Wag 'n bietjie. Tryna du Toit
in ’n prokureursfirma gekry. Sy het ’n goeie salaris ontvang, maar om losies vir haar en Kosie te betaal, om selfs net die nodigste klere en skoolboeke te koop – om siel en liggaam aan mekaar te hou – het vindingrykheid en oorleg geverg.
Vier jaar lank kon hulle nooit met vakansie gaan nie, moes hulle om elke hoek en draai besuinig. Hulle moes die perdry waarvoor hulle so lief was, laat vaar, daar was nie meer mooi nuwe rokke vir partytjies nie. Magrieta het lank ná haar pa se dood ook nooit lus gevoel vir dans nie en ’n mens verloor gou genoeg in ’n stad voeling met jou vriende as jy nie meer saam met die stroom gaan nie. Net haar tennis het sy nie prysgegee nie. Die tennis was haar behoud, dit het die ewewig in haar lewe bewaar.
So is byna vier jaar verby en in Desember kon Kosie die matriekeksamen aflê … met baie goeie gevolge, soos die uitslae wat ’n paar dae vantevore verskyn het, getuig.
En daarmee het daar weer heeltemal nuwe moeilikhede wat al lank op die horison gelê het voor die deur gestaan. Kosie wou universiteit toe gaan, hy het gesmag daarna, en Magriet het hom belowe dat hy kon gaan. Gedurende sy moeilike puberteitsjare, juis toe hulle so swaargekry het, het Kosie haar soms ook nog baie hoofbrekens besorg. Baie dae op kantoor kon sy nie haar gedagtes behoorlik by haar werk hou nie omdat hulle telkens weggedwaal het na Kosie wat so nukkerig en parmantig is, wat toelaat dat verkeerde maats hom van sy skoolwerk verlei, en Magriet moes uiteindelik baie ernstig met hom gesels. Toe het die belofte gekom dat Kosie universiteit toe kon gaan as hy sy bes doen, en Kosie het woord gehou en hard gewerk en ’n eersteklas behaal, soos Magriet stellig ook verwag het.
As aanmoediging vir Kosie het sy ook, nadat hulle dit baie bespreek het, ’n paar maande gelede al haar moed bymekaargeskraap, die Niemeyer-trots en onafhanklikheid wat hulle so ver gebring het, tuis gelaat en by tant Katrien gaan aanklop om hulp. Sonder hulp kon sy nie vir Kosie universiteit toe stuur nie; die bykomende uitgawes was te veel en die vooruitsig van nog vier jaar soos dié wat pas agter die rug was, altyd met die bekommernis dat hulle niks het om op terug te val nie, het haar gestaal in haar besluit om na haar tante, wat nie kind of kraai in die wêreld gehad het nie, toe te gaan. Vir haarself wou sy niks hê nie en hulle sou elke pennie wat sy vir Kosie leen, terugbetaal.
Sy het ’n beleefde briefie aan haar tante geskryf en gevra of sy haar mag kom sien en een Sondagmiddag met ’n angstige gemoed die trein na Johannesburg gehaal en daarna die trem na die voorstad waar mevrou Reyneke woonagtig was.
Catherina Reyneke was ’n lang, skraal vrou van sowat sestig jaar met spierwit hare, streng gelaatstrekke en donkerblou oë waarmee sy Magrieta in die begin skerp en koud aangestaar het.
Sy het in stilte geluister na Magrieta se versoek, toe bitter begin uitvaar teen Magriet se pa en sy kinders wat hulle nooit die moeite kon troos om haar te kom besoek nie, selfs nie eens terwyl sy siek was nie, maar wat nou hier aan die einde van haar lewe na haar toe kom om geld te vra.
Toe sy sien hoe verslae en seergemaak Magriet is, het sy bedaar en haar begin uitvra oor hul lewe ná haar pa se dood. In stilte het sy geluister en dit het gelyk asof die streng gelaat versag. Voor Magrieta weg is, het sy haar gevra om Kosie te bring sodat sy hom kon ontmoet.
Hulle het die volgende Sondag gegaan, Kosie senuweeagtig en ontstem, maar die besoek het baie goed verloop en tant Katrien het belowe om hulle te help. Toe Magriet haar twee weke later weer besoek, het sy haar in die bed gekry, regop teen die kussings, haar lippe blou, haar oë diep vervalle. ’n Ligte hartaanval, het sy gesê. Niks om onrustig oor te wees nie. Twee maal nog het Magrieta die reis onderneem, diep aangetrokke tot die ou dame wat so baie op haar pa gelyk het. Sy was toe weer op en beter, maar sy het nie sterk gelyk nie. Hulle het nooit weer oor geld gesels nie en ook nie veel oor haar pa nie. Die ou dame was meer geïnteresseerd in haar en Kosie en hul drome vir die toekoms.
En toe het Magrieta siek geword: ’n hewige griepaanval wat gedreig het om in longontsteking oor te gaan. Sy was twee weke lank in die bed en voordat sy weer Johannesburg toe kon gaan, is tant Katrien een nag sag in haar slaap oorlede. Vir Magrieta was haar heengaan nie net ’n groot skok nie, maar ook ’n groot verlies, want sy het in dié klein tydjie geheg geraak aan haar en ’n groot agting vir haar ontwikkel.
