Schalkie van Wyk Keur 10. Schalkie van Wyk
besluit dat hy die lelikste man is wat sy nog gesien het – dít, en die koue spot in sy diep baritonstem.
“Drie Eike is my en my broer Henno se losieshuis, meneer. Ons het die plek van Riaan gekoop en dit behoort nou aan ons. Ek weet nie wie jy is nie, maar –” sê sy vyandig.
“Ek is Wilhelm van Vollenhoven, Riaan se ouer broer, en ek het reeds tien jaar gelede die opsie gekry om Drie Eike te koop. Drie Eike is myne, juffroutjie, en hoe gouer jy en jou broer vertrek, hoe beter vir ons almal,” val die man haar in die rede en glimlag in haar verbysterde gelaat.
2
“Nee,” sê Erika beslis en skud haar kop aanhoudend, haar oë verdwaas op Wilhelm van Vollenhoven, asof sy nie kan glo dat hy of sy woorde waar kan wees nie. “Ek en my broer het Drie Eike met ons erfgeld gekoop, en nou is dit ons losieshuis. Riaan het niks van jou gesê nie.”
“En omdat Riaan niks van my gesê het, bestaan ek nie?” spot Wilhelm, sy glimlag humorloos.
Erika frons en lig haar ken uitdagend.
“Dit kan my nie skeel wie of wat jy is nie, meneer Van Vollenhoven,” sê sy geraak, haar oë glimmend in syne. “Henno het kontant vir Drie Eike betaal, daarom is dit nou ons s’n. As jy my woord in twyfel trek, wag dan tot my broer terugkom.” Sy blik op haar polshorlosie. “Henno sal oor so tien minute of wat terug wees.”
“Ek wag graag,” sê Wilhelm tegemoetkomend, trek ’n stoel onder die kombuistafel uit, neem daarop plaas en blik met ’n vraende blik van sy regterwenkbrou na Erika wat in die kombuisdeur bly staan en hom met ’n gloed van ysige vyandigheid in haar oë bejeën. “Hoekom gaan pak jy nie solank in nie, juffroutjie? Jy gaan tog binnekort trek,” doen hy glimlaggend aan die hand.
Dis oomblikke soos hierdie wat haar laat wens sy het nie in ’n ordentlike huis grootgeword nie, dink sy bitter. As sy nie ’n dame was nie, kon sy hierdie selfvoldane mansmens se ore vuurwarm geklap en hom by die kombuis uitgeboender het.
“En wat nou van my, Ma? Gaan Ma my dié keer saamneem wanneer Ma en oom Henno trek, of moet die Welsyn my weer kom haal?” vra ’n patetiese stemmetjie regs van Erika.
Erika wip van die skrik, swaai vinnig om na die spensdeur en kyk vas in die groot, verwytende, blou oë van ’n blondekopseuntjie met ’n fyn sproetneusie en ’n sagte vollipmondjie wat ’n engelagtige uitdrukking aan sy gesig gee.
“E . . . e . . . waar is jou ma?” vra Erika oorbluf, loer onder die groot kombuistafel in en voel ’n blos op haar wange toe Wilhelm gedemp lag.
“Sies, Ma . . .” Die seun klink na aan trane, kom nader en lê ’n vuilerige handjie op Erika se arm. “Kan Ma nie sien ek is Ma se eie Bartel nie?” beskuldig sy stem haar weer.
Bartel Klopper, die seun wat haar met die huiswerk wou help, onthou Erika en glimlag verlig.
“O . . . Bartel. Jy soek mos werk, nè? As jy wil, kan jy solank die kruideniersware uit my motor aandra kombuis toe, sodat ek met ons aandete kan begin. Oom Henno kom netnou met drie van ons loseerders en ek het nog niks klaar nie. Toe, gaan haal nou die pakkies in my motor – dis voor die deur geparkeer,” versoek sy, oortuig daarvan dat Bartel nie heeltemal wys is nie, maar tog onskadelik moet wees.
“Sien Oom nou?” Bartel kom langs Wilhelm tot stilstand en ’n hartroerende sug ruk sy skraal lyfie soos ’n jong loot in die suidooster. “Ek is net tien, Oom, maar vandat my pa dood is, laat my ma my werk en werk en werk . . . totdat my naels afbreek. Sien Oom hoe kort is my naels? My ma vertel almal ek kou my naels, maar sy jok, want dis van die harde werk dat hulle so lyk.”
“Dan is u ’n mévrou en nie ’n júffrou nie?” vra Wilhelm en klink asof hy haar huwelikstaat afkeur.
“Nee, Oom, ’n weduwee. Sien, my pa is dood,” help Bartel hom reg.
“Natuurlik. Hoe lank is jou pa reeds dood, ou seun?” verneem Wilhelm belangstellend.
