Bloeisels in die wind. Schalkie van Wyk
hy is jammer dat hy so ongeskik was.” Sy dink ’n oomblik lank na en vra nuuskierig: “Was hy in ’n motorongeluk? Wat makeer sy bene? Sal hy nooit weer kan loop nie? Is hy so gebore?”
“Dink jy ek het hom uitgevra?” vra Sonja.
Erika sug ongeduldig en gryp een van die strandsakke.
“Nee, ek wed jou jy sal nie met ’n vreemde hond praat as iemand julle nie eers aan mekaar voorgestel het nie. Jy is darem menssku, Sonja – ek wonder waarom,” antwoord Erika en draf weg oor die sand in die rigting van die kleedkamers.
Sonja gryp die steel van die strandsambreel vas en wikkel dit in die los sand weg, leun met al haar gewig op die metaalsteel en gluur nydig na ’n fris, middeljarige man wat regs van haar besig is om met die grootste gemak sy strandsambreel in die sand staan te maak. As die man nou net omkyk en sien sy sukkel, help hy haar dalk soos soveel ander vriendelike ooms en jongmans haar die afgelope drie weke gehelp het. Die man se vrou kan sien sy sukkel, maar die kyk wat die vrou haar gee, laat Sonja besef sy hoop vergeefs.
Haar pa is kort ná Erika se geboorte dood. Daarom is dit nog al die jare net hulle vier vroue wat strand toe kom, maar ’n paar jaar gelede het sy reeds geleer: niemand is so ongewild op ’n strand soos ’n slanke meisie in ’n bikini wat boonop nie onaantreklik is nie. Sy is een van die dae mondig, maar vandat sy vyftien is, het geen gesette, middeljarige tannie al ooit haar minder gesette, nogal aantreklike eggenoot gevra om die hulpelose meisie met haar sambreel te help nie, dink sy, kyk op en giggel onverwags wanneer sy in die afkeurende gesig van die gesette vrou oorkant haar vaskyk.
“Moenie huil nie. Ek is hier om te help, Sonja,” praat ’n stem wat sy nog net een maal tevore gehoor het vlak langs haar.
Sy kyk op, vergeet om te glimlag en wonder opnuut wat die kleur van sy oë is, want sy oë is half toe teen die oggendson. Dan kyk hy af en neem die sambreelsteel uit haar hande.
“O … baie dankie,” antwoord sy, ineens skaam en hou sy sterk hande in plaas van sy gesig dop.
Die man druk die bostuk van die sambreel in die steel, vou die sambreel oop en tree gebukkend onder die sambreel uit tot langs Sonja.
“Suster Sonja Retief,” sê hy, en sy woorde is ’n stelling, nie ’n vraag nie. “Jy oorweeg nie dalk Walter se aanbod om sy private verpleegster te word nie?”
“Was dit werklik ’n aanbod?” vra sy, nouliks bewus van wat sy sê, want hoflikheid verwag dat sy hom in die oë kyk terwyl sy met hom praat en sy wonder van nuuts af oor die kleur van sy oë.
“Sal jou ouma Hannah Retief nie omgee as jy Walter se verpleegster word nie?” vra hy asof hy haar vraag nie gehoor het nie.
“My ouma Hannah Oosthuizen – sy is my ouma aan moederskant,” verduidelik sy en voel asof sy uit haar beurt gepraat het wanneer sy oë verder vernou en hy haar met stroewe deurdringendheid aanstaar.
Sonja sien die woorde op sy lippe vorm, maar ’n beweging regs van haar trek haar aandag en dan is Erika by hulle.
“Ek ken hom. Hy is saam met Walter. Gaan jy my nie voorstel nie, Sonja?” vra Erika met ’n volmaanglimlag wat die donker vreemdeling volkome ignoreer.
Sonja kyk hom vraend aan, wag vergeefs dat die man homself aan hulle sal voorstel, en vererg haar wanneer hy geen poging aanwend om sy identiteit te verraai nie.
“Dis sommer Piet. Hy verkoop koue koeldranke en warm kerriekoekies en ek het net ’n bestelling by hom geplaas. Jy kan later die koeldranke bring. Tot siens, Piet,” groet Sonja met ’n glimlaggie wat Erika aan die ysblokkies in ’n koeldrank herinner.
“Tot later, suster Sonskyn,” antwoord die man en Sonja lees ergernis in die trotse houding van sy kop en skouers wanneer hy met lang hale tussen die sambrele, handdoeke en sonaanbidders wegstap na die ander kant van die rooi uitkyktoring.
“Sy naam is nie Piet nie en ek weet hy verkoop nie koeldranke en kerriekoekies nie,” sê Erika misnoeg.
“Mooi, dan weet jy meer as ek,” antwoord Sonja, ontstel deur Walter se vriend.
