Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray
betrek waarteen hy later vure sal moet doodslaan. “Dit hang af wat so ’n partytjie gaan behels,” antwoord hy versigtig.
“Maar natuurlik lekkers en koeldrank en koek en presente . . .”
“Elke, dis siek kinders hierdie!”
Die kennetjie stoot uit en sy druk die lyfie teen haar vas, en onder haar ken kyk die kinderogies geïnteresseerd toe, die trane vergete. ’n Partytjie . . .
“Maar steeds kinders. ’n Mens kan mos die getal kontroleer sodat dit nie te erg daaraan toegaan nie.”
Voordat hy nog kan protesteer, weet hy hy het klaar verloor. “En die presente? Waar moet dit vandaan kom?”
“Ek sal dit koop en opmaak. Nie dat jy iets daarvan sal oorkom om ook ’n rand of twee by te dra nie. Dis immers jóú pasiënt wat gelukkig gehou moet word.”
Hy kry weer die glimlaggie om die mondhoeke. “Is dit soos dit werk? Jy maak die planne en ek betaal daarvoor?”
Sy gee ’n giggeltjie. “Niks op hierdie aarde is verniet nie, dokter Horst. Ek beskou dit maar net as betaling vir my dienste vandag. Kyk net hier. Hier sit die grootman traanloos en stroopsoet. Ek het gedoen wat jy gevra het. Hy is kalm.”
“Ja, deur ’n kind om te koop en vir my af te pers.” Maar sy oë lag in hare terug.
“O, wel, as ’n mens nie sterk is nie, moet jy slim wees.”
“En jy is slim, juffroutjie. Dit gee ek jou toe. Nou goed, kry wat nodig is en ek sal regmaak. Binne perke, hoor? Veral die eetgoed. Ek wil nie met ’n hele kinderafdeling vol gastro sit nie.” Hy begin vroetel onder sy wit jas. “Of miskien moet ek jou sommer nou ’n paar rand gee, dan is dit klaar. Ek sal eers net moet kyk hoeveel ek by my het. Hmm.” Hy hou ’n paar note na haar uit.
“Dis genoeg. Ek sal bysit as dit nodig is.”
“Jy kan nie . . .”
“Ek kan. Ek vaar nogal goed.”
“Met waslappe en seep?”
“Nee, dokter Wil-als-weet, met tips!” Sy lag hartlik. “Veral in die mansafdelings. Die ooms is nogal ruimhartig. Die tannies is ’n bietjie toehand.”
Hy skud sy kop. “Kry jy regtig fooitjies?”
“Natuurlik! Onthou, ek lewer uitstekende diens met ’n glimlag. Hulle het my nou Sonstraaltjie begin noem, en vir die pasiënte wat rook, is ek sommer die hele son self!”
Hy lag sag, druk die geld in haar hand. “Neem hierdie en sê hoeveel nog kortkom. Gebruik jou fooitjiegeld vir jouself, Sonstraaltjie. En dankie vir jou hulp vandag. Dink jy jy sal weer behulpsaam kan wees wanneer ek oor sowat ’n uur ’n lumbaalpunksie op hom kom doen?”
“Ja. Goed. Maar voordat jy hier inkom, trek tog net daardie wit jas van jou uit. Die kinders dink julle is spoke met jul wit gewade.”
Hy kyk haar vraend aan. “Dink jy regtig dit beïnvloed die kinders?”
“Natuurlik. Die wit jas assosieer hulle met seerkry. Selfs hierdie melkwit verpleegsters is verkeerd. Die oomblik as die kinders ’n wit ding sien, is hulle klaar op hul senuwees. Daar is klinieke in Amerika waar die personeel in die kinderafdeling bont rokke dra. Alle dokters dra informele drag.”
“Regtig?” Sy oë is skielik baie skerp en Elke besef te laat haar glips. “Waar kom jy aan al hierdie kennis van jou?”
“O . . . e . . . iewers gelees,” antwoord sy vaag.
“Dis dokter Albert se idee dat medici wit moet dra. Ek weet daar is baie klinieke wat van die wit uniform afstand gedoen het.”
“Maar hoekom praat jy nie met Oupa hieroor nie? Vertel hom hierdie wit gewade is uit die oude doos.”
“Oupa?”
Sy sluk, kyk onskuldig terug. “Ja. Oupa Albert. ’n Mens noem mos alle ou ooms bokant sestig oupatjie. Jy moet net sê wanneer ek jou ook so moet begin noem!”
