Die winskopie. Sarah du Pisanie

Die winskopie - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
byt hard aan die binnekant van sy wang. Hy moet erken die seun maak ’n heel oulike meisie uit; nou net nie wat hy ’n skoonheid sal noem nie. Daarvoor is die kind se vel te verwaarloos en te verbrand deur die fel Suidwes-son.

      Gerhard sukkel om nie hardop te lag nie. Die geel rokkie is effe groot vir die seun en hang tot op sy voete. Hy wonder waar die ou man so vinnig ’n rok vandaan gekry het. Onder die rok loer egter ’n paar bruin velskoene uit, wat darem redelik skoon is vir die veiling.

      Daar is soveel dinge wat Gerhard met die eerste oogopslag probeer waarneem, dat daar nie nog tyd is om na die mans se gesigte te kyk nie.

      Dit is die soldaatjie met die groot, blou oë wat stadig nader kom, soos een in ’n droom, en sy hand uitsteek na die lang, bruin hare wat op die seun se skouers hang. Hy streel in verdwasing daaroor en staar net stil na die kind soos een wat ’n spook sien.

      Nou merk Gerhard die lang hare op. Hy frons en kom ’n treetjie nader. Dan sien hy egter die band om die seun se kop. Dit is natuurlik ’n haarstuk wat hy so netjies met daardie band op sy kop skik. Hy moet erken min mans sal in die seun van gisteraand hierdie meisie met die lang hare soek. Dit is deksels goed gedoen vir ’n seun!

      Klaus kom ook stadig om die toonbank.

      “Jou dogter! Is dit regtig jou dogter? Dit is nie dalk ’n vroumens wat jy iewers gesteel het en in hierdie ding indwing nie? Hmm, juffrou? Is jy regtig sy dogter?”

      Die lang, bruin hare beweeg vorentoe toe die seun liggies knik. Gerhard sug. Die seun se toneelspel is onverbeterlik. Hy lyk werklik op hierdie oomblik soos ’n doodsbang meisietjie.

      Die ou man vee vinnig die trek van genoegdoening van sy gesig af toe hy sien hoe stip Gerhard na hom kyk.

      “Weet sy darem wat jou planne met haar is?” Kurt kan dit eenvoudig nie kleinkry dat ’n mens jou eie dogter kan verkoop nie.

      Die meisie knik liggies en die bruin hare gly vorentoe en hang sag teen haar wang, sodat sy weerloos en skaam lyk.

      “Sy weet ons kan nie anders nie. Dit is ons laaste hoop. Nè, Tillatjie? Jy weet tog hoe seer dit Pappa se hart maak. Nè, my ou kindjie?”

      Jaap Visser tel haar hand op en druk dit teen sy wang.

      “Ons moet dit maar liewer nie doen nie. Ons sal tog op die een of ander manier regkom. Of hoe sê jy?”

      Gerhard kyk met opregte verbasing na die blink trane wat oor die seun se wange loop.

      Arme kind, hy is maar net ’n jong seun. Gerhard sit sy bierbeker neer en kom vinnig nader.

      “Wel, dan moet jy nou vinnig besluit wat jy wil doen, Jaap Visser. Wil jy jou kind hou, of wil jy haar hier opveil soos ’n bees?”

      “Nou sê meneer darem harde woorde. Sy ... sy is my oudste. My oogappel. My hart wil breek, maar daar is niks anders wat ek kan doen nie. Die ander kinders ... hulle het nie kos nie en klein Annie ...”

      Gerhard walg van die nare mens se hemeltergende woorde.

      “Sien jy kans hiervoor, juffrou? Jy weet wat dit beteken as een van ons jou vanaand koop? Jy sal met daardie persoon moet trou en die verpligtinge van sy vrou hê.”

      Gerhard kyk stip na die seun, wat sy oë vinnig laat sak. Hy knik net liggies en Gerhard het lus en skud hom wild heen en weer. Hy kon darem ’n bietjie meer murg in sy pype gehad het. As dit hý was, het hy lankal weggeloop en iewers ’n beter heenkome gevind.

      “Ek wil haar hê.” Die blouoog-soldaat is dadelik bereid om alles wat hy besit, te betaal. “Hoeveel wil jy vir haar hê?”

      Jaap Visser loer slu na die ander, maar die soldaatjie het net oë vir hierdie meisie met die lang hare.

      “Ek sal jou tien pond gee.” Een van die ander soldate druk voor die blouoog in en haal sy geld uit sy sak.

      “Vyftien!” Die blouoog sit die bod hoër in.

      Jaap Visser laat sy kop gemaak hartseer sak en vat die seun aan sy arm.

