Wag 'n bietjie. Tryna du Toit

Wag 'n bietjie - Tryna du Toit


Скачать книгу
universiteit toe gaan. Ons het dit tog al so haarfyn uitgewerk …”

      Mismoedig raak sy stem weg en in stilte lê hulle na die helder sterrehemel en kyk. Elkeen is met sy eie probleme besig en dit is eers ná ’n lang tyd dat Kosie die stilte verbreek.

      “Magriet?”

      “H’m?”

      “Ek dink nou net weer hoe snaaks dit is dat ek altyd so graag wou geboer het … en hier erf ons amper ’n plaas.”

      Sy stem is dik en onseker en Magriet sien die sterre meteens deur ’n tranenewel; haar keel is seer van die trane wat sy ten alle koste moet onderdruk.

      “’n Droë, afskuwelike ou Karoo-plaas. Stof en sand en hitte en kaal vlaktes en rantjies en ’n lelike rooibaksteenhuisie!” sê sy spottend. “Wat wil jy daarmee maak?”

      Ná ’n rukkie vervolg hy weer, byna asof sy nie gepraat het nie: “Ons voorouers was almal boere, dis net Pappie wat nooit lus daarvoor gehad het nie.”

      “Hy was al verstandige man onder die klomp.”

      “Nee, ou sus, dit laat ek my nie vertel nie. Hoe kan iemand met verstand ooit ’n lewe soos Vader s’n verkies – gejaag, gespanne, onseker – bo die rustige, kommervrye lewe van ’n boer …?”

      “Kommervry? Met droogtes en siektes en vee wat doodgaan by die duisende, gesaaides wat die hael platslaan of wat die sprinkane opvreet? Jy wou nooit luister as Vader my vertel nie, maar dis juis die onsekerheid van ’n boer se lewe wat Vader so daarteen verbitter het en hom ’n ander beroep laat kies het.”

      “En wat het hy daarvoor gekry?” vra Kosie sonder bitterheid.

      Magrieta antwoord nie en sag, dromerig, sê Kosie weer: “Eendekuil.” Soos hy dit sê, is die woord ’n liefkosing. “Eendekuil. Dit kan darem nie so droog wees as daar ’n kuiltjie is vir eende om in rond te swem nie.”

      “In hemelsnaam, Kosie!” roep Magrieta uit tussen trane en lag. “Weet jy dan nog nie dat hoe mooier die naam, des te treuriger die ou plasie nie! Waterval, Bergvliet, Towerwater … en dit sal die droogste en treurigste ou plasies in die hele Karoo wees. Bloemhof, Leliefontein … en kaal bruin klippers en ’n paar turksvye en dubbeltjiedorings sal al wees wat jy daar sien, as dit miskien gereën het. Eendekuil! ’n Lugspieëling wat ’n ou boer een skreeuwarm dag gesien het toe hy sy stukkende windpomp heelgemaak het en toe as troos as naam vir sy arme, moedelose nageslag nagelaat het.”

      Daar is stilte, toe kom dit huiwerig: “Magriet?”

      “Ja?”

      “Is … is dit nou alles finaal gereël of … of moet jy weer die prokureur sien?”

      Arme Kosie, dink Magriet. Wat het tant Katrien gedoen! Hoop in sy hart laat ontvlam wat maar nie maklik gedoof wil word nie. Haar stem is sag en simpatiek toe sy antwoord: “Barry Retief kom môreoggend in die stad aan en die prokureur het my gevra om drieuur môremiddag weer na sy kantoor toe te kom. Ek het geen lus daarvoor nie, ek het hom tog duidelik laat verstaan dat ek glad nie belang stel in tant Katrien se voorwaardes nie, en ek het ook nie geld om heeldag vir spek en boontjies Johannesburg toe te ry nie. Maar om aan tant Katrien se laaste versoek te voldoen het ek belowe om te gaan. Maar jy verstaan tog, Kosie … ons kan nie droom …”

      “Natuurlik nie,” sê Kosie stil, en hy praat nie weer nie.

      Hoofstuk 2

      Hoofstuk 2

      Met ’n gefronste voorhoof en ’n misnoegde uitdrukking op haar gesig staan Magrieta Niemeyer voor haar oop hangkas en wonder radeloos wat sy die middag sal aantrek vir die onderhoud met die prokureur. So graag sou sy die indruk van rykdom en weelde wou skep; die boer moet tog nie dink dat sy bitter graag ’n paar honderd van tant Katrien se pondjies wil hê nie.

