Wag 'n bietjie. Tryna du Toit

Wag 'n bietjie - Tryna du Toit


Скачать книгу

      

      Titelblad

      WAG ’N BIETJIE

      HUMAN & ROUSSEAU

      Wag ’n bietjie

      WAG ’N BIETJIE

      Hoofstuk 1

      Hoofstuk 1

      Op die aantreklike jong gesig van die agtienjarige rooikopseun is ongeloof, verbystering en diepe teleurstelling leesbaar. Hy sit vooroor gebuig in ’n grasstoel, sy elmboë op sy knieë, sy hande slap, algehele verslaentheid in sy hele houding terwyl hy sy suster aanstaar.

      “Maar … maar dis tog onmoontlik, Magriet! Dis Middeleeus! Dit kan mos nie in ons tyd gebeur nie! Die ou vrou moes stapelgek gewees het!”

      “Sjuut, Kosie. Sy is nou dood.”

      Sag berispend kom die woorde en daar lê ’n strengheid oor die fyn gelaatstrekke, maar diepe teleurstelling skuil ook in Magrieta Niemeyer se oë.

      “Ek gee nie om nie. Verwag jy dat ek nou skielik met liefde en respek van tant Katrien moet praat?” vra hy vererg.

      “Nee, Kosie, ek verwag dit nie. Maar dit help nou niks om so daaroor te praat nie. Per slot van rekening is dit tant Katrien se geld en goed; sy kon daarmee maak wat sy wou.”

      “Ek weet. En as sy ons nie ’n pennie nagelaat het nie, sou ek tevrede gewees het. Ons het al die jare wat dit goed gegaan het nooit aan haar gedink nie; sy het geen verpligting teenoor ons gehad nie. Dis die manier waarop sy dit doen wat my so dwars in die krop steek. Waarom die huigelagtigheid, waarom vir ’n mens hoop gee om dit weer weg te neem, jou treiter met die gedagte aan wat kon gewees het?”

      Magrieta se lippe begin meteens bewe, sy is self so bitter teleurgesteld. Maar ’n jarelange gewoonte om die blink kant bo te probeer hou ten spyte van terugslae en teleurstellings seëvier weer. Sy pers haar lippe ferm opmekaar en maak haar skouers waterpas terwyl sy na Kosie kyk wat so mismoedig daar op die stoel sit. En met ’n bitter glimlaggie sê sy: “A … die trotse Niemeyers moet vir oulaas nog verneder word! Ons het vir haar geld gaan vra en sy sal dit vir ons gee … op haar eie voorwaardes. Voorwaardes wat so onaanneemlik is dat sy beslis geweet het ons sou nie daarvan droom om dit te aanvaar nie.”

      Kosie is stil, te teleurgesteld om verder te praat, en Magriet vervolg stadig: “Ek het in die laaste tyd so baie gewonder wat die oorsaak was van die rusie tussen haar en Vader. Eienaardig dat hy nooit met ons daaroor gepraat het nie. Dit moes ’n ernstige rusie gewees het om lewenslange verwydering en verbittering tussen broer en suster te bring.”

      “Met so ’n verkeerde mens sal enigeen rusie maak,” sê Kosie kortaf. “Sy was ook nie Vader se suster nie, sy was net sy halfsuster.”

      “Ja, maar tog al familie wat hy gehad het. En sy het tog nie so verkeerd gelyk die paar maal wat ek haar gesien het nie.”

      “Maar die hele tyd was sy agteraf besig om wraaksugtig planne vir ons vernedering te smee.”

      “Dis onmoontlik!” sê Magriet, opnuut verslae by die gedagte aan die ongelooflike bepalings van tant Katrien se testament.

      “Is daar geen uitweg nie? Is … is so ’n testament geldig?”

      “Meneer Barnard verseker my dat die testament sonder enige twyfel geldig is. Dit is baie eenvoudig en onverbiddelik ondubbelsinnig. Laat vaar die Niemeyer-trots en -hardkoppigheid en alles is julle s’n! Weier en sien maar self hoe julle klaarkom!”

      “Verduidelik die bepalings nog ’n maal. Ek kan dit eenvoudig nie glo of begryp nie.”

      “Jy het dit baie goed begryp. Tant Katrien wil aan my ’n man van haar keuse besorg, en sy wil ’n Karoo-boertjie wat haar glo die een of ander tyd ’n guns bewys het, aan ’n vrou help … ook van haar keuse. En sy reken dat sy met die mag van haar aardse besittings haar wil kan afdwing en Pappie finaal ná sy en haar dood deur sy kinders kan verneder. Sy bemaak haar besittings voorwaardelik aan jou en my en hierdie Barry Retief. Jy erf die plaas Eendekuil daar êrens in die Karoo, behalwe vir ’n deel wat die Retief-man erf, omtrent agthonderd morg grond wat aan sy plaas grens en wat hy glo vir ’n dam wil hê, en ek, ek erf seweduisend pond in kontant. Maar nie een van ons erf iets nie tensy ek met dié Barry Retief trou binne sewe dae nadat ons saam verwittig is van die bepalings van haar testament en ons daarna ses maande saamgewoon het as man en vrou. Met ’n man trou wat ek nog nooit gesien het nie! En ses maande lank moet ek daar op sy armsalige, agteraf ou Karoo-plaas gaan sit voordat die veelbegeerde erfporsie joune en myne is! En hy is jou voog met volle seggenskap oor al jou doen en late tot jy een en twintig jaar oud is!”

