Schalkie van Wyk Keur 10. Schalkie van Wyk
van die stilte sing.
“Tant Sophia!” Wilhelm klink oorstelp. “Kon Tannie my nie laat weet het Tannie soek vervoer nie?”
Sophia staan groot en rysig op die trekker en laat Wilhelm toe om haar grond toe te help.
“Dag, Wilhelm,” groet sy, trek sy kop af en soen hom op albei wange. “En hoe moes ek jou laat weet ek het ’n taxi nodig? Jakker jy nie al tien jaar lank in die buiteland rond nie? As jy nie so lelik soos my oorlede pa was nie, sou ek jou nooit herken het nie.”
“Maar ek het vanmiddag, kort na my aankoms op die lughawe, huis toe gebel en met Karen gepraat. Ek het vir haar gesê ek kom Bergvallei toe en dat Tante my moet verwag. Dit was maar net blote toeval dat ek eers ’n draai hier by Drie Eike gery het, seker maar omdat die plek op die dorpsgrens geleë is en ’n mens dit nie kan miskyk nie,” antwoord hy.
“Jou sustertjie, Karen, het my nie ’n woord gesê nie, en waar sy nou weer rondjakker, sal ek nie weet nie, Wilhelm. Dis ’n bestiering dat jy eindelik huis toe gekom het, want daardie dogter het strenger gesag nodig as wat ek op haar kan uitoefen. Wie is ek in elk geval? ’n Ou tannie van sestig wat twintig jaar gelede al kinds geraak het . . . Karen het jou nodig, Wilhelm,” sê Sophia waarskuwend.
“So het Tannie in die jongste brief ook geskryf, en toe Riaan boonop ’n ongeluk maak, het ek besluit dis haas tyd dat ek vir goed huis toe kom,” antwoord hy, draai na Erika wat ’n paar treë van hom af staan en vervolg grimmig: “En toe kry ek háár in my huis.”
“Haai, skaam jou om so lelik met die kind te praat, Wilhelm,” berispe Sophia hom en glimlag vir die fronsende Erika. “Het jy hom al ontmoet, ou dingetjie? Dis nou Wilhelm, Riaan se oudste broer. Hy flenter al jare lank oorsee rond en vind alles oor die wynbou in ander lande uit, in plaas daarvan dat hy sy eie wingerde kom bewerk. Wilhelm, dis nou Erika Marais, die nuwe eienares van Drie Eike.”
Wilhelm gaan haar klap, dink Erika verskrik en retireer na die stoep toe. Sy sien hoe woede ’n ysvuur in sy oë aansteek, merk hoe die spiere langs sy kake uitbult terwyl ’n donker gloed oor sy nek en gesig skuif, en weet dat hy om selfbeheersing veg.
“Nee, tant Sophia.” Wilhelm se stem klink so rustig, byna goedig, dat Erika hom agterdogtig aankyk. “Ek weet nog nie presies hoe die vurk in die hef steek nie, maar ek het reeds tien jaar gelede voorsorg gemaak dat Riaan nie Drie Eike sonder my toestemming kan verkoop nie. Ek het hom nog nie in die hospitaal besoek nie, maar ek sal dit môre doen en dan sal ons die saak wel uitstryk.”
“Dis nou vir jou ’n dingemalêrie . . . Tsk, tsk,” kom dit tongklikkend van Sophia. Sy dink ’n oomblik na en lê dan haar hand met ’n pleitende gebaar op Wilhelm se arm. “Wilhelm, boetie, ek wil nou nie ongasvry wees nie, maar het jy nie geskryf jy het vir jou ’n plasie in Frankryk en een in Duitsland ook gekoop nie? Weet jy, Neels Davel is so ’n uitmuntende voorman dat jy jou glad nie oor jou boerdery hier op Bergvallei hoef te kwel nie. Jy kan sommer weer môre teruggaan Frankryk toe, want ons kom heeltemal goed klaar hier.”
“Drie Eike is my geboorteplek, tant Sophia. Sal Tannie wil toesien dat dit in vreemdes se hande val?” vra hy streng.
“Ag, boetie, ons gaan tog almal dood en kerkhof toe, daarom kan dit seker nie soveel saak maak waar ons woon nie. En boonop kom ek en Karen en Riaan en Susan se kleindogter, Jackie de Vries, nou almal hier op Drie Eike loseer, want die ou plek is nou Erika en Henno se losieshuis, sien?” praat Sophia pleitend terwyl haar blik bekommerd op Wilhelm se fronsende gelaat rus.
“Besit julle reeds die kaart en transport van Drie Eike?” vra hy, sy oë deurborend op Erika.
“Ja . . . nee . . . ek weet nie. Henno het die kooptransaksie behartig en ek het hom nie gevra nie,” antwoord sy ongemaklik en kyk byna verlig na Sophia. “Was Henno nie by Tannie se huis nie? Hy het gesê hy gaan Tannie-hulle met die trek help.”
