Plaasmoord. Karin Brynard
volle name. Geboortedatum?”
“Johanna Susara. Dis 9 Mei 1978.” Sy gee die adres van haar woonstel in die Kaapse Kom. En haar werkadres.
Beeslaar kyk vlugtig op na haar. “U werk by ’n koerant? Joernalis?”
Sy knik en sien sy frons. “Ek doen omgewingsake.”
Hy sit sy pen neer, tel die koppie koffie op en kyk oor die rand na haar.
“Die kind, u suster se kind, Klara Boois. Ek verneem sy was in die proses om die dogtertjie aan te neem ...”
“Ek weet eintlik min van haar,” sê Saar vinnig en verskuif haar bene. “Ek bedoel ...” Sy staar na die lessenaar voor haar. Hoe sê mens dit sonder om soos ’n doos te klink?
Die polisieman neem nog ’n sluk van sy koffie. Wanneer sy niks sê nie, tel hy sy twee gemmerkoekies fyntjies tussen duim en voorvinger op, doop hulle in die koffie en steek dit haastig met een groot hap in sy mond.
“Wat ek bedoel, is dat ek en Freddie nie juis die laaste tyd veel ... veel kontak gehad het nie.”
Sy wenkbroue lig terwyl hy die koekies ’n kou gee en dan afsluk. Sy sien die belangstelling in sy olyfgroen oë opflikker.
“Ek bedoel, dat ons ...” Sy sug en kyk af na haar hande, maar vind geen antwoord daar nie. Die naels se rooi lak is afgeknaag.
“Wat ek bedoel, is dat ek en my suster twee jaar gelede ’n soort van uitval gehad het en ek ... e ... ons het nie weer kontak gehad ... daarna nie.” Sy kan haarself hoor sluk. Dit klink belaglik, haar woede van destyds ... Maar dit was tog anders, toe. Geregverdig. ’n Groot issue. Nou lyk dit skielik so pateties. Kinderagtig, eintlik.
Wanneer sy opkyk, sien sy dat Beeslaar stip na haar kyk. Die blik in sy oë onpeilbaar.
“Inspekteur, wie het dit gedoen?” vra sy dan. “Het julle al iemand gevang?”
Hy takseer haar ’n oomblik langer, sy tong wat verlore koekiereste langs sy kieste soek. “Dis nog baie vroeg.” Hy trek aan sy hempskraag, asof dit hom knel. Die rooi das lyk of dit permanent skeef sit. “Wat ons wél weet, is dat ons in hierdie stadium kyk na ’n roof wat ... op die oog af skeefgeloop het, as ek dit nou so mag stel.”
“Plaasmoord,” sê Saar en raak eers bewus daarvan dat sy die woord gesê het wanneer sy die groot polisieman se frons sien.
“E ... ja. Ons verwys eintlik nie meer só daarna nie.” Sy stem is diep maar melodieus, asof dit uit die onderste perkussie van sy reuse borskas geproduseer word. “Wat ek bedoel, is,” hy skraap sy keel, “dit bly ’n verskriklike misdaad. Ek wil nie vir een oomblik te kenne gee dat dit nié is nie. Maar dit verskil nie van ander geweldsmisdaad nie. Dit ...”
Saar se ore sny uit. Sy sien vir Freddie nog in haar truspieëltjie, daardie laaste dag toe sy van Huilwater weg is. Sy het Saar pleitend bly volg, namate Saar haar koffers woedend gepak en in die kar gelaai het. Het nog ’n ruk by die motorvenster bly staan, haar hande op die vensterraam, asof sy fisiek wou keer dat Saar wegry, het bly verduidelik hoekom dit vir Pa beter is om op die plaas te kom sterf. Saar wat terugskree: “Maar Pa hóéf nie dood te gaan nie!” Freddie wat haar kop skud, trane wat van haar ken drup tot op haar rok. “Blý, Sarrie, bly by ons. Vir Pa se laaste ...” Saar wat die kar in rat sit en verwoed wegtrek. Freddie agterna. By die hek wat by die grootpad aansluit bly staan, ’n smal figuurtjie, kwalik sigbaar in Saar se truspieëltjie. Die lang, los rok van blou sy, goue krulle wat gewigloos in die stof opwaai.
Die polisieman het opgehou praat, besef sy skielik. “Wat presies hét gebeur, inspekteur?” vra sy om sy skerp, effe ondersoekende blik op haar te breek.
Sy wenkbroue ontspan. Hy vertel, effense huiwering in sy stem. Saar vermoed hy vertel net bolangs. Nogtans kan sy nie help om te dink aan ’n boosaard by Freddie, alleen op die plaas, nie. ’n Monster wat bruusk eis dat sy geld of vuurwapens produseer ... Freddie met haar tingerige liggaam, haar dun armpies en onhandige klein handjies. Saar was altyd die sterk een. Wild, bloots perdgery, nie geskroom om ’n seun met die vuiste by te dam nie. Freddie was soos ’n droë disteltjie. “Dink u my suster het gely?”
