Blom van Venesië. Susanna M. Lingua

Blom van Venesië - Susanna M. Lingua


Скачать книгу
Ek spring uit my vel as ’n graaf my bel,” roep Linda uit. “As hy jou weer bel, kan jy gerus vir hom sê jy het ’n woonstelmaat wat baie belangstel in adellike here, en hom graag wil ontmoet.”

      “Staak nou dadelik jou lawwigheid en hou op om my telkens in die rede te val,” bestraf Terri haar en gaan ernstig voort: “Die vent het my net gebel om te sê dat Roberto vanoggend aan ’n hartaanval beswyk het en dat ek vanaand die elfuurvlug na Rome moet haal. Hy het glo al klaar vir my plek op die vlug bespreek en ook my kaartjie betaal. Ek moet dit net gaan haal. Alles het hy sonder my toestemming en medewete gereël, asof ek ’n kind is wat nie my eie reëlings kan tref nie!”

      “Ek is jammer om van Roberto se afsterwe te hoor, Terri,” laat Linda nou besadig hoor. “Ek is net jammer dat ek hom nooit geken het nie. Lana was altyd vir my so ’n mooi meisie . . . Maar wag, ek hou jou nou op. Jy het bepaald ’n honderd en een dinge om af te handel. Sien jou vanmiddag.”

      Hulle lui af en Terri skakel dadelik die lugdiens se kantoor om seker te maak dat alles vir haar vertrek gereël is. Daarna vertrek sy na die bank om reisigerstjeks te koop, doen ’n paar haastige inkopies en keer dan terug na die woonstel vir ’n laat middagete, want daarna moet sy haar tas pak vir ’n paar weke se verblyf in Italië.

      Terri koop vir haar die ligste tas wat sy kan vind, sodat sy meer klere kan saamneem. Die gedagte dat Lana op ’n landgoed woon en dat sy moontlik met die boerdery kan help, laat Terri besluit om haar ligblou oorpak ook saam te neem.

      “Ek weet nie wat jou besiel om ’n oorpak saam te neem nie, Terri. Pak liewer meer deftige tabberds in, en kyk of jy nie die graaf se hart kan verower nie,” praat Linda skielik oor Terri se skouer terwyl sy lustig aan ’n appel smul.

      “Lyk ek miskien vir jou of ek my bont varkie verloor het?” wil Terri half verontwaardig weet, sonder om haar vriendin aan te kyk.

      “Wat op aarde skort met die graaf dat jy so verontwaardig klink, my liewe mens?” vra Linda verbaas terwyl sy op die voetenent van die bed gaan sit en vir Terri die klere help opvou.

      “O, daar skort niks op aarde met hom nie, behalwe dat hy trots, kil en hooghartig is, en boonop ook eiegeregtig.”

      Linda se hartlike lagbui laat Terri met ’n ligte frons swyg, want sy sien niks snaaks om oor te lag nie.

      “As jy langer so frons, gaan jou gesig sowaar so bly staan,” terg Linda voort. “Ek moet sê die graaf klink vir my na ’n koue, dominerende man, maar ek sal nogtans baie graag met hom wil kennis maak . . . al is dit dan ook net om te sien hoe die edelman lyk wat jou so die herrie in gemaak het.”

      Terri kyk Linda ’n oomblik verontwaardig aan, maar dan begin albei meteens lag.

      “Na die hoenders met Lana se wonderlike graaf!” sê Terri nadat haar lagbui bedaar het. “Hy weet dit miskien nie, maar hy gaan nog sy dreuning met my teëkom. Vandag se eiegeregtigheid het ek uitsluitlik oorgesien omdat dit as gevolg van ’n sterfgeval was en die nood dit vereis het. Maar daar trek ek die streep.”

      “Wel, as daardie graaf weet wat goed is vir hom, sal hy sorg dat hy uit jou pad bly!” laat Linda met ’n ondeunde glimlaggie hoor. Sy gee die laaste kledingstuk aan om gepak te word, dan word die tas se ritssluiter versigtig toegetrek.

      Terri wonder hardop of die tas nie straks die maksimum gewig oorskry nie.

      “Ek sal die skaal in die badkamer gaan haal, dan weeg ons die tas,” bied Linda behulpsaam aan.

      Die tas is egter lig genoeg sodat Terri nog twee rokke by haar bagasie kan voeg. Hierna word dit weer geweeg.

      “Ek het nie wit skoene vir daardie twee rokke ingepak nie, Linda,” val dit Terri ineens by.

      “O, dit is nie ’n probleem nie. Ons sit dit saam met jou grimering en goed in die handtassie wat jy saam met jou in die vliegtuig neem,” doen Linda aan die hand.