      Gedurende die lang, stikkende ure van die nag toe sy slapeloos rondgerol het, het sy besluit dat dit die beste sou wees om die hele affêre as ’n grap te beskou, glimlaggend te verwys na die eksentrieke tant Katrien, en met ’n onverskillige gebaar die hele episode af te handel … miskien met die opmerking dat sy gelukkig nie die geld nodig het nie. Maar sy moet darem paslik geklee wees vir die rol, sy kan nie prinses speel in ’n bedelaar se flenters nie.

      Maar die hangkas lewer niks nuuts op nie. Daar is maar net die paar kantoorrokkies, twee tennisrokkies, ’n donkerblou kerkrok wat vir alle deftige geleenthede moet diens doen en ’n swaar donkergroen linnerok, mooi genoeg en deftig genoeg, maar eintlik te warm vir die drukkende somersdag. Maar met ’n sug haal sy dit uit om dit te stryk. Die diepgroen is koel en staan haar baie goed en sy sal maar maak asof dit nie so warm is nie. Die indruk van weelde sal maar verder geskep moet word deur spesiaal baie moeite te doen met haar toilet.

      Kosie het die hele môre soos ’n broeis hoenderhen daar rondgesit, bedruk en prikkelbaar soos sy Kosie glad nie ken nie, totdat Magrieta hom naderhand maar gevra het om vir hulle tee te maak.

      In stilte drink hulle. Dit is Kosie wat eerste praat.

      “Magrieta?”

      “Ja, Boet?”

      “Ek het vannag besluit!” Foei tog! dink sy, kon jy ook nie slaap nie? “Ek sal maar gaan werk. Dis nie billik teenoor jou dat ek nog verder so ’n las op jou skouers is nie. Jy het alreeds soveel vir my gedoen. Ek gaan nie toelaat dat jy langer daarmee aanhou nie.”

      Kosie se gesig is rooi van skielike verleentheid, maar sy hele wese spreek van vasberadenheid: die lippe so ferm opmekaar gepers, die ernstige blou oë, sy hele besliste houding. En meteens is Kosie nie meer die ou seuntjie wat altyd na haar toe gekom het vir troos en leiding nie. Die jong seun wat by tye so moeilik en onverantwoordelik was en haar onwetend soveel kommervolle ure besorg het, is weg. Die man wat Kosie gaan word, skemer skielik deur en Magriet kyk in stilte na hom.

      “Ek het ongelukkig nie vir die staatsdienseksamen ingeskryf nie; ek moes eintlik, maar ons was so seker tant Katrien sal ons help. Ek kan gelukkig dadelik begin met tydelike werk. Ou Peet werk al klaar en hy het ’n oom wat belowe het om my ook te help om werk te kry. Dis maar omdat jy siek was dat ek nog nie wou begin nie.”

      Kosie heeldag opgesluit tussen vier mure, Kosie wat so hartstogtelik lief is vir die vrye natuur daar buite, wat die landboukursus wou volg met die vurige hoop dat hy later werk sal kry wat hom baie in die buitelug bring!

      “Nee wat, Kosie, dit gaan ons nie doen nie. Ons het sover klaargekom en ons sal verder ook klaarkom.”

      “Hoe?” vra hy bitter.

      “Ek sal weer ’n verhoging kry …”

      “’n Pond ’n maand? Dit behoort ons baie mooi deur te help!”

      In stilte bly Magrieta sit, hartseer en ongelukkig oor die bitterheid in Kosie se stem wat op so ’n ondubbelsinnige wyse die verlange van sy hart verraai.

      “Ek kan universiteit toe gaan en werk dat ek die kromme note haal,” bars hy weer los, “en miskien ’n beurs van dertig pond of so kry, maar waar sal dit ons bring?”

      “Saam met die versmaaide verhoging sal dit oneindig baie help,” sê sy sag.

      “Ek het dit nie versmaai nie, Griet. Ek … ek wil net nie hê jy moet langer so swaarkry nie. Kyk hoe bleek is jy! En jy weet die dokter het gesê jy moet weggaan en rus.”

      “Die dokter praat onsin. Jy weet ek is so taai soos ’n ratel. Dis maar net die griep wat my so ’n bietjie platgetrek het. Ek is al klaar weer reg.” Dank die Here vir ons goeie gesondheid, dink sy. As daar nog doktersgeld moes bykom …

      ’n Bietjie voor drieuur die middag stap Magrieta Johannesburg se stasiegebou uit. Die prokureur se kantoor is nie ver daarvandaan nie, sy sal maar stap. Sonder om te versuim stap sy dan ook verder, deftig en onberispelik geklee in die donkergroen linnerok met hofskoene, handskoene en ’n handsak van ’n mooi donkerbruin daarby en ’n wit breërandhoed op haar pragtige hare.

      ’n Paar minute ná drie kom sy by die prokureur se kantoor aan, oënskynlik


Скачать книгу