Die Sewe Feeste. Johan Malan
die tyd van Noag het die spottende wêreldlinge vir die bouers aan die ark gelag en in die verhardheid van hulle harte voortgegaan “en dit nie verstaan voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt 24:39).
Dit is redelik om te verwag dat te midde van al die verdorwenheid en sonde wat die gevalle mensdom kenmerk, ’n liefdevolle God ook van die begin af ’n plan van verlossing sou aanbied wat op die herstel van sondaars gerig is. Die Verlosser het egter eers in die volheid van tyd gekom, ná omtrent vierduisend jaar van menslike geskiedenis sedert Adam en Eva. Dit is die rede vir die groot aantal simboliese en tipologiese handelinge wat in die godsdiens van mense in die voor-Christelike tydperk ingestel is om hulle op die vervulling van God se verlossing deur die soendood van die Messias voor te berei. Die baie offers in die Ou Testament verwys na die eenmalige offer van die Lam van God, en is almal daarin vervul. God het op baie maniere sy aandrang op geregtigheid beklemtoon, asook sy belofte van vergifnis aan sondaars wat berou het oor hulle oortredings.
Baie van die godsdienstige rituele en seremonies wat deur Israel beoefen word, vorm deel van die sewe feeste wat in Levítikus 23 ingestel is en jaarliks gevier word. Hierdie is nie Israel se feeste nie, maar die Here se feeste wat deur Hom ingestel is om Israel op die eerste en tweede koms van die Messias voor te berei. Die Here het aan Moses gesê: “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige samekomste – dit is my feestye” (Lev 23:2). Die sewe feeste is almal tipes van die Messias se toekomstige genadewerk vir Israel en ook vir al die ander nasies van die wêreld, en daarom bevat dit ’n baie duidelike profetiese program van toekomstige gebeure.
Die sewe feeste is aan Israel gegee om te onderhou sodat hulle op die koms van die Messias voorberei kon word. Paulus beskryf hulle as “ ’n skaduwee van die toekomstige dinge, maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol 2:17). Hulle is almal Messiaanse feeste en het dus sterk profetiese betekenis. Die eerste vier is reeds vervul gedurende die eerste koms van Christus en tot en met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Ons is nou naby aan die einde van die lang tussenpose tussen die twee groepe feeste, en daarom baie naby aan die einde van die kerkbedeling.
Die kerk van Christus vier nie hierdie feeste nie. Ons vier die Nagmaal, wat ’n vervanging is van die Paasfees, die Fees van die Ongesuurde Brood en die Fees van die Eerstelinge. Elke Sondag word ons ook herinner aan die werklikheid van Jesus wat op die eerste dag van die week uit die graf opgestaan het. Pinkster word gevier op ’n manier wat verskil van die skaduagtige gebruike van die Ou Testament. Baie mense volg die voorbeeld van die vroeë dissipels wat hulleself verootmoedig en voor die Here ondersoek het voordat hulle op Pinksterdag met krag uit die hoogte toegerus is.
Wat die vervulling van die laaste drie feeste betref, erken ons hulle profetiese betekenis, let op die tekens van die tye en berei onsself op die koms van die hemelse Bruidegom voor. Ons wag nie vir die Groot Versoendag nie, omdat dit tydens die nasionale bekering van Israel vervul sal word. Die kruisiging van Christus is ons Versoendag, en ons hou aan om dit te herdenk totdat Hy weer kom. Dan sal die laaste van die sewe feeste vervul wees.
NUWE-TESTAMENTIESE BETEKENIS VAN DIE FEESTE
Daar is altyd oneindig meer in die teenbeeld as in die tipe, omdat daar meer in die werklikheid as in die skaduwee is. Baie gelowiges verdiep hulleself oormatig in die beoefening van skaduagtige rituele, en daardeur mis hulle die konkrete elemente van die volle, Nuwe-Testamentiese openbaring wat deel geword het van ons Christelike erfenis.
As Christene het ons nie ’n opdrag om die feeste in die nuwe dispensasie ná die koms van die Messias te vier nie, aangesien ons veronderstel is om onsself met die Messiaanse substansie van die feeste besig te hou, eerder as met die oorspronklike, skaduagtige aard daarvan. Desnieteenstaande het die feeste groot tipologiese en profetiese betekenis, en kan ons baie baat by die bestudering van Ou-Testamentiese beloftes en tipes wat reeds gedeeltelik in Nuwe-Testamentiese tye vervul is. Die absolute letterlike vervulling van die eerste vier feeste gedurende gebeure rondom die eerste koms van die Messias, bevestig nie net die geloofwaardigheid van die profetiese woord in die algemeen nie, maar lewer ook bewys dat die oorblywende drie feeste ewe letterlik vervul sal word gedurende sy wederkoms.
