Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray
En dan is die kinderafdeling ook verbode.”
Dis ’n groot teleurstelling. “Hoekom?”
“Omdat, juffroutjie, kinders nie geld het om iets mee te koop nie. En al sou hulle hê, sal hulle die lekkergoed binne ’n minuut van daardie trollie af hê en hulle is veronderstel om siek te wees en die regte kos te eet om weer gesond te word. Die kinderafdeling is taboe.”
“Is dit al?” vra Elke onderdanig.
“Jy mag nie in ’n kamer of saal ingaan as jy sien hulle is besig met ’n pasiënt nie. Jy moet sorg dat jy nie onder die personeel of dokters se voete beland nie.”
“Ja,” waarsku die ander ook, “bly liewer heel uit sig van dokter Julene as jy kan. Sy was glad nie ingenome met hierdie trolliediens nie. Dis maar dokter Horst wat die trolliediens deurgevoer gekry het.”
“Wie’s hy?” vra Elke nuuskierig.
“Dokter Horst Buchner is die hoofchirurg en saam met dokter Julene Meissner in beheer van die kliniek. Al die dokters word hier op hul voorname genoem, maar onthou, die titel kom altyd vooraan!”
“Nou wie is dié dokter Julene nou eintlik?” vra Elke, en hoop maar hulle vind haar nuuskierigheid doodgewoon.
“Dokter Julene is natuurlik dokter Albert se enigste kleinkind.”
Natuurlik se voet! wil Elke sê, maar bedwing haar en kom in beweging. “Nou goed. Sien julle weer later.”
Sy swenk af na die eerste afdeling en die bekende hospitaalgeure prikkel haar neus. Ergernis wil sommer weer in haar opstoot. Vir wat moet sy hier rondloop met ’n trollie vol onbenullighede terwyl sy ’n baie positiewe diens kan lewer? Daardie vroumens . . .
“Daardie vroumens” kom skielik om ’n hoek gestap en nou sien Elke ook hoe lyk die ander baas van die kliniek, want sy is weer vergesel van die lang man wat saam met haar in die restaurant was. Elke soek na ’n opening waar sy haarself en die trollie op ’n manier uit hul pad kan kry, gedagtig aan die waarskuwing wat sy so-ewe ontvang het. Maar die twee is reeds op haar en sy word onvermydelik raakgesien. ’n Frons vorm onmiddellik op die mooi, lang vrou se voorkop en sy bekyk die nuwe trolliejoggie van kop tot toon.
Nes ek die een of ander aansteeklike geval is! dink Elke ergerlik. Dan skiet haar blik na die man wat ’n sagte laggie uiter en sy kyk in ’n paar vonkelende oë vas.
“Genugtig, waar kom Peet hieraan?” wil hy van niemand in die besonder weet nie, en die geamuseerdheid verdiep in sy oë toe hy die stormagtige blou oë sien. Verontwaardiging spreek alte duidelik uit die joggie se hele houding, en heel ongehoord vir Horst Buchner, steek hy ’n hand uit en trek aan een van die boksterte. Hy ontvang ’n tweede vernietigende kyk uit ’n ander paar oë. Hulle sê duidelik: Gedra jou! Watse familiariteit is dit?
“Ek dink nog steeds hierdie trolliestorie is oorbodig en ontwrigtend vir die dissipline van die hospitaal.”
En wat jý dink, is al wat van belang is, dink Elke en laat ook sommer hoor: “Maar dis noodsaaklike goed hierdie vir enigiemand in ’n hospitaal. Kyk . . . hier is waslappe, tandeborsels, seep . . .”
“Dis goed wat ’n mens saambring as jy opgeneem word! En waar kom jy daaraan . . .?”
“Maar dit kan opraak,” hou Elke parmantig vol en ignoreer die man se geamuseerde verbasing. Dat sy dit kan waag om dokter Julene teen te praat . . . én in die rede te val . . .
“Tandeborsels en waslappe raak nie sommer op nie en waar kom jy daaraan . . .?”
“Natuurlik raak dit op! En wat dan van die lekkers en twak . . .?”
“Tabak!” Die geleerde dame buk en laat ’n arendsblik oor die tweede ry gly. Sowaar! Daar is pyptabak ook op die trollie! Haar stem is ysig toe sy haar regop ruk. “Niemand word toegelaat om in hierdie kliniek pyp te rook nie! Verstaan jy dit? Wie het hierdie goed op die kind se trollie gesit? Peet weet . . .”
