Verstevlei. Jaco Fouché
Teen die mure is rakke met potplante en boeke. Ek kan een oor noodhulp uitmaak voor die suster my aandag opeis.
“Ek het al voorheen hieroor gepraat.”
“Dis myne.”
“Wat is dit?”
“Dis myne! Dis wat dit is.”
“Dis selfmoordnotas.”
“Dis skeppende skryfwerk.”
Sy lees: “ ‘Stilte in die huis ondraaglik. Dink aan lemmetjies en bier. Sny myself toe ek negentien was en proe aan die bloed.’ En hierdie: ‘Is daar lewe ná Vereeniging? Sal iemand Proot by ’n poort ontvang en welkom heet?’”
“Dis ’n woordspeling – poort en Proot. Dis ’n digterlike gier.” Dit sê ek floutjies. Ek voel baie verleë.
“Dis nie al nie. ‘Ek onthou negentien. Sit in ’n weermagkamp en smag na die burgerlike lewe. Ek onthou twintig. Ek klaar uit en werp my in die burgerlike lewe en verlang terug na die weermag. Sit nou in ’n tehuis wat my na enige ander plek op aarde laat verlang.’ Is jy nie gelukkig hier nie?”
“Ek is nêrens gelukkig nie. Ek is hoogstens soms gemaklik.”
“Hoe kan jy dit sê? Ons leer julle van die genade en dat die genade groot is. Jy, meneer Proot, wil jou net nie onderwerp aan die Here se almag nie.”
“Ek doen dit gereeld. Ek gaan in ’n beswyming op my kamervloer en praat in tale.” Ek begin: “Erbland vlyf syrg …” Maar dis ’n flou poging, moontlik omdat ek nie op die vloer inmekaar sak nie.
“Daai kan jy maar los, dit beïndruk my nie. Van vanaand af doen jy Bybelstudie saam met Karen-hulle.”
“Ek durf nie, suster.”
“Jy durf.”
“Hulle glo in die Pok Restitium, suster.”
“Die wát?”
“Suster moet hulle vra. Dinge is nie lekker daar nie. Ek kan sweer hulle het een aand ’n watergees opgeroep. Die plas het die volgende oggend op die vloer gelê.”
Sy is ’n bietjie van stryk gebring, maar gaan voort: “Wat beoog jy met jou verblyf hier? Jy’s nie juis siek nie, jy’s net eksentriek.”
“Ek wil net veilig wees.”
“Wanneer kom Michelle terug?”
“Oor twee weke.”
“Dis hoekom jy so omgeëllie is. Michelle sal sin in jou kop inpraat. Hoekom gaan jy nie ook ’n bietjie soontoe nie?”
“Sy bly by familie.”
“En?”
“Ek is bang vir familie.”
“Dis die mense wat die belangrikste in ons lewens is. Ek mis nooit ’n familiebyeenkoms nie. Nooit.”
“Hulle het my geken toe ek ’n kind met potensiaal was. Mense het gepraat oor my moontlikhede. Wat moet hulle vandag oor my sê? Ek sien nie kans vir al die aanmerkings nie.”
“Familie is die dierbaarste vriende wat jy ooit sal hê.”
“Die dierbaarste vriende wat jy nie kan afsê nie.”
Die suster se liggaamshouding verander meteens. Haar groot, ronde self leun vooroor en dis asof sy moed verloor het, maar in werklikheid buk sy net oor die lessenaar om iets neer te skryf. Ek kyk deur die venster na die toegegroeide groentetuin. Hier was lanklaas ’n inwoner wat geesdriftig oor tuinmaak is.
“Hier.” Sy hou ’n vel papier uit.
“Wat is dit?” Ek lees: Permissie om te vertrek vir twee weke. Get. Irma Kloppers (RN).
“Dis ’n pas. Gaan iewers heen en gun my siel rus.”
“Maar waarheen?”
“Enige plek. Jy het die verandering net so nodig soos ek.”
II
My hande is koud van die lug wat by die oop balkondeur instoot. Dit bring die geluid van die stad na my soos nuus van ’n oorlog. Ek hoor verkeer steun, ’n motorfiets waarvan die suiers kloppend in die silinders slaan. In die woonstel langsaan is die televisie hard aan – ek kan hoor hoe skel die gasheer van ’n bruuske geselsprogram waarna ek ook soms kyk op een van sy gaste.
