Blom van Venesië. Susanna M. Lingua
verstaan wat die heengaan van hul pa vir hulle beteken nie. Dan hoor sy Lana sê: “Ek is so bly dat jy gekom het, Terri. Ek het jou so lanklaas gesien. Kom sit hier langs my, sodat ons ’n rukkie kan gesels voordat die klok vir middagete lui.”
Terri neem langs haar suster op die rusbank plaas, en dan wil Lana weet wat haar suster se planne is noudat sy die verlangde graad verwerf het.
“Ek het besluit om vir my ’n plasie te koop,” vertel Terri.
“Maar is ’n plaas nie vreeslik duur nie?”vra Lana belangstellend. Van hierdie dinge weet sy absoluut niks nie. Voor haar troue het haar lewe net om die modewêreld gekring, en ná haar troue was sy voortdurend in weelde toegedraai, want Roberto was ’n ryk man. As Terri haar die grootte van so ’n plaas in hektaar moet noem, sal sy nie weet hoe groot dit veronderstel is om te wees nie.
“O ja, grond is deesdae baie duur,” hoor sy Terri sê. “Maar ek het darem nog genoeg geld in die bank om in ’n plasie te belê. Die res sal ek by die bank probeer leen. Die polis wat op my vier en twintigste verjaardag aan my uitbetaal word, wil ek gebruik vir saad, diere en plaasgereedskap.”
“Ek het so gehoop dat jy vir altyd hier by my en die kinders sou bly, Terri . . .” begin Lana.
Dan lui die klok vir middagete en die gesprek word vir eers gestaak.
Ná die ete word die twee kinders deur ’n kindermeisie na hul kamers geneem om ’n uur of wat te rus en Lana bied aan om Terri te gaan wys waar haar kamer is.
Terri is aangenaam verras toe sy merk dat haar tas reeds uitgepak is. Lana neem op ’n rusbankie voor die venster plaas, en sê met eindelose hartseer in haar stem terwyl Terri haar in slenterdrag verklee: “Die begrafnis vind môreoggend in Venesië vanuit die Sint Markus-katedraal plaas. Ek . . . probeer om ter wille van die kinders kalm en sterk te bly. Maar dit is nie maklik wanneer alles in jou . . . vergruis voel nie.”
Lana bars meteens in trane uit. Sy druk haar gesig in haar hande en snik asof haar hart wil breek.
Terri gaan was haar hande en gesig in die badkamer wat aan haar slaapkamer grens, daarna gaan sit sy op die bankie voor die spieëltafel. Sy grimeer haar gesig en kam haar hare; alles baie tydsaam, sodat Lana ongestoord van haar opgekropte hartseer ontslae kan raak.
Toe Lana se snikke later bedaar, maak Terri asof niks gebeur het nie; sy bied net aan om oogdruppels in haar suster se rooi gehuilde oë te sit. Nadat Lana haar gesig gewas en gegrimeer het, stel Terri voor dat hulle ’n entjie gaan stap.
“Ons kan strand toe stap,” stel Lana voor. “Daar is altyd ’n koel, verfrissende seebries. Ek en Roberto het gewoonlik teen sononder strand toe gestap en dan gekyk hoe die plaaswerkers van die rotse af hengel.” Sy sug hartseer en gaan weemoedig voort: “Ons was só lief vir mekaar. Ons was feitlik onafskeidbaar en het so na aan mekaar gelewe . . .”
Lana se oë skiet weer vol trane en Terri maak asof sy nie daarvan bewus is nie. Terri glo nie daaraan dat ’n mens jou hartseer moet opkrop nie, dus moedig sy Lana aan om oor haar en Roberto te gesels.
Later, toe hulle weer huis se kant toe staan, bied Terri haar sonbril vir Lana aan sodat die kinders nie aan haar oë sal sien dat sy gehuil het nie.
Terri is vroeg die volgende oggend uit die bed, want die begrafnis is vir tienuur gereël. Lana nuttig ontbyt gewoonlik in die bed, gevolglik sluit Terri haar by die kinders in die eetkamer aan. Daarna wag sy ’n paar minute op haar suster.
Lana is van haar hoed tot haar skoene in somber swart geklee en gereed toe een van die graaf se bote opdaag om hulle na Venesië te vervoer. Terri is in ’n swart snyerspak geklee met swart leerhofskoene, ’n wit kantbloes met ’n hoed en handskoene van dieselfde kleur. Lisa is in wit geklee en Armando in ’n vlootblou snyerspakkie.
Die boot neem hulle tot voor die hotel van die ontslape Roberto se tante en neef, Adela en Mario Contarno. Die hotel is langs die Groot Kanaal geleë en binne loopafstand van die pragtige Sint Markus-katedraal.
