Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray
soort hardloop-stap, maar sy kon dit nog nooit heeltemal regkry nie. Miskien omdat sy klein en kort is en haar bene nie lang hale kan gee nie. Sy het maar deur haar hele mediese opleiding haar trippelgang gehandhaaf, natuurlik tot groot vermaak van haar medestudente. Daardie Jan Swanepoel het altyd die groep tot halt geroep wanneer sy uitasem agter hulle aangetrippel het. “Halt, mense! Ons baba bly agter. Kan ons nie vir ons ’n drasak aanskaf en haar daarin sit en om die beurt saamdra nie?”
“Of ’n stootwaentjie,” het ’n ander voorgestel. “Dan gee ons haar net ’n stampie aan die bopunt van die gang!”
Dokter Horst sien nou weer die afgehaalde gesiggie en die neergeslane ooglede voor hom en vind dat hy vir die hoeveelste keer vandag dieselfde trooswoorde gebruik: “Toe maar, dis nie so erg nie. Onthou dit net in die toekoms. Al is dit ook hóé dringend, jy hardloop nie.” Hy sug saggies. Genugtig, hy is nie lus vir sulke klas van lesings ná ’n harde dag se werk nie! Hy glimlag teenoor Marlene. “Tot siens, mevrou. Moenie so bekommerd lyk nie. U dogter gaan dalk eendag ’n oulike verpleegster word. Ons sal intussen so ’n bietjie slyp aan haar.”
Marlene kyk haar dogter bekommerd aan toe die dokter uit is. “Elke, hierdie ding gaan nie uitwerk nie.”
Elke sug en sak by die tafeltjie neer. “Nee, Ma, ek dink ook nie so nie. In die eerste plek kan ek nie help om spontaan te reageer wanneer ek sien iets is verkeerd of ’n pasiënt het hulp nodig nie. Dit gebeur net vanself. En tweedens weet ek nie of hierdie trolliestorie my enigsins gaan help om iets meer uit te vind nie. Maar ek weet ook nie wat anders om te doen nie. Weet Ma?”
Marlene skud haar kop ook moedeloos terwyl sy gaan sit. “Nee. Ek het so te sê my dienste vir Peet aangebied om ook maar hier rond te wees vir ingeval ek iets optel, maar ek weet ook nie hoe ek iets meer oor jou oupa se ander kleindogter sal wys word terwyl ek my neus in Peet se fakture het nie.”
“Sy is nie Oupa se ander kleindogter nie!” protesteer Elke weer spontaan.
Haar ma se oë is ernstig toe sy antwoord: “Sy kan dalk wees, my kind. Kleindogter of nie, maar êrens in haar loop ’n dik stroom Meissner-bloed.”
“Waar kom Ma daaraan?”
“Sy het vandag weer hier ingekom, kom vrugtesap koop. Oom Peet was ’n oomblik lank uit en ek was agter die toonbank. Ek het haar die eerste keer van naby gesien. Sy het sterk Meissner-gelaatstrekke. Jy kan dit nie mis nie.” Elke kyk haar stom aan en sy vervolg: “Jy sou dit nie opgemerk het nie, want jy het net jou pa geken en hy het meer na jou ouma getrek. Jy het nog nooit jou oupa van aangesig tot aangesig gesien nie, maar ék het, en daar is beslis ’n sterk ooreenkoms. Ek sal alles wat ek het, wed dat sy wel ’n Meissner is.”
Elke se stem is somber. “Mamma se teorie dat Pappa moontlik ’n kind verwek het voordat julle getroud is, is dus moontlik.”
Marlene skud haar kop. “Ja, maar iets vertel my dis nie so nie. Jou pa was ’n eerlike, oop mens. Ek weet hy sou my vertel het as daar so iets was.”
“Maar miskien het hy nie daarvan geweet nie, Mamma. Dit kan ook wees.”
“Ja, maar tog . . . As hy voor my só ’n intieme verhouding met ’n meisie gehad het, sou hy my vertel het. Jy het ’n baie wonderlike pa gehad, Elke, en ons was baie, baie na aan mekaar. Ons moet hierdie moontlikheid in gedagte hou, maar ek voel êrens is hier ’n ander slenter.”
“Ma bedoel al is sy ’n Meissner, is daar nog êrens ’n bedrieëry aan die gang?”
“Ja, maar hoe om dit uit te vind?”
“Ek sê nog ek moet haar trompop konfronteer.”
“Nee, my kind, wag. Hier is baie op die spel en dis nie net jóú lewe wat geraak word nie. Baie ander is nou betrokke by die saak as dinge die dag in die ope kom. Ons moet eenvoudig eers ons huiswerk doen.”
“Maar niemand hier kan ons meer vertel as wat ons reeds weet of vermoed nie, Mamma! Dis net Oupa self wat lig op die saak sal kan werp, en vir hom mag ons nie nou nader nie. Ma wil nie hê ek moet reguit met die ‘kleindogter’ gaan praat nie. Waar op aarde gaan ons dan iets uitvind?”
