Bloeisels in die wind. Schalkie van Wyk
nou verstard staan, haar opgerolde, persblou sambreel soos ’n swaard uitgestrek na haar en die man wat haar nog in sy arms hou.
Arno Landman … Dis wat ouma Hannah haar onbekende vriend genoem het, maar hoe ken sy hom?
Sy naam pas by hom, dink Sonja terwyl sy opkyk in sy gesig en haar oë oor sy sterk, hoekige gelaatstrekke laat loop. Asof hy bewus is van haar blik op hom, kyk hy vinnig af na haar en sy voel haarself verlore in die ongewone helderheid van sy staalgrys oë. Sy glimlag is warm en naby. Die gloed in sy oë laat vreugde in haar binneste opvonk.
“Ek hou hiervan – ’n seenimfie in my arms wat die golwe vir my uitgespoel het,” praat hy in haar oor terwyl hy haar op die nat sand neersit. Haar verleentheid en die skaam glimlaggie wanneer sy opkyk na hom, laat hom treiterend byvoeg: “En nou is jy myne. Ek wonder wat ek met jou gaan doen?”
“Nee, jy is nie hy nie,” sê tant Hannah se harde, meerderwaardige stem en maak Sonja bewus van die nuuskierige oë van die vakansiegangers om haar, en laat haar vinnig onder die aanraking van die groot man se hande uittree. Sy kyk half skuldig, half verskonend na haar ouma Hannah, maar die ouer vrou gluur met grimmige konsentrasie na die jongman en vra bruusk: “Jy is familie van Arno Landman van Hermanstad?”
“Arno Landman van die plaas Erfdeel?” vra die man. Sonja hou hom dop en wonder waarheen sy glimlag weg is, want daar is nie ’n flentertjie warmte in sy stem of oë vir haar ouma Hannah nie.
“Ja, dis hy. Jy is sy ewebeeld, maar hy is ’n man van my leeftyd … Ek het vergeet ek het die somer en die herfs lankal agtergelaat,” antwoord tant Hannah. Haar oë dwaal na die slanke jeugdigheid van Sonja se figuur en haar uitdrukking verstroef. “Gaan droog jou af, Sonja. Die soutwater is nie goed vir jou vel nie,” blaf sy gebiedend.
Sonja bly staan, nuuskierig om meer oor haar naamlose vriend te hoor, maar die frons keep dieper tussen tant Hannah se wenkbroue en laat haar soos ’n stout kind voel.
“Ag, Ouma, ek soek net skulpe,” sê sy verontskuldigend en sak vinnig op haar knieë neer om haar ouma van die waarheid te oortuig.
“Kan ek help?” Hy hurk voor haar en wanneer sy verras na hom kyk, lag hy soos ’n samesweerder in haar oë. “Daar nader aan die pier is die skulpe meer volop. Sal ons daar gaan soek?”
“Arno Landman is jou oupa, nè, jongman?” vra tant Hannah en Sonja sien uit die hoek van haar regteroog haar ouma se stewige enkels en gerieflike stapskoene en vlak langs haar die skerp punt van die persblou sambreel. “Woon hy nog op sy plaas? En jy? Hoe heet jy? Jy boer nie dalk saam met hom nie?”
Haar ouma Hannah is soos ’n hinderlike, groen brommer op ’n Nuwejaarsdagpiekniek wat almal se pret bederf. Hy raak ongeduldig, merk Sonja en staan met ’n gevoel van teleurstelling op wanneer hy orent kom.
“My oupa se naam is Arno Landman, ja, mevrou,” antwoord hy kil, wend hom tot Sonja en knik met ’n stywe hoflikheidsgebaar. “Tot siens, juffroutjie. Ek het so byna van my afspraak vergeet.” Sy knikgroet sluit tant Hannah in, en dan draai hy om en vleg ’n slingerpad tussen die vakansiegangers, sonstoele en sambrele deur.
Sonja volg sy groot gestalte met haar oë totdat hy agter die krioelende mense verdwyn, besef eers dan dat sy haar asem opgehou het.
Arno Landman … en sy weet sommer hy het sy oupa se naam gekry, maar sodra sy van haar plaaggees van ’n ouma ontslae geraak het, sal sy vasstel of dit werklik sy naam is. Sy sal voordoen dat sy in Walter belang stel en hom net terloops uitvra oor sy vriend. Per slot van sake is dit haar plig om Arno te bedank omdat hy haar uit die see gered het … nie dat sy sou verdrink het nie, maar sy sou van haar nerwe in die maling van die branders verloor het.
“Moenie net daar staan en jou aan die man vergaap asof hy die enigste man op die strand is nie,” maak haar ouma Hannah om ’n onverklaarbare rede met haar rusie. “Dis veels te warm vandag om half kaal hier in die bloedige son rond te lê. Kom, Sonja, ons gaan terug woonstel toe. Jy en Erika sal net sonstraal kry in hierdie hitte … Erika is juis te baldadig – ons weet almal dat haar gesondheid veel te wense oorlaat.”