Baie boeke is geskryf om die belangrike verhouding tussen die feeste en die Messias te beklemtoon, byvoorbeeld The seven festivals of the Messiah deur Edward Chumney (1994), The gospel in the feasts of Israel deur Victor Buksbazen (1954), Harvest Festivals deur Hugh Downie (1994), en The feasts of Israel: Seasons of the Messiah deur Bruce Scott (1997).
Dit sal in die verdere bespreking aangetoon word dat die eerste vier feeste (Paasfees, Ongesuurde Brood, Eerstelinge en Pinkster) nie alleen in die chronologiese orde vervul is waarin dit gegee is nie, maar ook op presies dieselfde dag in die godsdienstige kalender van die Jode waarop hulle ingestel is. In ’n Nuwe-Testamentiese verband het hierdie feeste betrekking op die kruisiging van Christus, sy begrafnis, sy opstanding en ook op die uitstorting van die Heilige Gees. Ons het alle rede om te glo dat die laaste drie feeste (Basuine, Versoendag en die Huttefees) ewe letterlik vervul sal word.
’n Baie belangrike feit in verband met die feeste is dat hulle gegee is om Israel voor te berei op die koms van die Messias, wat nie alleen hulle Verlosser sou wees nie maar ook die Verlosser van die hele mensdom. Die profeet Jesaja het Israel uitdruklik voorberei op die feit dat die Messias die Redder van alle nasies sal wees, omdat Hy ook buite Israel baie mense vir sy koninkryk sal versamel: “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God en daar is geen ander nie” (Jes 45:22). In verband met die Messias het die hemelse Vader die volgende gesê: “En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word … Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes 49:5–6).
Nog voor die kruisiging van Jesus het Johannes die Doper gesê dat Hy die Lam van God is wat die sonde van die wêreld sou wegneem (Joh 1:29). Na sy kruisiging, en kort voor sy hemelvaart, het Jesus aan sy dissipels opdrag gegee om die evangelie aan alle nasies te verkondig, selfs tot by die eindes van die aarde (Mark 16:15; Hand 1:8).
Tydens die vervulling van die vierde fees (Pinkster) is die wêreldwye omvang van die Messias se verlossingswerk weer sterk beklemtoon deur aan die dissipels ’n gawe te gee om in verskillende tale te kon praat. Op hierdie manier is dit gedemonstreer dat die boodskap van die Messias se verlossing nie alleen aan Israel verkondig moes word nie, maar ook aan alle nasies.
In die lig van hierdie vaste feite is dit duidelik waarom Nuwe-Testamentiese gelowiges aan die Nagmaal deelneem om die koms van Christus te herdenk, toe die eerste drie feeste vervul is. Pinkster word as ’n daaglikse werklikheid ervaar, en die historiese gebeurtenis van die uitstorting van die Gees word dikwels tydens spesiale dienste oor die bediening van die Heilige Gees in herinnering geroep.
Na die Nuwe-Testamentiese openbarings van die Messias weet ons oneindig meer van Hom en sy boodskap van redding en heiligmaking, as wat Israel in Ou-Testamentiese tye geweet het. Dit sou heeltemal irrasioneel wees indien ons ons Nuwe-Testamentiese manier van aanbidding sou afskeep of staak, en dan begin om die skaduagtige gebruike van Israel te onderhou wat gedurende die vorige bedeling van die wet gegeld het. Ortodokse Jode wat nie die Messias erken nie, hou steeds hierdie gebruike in stand.
Aanhangers van die Hebreeuse Wortels-beweging maak ’n fout wanneer hulle die stelling maak dat ons in Israel ingeënt word wanneer ons gelowiges word, en daardeur in ’n geestelike sin Jode word wat verplig is om die feeste op ’n tipies Joodse manier te vier. Die Here Jesus is die Bron van ons lewe – nie Israel nie. Hy is die ware wynstok waarin ons geënt is, soos wat Hy self aan sy dissipels verduidelik het: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh 15:5). Ook in die praktiese uitleef van ons geloof moet ons in sy voetspore volg en aan Hom gelykvormig word.
Sommige mense huldig egter ’n verkeerde vertolking van die simbool van die olyfboom wat in Romeine 11:16–24 gebruik word, deur die gevolgtrekking te maak dat ons as gelowiges in die volk Israel ingeënt word. In plaas