“Ons wag maar nog ’n rukkie, Elke. Met tyd kom raad. Daar is op die oomblik tog nie dringende haas nie.”
“Hoe weet Mamma? As Oupa môre sterf . . .”
“Ek weet, my kind, maar hy sál miskien môre sterf as hy skielik aan so ’n groot skok blootgestel word en dan dra ek en jy skuld daaraan.”
Noodgedwonge moet Elke haar maar by haar ma se wyse woorde neerlê en die volgende oggend maar weer met haar trollie en boksterte by die kliniek se hoofingang in verdwyn. Soos sy aanstap, sê sy die reëls vir haarself op: Onthou nou! Jy mag nie hardloop nie! Jy mag nie aan ’n pasiënt raak nie! Jy mag nie aan ’n apparaat raak nie! Jy mag nie by die kinderafdeling ingaan nie! Jy mag nie lekkers vir kinders gee nie! Hou jou onopsigtelik! Die reël dat sy nie pyptabak op die trollie mag hê nie, herhaal sy nie, want daar is nie vanoggend pyptabak op die trollie nie. Die feit dat sy vanoggend ’n ekstra vroulike kurwe vertoon, hinder haar gewete glad nie. Sy het nie pyptabak op die trollie nie en sy verkoop nie pyptabak nie. Maar as daardie oupatjie vanoggend weer trane in sy oë kry soos hy soebat, gaan hy ’n presentjie van die trolliejoggie kry. Sy het klaar die geld vir die sakkie tabak in Peet se geldlaai gegooi.
Sy het dan ook kwalik haar verskyning in die saal se deur gemaak of hy kom aangesukkel na haar toe, en haar hart ruk toe sy sien hy kom met ’n geldnoot voor haar tot stilstand.
“Asseblief, kindjie, ek sal jou betaal vir net een stopsel!” Hy sien die onsekerheid op haar gesig en sy hand reik na sy kamerjas se sak. “Dubbeld!”
“Nee, oupatjie, nee wag.” Sy laat sak haar asem. “Stap so ’n bietjie uit. Net hier om die hoek staan ’n watertenk. Ek sal agter die watertenk vir oupatjie iets neersit en dit kos niks nie. Gee my net kans om hier klaar te maak en dan sal ek dit daar gaan neersit. Maar onthou! Oupa weet nie waar dit vandaan kom nie!”
Toe sy klaar sake gedoen het in die saal, glip sy vinnig by die stoepdeur uit, maar toe sy by die tenk kom, sien sy oom Pieta het haar voorgespring. Hy staan haar opgewonde en inwag, pyp gereed in die hand.
Elke kyk vinnig om haar rond, maar gelukkig is daar geen sterfling in sig nie. Sy is nie bewus daarvan dat dit nie net oom Pieta se blink oë is wat die beweging van haar hand dophou toe dit voor by haar hemp in verdwyn nie. Vanaf die oorkantste ry vensters, ’n vloer bokant die grondverdieping, sien nog ’n paar oë hoe ’n verbode geel pakkie te voorskyn kom en hoe oom Pieta dit amper uit haar hand gryp. Die persoon sien ook hoe aan oom Pieta beduie word waar die pakkie tabak weggesteek moet word nadat hy klaar gerook het.
“Hier lê ’n klip. Skuif nou die pakkie so diep moontlik agter die tenk in en dan sit oupatjie die klip daarop. G’n mens sal raai daaronder lê iets nie.”
Die dampe staan soos oom Pieta trek en daar is nie ’n dankbaarder mens in hierdie kliniek nie. “Jy red my lewe, kindjie.”
Elke glimlag met deernis. Arme ou man. Hulle kan nie veel vir hom meer doen nie. So het sy pasiëntkaart haar reeds vertel. Sodra hy sterk genoeg is, moet hy maar teruggaan na sy geliefde Namakwaland en daar die onvermydelike loop van alle aardse bestaan afwag. Hoekom dan nou sy ou pypie ook van hom wegvat? Wat maak dit werklik saak as die pyprook nadelig is? Die groter kwaad lê veel dieper en hy sal daaraan doodgaan, nie omdat hy pyp rook nie. Dus . . .
“Oupatjie moet darem nie sulke kwaai dampe die lug in blaas nie. Netnou sien iemand die rook en dink die plek is aan die brand. Oupa . . .”
Dis egter reeds te laat. Iemand het reeds genoeg gesien en stap reg op die dampe af. Elke hoor die voetstappe agter haar en sy tree weer instinktief op. Die pyp word uit oom Pieta se hand gegryp en toe sy haar omswaai, hande agter die rug, kom dokter Horst net om die tenk gestap.
“Wat maak julle twee hier?” Sy stem is egalig en klink geïnteresseerd, maar sy oë is baie skerp.
“O . . . e . . . ons gesels sommer ’n bietjie.”
Oom