Hy trek sy rooi das ’n bietjie losser.
“Ons vermoed sy was moontlik swaar bedwelmd voor sy vermoor is.”
“Bedwelmd!”
“Daar was geen teken van ’n struweling nie, juffrou Swarts. Geen aanduiding dat sy probeer het om haarself te verdedig of teë te sit nie. Sy was nie vasgebind of enigiets nie. Ons vermoed in hierdie stadium sy het die aanvaller of aanvallers geken en self binnegelaat. Dalk het sy onwetend – sy en die kind – ’n dwelm ingekry wat dit vir hulle onmoontlik gemaak het om terug te baklei.”
“Maar sy is ... Hoe ... Wat presies is dit dan wat haar dood veroorsaak het?”
“Die nekwond. Die nadoodse ondersoek is nog nie klaar nie. Ons werk natuurlik so vinnig as wat ons kan, maar ... e ... in hierdie stadium is ons oortuig dat dít die ding is wat die dood veroorsaak het. By haar en die dogtertjie, die nekslagare wat met ’n skerp voorwerp deurgesny is.” Hy kyk vir ’n oomblik weer af na die dossier, frons diep. “Weet u of daar iemand of persone was wat ’n rede kon hê om haar dood te wil hê?”
Saar weet sy kyk skaapagtig na hom. Dan skud sy haar kop. “Ek dag dan ... Tannie Yvonne sê dis die veediewe. Sy sê ...”
Die wenkbroue sak. “Tja, dit wil voorkom of u suster dalk ’n slagoffer van hulle kon wees. U weet dus seker dat ons die afgelope paar maande ’n vlaag van regtig grootskeepse skaap- en beesdiefstalle gehad het. En ek praat van groot skaal. Mense wat baie gesofistikeerd te werk gaan, soos ’n georganiseerde sindikaat, met ’n baie goeie inligtingsnetwerk. Wat presies weet waar en hoe om toe te slaan. En dis genadelose mense, lyk dit. Uitgeslape. Twee weke gelede het hulle twee mense van Vaalputs om die lewe gebring, so ...”
“U bedoel hulle is óók keelaf gesny,” hoor Saar haarself sê. Dit voel so onwerklik, sy wil amper lag kry. Maar hier sit sy, sy wat Saar Swarts is. Met ’n knie wat al weer begin pomp het, soos ’n opwenspeelding met ’n eie wil. En sy praat oor Freddie. Sagte, dromerige Freddie, met haar stil, skerp humorsin, die verrassende sinisme en argwaan vir konvensies en tierlantyntjies. Freddie!
“Maar hoekom Freddie, inspekteur? Wat het sý aan hulle gedoen? Die Here weet, sy ... Ek weet nie eens of daar nog enigiets oor was om mee te boer nie. Dis ... Daar’s nie meer veel oor op Huilwater nie. Altans, nie sover ek weet nie. My pa het al begin uitdun aan die vee voor hy dood is.”
Die polisieman knik en trek sy skouers agteroor, asof hy sy groot spiere wil losmaak voor hy praat. “Ons meen maar dat dit ’n roof was. Onthou, die huis sit teenaan die grootpad Upington toe. Die hek staan aldag oop. Dis ’n maklike teiken. En daardie soort mense is maar opportuniste. Maar ek wil my ook nie vaskyk teen die veediewe nie. Dis net dat hierdie omgewing voorheen nog selde ’n plaasaanval gehad het. Selfs veediefstal was skaars – veral op dié skaal. So dis logies dat ’n mens die twee sal verbind. Maar dit wil nie sê ons skakel ander moontlikhede uit nie. Dus moet ek ook uitvind of daar dalk ander is van wie u bewus is wat enigiets teen u suster kon gehad het.”
Saar vee die hare uit haar oë, probeer om die prentjie van Freddie in daai lang, blou rok uit haar gedagtes te kry. Sy voel skielik moeg, te moeg om te praat. “Dis maar soos ek gesê het, inspekteur. Ons het die afgelope ... byna twee jaar nie met mekaar gepraat nie. Maar ek kan my nie indink nie ... Freddie is, wás regtig nie die tipe mens wat vyande gemaak het nie.”
“Die werkers op die plaas. Ek veronderstel u het van hulle geken? Die voorman? Die ouer vrou wat in die huis gewerk het?”
“Outanna!” Hemel, sy het skoon vergeet ... “Is sy oukei? Ek bedoel, sy het nie ook iets oorgekom nie?”
Die polisieman skud sy kop beslis.
“Sy het my en Freddie ...” Die woorde droog weg en haar keel raak skielik dik en pynlik. Sy byt op haar tande. “Sy’t alles gedoen. Ons grootgemaak. My ma was nie gesond nie.”
“En