Terri word aan tante Adela en die twee en dertigjarige Mario voorgestel, en sy is bly dat hulle ook Engels kan praat en verstaan – die ouer vrou nou nie heeltemal so goed soos Mario nie, maar Terri verstaan haar darem.
Die hotel blyk egter ’n ou kasteel te wees wat Mario se ma omskep het tot ’n luukse hotel met al die moderne geriewe.
Lana en Terri word eers met tee bedien voordat hulle na die katedraal vertrek. Aangesien Terri tydens die diens niks verstaan wat die Italiaanse geestelike sê nie, bepaal sy maar haar aandag by die twee kinders wat weerskante van haar sit. Mario sit tussen Lana en sy ma.
In die begraafplaas, toe die kis met die oorledene se oorskot op een van die rakke in die Contarno-familie se grafkamer geplaas word, is dit Mario wat Lana met sy arm ondersteun om haar staande te hou. Terri het ’n kind aan elke hand. Vir haar is dit nie so ’n hartseer oomblik nie, want sy het Roberto nie eintlik geken nie. Trouens, sy het hom maar een keer baie vlugtig op die lughawe gesien terwyl hulle onderweg was na Namibië.
Terri se diepblou oë staar stil en afgetrokke oor die skaar mense die verte in, terwyl baie dinge deur haar gedagtes gaan. Ná ’n rukkie laat sy haar blik sak . . . en die volgende oomblik kyk sy vas in die ernstige, bruin oë van ’n skraal man, byna twee meter lank, wat trots, regop en waardig oorkant haar staan. Sy blik hou hare etlike sekondes gevange. Dan verskuif sy haar blik haastig na die lang, donker vrou langs hom, en dan na die bejaarde vrou wat langs die jonger vrou staan. Albei vroue is in swart geklee, en Terri vermoed dat hulle familie van die oorledene is.
Lisa begin ná ’n rukkie rusteloos word, gevolglik tik Terri vir Mario op die skouer en verduidelik fluisterend: “Lisa begin nou rusteloos word; ek dink ek moet hulle liewer uit die gedrang neem.”
Mario knik instemmend en dan baan Terri vir haar en die kinders ’n weg deur die skare, totdat hulle eindelik buite is. Lisa en Armando vly hulle sommer dadelik op die strook goed versorgde gras langs die betonpaadjie neer, en nou lyk hulle weer gelukkig en tevrede . . . twee rykmanskinders wat nog nie werklik besef wat die verlies van hul pa vir hulle beteken nie.
Armando en Lisa wou net op die koel gras begin hardloop en speel, toe die plegtigheid ten einde loop en die mense die begraafplaas begin verlaat. Lana, Mario en tante Adela sluit hulle by Terri en die kinders aan en saam keer hulle terug na die hotel vir middagete.
2
“Marco, die graaf De Castellano, het ons vroeër by die begraafplaas vir namiddagtee genooi, Terri,” kondig Lana aan terwyl sy en Terri hul handsakke en handskoene in een van die hotel se slaapkamers neersit en hul grimering opknap. “Hy sê daar is ’n belangrike saak wat hy met my wil bespreek, en hy sal sy gondel stuur om ons te kom haal.”
“Ek glo nie ek is ingesluit in die graaf se uitnodiging nie, Lana,” help Terri haar bedagsaam reg. “Ek het die edelman nog nooit ontmoet nie en hy wil in elk geval sake met jou bespreek. Sy uitnodiging was bepaald net aan jou en die kinders gerig.
“Terwyl jy en die kinders die graaf besoek, sal ek ’n deeltjie van die stad gaan besigtig; veral die Sint Markusplein, waar ek sommer ook by die een of ander restaurant ’n koppie tee sal geniet.”
“Ek is seker Marco het jou by sy uitnodiging ingesluit, Terri,” weerspreek Lana haar terwyl sy haar lang, blonde hare kam.
“Ek merk nou eers dat ek en jy dieselfde kleur hare het –”
“Ek praat nie nou oor ons hare nie, Terri,” val Lana haar bedaard in die rede. “Ek praat van Marco, die graaf, se uitnodiging.”
“Ek het jou reeds gesê die man wil sake met jou bespreek, Lana . . . sake wat my glad nie aangaan nie. Trouens, ek sal dit ook baie meer geniet om die stad te verken as om met jul graaf kennis te maak.”
Lana sit die haarborsel versigtig neer en kyk Terri effens verward aan toe sy sê: “Ek verstaan nou glad nie wat jy bedoel nie, kleinsus. Jy het Marco nog nooit eens gesien nie, en tog klink jy half vyandig teenoor hom.”
Terri gaan staan voor die venster. Met haar rug na Lana gekeer, erken