'n Nuwe begin. Christine le Roux

'n Nuwe begin - Christine le Roux


Скачать книгу
kyk haar takserend aan, maar sê niks nie. Dan kyk hy na sy horlosie en skrik. “Ek is jammer maar ek moet nou dadelik terug hof toe. Sal jy jou pad vind? Iets kry om te eet? Gladys sal seker nou-nou terug wees en sy kan jou alles wys of vertel.”

      Sy klem haar hande saam. “Ja, natuurlik. Dankie dat jy my kom haal het.”

      Hy draai weg nadat hy haar tassie op die bed neergesit het. “Ek is jammer dat ek jou alleen moet laat, maar dit kan regtig nie anders nie.”

      Sy begelei hom na die voordeur. “Moenie jou oor my kwel nie. Ek sal regkom.” Sy gee ’n vals laggie. “Miskien kom iets terug as ek hier in die huis is. Miskien onthou ek.”

      Hy wys na die voordeurslot. “Sluit die deur agter my. Gladys het haar eie sleutel.” By die motor bly hy weer staan. “Ek sal seker eers laterig tuis wees.”

      Sy lig haar hand. “Sterkte met die hofsaak. Ek hoop dit gaan goed.”

      Hy kyk haar ’n lang oomblik aan, knik dan net, klim in sy motor en ry. Sy kyk hom agterna tot die hek weer agter hom toegeswaai het en draai dan stadig om. Nadat sy die voordeur toegesluit het, bly sy lank daar staan met haar rug teen die deur. Sy wonder of Gerard lief was vir sy vrou. Soms kry sy die indruk dat dit nie die geval was nie. Sy stap stadig met die gang af in die rigting van die kombuis. Haar keel voel droog.

      Die kombuis is baie skoon en netjies. Elke ding staan op sy plek. Vadoeke hang skoon en gestryk langs die wasbak. Sy sien ’n ketel en gooi dit vol water. Terwyl sy wag dat dit kook, maak sy een kassie na die ander oop om te kyk wat binne-in is. Sy bly hoop dat ’n blompatroon op ’n koppie of ’n bont melkbeker skielik bekend gaan lyk, maar dit gebeur nie. Dis net voorwerpe. Sy maak die yskas oop en haal ’n bakkie jogurt uit. Aarbeigeur. Terwyl sy dit sommer so staan-staan eet, wonder sy hoe sy geweet het dit sal daar wees? Hoe het sy geweet sy hou van aarbeigeur? Nadat sy vir haar tee gemaak het, gaan sit sy by die kombuistafel. Op ’n rak teen die muur is dosyne kookboeke. Sy staan op en haal ’n paar af. Hulle lyk almal baie nuut en ongebruik. Die bladsye vou moeilik oop. Wie het dit gekoop? wonder sy. Wie gebruik dit?

      Sy skrik toe ’n sleutel in die kombuisdeur knars en staar bang na die deur toe dit oopswaai en ’n swart vrou inkom. Die vrou skrik ewe groot, maar herstel vinnig. “Middag, mevrou,” sê sy. Haar stem is nie onvriendelik nie, maar ook nie hartlik nie. Bot en ontegemoetkomend.

      “Middag,” sê Emilia senuagtig en staan op. “Jy is seker Gladys?”

      “Natuurlik is ek Gladys.” Sy kyk na Emilia of sy mal geword het. “Ken mevrou my nie meer nie?”

      “Ek ken niemand nie,” sê Emilia eenvoudig.

      Gladys staar na haar. “Meneer het gesê –”

      “Die ongeluk het alles uitgevee. Ek onthou niks wat voor die ongeluk gebeur het nie.”

      Gladys bly na haar staar. “En mevrou se hare?” Sy gee ’n laggie. “Dis poenskop.”

      Emilia glimlag en vryf oor haar borselkop. “Ja, hulle moes alles afskeer. Lyk ek baie anders?”

      Gladys lag vir die eerste keer, maar antwoord nie. Sy stap na die vrieskas en begin daarin vroetel. “Wat eet ons vanaand?” vra sy en haar stem is weer onvriendelik.

      “Ek weet regtig nie. Kook jy normaalweg?”

      “Ek doen alles.” Die stem is weer bot.

      Emilia wys na die kookboeke. “Is dit joune?”

      “Nee, dis mevrou s’n.”

      “Het ek gehou van kook?”

      Gladys swaai om, ’n laggie in haar keel. “Mevrou? Mevrou was byna nooit in die kombuis nie. Dit was nou nie eintlik mevrou se lyn nie.”

