Te eenders, te anders. Elsa Winckler
petrolpedaal af. Sy ry te vinnig. En sy ís opgewerk. Dit is heeltemal buite haar aard. Die simpel man het haar behoorlik omgekrap.
“Niemand het my nog ooit ’n ryk, oorgewig, spoilt daddy’s girl genoem nie.”
Nadia lag. “Dit was darem voordat hy jou gesien het. En toe kon hy vir ’n tydjie nie ’n woord uitkry nie. Het jy agtergekom?”
“Jy’s laf, man. Hy het seker net aan nog beledigings staan en dink. Ek hoop regtig nie dat ek nodig sal hê om verder iets met hom te doen te hê nie. Hy het my heeltemal verkeerd opgevryf.”
“Soos ek sê . . . jy reageer darem baie heftig op die arme man. Ek het gewag en gehoop dat jy vir die een of ander sexy Fransman sou val terwyl jy daar was, maar lyk my hierdie rooikop het iets reggekry wat nie een van daai ouens kon doen nie.”
“Moenie verspot wees nie, Nadia. Al wat hy reggekry het, is om my vies te maak. En dis definitief nie die regte knoppie om by my te druk nie. Hy is absoluut die laaste soort man in wie ek sal belangstel. Hy’s bossy, beledigend, maak wilde afleidings . . . En om alles te kroon het hy bloedrooi hare.”
“Klink vir my asof julle perfek by mekaar sal pas.”
“Jy moet vir jou snaaks hou.”
“Nee, regtig! Ons besprekingsgroep kry ’n gasspreker wat oor hierdie soort ding gaan kom praat. Ek het solank daaroor begin lees. Mense se persoonlikhede en temperamente verskil radikaal.”
“Presies. Daarom sal party mense net nooit oor die weg kom nie.”
“As jy weet wat iemand anders se swakpunt is, kan jy . . .”Nadia vat skielik aan Aileen se arm. “Sê jou wat! Die gasspreker kom praat Donderdagaand met ons groepie. Sy gaan oor mense se verskillende persoonlikhede en temperamente gesels, dit sal baie interessant wees. Kom saam, toe! Ja, sure, daar is ’n klomp bibliotekaresses, maar daar is ook baie ander interessante mense, jy sal dit geniet.”
Nadia giggel effens. “En hierdie een vrou, Maria, móét ek jou aan voorstel. Ek weet nie eens wat haar van is nie, maar ons almal hang altyd aan haar lippe. Sy moes ook op haar dag rooi hare gehad het, hier en daar slaan dit nog deur. Sy is histeries! Haar lippe is altyd bloedrooi geverf, jy kan haar nie miskyk nie. Sy maak trourokke en daar’s altyd snaakse stories oor haar seun en dogter. Die dogter maak ook klere en die seun is een of ander sakeman. Sy het hoeka vir ons hierdie spreker gereël, glo’n kennis van haar. Maria sê sy hoop om haar seun beter te leer verstaan.”
“Gmf. Ek weet nie of enigiemand die vent wat ons nou net gesien het, beter kan of wil verstaan nie. Dis duidelik dat hy simpel vooropgestelde idees het en afleidings maak voordat hy al die feite het. En ek het nie nodig om te hoor hoekom ek nie van die man hou nie. Ek weet hoekom.”
“Kom in elk geval saam. Ek dink ’n mens kan net iets leer. Toe man, ons kan agterna iets lekkers gaan doen. Dis gewoonlik nie baie lank nie, dan kan ons by Buena Vista ’n draai gaan maak vir ’n nightcap.”
“Nou maar goed. Maar as dit my verveel, loop ons gouer.”
Nadia lag. “Ek twyfel. Jy leer dalk iets oor jouself. Maar vertel nou eers vir my, wanneer trek jy in jou nuwe huisie in?”
“Dit word op die oomblik uitgeverf en –”
“Jy wil natuurlik die kombuis heeltemal oordoen,” terg Nadia.
“Natuurlik! Ek is so opgewonde daaroor. Dankie tog vir my ouma se erfporsie en die drie jaar se Engels-gee in Korea, anders sou ek nooit vir my eie plekkie kon betaal het nie. Ek het regtig baie skraps gelewe in Korea, eintlik nou in Frankryk ook, maar dit was die moeite werd. My spaarvarkie is tot barstens toe vol. Ek sien só uit daarna om my eie ding te doen! Al die groot veranderings is klaar gedoen, my pa was ’n absolute champ en het gesorg dat alles in is wat moet in wees. Dis nog net die laaste verfwerk wat oorbly. Ek kan hopelik teen volgende naweek intrek, wanneer ek meer hulp van my familie en van my pel kan hê.” Sy kyk tergend na Nadia.