“Ek het.” Die sproete dans parmantig. Wat op háár trollie is, is háár saak. “As hulle sigarette kan rook, kan hulle mos maar pyp ook rook. Wat is die verskil?”
“Volgens my geen. As ek my sin kan kry, sal hier glad nie gerook word nie. Maar geen pyprook word toegelaat nie. Daar sit ek my voet neer.”
“Hoekom?”
Die man tree nou vinnig tussenbeide, sy gesig op ’n ernstige plooi getrek, maar in sy oë dans nog ’n duiweltjie rond. Hy wonder of Julene ooit besef hierdie kind het iets reggekry wat geen ondergeskikte personeellid al reggekry het nie, en dis om met haar te redeneer. Vir die susters en matrone is wat dokter Julene sê ja en amen. Jy bevraagteken haar nie – nie as jy verstandig is nie. Maar hierdie parmant met die boksterte en sproete weet natuurlik nie van beter nie, en hy sal moet red wat daar nog te redde is of die Meissner-kliniek is sy trolliediens kwyt.
Hy tree weer teen sy aard op en verduidelik omslagtig: “Want pype stink en daar is pypolie en sulke gemors. Ons laat sigarette in die spesiale rookareas toe, maar moenie weer pyptabak hier inbring nie.”
Die blou oë draai hul volle gloed op hom en die onskuld van ’n kind wat nog die wêreld moet leer ken, lê in haar oë. “Wat van roltwak?”
Hy is onkant gevang. “Roltwak? Wat is dit?”
“Daardie wat hulle kou en . . . O nee, dit sal seker ook nie toegelaat word nie, want as hulle klaar gepruim het, spoeg hulle weer die wêreld vol . . .”
Openlike afkeer lê op dokter Julene se gesig. Sy beweeg om die trollie en sê beslis: “Kom, Horst. Die kind maak my naar.”
Hy kom ook in beweging, maar huiwer toe hy die breë glimlag en dartelende oë gewaar. “Meisietjie, moenie jou geluk te ver beproef nie. Jy gaan verloor.”
“Sê wie?”
Met ’n laaste waarskuwende, streng blik op haar is hy verplig om sy kollega te volg, maar by die hoek betrap hy homself dat hy weer vlugtig terugkyk. Die klein snip staan hulle nog steeds met ’n oorwinningsglimlag en agternakyk. Dis duidelik dat sy oortuig is sy het die beste uit hierdie relletjie gekom . . . en hy is nie so seker dat sy verkeerd is nie.
In die kraamafdeling word sy hartlik verwelkom. Dis terwyl sy goed sake doen – veral die sjokoladehoekie sak vinnig – dat sy opmerk dat een van die pasiënte se binneaarvoeding nie drup nie.
“Tannie, hierdie dingetjie van jou loop nie. Dis veronderstel om egalig te drup, maar hier gaan niks aan nie. Wag, laat ek . . .” Sy wil net haar hande uitsteek om die saak reg te stel, toe ’n ontstelde stem haar tot stilstand bring.
“Los daar! Wat dóén jy?”
Die suster is langs haar, rooi in die gesig, en agter haar staan die twee dokters op hul saalrondtes.
Elke besef haar flater. Sy is nie veronderstel om iets van binneaarapparate te weet nie. Sy sluk, bewus van die streng oë op haar. Hierdie keer is daar nie ’n geamuseerde vonkel in dokter Horst se oë nie.
“Ek . . . ek het gesien die ding drup nie . . . en ek het gedink dit moet seker drup en . . . ek wou dit net ’n plukkie gee . . .”
“Het jy in jou lewe al . . .! Vat jou trollie en maak dat jy hier wegkom! Horst, ek gaan hierdie trolliestorie stopsit!”
Horst Buchner se gesig is geslote, sy stem streng en baie formeel: “Ons sal dit later bespreek, Julene.” Sy oë pen Elke vas wat nou half verskrik lyk. “Wag buite in die gang.” Dan aan die suster: “Hoekom sien ’n kind dat hierdie ding nie werk nie en nie jy nie, suster?”
Elke maak haar uit die voete. Sy voel jammer vir die suster. Horst Buchner se stem het soos ’n sweep geklap en Elke weet intuïtief sy sal liewer met dokter Julene deurmekaar wil wees as met dokter Horst. Dokter Julene se gekyf maak haar nie bang nie, maar daar is ’n gesagstoon in dokter Horst se stem wat jou laat verstaan dat hy elke dag Albert Meissner se septer kan oorneem. Nalatigheid is die een ding waarvoor hy nie te vinde is nie.
Bekommerd