Te eenders, te anders. Elsa Winckler
haar oë so blou soos hy onthou. Hy het al begin dink hy’t hom dit verbeel.
“Hallo,” byt sy af en skuif in haar stoel sodat sy effens van hom wegbeweeg.
“Dis wonderlik dat ons julle hier raakloop. Aileen het nou net vir my vertel sy wil graag ’n afspraak met jou maak, Julian,” gesels Nadia vrolik. ”Dis hoekom jy jou naam gehoor het.”
“Ja?” sê-vra Julian.
Allen is net betyds om te sien hoe die rooikop haar vriendin aangluur, maar dan trek haar mondhoeke op en sy glimlag in Julian se rigting.
“Ek sal jou bel vir ’n afspraak.”
“Gaan dit oor die ruimte waarna jy gekyk het?” vra Julian en sy knik. Julian slaan met sy hand op Allen se skouer. “Dan moet jy met die baas praat. Ek doen ook maar wat hy sê.”
Voordat Allen kan reageer, staan Julian op. “Nadia, kom help gou vir my, ek koop vir ons ’n rondte drankies.”
Die rooikopmeisiekind hap in die lug en ’n blos klim teen haar hals op. Gefassineerd hou Allen die proses dop terwyl die ander twee kroeg toe stap. Sy het ’n lang, slanke nek en dis asof ’n sagte gloed stadig reg onder haar vel versprei.
“Ek is jammer,” begin sy, en hy sit terug op sy stoel. Dít wil hy nou geniet. Sy vou een hand ongemaklik om haar nek. “Ek wou jou nie hiermee hinder nie. Ek . . .”
Hy lig sy skouer op en vat ’n sluk van sy bier. “En toe is dit nou nie jou pa se gebou nie,” sê hy en hou weer haar nek dop. Sowaar. Hierdie keer is die blos duideliker en versprei dit tot op haar wange.
Haar oë trek op skrefies. “Ek het so agtergekom,” pers sy uit. “Ek het gehoop ek kan met Julian daaroor praat.”
Hy sit sy bier op die tafel neer en vou sy arms. “Jy sal maar met my moet praat. Dis nou natuurlik as jy nog die plek wil hê. Daar is ander mense wat ook belangstel, so jy sal baie gou ’n besluit moet neem.”
Aileen voel hoe haar hele gesig warm word. Wat ’n mislike mansmens! Sy staan op en vat haar handsak.
“Jy was mos in elk geval niks lus vir iemand wat . . . Hoe het jy dit nou weer gestel? O ja, koekies bak in jou gebou nie. Ek sal ’n ander plan maak, dankie,” sê sy deur opmekaar geperste lippe.
Hy staan ook op en steek sy hand uit om haar te keer. Maar net toe storm ’n kort, blonde meisie met baie min klere aan by haar verby en gooi haar arms om Allen se nek.
“Allen, ek wag en wag vir jou,” pruil sy en trek sy kop af.
Iets kouds vou om Aileen se hart en sy draai vinnig weg. Waar is Nadia? Hulle moet hier wegkom.
“Hier’s jou wyn,” sê Nadia se stem agter haar.
“Kan ons asseblief net ry,” sê Aileen kortaf en stap deur se kant toe.
“Aileen, wag nou!” roep Nadia agter haar aan, maar sy stap vinniger. Buite die kuierplek trek sy haar longe vol koel lug. Nadia kom uitgehardloop en Aileen is bly om te sien sy’t haar handsak by haar.
“Wat op aarde het gebeur? Ek het gehoop jy kan die ou sommer so oor ’n glas wyn om verskoning vra en dinge finaliseer.”
“Wel, jou plannetjie het nie gewerk nie,” se Aileen terwyl sy vinnig na Nadia se motor stap. Hoe gouer sy hier kan wegkom, hoe beter. Die prentjie van die blonde girl in Allen se arms laat ’n bitter smaak in haar mond. En vir wat?
“Wag ’n bietjie,” roep Nadia agter haar en gryp haar aan haar arm. “Wat het gebeur?”
“Hy was net sy gewone mislike self, dis al. Ek moet eenvoudig ’n ander plek gaan soek en klaar. Vir daai vent sien ek nie kans nie. Hou my dop soos ’n slang wat iets wil pik en . . . en . . .” Aileen is so opgewerk, sy stap ál vinniger.
“Leen, jy is so oorhaastig. Het hy nie maar net ’n grappie gemaak nie?”
Hulle is by die motor en Nadia druk die knoppie sodat die deure ontsluit. Aileen klim vinnig in. Sy sug en probeer haarself kalmeer terwyl Nadia nog in haar handsak vroetel voordat sy inklim.
