'n Nuwe begin. Christine le Roux
Kruger miskien kon sien, sal jy verstaan. Die man was ’n sadistiese wreedaard. Sy is nie die enigste wat hom dood wou hê nie. Ek beplan om sy stiefdogter te laat getuig, want sy het net so swaar deurgeloop. Selfs die huishulp.”
“Die aanklaer gaan seker probeer bewys dat hy eintlik ’n liewe gesinsman was?” vra sy.
Hy lyk verbaas. “Presies,” gee hy nietemin toe. “Hy het vandag die man se gewese kindertuinonderwyseres daar gehad om te getuig watse liewe seuntjie hy was toe hy vyf was.”
“Hoe oud was hy toe hy doodgeskiet is?”
“Sestig.”
“Dan moes die onderwyseres báie oud gewees het!”
“Juis. Nadat ek haar ondervra het, was dit duidelik dat sy van die verkeerde kind gepraat het, dat sy geen benul het wie Hans Kruger was nie en dat sy aan Alzheimers ly.”
“Wat die rede is waarom die regter hom vervies het,” sê sy. Gladys bring Emilia se koppie en sit die skinkbord voor haar neer. Emilia skink en kyk dan vraend na Gerard. “Hoe drink jy jou tee?”
“Met melk, geen suiker nie.”
Sy glimlag skewerig. “Dis net maar een van die baie goed wat ek nie meer kan onthou nie.”
“Jy het dit buitendien nooit –” begin hy, maar bly vinnig stil en vat die koppie by haar. “Waarom vra jy so uit na die hofsaak?”
“Ek kan niks anders onthou nie,” sê sy eenvoudig. “Ek kan net van vandag af begin leef.”
“Ek sien,” sê hy.
’n Ruk lank is dit stil terwyl hulle hul tee drink. Dan kyk sy op. “Is jy ’n goeie advokaat? Wen jy gewoonlik?”
Hy lag. “Nie altyd nie, maar nogal dikwels. Hoe goed ek is, weet ek nie. Ek doen my bes.”
“Dink ander mense jy is goed?” dring sy aan.
“Ek dink so,” erken hy teësinnig.
Sy tik haar voorvinger teen die rand van haar koppie. “Het ek so gedink? Was ek trots op jou?”
Sy gesig kry dadelik die geslote uitdrukking wat sy nou al leer herken. “Jy het –” begin hy versigtig. “Nee, ek weet eerlikwaar nie.”
Sy swenk weg van die onderwerp omdat sy kan sien dit maak hom ongemaklik. Nadat sy haar koppie neergesit het, rek sy haar arms. “Ek dink ek wil ’n bietjie deur die tuin gaan stap.”
“Ek kom saam,” sê hy en spring op.
Terwyl hulle deur die tuin loop, is dit asof hy vir die eerste keer in haar teenwoordigheid ontspan. Dis duidelik dat hy baie lief is vir sy tuin. Hy verloor die waaksaamheid terwyl hy vir haar vertel hoe die tuin eers gelyk het, wat hy alles aangeplant het en wat hy nog beplan. Sy verlustig haar in die rose wat in volle blom staan. Sy buig oor beddings vol pienk blomme. Sy staan nader om die jasmyn te ruik wat teen ’n boomstam uitrank.
“Dis regtig pragtig,” sê sy opreg toe hulle uiteindelik op die stoep staan. “Jy het ’n baie mooi tuin gemaak.” ’n Ruk lank staan hulle net en luister na die gesis van ’n verborge sproeier. Toe draai sy na hom. “Het ek van tuinmaak gehou?”
“Nee.” Sy stem verklap niks nie. “Jy het ander belangstellings gehad.”
Sy wil graag vir hom vra wat dit was, maar sy is bang vir die antwoord. Moenie jou oorlaai nie, het dokter Beyers gesê. Een dag op ’n slag. Sy verlang skielik na hom. Hy was so gerusstellend, so nugter. Hy ken net die nuwe Emilia. Haar verlede kan hom nie skok of ontnugter nie.
“By die hospitaal het ons nou al vergete aandete gekry,” sê sy. “Dis amper besoektyd.”
“Verlang jy terug?”
“Nogal.” Haar stem klink verlate. “Dit was ten minste bekend. Jy is seker bly jy hoef nie nou weer soontoe te ry nie?”
“So ’n straf was dit nie.” Sy stem is lig.
“Ek wonder.” Sy draai na die deur om in te gaan. Dis nog koud buite.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.