Ena Murray Omnibus 37. Ena Murray
eers weer te sien kry die dag wanneer hulle ontslaan word. Hoor nou net hoe skree klein Frik. Hy wil nou opsluit saam met sy ma huis toe. Dit ontstig net die kinders. Dis al.”
“Wel, Frikkie moet nou maar huil. Daar is nie nou tyd om kinders te troos nie. Ons moet baba Meintjies gereed kry. As dokter Julene en dokter Horst nou hier instap en hy is nog nie gereed nie . . .”
Elke sluip die kamer binne en haar hart gaan uit na die seuntjie wat met bang oë in die hoë hospitaalbed sit en snik. Sy maer, bleek gesiggie vertel haar dat hy ’n baie siek seuntjie moet wees en sy blik vinnig na die besonderhede op sy kaart aan die voetenent van die bed. Haar hart trek saam, want klein Frikkie se prognose is baie swak. Sy neem vinnig op die kant van die bed plaas, sit haar arms om hom en trek hom styf teen haar vas.
“As ek vir jou ’n vissie gee, sal jy dan ophou met huil?”
“ ’n . . . Vissie? In ’n bak? Wat swem?”
“O, ons kan altyd speel ons gaan hom in ’n bak sit en hy gaan daarin rondswem. Dis ’n lekkergoedvissie, maar as jy hom eet, gaan hy mos na hierdie bak toe,” en sy kielie hom op die maag, “en dan swem en swem en swem hy al in die rondte daar!” en sy maak sirkels met haar wysvinger.
Skielik skater hy van die lag. “Jy kielie my!”
“Is nie! Dis die vissie wat so swem!” Sy staan vinnig op, wys met haar vingers sjuut en maak haar oë groot en rond. “Ek gaan haal dit gou!”
’n Rukkie later sit hy op haar skoot, trane vergete, besig om die malvavissie te eet terwyl sy hom die storie van die stout vissie vertel: “. . . en daar vang die seun hom in die net en pardoems! gooi hy hom in ’n blik. En daar is die stout vissie gevang en . . .”
“Jy kan maar ophou. Hy slaap vas.”
Sy kyk vinnig op. Hy staan in die deur, kom nader. Sy het geen verweer nie. Sy is al weer betrap.
“Werklik, Elke, jy het net so min ore aan jou kop soos daardie stout vissie.”
“Maar hy was hartseer en die verpleegsters het nie tyd vir hom gehad nie en . . .”
Hy sug. “Ja, toe maar. Ek weet dit alles. Maar jy moet nou maak dat jy hier wegkom voordat hulle jou betrap.”
“Ek is klaar betrap. Jý het my betrap.”
Hy frons skerp. Dié kind is beslis nie onnosel nie. Eintlik gans te opmerksaam. Hy omseil ’n antwoord en buig oor Elke en die slapende kind. “Kom ek help jou dat ons hom versigtig neersit sodat hy nie wakker word nie.” Hy neem die halfgeëte lekker uit die taai handjie en sit dit op die kassie langs die bed neer, kyk dan terug in die blou oë wat so naby syne is. “Gelukkig sal klein Frikkie niks oorkom van ’n halwe lekker nie, maar dit kon ewe goed gevaarlik vir hom gewees het. Jy bedoel dit goed, ek weet, maar dit kon gevaarlik vir hom gewees het . . .”
“Maar ek . . .” Sy klap haar lippe vinnig toe. Sy kan mos nie vertel dat sy eers klein Frikkie se hele kaart deurgelees het voordat sy besluit het om hom met ’n lekkertjie te troos nie. Wat op daardie pasiëntkaart staan, is veronderstel om vir haar Grieks te wees. Sy eindig dan maar lamlendig: “Maar ek het hom so jammer gekry. Ek . . . is jammer.”
“Nou toe nou maar,” hoor hy homself vir die hoeveelste keer sê. Regtig, sy lyk al weer soos ’n kind wat onverdiend ’n afjak gekry het! Maar as dit Julene was wat vir die hoeveelste keer op haar afgekom het terwyl sy met ongeoorloofde dinge besig was, sou sy beslis aan haar boksterte by die deur uitgegooi gewees het. “Ek maak oor ’n rukkie ’n draai by die restaurant. Wag daar tot ons gesels het. Daar is een ding wat jy regtig moet verstaan, Elke. Daar is redes vir die reëls van hierdie kliniek en . . .” vervolg hy kwaai toe haar mond weer parmantig wil oopgaan, “ék het dit saam met dokter Julene opgestel. Dis nie net dokter Julene se reëls nie. Dis myne ook. Toe. Weg is jy!”
