Wag 'n bietjie. Tryna du Toit
“Juffrou Niemeyer, laat my toe om meneer Retief aan u voor te stel. Juffrou Niemeyer – meneer Retief.”
Magrieta was met haar binnekoms skerp bewus van die teenwoordigheid van die derde persoon in die kamer, maar sy het opsetlik gemaak of sy hom nie sien nie. Maar nou draai sy stadig om na hom en koel sê sy: “Goeiemiddag, meneer Retief.”
Die man staan met sy rug na die venster en vir ’n paar oomblikke, half verblind deur die skerp lig en te ongemaklik om reguit na hom te kyk, is sy net bewus van ’n breedgeskouerde jong man van oor die ses voet lank. Dit lyk of hy sy hand wil uitsteek om te groet, maar op Magrieta se koel groet antwoord hy ook met ’n beleefde “Goeiemiddag, Juffrou.”
“Kom sit, asseblief,” sê meneer Barnard en bied elk ’n stoel aan terwyl hy self ook weer agter sy lessenaar gaan sit. ’n Paar oomblikke rol hy peinsend ’n potlood tussen sy vingers, en Magriet laat haar blik maar deur die kamer dwaal … enige plek behalwe na die kant toe van die man wat hier langs haar sit.
Toe meneer Barnard weer praat, bring sy haar blik van die plafonhoek af terug en luister afwagtend na hom.
“Julle is albei bekend met die inhoud en bepalings van my oorlede kliënt se testament. In hoofsaak is julle twee en juffrou Niemeyer se broer, Jacobus, die enigste erfgename. Maar die erflatings is aan die voorwaarde onderworpe dat julle twee binne sewe dae van vandag met mekaar trou en gedurende ’n onafgebroke tydperk van minstens ses maande as man en vrou saamwoon.”
Sy stem is kalm asof dit doodgewone voorwaardes is wat onder bespreking is. “Dis nie my taak om haar handelswyse te kritiseer nie. Sy was ’n dame met baie vaste oortuigings en sy het haar nie maklik laat beïnvloed nie.” Hy bly ’n rukkie stil, toe sit hy skielik die potlood neer en kyk beslis op. “Julle het ’n volle week tyd. Moenie haastig wees nie. Dink goed na oor die saak voor julle tot ’n besluit kom. Maar binne ’n week van vandag af moet die huwelik voltrek wees en eers ná ses maande dat julle as man en vrou saamgewoon het, gaan die erflatings oor na julle en Jacobus.”
Diep onder die indruk van die formaliteit van die geleentheid, haar stem koel en afkeurend, sê Magrieta: “Meneer Barnard, ek het u tog duidelik laat verstaan dat ek geensins belang stel in my tante se geld nie, nie op die voorwaardes waarop sy dit nagelaat het nie.”
“Ek begryp dit goed, juffrou Niemeyer. Maar ek wil graag hê julle moet goed nadink voor julle finaal van die erflatings afsien. Ek verstaan maar te goed jul eerste reaksie teenoor dié uiters vreemde testament, maar ses maande is gou verby en … wel …” Hy haal sy skouers op. “As julle nie belang stel in die plaas en die geld nie, gaan dit na ’n tehuis. Maar ek wil graag hê dat dit na julle toe moet gaan. En ek weet dat mevrou Reyneke dit baie graag so wou hê.”
Vol bitterheid dink Magriet: Waarom dan die onaanneemlike voorwaarde? Maar sy sê niks en die man bly ook stil.
“Sal julle ’n bietjie daaroor gesels?” vra die prokureur toe hulle opstaan om te gaan, “en my dan later van julle besluit verwittig?”
Voordat Magrieta kan antwoord, sê die jong boertjie met ’n diep, aantreklike stem: “Ek hoop juffrou Niemeyer sal darem ’n koppie koffie saam met my kom drink.”
Magrieta kyk na hom, die eerste maal dat sy eintlik reguit na hom kyk vandat sy die kantoor binnegekom het. Verbeel sy haar dit of is daar ’n glimlag in sy stem? Sy kyk op, vas in twee donkerbruin oë, en ja, die glimlag is in sy oë ook. Nou ja, sy het mos ook besluit om dit as ’n grap te beskou. Waarom dan so vererg voel omdat dit die jong man blykbaar ook amuseer?
“Ek moet ’n trein terug na Pretoria haal,” sê sy koel. “Ek is jammer, maar …”
“Nou kom, ek sal saam stasie toe stap. Dan kan ons verneem wanneer die volgende trein na Pretoria vertrek en miskien is daar nog genoeg tyd vir ’n koppie koffie.”