Aileen kan nie onthou dat iemand haar al ooit so vies gemaak het nie. Normaalweg kom sy goed oor die weg met enige mens. Maar hierdie man maak haar woedend, sommer as sy hom net sien. En hy is alewig besig om aan haar te karring. En dan word haar mond droog, haar handpalms klam en haar hart verloor sy ritme.
Nadia klim in en skakel die motor aan. Terwyl sy haar gordel vasmaak, kyk sy spottend na Aileen.
“Soos ek sê, die man druk behoorlik jou knoppies.”
Aileen wil haar vervies, maar dan glimlag sy eerder half verleë. “Twee rooikoppe. Wat kan jy anders verwag? Ek sal maar môre weer na die plek in Andringastraat gaan kyk. Dalk lyk dit nou vir my beter.”
“Kom laai my etenstyd op, ek kom saam. Ek dink steeds Dorpstraat is ’n beter adres, maar ons gaan kyk.”
3
Allen draf die treetjies op na sy ma se voordeur. Hy is nie ’n oggendmens nie, en ná sy rondrollery van die vorige nag is hy in ’n vieslike bui. Maar vir sy ma sal hy enigiets doen en wanneer sy vra dat hy voor sy eerste vergadering by haar moet inloer, dan doen hy dit.
Sy ma is die glimlag in sy lewe, sy veilige hawe. Hy was in matriek toe sy pa skielik oorlede is. ’n Saketransaksie wat skeefgeloop het, het sy pa finansieel en emosioneel geknak. Van die groot, vriendelike man wat Allen voorheen geken het, het min teen die einde oorgebly. Al wat Allen vandag regtig onthou, is die waarskuwing wat sy pa tydig en ontydig aan hom en sy suster gerig het: Moet niemand vertrou nie. Veral nie in die sakewêreld nie.
Dis ’n waarskuwing wat hom al baie gehelp het in sy loopbaan en dis waarskynlik die hoofrede hoekom hy op vyf-en-dertig reeds finansieel so sterk is dat hy netsowel kan aftree.
Nog voordat hy kan klop, pluk sy ma die voordeur oop en is hy toegewikkel in ’n omhelsing. Vir ’n oomblik hou hy haar styf vas. Sy ruik na ma, na vars koffie en beskuit, na huis.
“Dankie dat jy ’n draai kom maak. Ek het vir jou ontbyt gemaak.”
“Ma, ek het nie tyd nie . . .” begin hy terwyl hy agter haar aanstap in die rigting van hemelse geure.
“ ’n Mens het altyd tyd om te eet. Sit,” beveel sy, en hy hou op stry. Sy maag het in elk geval nou oorgeneem en hy kwyl behoorlik.
“Hoe gaan dit met Marla? Ek het lanklaas met haar gepraat.” Sy suster is in elk geval nogal vir hom ’n misterie.
“Jou suster werk soos ’n besetene aan die nuwe reeks. Die modeweek is een van die dae en daar is glo nog vreeslik baie wat moet gebeur. Maar sy kom Sondag deur vir ete. Ek het gehoop jy kan ook kom?”
“Klink lekker. Ai, die Marla . . . Dat julle twee albei met BSc-grade sit en heel happy is om heeldag met lap te speel, sal ek nooit lekker verstaan nie.”
“Marla is ’n beroemde modeontwerper, sy speel nie! Om te skep maak ons gelukkig. Dis ons passie. Nie almal wil heeldag in ’n kantoor sit nie. Ons wil iets nuuts maak, of dit nou van lap of wat ook al is. O, wat my laat dink! Ek het ’n baie oulike meisiekind ontmoet,” sê sy ma terwyl sy vir hom spek en eiers skep. Sy skuif die roosterbrood nader en gaan sit.
“Ja?” Ondervinding het hom geleer wat om te doen wanneer sy ma van oulike meisiekinders begin praat. Hy moenie baklei nie, sy steur haar niks daaraan nie. Hy kan ook nie te geïnteresseerd lyk nie, want dan het hy ’n afspraak nog voordat sy klaar gepraat het. Die beste is om so min as moontlik te sê.
“Ag toe, jy. Ek probeer nie vir jou ’n date reël nie, jy het genoeg los flossies wat om jou ronddans. Hierdie meisie sal in elk geval glad nie by jou pas nie. Wat jammer is, want sy is die mooiste meisiekind wat ek in jare gesien het.”
Allen se wenkbroue skiet op. “Dis die eerste keer dat ek daardie woorde uit Ma se mond hoor! Gewoonlik is die meisie waarvan Ma praat net die regte een vir my.”
“Ja,