Sy wip by die deur uit en hy kyk die netjiese agterstewetjie agterna wat so blitsig om die hoek verdwyn. Tieners is ’n spesie op hul eie . . . Hoe op aarde hou hul organe dit so saamgepers in sulke stywe broeke? Dan moet hy glimlag. Nie dat dit enigsins hierdie parmant se beweeglikheid strem nie. Toe hy in die gang uitkom, sien hy nog net die punt van ’n bokstert om die hoek verdwyn. Dit laat hom dink . . . Hy sal haar ook daarop moet wys dat ’n mens nie in ’n hospitaal hardloop nie . . .
Agter sy rug kyk die twee susters half ontsteld na die halfgeëte lekkergoedvis op die bedkassie. “Waar op aarde kom dít vandaan?”
“Natuurlik die ma. Prop die kinders mos vol lekkers tydens besoekure en dan verwag die dokters ons moet dit regkry dat hulle hul kos eet. Gou! Steek dit weg in die laai. Hier kom dokter Horst.”
Die dokter kom langs die bed tot stilstand en beduie met die hand. “Laat hom slaap. Ek kan hom later weer besoek.” Hy draai terug by die deur. “Susters, soms kan ’n lekker ’n hartseer seuntjie meer goed as kwaad doen. Moenie sy halfgeëte vissie weggooi nie. Hy kan dit maar opeet wanneer hy wakker word.”
Die twee verpleegsters gaap hom aan. “Maar, dokter, dis amper etenstyd!” protesteer een spontaan.
“Ek weet, suster,” en sy blik sak af na die klein liggaampie. “Maar waarheen hy op pad is, is daar nie lekkergoedvissies nie. Laat hy maar hierdie enetjie eet.”
“Slaan my dood!” laat die een suster hoor toe hy in die gang verdwyn. “Dokter Julene kry die stuipe as sy moet hoor dokter Horst gee verlof dat ’n kind lekkers voor ete mag kry.”
Die ander frons en haal Frikkie se vissie weer uit die laai, sit dit so dat hy dit kan sien wanneer hy wakker word. “Maar dis soos hy gesê het, suster Scholtz. Waarheen ou Frikman op pad is, is nie lekkergoedvisse te kry nie. Ek stem saam. Hy kan dit maar eet.”
Suster Scholtz draai weg. “Die kinderafdeling vang my soms. Ek wil vra dat hulle my ’n slag na ’n ander afdeling oorplaas.”
Suster Marais knik begrypend. Op die lang duur raak dit te veel vir elkeen wat lank in die kinderafdeling van ’n hospitaal werk. Want dood bly steeds iets wat moeilik geassosieer kan word met ’n kind. Elke keer dat ’n klein liggaampie uitgestoot word na die lykshuis, wil jy protesteer: Maar hy het dan nog nie gelewe nie! Hy het dan nog nie ’n kans gehad nie! Sy sug en volg die ander vrou na die deur. “Ja. Ek het al baie gewens, as ek mense so hoor kla en kerm oor onbenullighede, dat hulle net ’n maand lank in ’n kinderafdeling van die een of ander hospitaal of kliniek kan werk. Dan sal hulle uitvind hulle het nog nooit ’n rede gehad om te kla nie.”
Net buite die kinderafdeling loop die twee dokters mekaar raak. Horst sien haar nie dadelik nie, sy oë peinsend op die vloer van die gang gerig, ’n klein glimlaggie om sy mondhoeke. Dokter Julene kom tot stilstand en beskou hom krities.
Die dag toe sy die Meissner-kliniek die eerste keer binnegestap het, toe sy as volwaardige dokter ontvang is, en nog as Albert Meissner se enigste kleinkind op die koop toe, het sy gedink daar is nou niks meer wat sy van die lewe verlang nie. En toe ontmoet sy Horst Buchner . . .
Sy kon in die twee jaar sedert daardie nag nog nie vasstel of haar skielike verskyning hom regtig nie kon skeel nie. Feit is, hy was dokter Albert se regterhand toe sy so asof uit die niet opgedaag het. Dit is algemeen aanvaar dat hy die leisels eendag by die ou dokter sal oorneem, nie omdat daar enige familiebande is nie, maar bloot omdat hy aan dokter Albert se byna bomenslike standaarde as dokter voldoen. Oor Horst Buchner se bekwaamheid is daar geen twyfel nie, en almal het vanselfsprekend aanvaar dat hy die nuwe hoof van die Meissner-kliniek sal wees wanneer dokter Albert die dag die tuig neerlê.
En toe verskyn dokter Albert se enigste kleinkind op die toneel en alles verander plotseling. Dokter Albert, jare al gewoond aan die gedagte dat hy geen nageslag het wat die moeite werd is om te onthou nie, word skielik op ’n dag gekonfronteer met ’n pragtige, lang meisie met sterk Meissner-gelaatstrekke. Om alles te kroon, lê sy haar bewyse voor hom neer dat sy ook ’n waardige opvolger vir hom in die kliniek kan wees.
Dokter Albert het skielik met ’n probleem gesit. Horst Buchner het so te sê al die versekering van die Godfather gekry dat hy sy opvolger sal wees. Maar nou sit hy met ’n kleindogter wat geregtig