'n Nuwe begin. Christine le Roux
sê hy oorstelp.
Sy frons, maar besluit om nie nou daarop in te gaan nie. “Ek bedoel hier, in die hospitaal. Ek kan seker nie môre in my nagklere vertrek nie.”
“O,” sê hy. “Ja, ek sien wat jy bedoel. Nee, jy het seker niks hier nie. Ek sal dat Gladys iets vir jou inpak. Het jy ’n besondere uitrusting in gedag- . . .” Hy bly stil. “Ek is jammer. Natuurlik sal jy nie weet nie. Sal ek haar vra om haar eie oordeel te gebruik?”
Sy knik. “En mag ek maar weer vra, soos ek seker ’n honderd maal per dag nog gaan vra: Wie is Gladys?”
“Ons huishoudster.”
Sy kyk hom belangstellend aan. “Het ons ’n huishoudster? Dan was daar darem iemand wat vir jou kon kos kook en jou hemde gewas het.”
“Sy het dit buitendien nog altyd gedoen,” sê hy voor hy die woorde kan keer.
Sy frons liggies. “Ek dog jy het nou die aand gesê ek het nie gewerk nie?”
“Dis reg.” Hy staan op, kennelik nie lus om verder daaroor te praat nie. Hy rek hom effens uit en kyk deur die venster uit na buite. Sy bestudeer hom vir die eerste keer regtig. Hy is lank en mooi gebou, al hang sy skouers nou effens en is sy das losgerem. Sy hare is dik en baie mooi gesny. “Waarna staar jy so?” vra hy toe hy haar blik onderskep.
“Niks,” antwoord sy verleë. “Toe, jy moet ry. Het jy al aandete geëet?”
“Nee. Gladys het seker my kos in die oond.”
“Dis vriendelik van haar,” sê sy.
Hy maak ’n stikgeluid en skink vir hom vinnig water uit die kraffie langs haar bed. “E . . . die droë lug,” verduidelik hy. “Goeienag. Sien jou môre. Ek hoop nie ek word vertraag nie.”
Sy lig haar hand in ’n groet en lê en luister hoe geselsende besoekers die gang af loop.
Later word dit stil, die verpleegster wip in om te sien of sy alles het wat sy benodig en skakel die lig af. Maar Emilia lê nog lank en dink. Sy wonder wie anders al ooit so onvoorbereid die wêreld ingestuur is. Die somtotaal van haar kennis kan in enkele sinne vervat word. Sy weet haar naam is Emilia, haar man met wie sy vyf jaar getroud is, se naam is Gerard en hy is ’n advokaat. Hul huishoudster se naam is Gladys. Haar ma is getroud met ’n man wie se naam Andrew is. Dis lente. Sinéad O’Connor is ’n sangeres met ’n kaalgeskeerde kop, nes hare. Dit lyk vir haar op hierdie oomblik heeltemal onmoontlik dat sy die lewe kan aandurf met net hierdie feite tot haar beskikking. Sy wil byna wens sy is weer terug in daardie diep slaap. Dit laat haar glimlag. Die sielkundige sal seker tevrede voel as hy moet weet wat sy nou dink.
“Dis mos wat ek gesê het,” sal hy sê. “Jy hardloop vir iets weg.”
Nee, besluit Emilia toe sy op haar sy draai en haar gesig in die kussing druk. Sy gaan nie weghardloop nie. Wat van môre af op haar wag, is ’n onbekende en vreesaanjaende lewe, maar sy sal dit baasraak. Sy sal van voor af alles leer. Sy sal weer onthou.
Hoofstuk drie
Hoofstuk drie
Die klere wat die onbekende Gladys vir Emilia ingepak het, lyk nie bekend nie en maak geen herinneringe wakker nie. ’n Romp, bloes en baadjie. Kouse en skoene, selfs oorbelle. Sy trek in die badkamer aan en tuur na haar beeld in die spieël. Haar eie gesig lyk vir haar vreemd, maar, moet sy eerlik erken, dit kan bloot wees oor die geskeerde kop. En tog maak sy haar toiletsakkie oop en wend die grimering behendig aan. Hoekom het sy dit nie vergeet nie?
Gerard wag vir haar toe sy uitkom. Die verpleegpersoneel kom groet en begelei hulle na buite. Sy skrik toe sy die koue lug meteens op haar wange voel.
“Dis omdat dit bewolk is,” sê Gerard toe hy sien hoe sy terugdeins. “’n Koue front wat moontlik vir ons reën gaan bring.” Hy maak die motordeur vir haar oop. Sy herken nie die motor nie. Hy lyk ook haastig, sy gedagtes elders.