      Kosie bly stil en die bitterheid in Magrieta se stem vind weerklank in sy hart.

      “Maar dis natuurlik ons verdiende loon. Watter reg het ons gehad om na haar toe te gaan nadat Vader haar sy hele lewe geïgnoreer het? Ons vergeet nou maar daarvan; eendag as ons oud is, sal ons seker lekker daaroor lag.”

      “Ek hoop so,” brom Kosie. “Op die oomblik voel ek glad nie na lag nie.” Ná ’n paar oomblikke stilte vervolg hy: “En sê nou maar net, argumentsonthalwe, jy sou gewillig wees om die … die huwelik te aanvaar. Wie sê dié Barry Retief sal gewillig wees?”

      Magrieta haal haar skouers op. “So ver het ek nog nie eens gedink nie. Uit die testament blyk dit dat die Retiefs al baie jare probeer om daardie stuk grond te kry, hulle het dit nodig vir ’n dam. Maar of hy nou so graag die dam wil hê, kan ek nie sê nie en dit traak my ook nie.”

      Kosie fluit ’n lang fluit van verbasing, toe skud hy sy kop en met ’n poging tot opgeruimdheid sê hy: “Stapelgek, dis al. G’n wonder dat sy en Pappie nie kon klaarkom nie. Ons Niemeyers is darem stewig in ons boonste verdiepings.” Hy staan op en vervolg: “Nou ja, dis tot daarnatoe. Ek het vir Vossie belowe om saam met hom te gaan swem. Ek sal nou maar gaan.”

      Magrieta weet hy wil wegkom, hy wil alleen wees totdat hy sy bittere teleurstelling ’n bietjie te bowe gekom het. Stilswyend laat sy hom gaan. Arme Kosie, vir hom was die tyding ’n vreeslike teleurstelling. Hy het so gehoop dat hulle die bietjie geld van tant Katrien sou kry wat hom in staat sou stel om die landboukursus aan die universiteit te volg. Hulle wou nie ’n plaas en seweduisend pond gehad het nie, ’n paar honderd pond was vir hulle meer as voldoende. Hulle wou dit ook nie verniet gehad het nie, hulle wou dit leen en terugbetaal sodra hulle kon. Met dié doel voor oë het Magriet en Kosie ná eindelose beraadslaging besluit om die Niemeyer-trots te laat vaar en tant Katrien te nader met die versoek om ’n paar honderd pond aan hulle te leen.

      Magrieta en Kosie het nooit die bittere vyandskap wat daar tussen hul pa en sy halfsuster was, begryp nie. Haar pa was nooit geneë om daaroor uit te wei nie en met die verloop van jare het hulle minder en minder daaraan gedink. Dit was genoeg dat die vyandskap daar was, en gedurende haar pa se leeftyd het hulle nooit met sy halfsuster in aanraking gekom nie. Eers lank ná sy dood het hulle heel toevallig gehoor dat die ou dame in Johannesburg woonagtig was.

      Hulle pa, Jan Niemeyer, was ’n bekende advokaat in Pretoria, welgesteld soos hulle gemeen het, en sy skielike dood aan longontsteking vier jaar gelede terwyl hy in Kenia was om grootwild te jag het hulle as ’n verskriklike slag getref. Hy was in die fleur van sy lewe, maar die dood het hom onvoorbereid getref. Hy was tot oor sy ore betrokke in spekulasies op die aandelemark wat juis toe ’n ongekende laagtepunt bereik het, en Magrieta en Kosie se mooi wêreld van veiligheid, sorgeloosheid en geluk het soos ’n kaartehuis om hulle in duie gestort. Hulle het alleen agtergebly, want hul ma het reeds agt jaar vantevore gesterf en daar was geen ooms of tantes of familie behalwe dié tant Katrien wat hulle nog nooit gesien het nie. Alleen moes die twee die nuwe lewe aanpak. Kosie was maar veertien jaar oud, Magrieta negentien, en al die verantwoordelikheid het noodwendig op haar skouers gerus. Haar universiteitsloopbaan is onderbreek, sy moes onmiddellik ’n werk kry en vir haar en Kosie ’n nuwe tuiste skep. Selfs op die mooi groot huis in Brooklyn waar hulle soveel jare gewoon het, het daar ’n swaar verband gerus, en toe die boedel finaal afgesluit is, het daar vir haar en Kosie feitlik niks oorgebly nie.

      Toe het die opdraande jare begin, en alleenlik deur die grootste inspanning, deur taaie volharding, deur vaarwel te sê aan al die geriewe wat sy vroeër as vanselfsprekend beskou het, kon hulle kop bo water hou.


Скачать книгу