Oor my radio sing iemand, maar ek snap nie meer popmusiek nie en kan nie meer dans nie. Die style, die gebreklike melodieë, die abrupte onderbrekings net voor ’n deuntjie ’n lekker aanvang neem – dit pla net my ore. Popmusiek was vriendeliker toe ek jonk was, die lirieke meer ballade-agtig. Of was dit regtig? Onlangs hoor ek dat popmusiek besonder eenvoudig is. Miskien het ek net uiteindelik agtergekom hoe eenvoudig. Maar vir wie sê ek dit wat nie vir my gaan sê ek hou my net verwaand nie?
Wat anders is daar om te luister? Nuusprogramme dra swaar aan aktuele sake wat oor drie weke min sal beteken. En buitendien verg dit inspanning om op die hoogte te bly, want die rolspelers en die gebeure verander so vinnig. As jy my sou vra wat tans nuuswaardig is, kan ek sê dat die president beter vertoon as ses maande terug, want hy wil die staatsdiens doeltreffender maak en hy reik uit na die verskillende groepe in die land. Oor ses maande sal hy waarskynlik dieselfde te sê hê, sonder dat iets intussen verander het.
Saans is die lekkerste tyd van die dag, want dan kan ek my in leeswerk verdiep wat my bedags nie aanstaan nie. Ek lees graag Colin Wilson, die Britse skrywer wat ’n fenomenale reputasie met sy eerste boek opgebou het, net om daarna verdag te raak en as prul bekend te staan. Maar hy skryf gereeld verstandige dinge, soos oor Fakulteit X, wat gemoeid is met die sin van die lewe.
Dit wil sê, ek lees as dit nie te raserig in die woonstelblok gaan nie. Wanneer mense rumoerig raak, werk ek my op. Ek het al selfs so ver gegaan as om by die deur uit te stap om die raasbekke te gaan stilmaak. Hulle het bedaar, maar te oordeel na die houdings en kyke wat ek sedertdien in die gang kry, maak ’n mens net vyande só. Ek vermoed my pos is al gesteel. Dus weerhou ek my deesdae van inmenging. Ek verduur die aanslag op my privaatheid.
Bedags is ’n dooierige tyd, vol tam uitsigte oor die buurt met sy ou huise en groot tuine tussen regop mure. Honde blaf. Gedurig. Ek dink nie hulle wil hier wees nie. Van my woonstel op die eerste vloer kyk ek af in die agterplase van die mense wat honde aanhou – ’n Jack Russell, selfversekerd soos sy reputasie sê, Staffordshire-terriërs in die tuin langsaan wat soms aan die baklei gaan. Dis geluidlose baklei. Jy hoor hulle nie blaf en grom nie, net snuif en steun terwyl hulle tande in mekaar ingeslaan is. Dit neem lank voor hulle woede bedaar. Ek staan by die venster en kyk hoe hulle eienaar hulle natspuit, met ’n stok slaan, op hulle skree. Die honde steur hulle nie aan die man nie, byt net vas. Dan raak hulle moeg vir die speletjie en los mekaar en gaan lê, of drink water. Op vriendeliker dae snuif die staffies gereeld aan die tuinmuur, en dan raak die Jack Russell aan die ander kant gek en draai in die rondte terwyl hy skril blaf. Die hond is eensaam, maar selfs al sal hy ’n maat kry, sal hy net baklei, glo ek.
Snags kan ek nie gou aan die slaap raak nie, al probeer ek teen tienuur die lig afsit. Ek lê op my rug, op my sy, op my rug, op my ander sy, en beplan die res van my lewe totdat slaap my uiteindelik oorval en ek van badkamers en vreemde stede droom. Die idee van vreemde stede is soms so sterk dat hulle nie meer vir my vreemd is nie. Ek ken nie die name nie, maar die buurte lyk bekend: die winterse landskappe van Skandinawië, die eenvormige woonstelblokke van Oos-Europa, die sierlike argitektuur van bekender, meer bereikbare plekke.
Maar dit bly by droom en ek gaan nêrens heen nie. Ek lees dat Tolkien sy lewe aan boeke en geleerdheid gewy het. Ek lees dat Ibsen Noorweë vir baie jare verlaat het en op sy oudag wou teruggaan. Ek lees dat Kerouac in sy laaste jare amok gemaak het tydens onderhoude.
Maar waarom lees ek oor skrywers? Dis nie asof ek nie weet dat die lewe groter is as boeke nie. Maar ek hou van verhale oor ontevrede mense, en verder hou ek daarvan om my verliteratuurd voor te doen. Ek is die soort fariseër wat in ’n kafee gaan sit sodat mense my moet sien