Verstevlei. Jaco Fouché
die Big Book, Alkoholiste Anoniem se Bybel.
Dit het sy gesê toe sy merk ek kyk na haar. Sy het met ’n verwelkomende lag begin praat en later sou ek dink dat sy my op baie bedrewe wyse bevriend het. Sy het vertel hoe haar lewe verander het – ná jare van eensame drankmisbruik het sy haar deesdae slegs tot sterk koffie gewend. En natuurlik sigarette, wat haar saam met die rok wat ’n was gekort het na iets laat ruik het wat nie vir my onaardig was nie.
Dit het my herinner aan my vroeëre leefstyl, toe ek ook gedurig na ou drank en sigarette en vuil klere geruik het. En ek wóú. Ek vermoed dat ek, hoewel ek dit nie in soveel woorde sou kon stel nie, iets wou aanneem wat ver verwyder was van dit wat ek in my ouerhuis geleer het.
4
Hulle kom in die nanag, wanneer die menslike energie-eb volgens spanningskrywers op sy laagste is. Ek hoor die helikopter en dan die geklap van stewels op die dak, die knars en klap waarmee die teëls opgelig word. Dan is hulle op die plafon tussen die warmwatersilinders terwyl ek grootoog lê en opkyk, en dan kom hulle soos strookprentsuperhelde deur die plafon en wit stof stuif op my neer.
Dis manne in uniform met maskers en gewere en hulle bars binnetoe en neem stelling in, een langs my lessenaar, een aan die voetenent van my bed. Ek het op my elmboog orent gekom.
“Proot?” sê die een, sy stem onduidelik agter die masker. “Kom, ons moet jou hier uitkry.”
“Wat gaan aan?”
“Uit die bed. Trek aan. Het jy donker klere?”
“Ja …”
Ek sit die lessenaarlamp aan en dit gaan natuurlik nie dadelik aan nie. Intussen sukkel ek om my denim aan te trek en ek kry ’n donker hemp in die kas.
“Wie is julle?”
“Die WBA.”
“Wie?”
“Woeba. Wêreldbekende Ateïste. Dié man is Russell …” En ’n man wat soos die Vulture in die Spider-Man comics lyk, rietskraal en met ’n groot haakneus, staan daar. “En dis JP …” En ’n man met ’n skeel oog agter dik brillense kyk waaksaam na my.
Die lamp op die lessenaar gaan aan. Lig skyn in my oë.
“Meneer Proot!” sê die man met die masker in die suster se stem, en ek maak my oë oop en besef ek lê nog steeds in die bed in my LO-broek. Lig blom deur die kamer. Dit moet oggend wees.
“Jy kan nie so laat slaap nie, dis nie goed vir jou nie.”
“Hoe laat is dit?”
“Dis halfnege. Nee, ek het genoeg hiervan gehad. As jy nie die reëls wil nakom nie, moet jy miskien nie hier bly nie. Staan op, jy het ’n besoeker.”
Ek trek haastig aan en gaan gou badkamer toe om ’n draai te loop en my tande te borsel.
In die sitkamer sit ’n man by een van die tafels waar die inwoners middae speletjies speel. ’n Boksie met ’n legkaart lê voor hom, en Cluedo wat hy oopgemaak het.
“Môre,” sê ek.
“Hoe werk dit nou weer?” sê die man. “ ’n Moord, ’n verdagte, ’n moordwapen, ’n geleentheid? Hoe gaan dit? Renier Proot? Ry mos elders.”
“Ekskuus?”
“Repos Ailleurs.”
“O. Ek ken dit, ja. ‘Hulle kap in ons bos.’”
Ons skud hande.
“Wat is die gehalte van jou lewe?” vra die man.
“Wat nou?”
“Is jou lewe heelwat werd vir jou?”
“Ja. Ek kan dit vir ’n kalkoenpastei en ’n Bar-One verkoop.”