“Met watter hofsaak is jy besig?” vra sy skigtig toe hulle ry. Sy voel veiliger solank sy nie aan haar eie situasie dink nie.
Hy kyk vinnig na haar. Sy voel sy verbasing aan. “Die moordsaak. Die hofsaak het gister begin. Jy weet . . . Nee, natuurlik onthou jy nie meer nie. Dit het groot opspraak verwek. ’n Vrou wat haar man vermoor het. Ek verteenwoordig haar.”
“Hoekom?” vra sy terwyl haar oë oor die bome en tuine dwaal. Oral is nuwe groen blare, irisse wat blom, rooi malvas. “Ek bedoel, hoekom het sy haar man doodgemaak?”
Hy kyk weer na haar. “Stel jy regtig belang of maak jy net geselskap?”
Sy stemtoon maak haar seer. “Ek wil graag weet.”
“Jy het nooit voorheen –” Hy kug. “Sy, die mevrou Kruger, beweer hy het haar mishandel. In so ’n mate dat sy vir haar lewe gevrees en hom doodgeskiet het.”
Sy kyk na hom, bestudeer sy profiel. “Glo jy haar?”
“Ja.” Hy draai uit, druk ’n knoppie en ’n ysterhek swaai oop. Terwyl hy met die rylaan afry, kyk sy na die tuin. Dis pragtig uitgelê. Oral is blomme, alles groei geil.
“Dis ’n mooi tuin,” sê sy. “So groen en welig.”
“Ons het boorgatwater,” antwoord hy, maar sy stem is tog warmer. “Tuinmaak is my terapie.”
Sy kyk vinnig na hom. “Het jy terapie nodig?”
“Dis nie net –” Hy bly stil en toe hy weer praat, is sy stem neutraal en beleef. “Ontspanning is miskien ’n beter woord. Ek kry helderheid as ek in die tuin werk. Dit laat my ontspan.” Hy hou voor die huis stil, klim uit en kom maak haar deur oop.
Sy klim stadig uit, bekyk die huis, die trap wat na die voordeur lei en ’n kliptarentaal wat tussen die blomme in die randakker na haar korrel. “Dis ’n mooi huis.”
“Dink jy so?”
“Ja.” Sy swaai haar hand. “Gesellig.”
“Dis maar doodgewoon,” sê hy. Sy stem word effens skerper. “Nie juis elegant nie.”
Sy kyk hom verbaas aan. “Dink jy regtig so? Ek vind dit mooi. Die klimplante teen die mure en . . . Dit lyk na ’n huis waarin ’n mens lekker kan leef.”
“O, ék stem saam.”
Sy hoor die effens sarkastiese klank in sy stem en draai haar kop. “Het ek nie van die huis gehou nie?”
“Nee.” Hy maak die bak oop en haal haar tassie uit.
“Hoekom nie?” Sy bly staan waar sy is en volg hom nie met die trap op nie.
“Jy het dit te eenvoudig gevind.” Hy sluit die voordeur oop. “Kom,” sê hy en hou sy hand uit om te wys sy moet voor stap.
Swyend haal sy diep asem in die voorportaal in die hoop dat iets, ’n reuk, bekend sal wees en iets sal wakker maak, maar dit ruik na politoer, na blomme, na niks bekends nie. “Waar is Gladys?” vra sy.
“Sy sal later vanmiddag terug wees. Sy het gevra of sy gou winkels toe kan gaan.” Hy beduie die gang af en toe hy sien hoe sy huiwer, stap hy voor. In die deur van ’n groot slaapkamer bly hy staan. “Dis ons kamer.”
Sy staar benieud na binne. Oor die enorme dubbelbed is ’n brokaatdeken. Die bed lê vol betosselde kussinkies. Deftige leunstoele is om ’n ronde tafeltjie gerangskik. Een lang muur is van dak tot vloer net ingeboude klerekaste. “Ek –” Sy staan agteruit. “Nee. Ek kan nie hier . . . Julle kan nie verwag ek moet ’n kamer met ’n wildvreemde deel nie.” Sy druk haar hand teen haar mond. “Ek weet julle sê ons is vyf jaar getroud, maar ek kan dit nie doen nie.”
Hy lyk net ’n oomblik verras. Toe stap hy aan en maak die volgende deur oop. “Jy mag dan hier slaap. Dis geen probleem nie. Jy het buitendien . . .” Hy kug asof hy hom weerspreek het.