Sonja stribbel nie teë nie en hoop haar ouma sal ophou praat, want haar stemtoon herinner aan ’n spreker op ’n volksfees: die volume is daar en jy moet teen wil en dank luister na wat daar gesê word. Vreemd tog dat haar ouma Hannah met haar snobistiese besef van haar posisie as die skatryk weduwee van oorlede Pieter Oosthuizen nog nooit geleer het dat beskaafde mense nie trompetter nie. Sy volg haar ouma in ’n gewaardeerde stilte na hul sonsambreel. Of moontlik glo haar ouma dat dit ’n regmatige voorreg is van ’n ryk mens om te praat asof niemand anders bestaan nie. Sonja se oë soek na haar nuwe vriend en Walter se rolstoel aan die linkerkant van die strandwagte se uitkyktoring.
“A, julle is eindelik terug,” groet tant Riëtte Retief en slaag daarin om terselfdertyd verlig en verwytend te klink. Sy kyk na Sonja se groen bikini en sê afkeurend: “Ek hoop jy het klaar geswem vir vandag, Sonja. Ek besef jy kwel jou nie oor jou vel nie, maar ek sal nie toesien dat jy jou so in die seewater verniel nie. Hier, vat my beursie. Ek het vergeet om ’n koerant te koop.”
“Ek is jammer, maar ek het Mamma-hulle nie so vroeg op die strand verwag nie. Ek gaan nou dadelik,” sê Sonja verskonend en neem die beursie by haar moeder.
“Los die koerant, Riëtte. Ek het besluit ons pak nog vandag op en ry terug huis toe,” verklaar tant Hannah met grimmige finaliteit.
Sonja swaai skerp om na haar en frons verward wanneer sy die uitdagende uitdrukking op tant Hannah se gesig lees. Dan wonder sy of sy haar net verbeel oor die kommer in haar grootmoeder se oë. Sy kyk vraend na haar moeder om haar reaksie op tant Hannah se onverwagte aankondiging waar te neem.
“Vandag reeds? Maar het ons dan nie ons woonstel tot môre bespreek nie?” vra tant Riëtte verras.
“Dit is so, maar vandat ek ou Arno Landman se kleinseun daar in die branders gekry het met Sonja in sy arms, het ek besluit ons ry terug huis toe,” antwoord tant Hannah afgemete, haar oë borend op Sonja, wat haar blik opsetlik afgewend hou.
Sonja hou haar moeder dop en merk die skok wanneer haar oë groter rek en sy haar lippe saampers. Dan glimlag sy met ’n beheerstheid wat haar doen en late, haar hele lewe kenmerk. Sonja wonder onseker of sy haar nie net verbeel het dat haar ma geskrik het by die melding van Arno Landman se naam nie.
“Is ek dan nie langer jou beste vriendin en grootste vertroueling nie, Sonja?” vra tant Riëtte met ’n stemtoon wat van teleurstelling en hartseer eerder as van verwyt spreek. “Waarom het jy my nie vertel jy het ’n nuwe vriend nie? Hoe lank ken jy hom? Gesels julle dikwels? Jy kon my darem vertel het, of word ek nou eenkant toe gestoot omdat jy byna mondig is?”
“Ons moet inpak en ry,” verklaar tant Hannah ergerlik en steek-steek gate in die warm, los sand, asof sy ’n onsigbare vyand wil deurboor.
“Ouma weet meer van die man as ek, Mamma. ’n Brander het my omgeslaan en voordat ek orent kon kom, was daar nog ’n brander. Die man het my net gehelp, dis al. Ek weet nie eens wat is sy naam nie, maar Ouma ken sy oupa,” verontskuldig Sonja haarself, maar voel tog skuldig. “Ouma, vertel nou van Arno Landman en daardie plek, Hermanstad. Waar is dit? Ek het nog nooit tevore van so ’n plek gehoor nie,” probeer sy ’n ander wending aan die gesprek gee.
“Dan is die jongman ook van Hermanstad?” vra tant Riëtte en dié keer het haar stem ’n ondertoon van vrees.
“Jy het nou die beursie, Sonja. Gaan koop vir jou ma die koerant en bring vir my ’n pakkie skyfies … daardie soort met die tamatiesous. En ’n koeldrank ook, want die skyfies maak my dors. Toe nou, wat draai jy so, Sonja?” vra tant Hannah ongeduldig.
“Ek trek net my sandale aan, Ouma,” sê Sonja gedwee, glip haar voete in haar sloffies en loop in die rigting van die strandrestaurant.
Wie is Arno Landman en waarom skrik haar moeder by die aanhoor van sy naam? Waar is Hermanstad? Dit kan nie ’n groot dorp wees nie – beslis nie ’n stad nie – maar waarom wou haar ouma haar nie vertel het waar die plek is nie? tol en tuimel vrae deur Sonja se gedagtes en laat haar onwillekeurig