      Emilia sit die boeke wat sy uitgehaal het, terug op die rak. Sy voel skielik moeg. “Dan moet jy maar besluit wat ons vanaand eet.”

      “Meneer het gesê ek moet iets spesiaals maak, omdat dit mevrou se eerste aand is. Skaapboud, het ek gedink.”

      “Dis goed.” Emilia druk haar hand teen haar slaap. “Ek gaan maar bietjie lê. As ’n mens ses weke in die bed was –”

      Gladys kyk haar belangstellend aan asof sy nou te doen het met iets wat sy nog nie tevore teëgekom het nie. “Weet mevrou regtig niks nie?”

      Emilia skud haar kop. “Niks nie. Ek het nie my eie ma geken nie.”

      “En meneer?” Gladys is kennelik gefassineer.

      “Ek ken hom ook nie. Hulle sê ek is sy vrou en ons is al vyf jaar getroud, maar ek onthou niks nie.”

      “Ai, ai, ai,” sê Gladys en klik met die tong. “Meneer het my gesê, maar ek het nie . . . Ek meen, ek werk al hier van voor meneer getroud is en –”

      “Dan weet jy veel meer as ek,” sê Emilia en glimlag wrang. Sy stap na die deur en bly dan skielik staan. “Kan ek maar ’n bietjie gaan lê of is daar nou iets anders wat ek behoort te doen?”

      “Doen?” vra Gladys. “Hoe bedoel mevrou nou?”

      “Die dokter by die hospitaal het gesê ek moet so gou moontlik in my normale roetine terugkom. Hy sê dit kan dalk help om my te laat onthou. As ek dinge doen wat ek gewoond was om te doen.”

      “Ek sien.” Gladys lyk maar skepties.

      “Dis waarom ek vra,” sê Emilia geduldig. “Wat het ek elke dag gedoen?”

      Gladys kry weer so ’n lagtrek om die mond, maar sy vee dit af toe sy Emilia se gesig sien. “Mevrou was nie hier nie.”

      “Gerard . . . my man sê dan ek het nie gewerk nie. Waar was ek?”

      “Uit,” antwoord Gladys pront.

      “Uit waar?” vra Emilia moedeloos.

      “Lunch saam met Claudia, winkels toe saam met iemand anders, al daai charity-goed waarvoor mevrou moes mooi aantrek, al –”

      Emilia druk haar hand teen haar voorkop. “Ek sien. Roep my maar as ek nodig is. Ek gaan nou rus.”

      Sy stap met die gang af na die slaapkamer waar haar tassie lê, ruk die brokaatdeken van die bed af en wil net gaan lê toe sy besef sy kan seker nie so in haar formele klere in die bed klim nie. Sy loop kaalvoet na die kas en maak dit oop, maar die kas is leeg. Sy sug moeg. Natuurlik is haar klere seker in die hoofslaapkamer en sy is nou te moeg om daardeur te gaan soek. In die aangrensende badkamer kry sy ’n badjas en trek dit sommer oor haar onderklere aan.

      Toe kruip sy tussen die lakens in en lê opgekrul, haar hande onder haar ken. Haar kop voel oorlaai van inligting en nie al die inligting is positief nie. Sy kry die indruk die ou Emilia was nie noodwendig ’n aangename mens nie. Dis nie asof Gladys haar snikkend van blydskap om die hals geval het nie en Gerard kyk haar by tye ook maar met ’n siniese oog aan. Sy is egter te vermoeid om lank daaroor te tob en sy val in ’n diep en genadiglik droomlose slaap.

      Toe sy wakker skrik, skyn die son laag en skuins deur die venster in die badkamer en sy staan koulik op, ’n oomblik verward. Eerder as om nou deur die klerekaste te soek, trek sy maar weer dieselfde klere as die oggend aan en stap met die gang af.

      Tot haar verbasing kry sy vir Gerard in die sitkamer, waar hy sit en koerant lees. Hy dra nog sy pak en Gladys kom net by die deur in met tee op ’n skinkbord. Toe sy Emilia sien, draai sy om om nog ’n koppie te gaan haal.

      “Hallo,” sê Gerard en staan op. Hy vou die koerant toe. “Het jy lekker geslaap?”

      “Te lank.” Sy gaan sit op die bank en vee oor haar kop. “Dis ten minste een voordeel van my huidige haarstyl. Dit kan nie verlê raak nie. Jy is vroeg by die huis? Ek dog jy sê jy gaan laat wees?”

      “Dis al amper halfses,” sê hy. “Maar ja, dis vroeër as wat ek verwag het. Die regter het hom vervies vir die aanklaer se swak voorbereiding


Скачать книгу