Hy grinnik skielik en lyk jare jonger – beslis baie ver van die oupa-stadium af. “As jy darem die loesing van jou lewe wil hê, moet jy vir my begin ‘oupa’. Daardie man op jou skoot is aan die slaap. Lyk my jy het ’n spesiale soort doepa om mense aan die slaap te kry.”
Sy lê die kleintjie versigtig neer, laat hoor: “Ja. Ek wens net dit wou op dokter Julene ook werk.”
Hy maak keel skoon. “Verbode onderwerp daardie, jong dame. Kom. Maak dat jy wegkom voordat sy jou hier betrap . . . en onthou hoe ek jou geleer het hoe om jou te roer sonder om te hardloop.”
“Ek sal my bes doen, dokter,” laat sy sedig hoor, gryp haar trollie en laat spaander met swaaiende agterstewe sodat hy maar net sy kop weer skud, maar met ’n vonkel in die oog.
Toe sy ’n uur later weer haar opwagting in Jannie se kamer maak, tref sy die dokter op die kant van die bed aan, besig om skynbaar net so hard soos die seuntjie met sy motorkarretjies te speel, en sy merk dadelik op daar is geen teken van die lang wit doktersjas nie. Weer moet hy hom op die trolliejoggie se oorredingsvermoë verlaat om die seuntjie sover te kry dat hy die lumbaalpunksie op hom kan doen. Maar met Sonstraaltjie, soos die dokter sê haar naam is, se stokkielekker hard tussen die tandjies vasgebyt, sy handjies styf in hare vasgevat en haar sussende stem wat vertel van alles wat sy vir die partytjie gaan koop, kom hulle wonderbaarlik met die minimum trane deur die beproewing. Dis ’n dankbare dokter Horst wat die palm van sy hand ’n oomblik teen haar wang lê.
“Dankie, meisiekind.”
Tot haar ontsteltenis voel sy hoe die bloed skielik na haar wange stroom en sy beweeg vinnig deur se kant toe, vra, om die aandag van haar af te trek: “Het jy al verlof gekry vir ons partytjie oormôre?”
“Verlof? Van wie?”
“Jy vra nog!”
Hy glimlag en tot haar verbasing knip hy vir haar oog soos ’n stout seun. “Daar is meer as een manier om ’n kat dood te slaan, juffroutjie. Die medehoof van die kliniek doen hierdie naweek diens. Aangesien ek egter volgende naweek dringende sake het, gaan ek haar vra of ons kan ruil.”
“Jou ou doring!”
“Doring? Dit klink nie vleiend nie. Ek hou meer van skattebol.”
Sy lag hom openlik uit. “Dokter, jy raak nou net so parmantig en voor op die wa soos die trolliejoggie!”
Hy grinnik. “Jy is baie aansteeklik.”
Vir ’n kort oomblik glimlag hulle teenoor mekaar en dan draai sy vinnig om, waai tot siens en verdwyn. Dis regtig eintlik ’n sonde dat hy eendag met dokter Julene moet trou.
Dit het eintlik nie so maklik gegaan om naweke geruil te kry soos wat hy wou voorgee nie. Julene was, om dit sagkens te stel, nie in ’n inskiklike bui ná die oggend se episode nie.
“Ek het Jannie se lumbaalpunksie klaar gedoen,” het hy ’n aanknopingspunt gesoek. As hy ’n dankie verwag het, sou hy lank wag. Julene was nie in ’n dankbare bui nie. Hy het net ’n skuins kyk ontvang en teen sy sin moes hy verder: “Ek is jammer as jy die saak so opneem, Julene. Daar was niks persoonliks teen jou gemik nie. Die beswil van die pasiënt is tog altyd hoofsaak.”
Sy het haar arms gevou en hom vas in die oë gekyk. “Niks persoonliks nie, nee. Maar teen my as dokter. Jy dink nie ek is ’n goeie dokter nie, nè?”
Hy moes moeite doen om sy stemtoom egalig te hou. Dit word al moeiliker om hierdie kleindogter van dokter Albert tegemoet te kom. “Daar is niks met jou verkeerd as dokter nie, Julene, maar . . .”
“Maar wat?”
“Maar as mens wel.”
Sy het haar asem ingetrek en haar ooglede het verstyf. “Mag ek weet wat presies jy daarmee bedoel?”
“Ja. Jy het jou opleiding, jy het die kennis om ’n dokter te wees. Maar ’n goeie dokter