“Haai, ja, ou dingetjie, hy was toe daar, maar toe sê ek aan hom ek het klaar al my reëlings met Naas Davel getref en Naas sou self die trekker en die sleepwa by my huis aflewer. Sien, my oorle vader was allereers ’n prokureur en tweedens ’n boer, maar dit was my oupa Van Vollenhoven wat my van jongs af leer trekker bestuur het, en sommer gesorg het dat ek my rybewys ook kry. Maar ek kan ná al die jare nog net ’n trekker bestuur, want in ’n motor is ek maar dom. Wilhelm, ek het nog heelwat goedjies wat ek van my huisie af hierheen moet aanry, daarom sal ek môre weer jóú trekker leen.”
“Maar waarom, tant Sophia? Wat skort met Tannie se eie, gerieflike huis daar in Kerkstraat?” vra Wilhelm ergerlik.
“Maar kan jy nie met jou verstand dink nie? My huis is te klein, maar Drie Eike het ’n hele dosyn slaapkamers.” Sophia loer na Jackie wat nog met haar masker op haar kop langs ’n groot tas op die sleepwa agter die trekker sit. “En dis ter wille van Susan Badenhorst se ou kleindogtertjie, Wilhelm. Daar op die dorp is sy soos ’n goudvissie in ’n glasbak met almal wat na haar loer, maar hier op die groot werf van Drie Eike sal sy oral kan rondloop en speel, sonder dat nuuskierige oë haar dophou.”
“O.” Wilhelm klink verwilderd terwyl hy die gemaskerde Jackie onseker dophou. “Tannie en die kind is welkom om by my in te trek, solank die vreemdes net uittrek,” sê hy en kyk Erika in die oë.
“Hie-hie!” peul ’n senuagtige laggie oor Sophia se lippe. “Jy moet Wilhelm maar verskoon, ou diertjie, maar hy was van jongs af ’n moeilike kind, seker maar omdat hy na my oorle oupa Wilhelm geaard het. Wilhelm, sorg jy vir al my pakkasies en bring my portmanteau’s na my ou slaapkamer in die westelike vleuel. Ek en Erika gaan solank vir die aandete sorg.”
“Haar seun het nog nie die pakkies uit die motor gedra nie,” sê Wilhelm en Erika kan die genoegdoening in sy stem hoor.
“Hoe nou?” Sophia kyk verras na Wilhelm en dan na Erika wat hom met blitsende oë aangluur. “Watter seun van wie, ou dingetjie?”
“Daardie kind, Bartel Klopper, Tannie.” Erika rig haar toornige blik op Bartel wat op sy hande langs die sleepwa loop om Jackie se aandag te trek. “Aan wie behoort hy nou eintlik?”
“Wat ’n vergeetagtige moeder,” terg Wilhelm haar. “Sy ken nie eens haar eie kinders nie.”
“Moenie laf wees nie, Wilhelm,” berispe Sophia hom, frons peinsend en knik bevestigend. “Maar dis nogal waar wat jy sê: Bartel se ma vergeet alte maklik dat hy haar en oorlede Daniël Klopper se seun is. Jy het tog nie die mooi Minette du Toit van La Rochelle vergeet nie, Wilhelm? Sy noem haarself deesdae weer juffrou Minette du Toit en sedert Daniël ses maande gelede dood is, is sy weer terug op Bergvallei.”
“Minette se seun?” vra hy skor en draai weg om na die kind te kyk.
Erika wonder of dit net haar verbeelding is wat haar wysmaak dat die bloed skielik uit Wilhelm se gelaat gedreineer het en dat hy ontroer klink om te hoor dat Bartel Minette se kind is. Wie is Minette du Toit en hoe pas sy in die prentjie? wonder sy, weet intuïtief dat sy nie van Minette sal hou nie en verbaas haar oor haar eie gedagtes.
Erika staar Henno ongelowig aan. Sy wens sy kan sy sorgelose glimlag van sy gesig afvee, maar sy weet dat dit nutteloos is om met hom rusie te maak, want Henno twis nooit nie.
“Jy het Drie Eike sommerso aan hom teruggegee? Hoe kán jy, Henno? En wat van ons geld? Sê nou Riaan het dit klaar gespandeer? Wat word dan van ons?” vra sy ontsteld.
“Riaan het reeds ons geld gebruik om vir hom ’n groot boot te koop, daarom sal hy ons seker nie dadelik kan terugbetaal nie,” antwoord Henno en glimlag gerusstellend. “Ek het Wilhelm daarvan vertel en toe bied hy aan om vir ons die geld terug te gee, maar ek het ’n beter voorstel gehad.”
“Jy het?” vra sy wantrouig.
“Ja, want dit pas my om hier op Bergvallei te woon. Ek is naby die see, die hawe, die vissersdorpies, die pragtige valleie en berge . . . Dis ’n fees vir ’n skilder, daarom gaan ek net hier bly. Dis waarom ek ou Wilhelm oorreed het dat hy jou nodig het.”
“Hoekom noem jy hom ou Wilhelm? Is hy so oud?” vra Erika, verras omdat sy haar