      “Ek kan nie my kind vir ’n paar pond verkoop nie. Kom, Tillatjie! Ons sal op die een of ander manier regkom.”

      “Dertig pond.” Dit is sowaar Kurt wat ook aan die vendusie deelneem.

      Gerhard sien die tevredenheid in Jaap Visser se oë.

      “Juffrou ...” Klaus staan vinnig vorentoe. “Ek sal vir jou ’n werk hier in die hotel aanbied.” Hy draai na Jaap Visser. “Ek sal jou veertig pond vir haar gee. Nou. Dan sal ek haar nog ’n salaris ook betaal elke maand.”

      Gerhard sien die vrees in die kind se oë. Arme ding! Hy weet natuurlik waarvoor die hotelbaas hom wil koop en wat die gevolge gaan wees as hy uitvind dat hy ’n seun is. Gerhard het ook nou genoeg van hierdie wreedheid gehad.

      “Ek sal jou honderd pond gee vir haar, Jaap Visser. Ons teken egter ’n wettige kontrak voor al hierdie getuies.”

      “’n Kontrak! Maar hoekom?” Jaap vergeet skoon om temerig te klink en Gerhard sien die ongeloof in sy oë.

      “Sodat jy nie môre, oormôre kan kom en haar terugeis nie. As ek haar nou gekoop het, is sy wettiglik myne en as jy haar kom terugeis, dan sit ek die beskermingstroepe op jou. Want dit sal dan beteken dat jy aan my wettige eiendom raak.”

      Sy woorde skok vir Jaap. ’n Herhaling van hierdie plan sal dus nie kan plaasvind nie. Hierdie man bedoel elke woord wat hy sê en hier staan nie minder as ses getuies nie.

      Gerhard kan sien hoe die ou skelm worstel om te besluit wat die beste gaan wees.

      Die seun se oë is donker van bekommernis en Gerhard weet dat hy nou heeltemal verward is. Dinge verloop glad nie soos hulle dit beplan het nie.

      Die ander mans draai bekaf om. Hulle kan nie saam met Gerhard Fouché bie nie.

      Toe dit egter vir Gerhard lyk asof die sluwe Jaap Visser bedenkinge begin kry, haal hy die rol note uit sy sak, sodat dit hom vinniger kan laat besluit.

      “Wel ... ja, goed dan. Maar ... meneer sal seker nie omgee as ek my ou dogtertjie so af en toe kom besoek nie.”

      “Ek sal beslis omgee. Wanneer jy hierdie kontrak teken, is sy wettiglik myne. ’n Pa wat so min omgee, is nie werd om ’n kind te hê nie. Ek sal baie beslis nie toelaat dat jy ooit weer naby haar kom nie.” Gerhard se stem is hard en koud.

      Toe hy onverwags opkyk, sien hy die dankbaarheid en verering in die seun se groot, bruin oë en dit maak hom net meer vasbeslote om hom van hierdie nare man te verlos.

      “Ai, meneer.” Gerhard, wat hom fyn dophou, sien egter hoe hy skelm vir die seun knipoog.

      “Geen skelmstreke nie! Verstaan jy my?” Hy draai na Klaus. “Klaus, gee asseblief vir my ’n stuk papier. Julle manne moet almal teken as getuies. Kurt, ek wil hê jy moet hierdie afskrif saamneem vir kaptein Von Lindeque. Hy moet dit vir my bewaar.”

      “Ek doen dit graag.” Kurt tel sy bierbeker op en met ’n vreemde glimlag hou hy die hele petalje dop. Hy dink hy kan al taamlik goed voorspel wat Gerhard Fouché se plan is. Hy wil natuurlik hierdie meisie haar vryheid gee. Dit moet vreeslik wees om so ’n vader te hê.

      Hulle ander gaan dalk nog ’n kans kry. Gerhard sal nie in haar belangstel as ’n vrou nie. Hy kan kies en keur en sal, soos sy broer, vir hom ’n vrou in Duitsland of in die Kaap gaan haal.

      Gerhard bewoord die kontrak versigtig en lees dit dan hardop vir Jaap Visser voor.

      “Begryp jy alles? Daar is geen kans om hierdie meisie terug te kry of te kom steel nie. Sy is nou wettiglik my eiendom.”

      “Ja, ek verstaan.” Jaap staan kop onderstebo en kan die seun in hierdie stadium nie meer in die oë kyk nie.

      Gerhard sorg dat hy in die kontrak slegs verwys na “die kind” en nie ’n geslag aan hom verbind nie. Hy wil geen skuiwergate toelaat nie.

      Hy kyk stip na die seun en gee ’n treetjie


Скачать книгу