Die winskopie. Sarah du Pisanie
hongerig weg aan die kos. Na die eerste sny brood loer hy versigtig na Gerhard, wat nou by een van die tafeltjies in ’n druk gesprek met Kurt is.
Klaus glimlag vriendelik na die seun wat nog so bang en verskrik lyk.
“Hy is ’n goeie man, dié meneer Fouché. Jy hoef nie vir hom bang te wees nie. Jy sien tog hoeveel moeite hy gedoen het om jou uit daardie nare man se kloue te bevry.”
“Is ... is hy getroud?” Die seun se stem is gesmoord toe hy met ’n mond vol brood probeer praat.
“Nee, hy is nie getroud nie. Sy ma bly nog by hom op die plaas. Sy pa is dood en sy broer is getroud. Die broer bly in Windhoek. Sy broer is eintlik die een wat altyd met die myne doenig is. Hulle is egter op die oomblik in Duitsland – hy en sy vrou.”
Die seun skud sy kop terwyl hy die laaste bietjie melk uit die glas drink.
“Wil jy nog hê?”
“Nee, dankie.” Die seun se oë is egter op Gerhard gerig wat stadig opkyk en lui vir hom glimlag.
“Is jy klaar?”
Die seun knik bevestigend en Gerhard staan op.
“Nou toe, kom ons kry koers.”
Die seun se oë soek egter deur die skemer kroeg tot hy die haarstuk wat eenkant op ’n tafeltjie lê, raaksien.
So ongemerk moontlik skuifel hy nader en vat die haarstuk vas. Die ander, wat hom almal dophou, sien dit gelyktydig raak en skater van die lag.
“Hoe is jy dan so bekommerd oor jou hare? Wil jy die truuk op ’n ander plek ook gaan probeer?” Dit is die blouoog-soldaat wat nog steeds krapperig is omdat hy so vir die gek gehou is.
Gerhard wag ook laggend vir ’n antwoord van die seun af. Hy staan egter kop onderstebo en kyk stadig op.
“Dit ... dit was my ... my ma se hare.”
Gerhard sit sy arm vaderlik om die seun se skouer.
“Nou toe, vat jou ma se hare en kom dat ek my seun in die bed gaan sit. Nag, julle!”
“Nag, meneer Fouché. Nag ... Haai, jy het nog nie eens vir ons gesê wat jou naam is nie!” Kurt staan laggend nader, maar die seun skarrel vinnig by die deur uit terwyl die rok sy treë strem.
Gerhard lag en beduie vir die ander na die seun wat so onbeholpe lyk met die rok wat om sy bene swaai.
“Ons sal jou gou weer in ordentlike seunsklere kry, jong. Jy het seker niks saamgebring nie.” Hy val langs die seun in en sy stem is vriendelik en gemoedelik.
“Ek ... ek het darem dit wat ek gisteraand aangehad het. Dit is daar in die sak.”
“Ons sal vir jou langs die pad ordentlike klere koop.”
“Dankie ... maar ...”
Gerhard kyk verbaas na die perd wat nog opgesaal staan voor die hotel.
“Moenie vir my sê die ou skelm het toegelaat dat jy die perd hou nie.”
Die seun sukkel lomp om met die lang, swaaiende rok bo-op die perd te kom.
“Ja ... ek ... ek moes mos ...”
“Natuurlik, ja, jy moes mos teruggaan na hom toe.”
Gerhard trap in die stiebeuel en swaai sy been oor die perd se rug.
“Ons kan by die kamp verder gesels.”
“Meneer ...”
Gerhard loer oor sy skouer. Die arme kind se stemmetjie klink so bang en verlore.
“Ja?”
“Baie ... baie dankie. Ek ... kan nie vir u sê hoe ek vanaand voel nie. Ek ... ek hoop net dat as u alles weet, dat ... dat u dan nog ...”
“Nog wat, ou grootman?”
“Dat u my dan nog by u sal hou. Moet my tog nie na hom toe terugstuur nie. Ek ... ek is bang vir hom!”
Die seun se stem is gesmoord en Gerhard trek sy perd langs hom in.
“Dit sal ek nooit doen nie. Ek het jou mos wettiglik gekoop. ’n Mens gee mos nie jou eiendom sommer terug nie. Soos ek daardie ou skelm opgesom het, sal hy jou ook nie terugkoop nie.” Gerhard probeer ’n grap van die situasie maak, maar die seun se houding is een van onsekerheid en vrees.
“Kom ons ry. Ons sal later weer gesels. Ek het mos geweet wat ek koop. Jy is nou my verantwoordelikheid. Daar is niks wat dit sal verander nie.”
“Regtig, meneer? Behoort ek nou régtig aan meneer?”
“Ja, jou domkop! Jy behoort aan my. Maar ek wil dit net vir jou duidelik stel: Jy is nou vry! Ek sal nie met jou maak soos Jaap Visser nie. Jy kan van nou af self besluit wat jy wil doen.”
“Maar ... maar as ek by meneer wil bly, dan ... dan kan ek maar? Ek bedoel ... meneer sal my nie sommer net los op ’n plek nie?”
Die perde stap rustig langs mekaar in die stofpad aan en Gerhard kyk na die vreemde kind wat met soveel dankbaarheid, wat grens aan aanbidding, na hom kyk. Dit weerkaats helder uit die groot, bruin oë in die blink maanskyn.
“Dit sal ek nooit doen nie. Jy is dan nog ’n kind! Ek wil hê jy moet net mooi verstaan dat jy nie my slaaf of bediende of so iets is nie. Dink maar aan my as jou pa. Ek sal sorg dat jy, wanneer jy ’n bietjie ouer is, ’n ordentlike werk kry. Op die oomblik dink ek jy moet eers ’n rukkie by ons op die plaas kom bly. Daar is baie werkies wat jy kan doen en dan kan jy eers weer gewoond raak aan ’n normale manier van lewe.”
“Dankie, meneer. Baie, baie dankie.”
“Kom, ons moet aanstoot.” Gerhard kap sy hakke in die perd se flanke en op ’n vinnige galop ry hulle die maanskynnag, wat skielik vir Gerhard vreemd en onbekend voel, binne.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.