ’n bietjie aan die huis laat verbreek en verander. Dis so ’n donker, ongerieflike huis. Sterk en stewig gebou, maar van estetiese oorwegings was daar by die bou van die huis geen sprake nie. Dis of die oorspronklike eienaar doelbewus die son uit die huis wou hou. Daar is nie eens ’n enkele venster aan die noordekant nie. In die winter is daar nie ’n enkele warm hoekie waar ’n mens kan sit nie en in die somer is die huis benoud. Ag, eendag sal hulle dit nog kan bekostig om te verbeter. Nou moet hulle maar baie spaarsamig te werk gaan. Pieter wil nog ’n paar Frieskoeie aankoop en die dogters word groot en hulle behoeftes moet selfs ten spyte van die plaas eerste kom. Sy sal alles vir haar dogters opoffer sodat hulle die beste kan kry. Drie dogters is ’n groot verantwoordelikheid vir enige ma. Haar ouma het altyd gesê jong dogters is soos groen koring op die land. So voel sy ook. In die jong groen gesaaides, in die tenger halmpies wat buig voor die wind, lê groot en ryk belofte. Maar daar is ook altyd onrus en vrees in die boer se hart – vir skade, vir storms wat kan kom en vernietig voordat die koring vol in die aar, geel en ryp, geoes kan word. Sy is geseën en gelukkig in haar dogters. Debbie, Doortjie en Popsie. Drie dogters van dieselfde ouers en tog so verskillend soos die nag van die dag.
Sy voel moeg en warm. Sy is al van vanoggend vroeg af op die been en sy is ook nie meer so jonk soos wat sy was nie. As ’n vrou haar leeftyd bereik het, behoort sy dit darem al so ’n bietjie makliker te hê. Sy het nie meer die krag wat sy as jong vrou gehad het nie. Sy kan dit voel as sy die dag so hard gewerk het. En Pieter sal netnou hier wees en sy wil nie graag hê hy moet haar so aantref nie.
“Waar gaan Moeder nou heen?” vra Debbie toe sy opstaan. “Sit nog ’n bietjie. Moeder het so hard gewerk.”
“Ek wil gou gaan bad voor jou pa kom, my kind. En daar is nog werkies om te doen.”
“Ons sal alles doen,” sê Debbie vinnig. “Eiers uithaal en kyk dat die hoenders kos kry en aandete maak. Gaan bad Mammie maar.”
Toe Pieter Malan en sy jongste dogter ’n rukkie later daar aankom, het hulle haar op die stoep aangetref. Sy het gebad en ’n koel, ligte, bont rok aangehad. Haar hande het vir ’n wonder rustig in haar skoot gelê. Pieter Malan het sy vrou gesoen, bly om weer terug by haar te wees. Hy het op die kant van die stoep gaan sit en sy hoed agteroor gestoot. Hy was ’n lang, taamlike skraal man, bruingebrand, met donker hare en oë en ’n onvermoeide gees. Daar was skynbaar geen einde aan hom nie.
Popsie Malan, die jongste van die drie dogters, het haar arms om haar ma se nek gegooi en haar gesoen. Toe probeer sy met ongeduldige vingers haar kappie se