Toe prokureur Barnard Magrieta na Johannesburg ontbied om haar oor die bepalings van tant Katrien se testament in te lig sover dit hulle raak, het sy gegaan, oortuig daarvan dat tant Katrien vir Kosie studiegeld sou nalaat, maar sy was niks verder te wagte nie.
Met ’n ligte hart het sy gegaan en die verpletterende nuus verneem dat tant Katrien hulle nie ’n bloue duit nagelaat het nie, behalwe as Magriet aan haar onsinnige, onverklaarbare voorwaarde voldoen. Sy het by die prokureur se kantoor uitgestap, verslae, beledig en bedruk. Sy is terug na die losieshuis waar Kosie in spanning op haar gewag het, om al sy mooi drome die doodsteek te gee.
Dit is bitter warm. Die broeiende Januarie-hitte lê stikkend oor die stad en maak ’n bakoond van die warm losieshuiskamer. Met misnoeë kyk Magrieta na die kamertjie wat ten spyte van al haar pogings tot verfraaiing tog maar net ’n losieshuiskamer gebly het. Die bont linnegordyne, die rose wat so gou verlep in die hitte, die paar etse teen die muur, selfs die boeke wat ander dae so gemoedelik en vriendelik lyk … alles is vandag kleurloos en saai.
Moeg en uitgeput gaan Magrieta op haar divan lê en bedruk en vol huiwering tuur sy in die toekoms. Arme Kosie! ’n Gevoel van teerheid en liefde oorweldig haar weer as sy aan Kosie dink. Hy kon natuurlik gaan werk het, maar hy is nog so jonk en sy weet hoe swaar dit is om te werk en tegelykertyd te studeer. En sy wou so graag vir Kosie kommervrye, gelukkige universiteitsjare gee. Ag, tant Katrien, dink sy, het jy Pappie en ons regtig so gehaat dat jy op so ’n manier moes wraak neem? En skielik druk Magriet, die dapper, selfstandige Magriet, haar kop in die kussings en huil bitterlik.
Maar ná ’n rukkie hou die trane weer op. Sy lê stil op die divan, moeg en moedeloos, en heeltyd maal haar gedagtes maar om Kosie. Sy kan dit nie alleen doen nie, maar waar moet sy hulp kry? Moet sy Scholtz se huweliksaanbod maar aanvaar, of Dirk Joubert s’n? Scholtz is baie lief vir haar en hoewel hy nie welgesteld is nie, kan hy tog vir Kosie deur die universiteit help.
Sy hou baie van Scholtz, maar niks van die gedagte om die res van haar lewe saam met hom deur te bring nie.
En doktor Dirk Joubert, jong professortjie aan die universiteit, mag ’n uitstekende tennismaat wees en sy gaan baie graag saam met hom perdry, maar om nou elke môre sy gesig teenoor haar aan die ontbyttafel te sien, sy besliste idees oor alles in die lewe te aanvaar, hou vir haar geen aantrekkingskrag in nie. Dirk dink alreeds dat sy genoeg vir Kosie gedoen het, dat hy verder na homself kan kyk … Dirk, wat gelukkig genoeg was om ouers te hê wat die pad vir hom maklik gemaak het, wat ’n huis het waar hy gereeld elke vakansie kon deurbring. Wat weet die egoïstiese jong goggadokter, ten spyte van al sy cum laudes, die titels agter sy naam, wat weet hy tog van die gevoel wat ’n meisie in haar hart dra vir ’n jong broertjie wat haar mammie aan haar toevertrou het om groot te maak na die beste van haar vermoë?
Eindelik staan sy op en gaan neem ’n koue stort, en toe Kosie laat die middag huis toe kom, is sy oënskynlik maar die ou, kalm Magriet wat hy altyd geken het. Mooi, so mooi dat selfs Kosie dit somtyds raaksien: ’n slanke, fraaigeboude jong meisie met glansende rooigoue hare wat in sagte golwe om haar gesig val, ’n vel so sag soos satyn maar heeltemal kleurloos afgesien van die ferm, soet mond, donker wenkbroue wat skerp teen die ligte hare en vel afsteek en ’n paar groengrys oë daaronder, so veranderlik van kleur soos die wispelturige see self.
Kosie is ’n lang, skraalgeboude seun, nog veels te skraal vir sy lengte, met dieselfde opvallende rooigoue hare as sy suster – ’n erfenis van hul ma, die mooi Ellen Niemeyer – en diep donkerblou oë, dieselfde donkerblou oë wat met versluierde gedagtes vir Magrieta uit tant Katrien se skraalbleek gesig gekyk het.
Hulle gaan eet, onsmaaklike losieshuiskos waarvoor Magrieta in die hitte nie lus het nie. Selfs Kosie wat altyd so honger is, stoot sy bord kos ná die eerste paar happe opsy. Toe hulle later op ’n reisdeken buite op die gras lê in ’n vergeefse poging om koeligheid uit die aandluggie te kry, roer Magriet die onderwerp weer aan.
“Ek is jammer, Kosie, dat dit nou so gebeur het. Dit help nou nie om tant Katrien daarvoor te blameer nie. Ons moes beter