“Kan jy R150 ’n maand afstaan aan ’n belegging in jou toekoms?”
Die man is skraal en sy oë is lieflik blou en lewendig. Ek onthou Buffels in die veld, ons twee wat rondry, wat bokbloed van die bakwerk afwas met hande vol sand en water.
“Bester!” sê ek. “Wat maak jy hier?”
“Ek verneem jy’s deesdae ’n gas hier.”
“By wie hoor jy dit?”
“Michelle. Ek het haar by ’n braai raakgeloop. Julle het nie ’n baie bekende van nie. Toe sy sê wie sy is, het ek dadelik oor jou gevra. Sy sê toe jy verjaar. Geluk.”
“Dankie. Jy’s die eerste mens wat my gelukwens. Ek sal ook nie sommer met moord wegkom nie, nie met so ’n van nie.”
“Gehoor van Oblique?”
“Nee?”
“So ’n Pimpernel-figuur. Sonder twyfel een of ander fop wat gou vasgetrap sal word. So wat is die storie?”
“Storie?”
“Wat maak jy hier? Ek het van die pasiënte buite in die tuin gesien. Dit is mos pasiënte, of hoe? ’n Paar van hulle het daardie wegskramding, jy weet, geïnstitusionaliseer.”
“Het ek dit?”
Hy kyk lank na my. “Ons betaal binne sewe dae van afsterwe uit. Maar kom ons gaan iewers heen.”
Ek teken uit. Suster Kloppers sê niks, maar daar is iets vermanends in die manier waarop sy na my kyk.
Ons ry na ’n winkelsentrum; ek beduie die pad. Ons hou stil en Bester stem in dat ’n wag na die motor kyk. Bo die ingang is ’n boog waarop staan: Die gees van die gans is almagtig.
“Het jy dit gesien?” vra ek vir Bester.
“Wat?”
“Van die gans?”
“Nee.”
Ek stap terug na die boog en kyk op. Die boodskap lees nou: Onthou, beheer, kondomiseer.
Dis ’n somersdag wat in my borrel. Ek voel na iets wat gis. Moontlik gaan ek gou moeg raak.
“Wat dink jy op hierdie oomblik?” vra Bester terwyl ons ’n swart gesin systap. Die mense het mooi gewade aan en het aankope in geskenkpapier by hulle.
“Ek wonder hoe gou sal ek weer kan slaap.”
Huis Genade se inwoners stap gereeld hiernatoe, vir koffie, vir die boekwinkel, vir die vermaakarena waar Carike Keuzenkamp al opgetree het.
Ek voel na my broeksak en besef ek het nie my beursie by my nie.
“Ek betaal,” sê Bester. “Dis vir die voorreg van jou tyd.”
Ons gaan sit by ’n tafeltjie voor die koffiewinkel. Mense loop verby en musiek speel met ’n ligte weergalming in die groot oop ruimte.
“Hoe is die lewe, Proot?”
“Langerig.”
“Ek vang jou in ’n siniese bui. Is dit die middeljare? Jy kan altyd iewers heen gaan en jou manlikheid bewys. Jy kan om Madagaskar roei, of met ’n fiets deur Afrika toer, of met vriende in ’n vier-by-vier die droë wildernis invaar en om die kampvuur aangedaan raak oor jou jeug.”
“En hoe’s jou lewe?” vra ek.
“Geskei. Gelukkig in my werk. Twee kinders.”
“Wat doen jy?”
“Ek bereken risiko’s. Ek handel in berekende risiko’s.”
“Is dit lekker?”
“Dit betaal. Ek doen ander dinge vir lekkerte. Sport. Gaan kyk jy ooit rugby, op Loftus of so? Daar’s niks beters nie. Wanneer die Springbokke speel, bereik die Afrikanerkultuur sy hoogtepunt.”
“Soms dink ek aan iets moeiliks doen,” sê ek. “Iets tafs.”
“Daardie manlikheid wat