“Ek dink dis nou ses maande, Oom, maar ek vergeet so ’n bietjie. Vandat my pa dood is, wil my ma my nie meer hê nie, want sy laai my elke keer by my . . . by die Welsyn af,” antwoord Bartel en werp Erika weer ’n verpletterende blik toe.
“Dan het jy nie saam met jou ma by oom Riaan gekuier nie?” vra Wilhelm en sy stem klink nog vriendeliker, maar sy oë het reeds die doodsvonnis oor Erika uitgespreek.
“Ek het nie eens geweet my ma kuier by oom Riaan nie. Maar, Oom weet, my ma kuier verskriklik baie en ek ken nie al die ooms se name nie,” vertel Bartel en sug weer aandoenlik.
Erika bly asof versteen in die kombuisdeur staan en luister met ’n gevoel van toenemende verbystering en drif na Bartel se stories oor haar. Wie Bartel Klopper is, weet sy nie, maar dat hy ’n kind met ’n ooraktiewe verbeeldingskrag is, moet sy toegee.
“En oom Henno? Is hy werklik jou ma se broer?” vra Wilhelm bedaard, sy ysblou oë glimmend op Erika se gelaat.
“My ma het nie een broer of suster nie, Oom, maar ek ken oom Henno. Hy ry oral rond en hy teken mooi prente. Hy sê hy is ’n skilder en hy is baie goed vir my, want hy gee vir my altyd van sy toebroodjies. Maar hy het niks geld nie, nie eens ’n dooie duit nie. Wat is ’n duit, Oom?”
“Geld,” antwoord Wilhelm kortaf en staan op uit sy stoel, sy regterhand liggies rustend op Bartel se skouer. “Gaan haal maar solank daardie pakkies. Ek sal jou persoonlik twee rand betaal.”
“Sowaar, Oom? Oom moet net vir my ma sê sy moenie weer my geld vat nie, want ek moet al die werk doen en sy loop altyd met my geld weg,” sê Bartel diep gegrief.
“Ek sal vir haar sê. Toe, draf nou,” beveel Wilhelm en dié keer gehoorsaam Bartel hom.
Hier staan sy net soos ’n aangeklaagde voor ’n landdros, dink Erika oorbluf toe haar oë in dié van Wilhelm kyk en sy openlike bestraffing daarin lees.
Netnou nog was sy net Erika Marais, ’n huishoudkunde-onderwyseres en die oudste suster van Henno, maar binne ’n kwartier het sy die moeder van ’n tienjarige seun en ’n vrou met losse sedes geword. Maar sy gaan nie toelaat dat so iets met haar gebeur nie, dink sy onthuts en gluur Wilhelm aan.
“Ek is nie!” verklaar sy aggressief.
“Is nie wat nie?” vra hy en lyk effens van stryk gebring.
“ ’n Vrou van . . .” begin sy, byt op haar onderlip en bloos vuurrooi. Nee a, sy kan mos nie sedelose vrouens met ’n wildvreemde man bespreek nie, selfs al glo hy sy is self so ’n vrou. “Ek is nie Bartel se ma nie.”
“Foei tog. Weet hy hy is ’n aangenome kind?” vra Wilhelm simpatiek.
“Nee!” skree sy, merk sy verbasing en vervolg fluisterend: “Nee, ek weet nie of hy ’n aangenome kind is nie. Ek weet net ek is nie sy ma nie en as jy nog een keer insinueer ek is sy ma, gaan ek skree!”
“Jy het klaar geskree,” sê hy en lyk bedruk. “Hoekom dink die kind dan jy is sy ma?”
“Ek weet nie, maar –”
“Ma! Ma! Kom kyk gou! Kom, Oom, dis ’n groot, rooi trekker en hy kom hierheen! Kom kyk, Oom!” skree Bartel opgewonde uit die gang, swaai om en hardloop terug na die voordeur.
“ ’n Trekker?” Wilhelm frons nadenkend en sê bekommerd: “Ek dink tog ons moet gaan kyk, want bykans al die trekkers op Bergvallei behoort aan my.”
“En wat doen jy met al die trekkers? Sjoe, jy is darem inhalig,” sê Erika snipperig en voel nie eens afgehaal toe hy haar ignoreer nie.
’n Man soos Wilhelm van Vollenhoven moet op sy plek gesit word, maar wie gaan dit doen? Nie sy nie, want van die eerste oomblik dat sy hom ontmoet het, ly sy aan ’n minderwaardigheidskompleks, dink sy mismoedig. En om te dink Riaan het haar na ’n week van vakansie gevra om met hom te trou; nou is sy dankbaar sy het nie ingestem nie, want ’n man soos Wilhelm wil sy beslis nie as ’n swaer hê nie.
Erika bly naas Wilhelm op