Sy is tog nie verlief op die man nie, voer sy ’n verwarde alleenspraak in haar gedagtes. Dit het al gebeur dat ’n terloopse ontmoeting met ’n nuwe, jong dokter by die hospitaal haar asem wegslaan en haar vir agt en veertig uur op ’n wolkie van onmoontlike drome laat ronddryf – maar dit het drie jaar gelede gebeur toe sy nog sewentien en ’n aanbidder van die liefde self was.
Sy is byna mondig, maar diep binne haar voel sy baie ouer en meer ervare. Daarom glo sy nie langer aan liefde met die eerste oogopslag nie. Waarom het Walter se vriend dan so ’n blywende indruk op haar gemaak? Waarom weet sy so seker dat sy hom weer sal sien? Waarom weet sy dat niks ooit weer dieselfde sal wees totdat sy weet wie en wat hy is en waarom hy vir haar om ’n onverklaarbare rede uiters belangrik is nie?
“Aag, ek wil tog nie weet nie, want hy is al stokoud … oor die dertig, as hy nie dalk al veertig is nie,” krap Erika se onvergenoegde woorde haar eie gedagtes uit die pad en laat Sonja haar vraend, half onbegrypend aanstaar. “Maar jy kon darem vriendeliker gewees het met hom, want dan kon ek saam met hom by Walter gaan sit het. Ek hou van Walter.”
“Oor sy blou oë, of omdat hy verlam is?” vra Sonja, hou haar hand verskonend op wanneer Erika se oë waarskuwend blits en glimlag oorwonne. “Toe maar, ek vra maar net. As Walter se vriend padgee, sal ek met hom gaan gesels en vasstel wie hy is en waar hy woon. Dalk oortuig ek hom nog dat jy werklik van sy oë hou.”
“Ek kan my eie praatwerk doen,” antwoord Erika met ’n hooghartige lig van haar ken, gooi haar strandhanddoek oop en smeer sonbruinroom aan haar bene. “As jy wil gaan swem, sal ek solank by ons goed bly. As Ouma-hulle eers kom, kry jy nie ’n kans nie.”
“Dankie,” kom dit verras van Sonja terwyl sy haar strandjakkie uittrek. “Dan het jy al agtergekom ouma Hannah gee my nooit kans om te gaan swem nie?”
“Dis jou eie skuld, want dis jy wat ronddans as ek óf Mamma óf Ouma die toutjies trek. Toe, gaan swem nou, anders gaan gesels ek met Walter, want dis wat ek eintlik wil doen,” beveel Erika.
Sonja gehoorsaam haar sonder teëstribbeling en besef eers wanneer die koue skuimwater om haar enkels spoel dat sy weer eens die marionet gespeel het, want Erika het beveel en sy het haar bevel uitgevoer.
Is dit wat sy is? ’n Willose houtpop in haar aangenome familie se hande omdat ’n diepgewortelde gevoel van dankbaarheid haar verplig om hulle wense altyd bo hare te stel? Per slot van sake is sy ’n optelkind wat deur haar oorlede vader en haar moeder se onselfsugtige liefde ’n tuiste, ’n van en ’n familie gekry het. Daarom is dit haar plig om dankbaar te wees, daarom sal geen opoffering ooit te veel wees solank sy hulle daardeur kan vergoed vir hulle groothartigheid nie.
Sy wou bitter graag met haar loopbaan as hospitaalsuster voortgegaan het en dokter Danie Hattingh het werklik in haar belanggestel, maar …
“J … jieee!” krys sy wanneer ’n reusegolf haar onderstebo slaan, maar dan verdrink haar uitroep in ’n mondvol soutwater terwyl die brander haar tollend oor die growwe seesand smeer, haar sekondes lank alleen laat, voordat ’n tweede golf met ’n druisende gedonder bo-oor haar kop breek en haar weer in die maling van die brander laat rondtol.
Sonja soek na ’n vashouplek, voel menseledemate in haar hande en klou om lewe en dood, haar oë styf toegeknyp terwyl sy reeds haar asem ophou, gereed vir die volgende brander wat oor haar kop gaan breek.
“Jy kan maar my been los as jy lus het, suster Sonskyn, dan help ek jou strand toe,” praat die nou bekende stem van Walter se vriend ver bokant haar.
Sy vlieg orent sonder om haar oë oop te maak, maar snak na haar asem en sper haar oë wyd oop wanneer hy haar in sy arms optel en soos ’n betonpilaar bly staan terwyl ’n brander teen sy rug breek.
“Jongman, los my kleindogter!” klink haar ouma Hannah se stem vlak langs hulle op. “Jongman, ek sê … Arno Landman, wat soek jy hier?”
2