Hierteen kan Magrieta geen beswaar maak nie, anders lyk dit nog of sy haar die hele affêre so aantrek dat sy nie eens vyf minute in die man se geselskap kan deurbring nie.
Die verkeer op pad na die stasie is druk en sonder om te gesels vleg hulle vinnig tussen die mensemassa deur.
Toe hy alleen wegstap om navraag te gaan doen in verband met die treine kyk Magrieta hom agterna. ’n Boer? Dié welgeklede man, so op sy gemak, so seker van homself selfs hier in die drukte en die gewoel van die goudstad? Wat ’n interessante persoon, dink sy. Hy stap asof die ganse wêreld aan hom alleen behoort. Wat ’n vasberade mond en ken … en dan weer, in teenstelling, die vriendelike, tergende bruin oë! ’n Boer? In elk geval nie haar idee van ’n boer nie!
Die volgende trein na Pretoria vertrek eers oor ’n driekwartier. Magrieta is honger en dors en warm, en sonder om verder teë te praat stap sy saam met hom na die verversingskamer. Hy bestel koffie en toebroodjies, toe stoot hy die spyskaart wat voor hom gestaan het weg terwyl hy sê: “Ek dog die son skroei daar by ons, maar julle oortref ons nog.”
Gemaklik, sonder verleentheid, praat hy en sy dink: As die boer dit kan doen, kan ek dit ook doen. Dis in elk geval veilig om oor die weer te gesels.
“Dis nog erger in Pretoria. Daar brand ons amper dood. Dis omdat dit so bitter droog is op die oomblik.”
Sy blik rus op haar gesig, hy neem die volmaakte beenstruktuur van die fyn gesiggie waar en die gedagte kom by hom op dat as sy eendag oud is, sy net so mooi sal wees soos nou. Dis skoonheid van been en adel van gees wat baie dieper lê as die oppervlakkige skoonheid van die jeug. Maar waarom die skaduwees wat so diep onder die groen oë lê? Waarom is die fyn gesiggie so bleek? Vanwaar die trek van vermoeienis wat om die mooi mond lê wanneer sy, verdiep in haar eie gedagtes, ’n oomblik lank sy teenwoordigheid vergeet?
Half afgetrokke sê hy: “Ja, as dit nie nou goed reën nie, sal die mielieboere maar sleg vaar.”
“Is jy ook ’n mielieboer, meneer Retief?” vra sy onnadenkend, darem maar nie heeltemal op haar gemak in die boer se geselskap nie.
Die een donker wenkbrou gaan op. “In die Karoo? Nee, Juffrou, ek is ’n skaapboer.”
Skielik verleë oor haar onnosele vraag – sy weet dit tog immers – dompel sy haar nog verder in die verleentheid deur te sê: “Jy lyk nie na ’n boer nie, meneer Retief.”
Barry Retief lag.
“Het jy verwag dat ek ongeskeer in my kakiehemp en -broek en met ’n rol pruimtabak in my sak hier sal aankom, Juffrou?” En toe sy hewig bloos, vervolg hy laggend: “Selfs ’n boer moet darem ook ’n kispak hê, Juffrou. Dis noodsaaklik vir sy krediet.”
“Ek … ek … het dit nie so bedoel nie.”
“Hoe het jy dit dan bedoel?” hou hy aan.
“Ek … ek … weet nie,” stamel sy, ’n oomblik totaal van stryk gebring.
“Toe maar, ek weet,” terg hy nog. “Dis seker maar stadsnooientjies se algemene opvatting van ’n boer. So ’n Kaspaasfiguur met ’n ruie bos baard. Ek is jammer jy is teleurgesteld, Juffrou.”
Sy glimlag effens.
“Ek is nie té teleurgesteld nie. En dis ’n baie mooi kispak, meneer Retief.”
Dit is werklik ’n mooi pak van ’n ligte somerstof en die das wat hy daarby aan het, kan nie beter pas nie. Maar Magrieta se stem is spottend en met ’n glimlag ignoreer hy die opmerking. Die koffie kom en Magrieta skink dit vir hulle in. Met sy oë op die fyn wit hande wat die koffiepot en die melkbeker so lig en met grasie hanteer, sê Barry stadig: “Het jy mevrou Reyneke geken, juffrou Niemeyer?”
Sonder om na hom te kyk sê sy: “Sy was my tante.”
“Ek weet!” kom dit droogweg.
Magrieta kyk versigtig na hom, maar die bruin oë verraai niks nie en koel sê sy: “Ek het haar nie baie goed geken nie. Ek het haar ’n paar maal gesien kort voor sy oorlede is.”
“Wat het jy haar dan aangedoen dat sy so ’n testament moes maak?”
Verras en