“Natuurlik sal ek help, ja. Jy het so rondgerits die laaste paar jaar, ek is baie bly jy’s terug. Ek dink regtig Frankryk en Korea het nou genoeg van jou gesien, dis nou eers ons beurt.”
Aileen glimlag vir haar. “Ja, dit was ’n dolle paar jaar, maar anders as jy wat altyd geweet het wat jy wil doen, het ek het regtig nie ’n clue gehad toe ek klaar geswot was nie. Ek het net geweet ek wil nie ’n ingenieur wees nie.”
“Nog iets wat jy beter sal verstaan ná die praatjie Donderdagaand. Hoekom jy in elk geval ingenieurswese gaan swot het, bly vir my ’n misterie. Dis net glad nie jy nie. En al daai somme!”
“Ek hou van somme, dis die hoofrede hoekom ek daarvoor ingeskryf het. En ek is nie spyt nie. Dis net nie wat ek vir die res van my lewe wou doen nie. Maar ek het baie geleer, en baie daarvan is kennis wat ek ook kan gebruik wanneer ek die nuwe winkel inrig.”
“Ek het vrede oor hoe jou winkel ingerig word, ek stel net belang in die lekkertes wat jy gaan verkoop. Ek kwyl by voorbaat as ek dink dat ek elke dag iets by jou plekkie kan kom eet. Ek is so opgewonde saam met jou! En ek dink die perseel is net reg. Dit lê teen die pad waarop al die toeriste beweeg na Oom Samie se Winkel en die res van die dorp se dinge. Ek het net nie gedink jy sal so ’n groot ruimte wil hê nie.”
“Ek het eintlik iets kleiners in gedagte gehad, maar noudat ek gesien het hoe groot dit is, het ek sommer nuwe idees bygekry. Ek gaan ’n regte, egte Paryse pâtisserie daar staan maak.” Sy klik haar tong. “Koekies! Simpel man. Wat dink hy gaan ek verkoop, flippen lamingtons? Ek vervies my sommer van voor af.”
Nadia lag. “Los nou maar die arme man. Hy gaan nie weet wat hom tref as jy eers volstoom aan die gang is nie.”
“Nee wat, ek dink nie ek hoef hom ooit weer te sien nie. Hiervandaan sal ek met my pa of Evan onderhandel. Julian lyk vir my ten minste na ’n redelike mens, ek’s nie seker presies wat hy vir my pa doen nie. Die gebou bestuur, dalk.”
“Wat sê Evan van jou planne?”
“Jy ken mos vir hom. Regtig die ideale ouboet. Altyd ondersteunend.”
“Is hy nou voltyds saam met jou pa in die besigheid?”
“Ja. Die nuwe naam, McLachlan en Seun, is al opgesit. My pa is so trots.” Sy hou naby die studentesentrum van die universiteit stil en Nadia klim uit. “Baie dankie dat jy jou etenstyd opgeoffer het om saam met my te kom kyk, Nadia. Dis nice van jou.”
“Jy was lank genoeg weg, dis lekker dat ons weer dinge saam kan doen. Ek kom laai jou Donderdagaand op, hoor, jy kan nie uit-chicken nie,” sê sy laggend voordat sy tussen die studente verdwyn.
Aileen kyk haar blondekopvriendin glimlaggend agterna. Sy en Nadia is van die eerste dag op skool al maats. Sy het haar so gemis die laaste klompie jaar en dis so lekker om te weet sy is weer op dieselfde dorp as haar groot vriendin.
Terwyl sy tydelik by haar pa bly, probeer Aileen elke aand vir hulle kos maak. Dit lyk asof haar pa gewig verloor het. Hy was nog nooit die beste kok nie en hy en Evan het seker op wegneemetes en toebroodjies gelewe terwyl sy weg was.
Aileen kyk by die kombuisvenster uit terwyl sy die blaarslaai afspoel, na die boompies wat haar ma geplant het. Haar ma was so lief vir kosmaak. Aileen mis haar nog elke dag. Sy was twaalf en Evan vyftien toe haar ma die lang stryd teen borskanker verloor het. Haar mooi rooikopma sou nooit weer vir haar stories opmaak oor rooikopprinsesse en rooikopfeetjies nie. Maar sy sal dit altyd in haar haar hart saamdra.
Sy sluk teen die knop in haar keel en draai terug om die slaai klaar te maak. Haar pa en broer behoort enige oomblik hier te wees. Maar sy sou vanaand wat wou gee om ook met haar ma te kan gesels. Om te hoor wat sy dink van die rooikopman wat Aileen vanmiddag ontmoet het. Om te vra wat dit beteken dat haar hart so bollemakiesie geslaan het. Om haar te hoor lag.
“Hallo, hallo,” sê haar broer in die deur, en sy vee vinnig oor haar wang.
“Wat ruik ek?” vra haar pa, op sy seun se hakke.
“Lekker tamatiebredie vir die koue aand,” glimlag