      “Ek weet nie wat ek vandag sonder jou hulp sou gedoen het nie, Linda,” erken Terri met ’n verligte glimlaggie.

      “Ag, ons help mekaar mos maar altyd,” laat Linda ongeërg hoor en vervolg lighartig: “Met ons twee se kennis en vernuf kan ’n mens die hele wêreld se probleme in ’n kits oplos.”

      Terri kyk haar vriendin glimlaggend aan en sê: “Laat staan liewer die wêreld se probleme en neem my maar net vanaand lughawe toe, dan het jy klaar al weer ’n probleem opgelos.”

      Die twee meisies kuier die res van die middag gesellig saam totdat dit tyd is om na die lughawe te vertrek.

      “Ek gaan jou baie mis,” sê Linda toe sy Terri op die lughawe groet. “Die woonstel gaan soos ’n grafkelder wees sonder jou.”

      “Vra vir Celesta om die volgende vier weke by jou te kom bly,” stel Terri voor. “Sy sal dalk bly wees om ’n paar weke lank van die skoonfamilie ontslae te kan wees.”

      “Ek sal dit beslis doen,” belowe Linda voordat hulle groet.

      Terri-hulle het die volgende oggend pas op die lughawe in Rome aangekom, toe sy na ’n bepaalde toonbank ontbied word, waar die graaf De Castellano se sekretaris, Alfredo Vaccardo, aan haar voorgestel word.

      Terri erken die bekendstelling beleef; dan hoor sy Alfredo op verstaanbare Engels sê: “My werkgewer, die graaf De Castellano, het gesê ek moet jou voorlopig namens hom welkom heet in Italië, signorina.”

      Terri bedank die man. Dan gaan haal hulle haar bagasie en word sy na die graaf se tweemotorige vliegtuig geneem wat gereed staan om na Venesië te vertrek.

      Dit is ’n vliegtuig wat ses passasiers kan dra, maar sy en Alfredo is vanoggend die enigste passasiers.

      “Ek hoop jy gaan jou verblyf hier in Italië geniet, signorina,” begin Alfredo vriendelik gesels nadat die vliegtuig opgestyg het. Hy besef nou eers waarom die graaf hom streng opdrag gegee het om die signorina met sy eie lewe te beskerm. Hy het altyd gedink signora Lana Contarno is die mooiste vrou wat hy nog ooit gesien het, maar hierdie jonger suster van haar beskik oor iets wat die ouer suster nie het nie. Dit is nie iets waarop hy sy vinger kan lê nie, want dit is iets wat sy uitstraal. Maar dit maak haar beslis veel aantrekliker as haar ouer suster.

      “Dankie, ek is seker ek sal my verblyf in jul land geniet, meneer Vaccardo, al kan ek nie jul taal praat nie,” breek Terri se musikale stem deur sy gedagtes.

      “Die taal is nie vandag meer ’n onoorkombare faktor nie, signorina,” stel hy haar dadelik gerus. “Baie van my mense kan Engels verstaan en op ’n manier praat. En dié met wie jy in Venesië in aanraking sal kom, kan almal die Engelse taal redelik goed praat en verstaan.”

      “Ek hoop jy kan dieselfde sê van die mense op die eiland waar my suster woon,” laat Terri, soos gewoonlik, eerlik hoor.

      “Jy sal met almal op die eiland kan kommunikeer,” verseker Alfredo haar.

      Hulle gesels nou oor die eiland, en Terri vra hom belangstellend uit na Lana se boerdery. Sy is verras om te hoor dat Roberto nie net druiwe gekweek het nie, maar ook olywe.

      “So, dan was my swaer nie net ’n druiweboer nie, hy het ook olywe aan die binneland verskaf,” sê Terri hardop, half aan haarself, eerder as aan Alfredo.

      Hulle kom kort voor middagete in Venesië aan, waar die graaf se helikopter wag om haar na die eiland te neem. Terri groet Alfredo vriendelik met die hand, nadat hy haar versigtig gehelp het om in die helikopter te klim. Hulle styg dadelik op, en ná ’n rukkie vlieg hulle oor die stad met sy waterkanale, in die rigting van die eiland wat vanuit die lug soos ’n groen oase lyk.

      Dit duur egter nie lank nie, toe land hulle op die eiland. Terri word onmiddellik met ’n motor na ’n tweeverdiepinghuis geneem, waar ’n man haar beleef by die voordeur ontvang en haar ewe beleef nooi om binne te kom. Hy ontbied ’n diensmeisie om haar jas en bagasie na haar kamer te neem, en lei haar dan na ’n weelderige ontvangslokaal waar Lana en die twee kinders op haar aankoms wag.

      Terri groet haar suster en is om die twee kinders se onthalwe bly om


Скачать книгу