Die Sewe Feeste. Johan Malan
In Jesus Christus het ons die rus van die Here ingegaan. Dit is die vervulde betekenis van die Ou-Testamentiese Sabbat, wat ook saam met die sewe feeste van die Here in Levítikus 23:3 genoem word.
ISRAEL SE EINDTYDSE HERSTEL
God se program van feeste het nie slegs die doel gedien om Israel op die koms van die Messias voor te berei nie, maar dit dui ook aan dat Israel as ’n volk eers aan die einde van die Nuwe-Testamentiese oesseisoen, op die Groot Versoendag, gered sal word. Die vervulling van die Paasfees moes hulle Groot Versoendag gewees het, maar die Here het geweet dat die groot meerderheid Israeliete die Lam van God sou verwerp en Hom aan die Romeine sou oorlewer om gekruisig te word. As gevolg daarvan sou daar ’n nuwe dispensasie begin waarin gelowiges uit alle nasies die getuies van Christus in die wêreld sou wees.
Israel sal slegs as ’n volk gered word nadat ’n oes onder al die nie-Jode ingesamel is, en om hierdie rede sal die Groot Versoendag vir hulle die tweedelaaste fees wees. Paulus sê: “… die verharding [het] ten dele oor Israel gekom totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom 11:25–26). Dit sal ná die kerkbedeling gebeur, wanneer die nie-Jode ruim geleentheid gehad het om tot die koninkryk van God toe te tree.
Die laaste drie feeste word gevier in die sewende maand op die godsdienstige kalender van Israel. Hierdie maand val saam met die einde van die oesseisoen, wat deur die insameling van die naoes afgesluit word. Wanneer hierdie kritieke tydperk in Israel se geskiedenis aan die einde van die kerkbedeling aanbreek, sal hulle as ’n volk steeds ongered wees: “Die oes is verby, die somer is ten einde, en óns is nie verlos nie!” (Jer 8:20). Hoewel dit ’n baie laat uur in die oesseisoen sal wees, sal ’n spesiale geleentheid nogtans aan die Jode gebied word om gered te word: “Ook vir jou, o Juda, is daar ’n oes beskik as Ek die lot van my volk verander” (Hos 6:11).
Nadat die kerk verheerlik en in die hemel opgeneem is, en die ongelowiges op aarde deur Christus geoordeel is, sal die hele oorblyfsel van Israel gered word en gedurende die regering van die Messias in hulle land gevestig word. Dit sal die vervulling wees van die laaste fees, die Loofhuttefees.
4. Downie, Harvest Festivals, p 9-10
5. Simpson, Christ in the tabernacle, p 5-6
6. Downie, Harvest Festivals, p 15
7. Strong, The New Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible, p 61-62
8. Buksbazen, The gospel in the feasts of Israel, p 61-62
9. Buksbazen, The gospel in the feasts of Israel, p 72
3
Vasgestelde tye van die feeste
Die chronologiese orde waarin die sewe feeste ingestel is, is baie betekenisvol: “Dit is die feestye van die Here … wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd” (Lev 23:4). Die aangewese tye van die feeste is gedoen binne die raamwerk van Israel se jaarlikse landbouseisoen. In hulle profetiese toepassing openbaar hulle die ontplooiing van God se plan van verlossing deur die eeue. Dit begin by die soendood van die Messias en eindig by sy wederkoms en die instelling van sy vrederyk.
Die feeste word verdeel in twee groepe van vier en drie, wat onderskeidelik die begin en einde van die oesseisoen verteenwoordig. Sewe is die Bybelse getal van volmaaktheid, wat dikwels in Openbaring gebruik word – byvoorbeeld die sewe gemeentes, die sewe seëls, die sewe basuine, ensovoorts. Die spesifieke tye van die feeste, asook hulle betekenis en tipologiese boodskap, is soos volg:
Die Paasfees word gevier op die 14de dag van die lentemaand (Nisan of Abib), en dit is die eerste maand op die godsdienstige kalender. Hierdie fees dui op die dood van Christus.
Ongesuurde Brood volg direk op die dag van die Paasfees en word op die 15de dag van Nisan gevier. Dit is vervul in die begrafnis van die Messias. Deur die offer van sy sondelose lewe het Hy vir ons die ongesuurde Brood van die Lewe geword.
Eerstelinge bestaan uit ’n beweegoffer wat in die lentemaand, op ’n dag ná die Sabbat, gebring moes word. Hierdie fees verwys na die opstanding van Christus, en was die begin van die Fees van die Weke.
Pinkster is die laaste dag van die Fees van die Weke, en vind plaas op die 50ste dag na Eerstelinge. Hierdie fees het vooruit gewys na die uitstorting van die Heilige Gees, en is gevolg deur ’n periode van vier maande waarin die oes ingesamel is.
Basuine is gevier op die eerste dag van die sewende maand en dit dui op die einde van die oesseisoen. Profeties wys dit op die insameling van God se oes van geredde mense in die hemelse skuur, aan die einde van die Messiaanse era.
Die Groot Versoendag word op die 10de dag van die sewende maand gevier en wys vooruit na Israel se nasionale bekering en versoening met die Messias.
Die Loofhuttefees word vanaf die 15de dag van die sewende maand vir ’n week lank gevier, en sluit die oesfees af. Dit is ’n vreugdefees wat ’n tipe is van die Messias se vrederyk op aarde wanneer Hy in die midde sal wees van die geredde oorblyfsel van Israel asook sy verheerlikte kerk.
Deur Israel se feeste binne die verband van ’n landbouseisoen aan te bied, gebruik die Here natuurlike aktiwiteite om geestelike waarhede aan die volk te demonstreer. Die lentefeeste gee ’n aanduiding van die lewensveranderende en wêreldhervormende gevolge van die Messias se koms na die aarde, naamlik die verbreking van geestelike slawerny en die versekering van vryheid vir die volk van God. Die herfsfeeste fokus op die verheerliking van God se volk, oordele oor die ongelowiges, asook die vestiging van ’n regering van geregtigheid op aarde.
JOODSE TYDREKENING
Die Jode gebruik ’n maanjaar waarin elke maand ná die verskyning van die eerste skrefie van die nuwemaan begin. Aangesien die siklus van die maan net 29½ dae is, is die lengte van ’n maanjaar 354 dae, vergeleke met die 365¼ dae van ’n sonjaar of seisoensjaar. Hierdie verskil het vir Israel probleme geskep omdat sekere van hulle maande ten nouste met die seisoene van die jaar geassosieer is. Die maand Nisan, wanneer die eerste drie feeste gevier word, moet altyd met die lente saamval omdat hulle dan ’n gerf van die gars moet sny om as ’n