Schalkie van Wyk Keur 10. Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 10 - Schalkie van Wyk


Скачать книгу
dis nou weer ’n ander ding waaroor ek my kwel.” Sophia sug diep en wag totdat Erika haar vraend aankyk voordat sy verduidelik. “Die Brink-seun, jong Kallie . . . hoe ken jy hom? En hoekom het jy my niks gesê dat jy gisteraand saam met hom sou uitgaan nie? Sien, dis nou nie dat ek rêrig nuuskierig is nie, maar sommerso op my nugter maag kom bestook Wilhelm my met ’n mond vol vrae oor hoe lank jy en Kallie al saam uitgaan en hoe ernstig julle verhouding is en of jy binnekort gaan trou. En daar sit ek toe met my mond vol winkeltande en ek wis van geen sout of water nie. Haai, ou dingetjie, ek het lank laas so ’n yslike pampoen gevoel.”

      “Ja, Tannie,” sê Erika simpatiek en plaas haar leë koppie op haar bedkassie neer. “Hy doen dit aan my ook, Tannie: hy laat my soos ’n pampoen voel.”

      “Van wie praat ons nou, ou diertjie? Kallie of Wilhelm?” vra Sophia onbegrypend.

      Erika kyk na haar toe kamerdeur en dan na Sophia en sug oorwonne.

      “Ek ken nie vir Kallie nie, Tannie. Ek het hom eers half­twee vanoggend by die ingang tot Drie Eike ontmoet,” vertel sy.

      “Haai, so laat, Erika? Maar kon jy darem nie julle afspraak ’n bietjie vroeër gereël het nie? Of was jy te besig?” vra Sophia verwonderd.

      “Dis Karen, tant Sophia.” Erika sluk en kyk Sophia pleitend aan. “Ek het gehoop ek sal Karen se vertroue kan wen as ek haar en haar vriend inwag en haar waarsku dat Wilhelm nog nie gaan slaap het nie. Ek het hulle daar by die ingang voorgekeer, maar Wilhelm het seker ook die motorfiets gehoor, want toe kom hy met ’n flits in sy hand aangestap. Karen het van die motorfiets afgespring en tussen die bome en struike in verdwyn, en toe betrap Wilhelm my saam met Kallie.”

      “En jy sê hom toe nie die waarheid nie?”

      “Hoe kon ek, Tannie? As ek Karen gisternag verraai het, sou ons uit die staanspoor vyande gewees het. Nou hoop ek sy sal glo ek is aan haar kant en dat ek mettertyd haar vertroueling sal word. Sy gaan tog nie vir my luister bloot omdat ek ’n onderwyseres is nie,” redeneer Erika nugter.

      “Nou wil jy meer . . . Ek het nooit so daaraan gedink nie, maar miskien sal Karen meer in haar spoor trap noudat Wilhelm eindelik teruggekeer het huis toe.” Sophia swyg, ’n mymerende lig in haar oë. “Tien jaar . . . ’n hele dekade, en dit oor ’n dom vrou soos Minette du Toit.”

      “Bartel se ma?” vra Erika skerp.

      “Ja, die einste klein Bartel se ma. Hy lyk nou wel meer na sy oorlede pa, maar dis duidelik dat hy na sy bedrieër van ’n ma aard. Maar aan die ander kant . . .” Sophia skud haar kop en sug weer. “Die kind het ook so ’n snaakse lewe gelei, selfs toe Daniël nog geleef het. Daniël was ’n skatryk sakeman en in- en uitvoer was sy besigheid, daarom was hy dikwels oorsee. Eers het Minette hom vergesel, maar later het elkeen sy eie koers gekies: hy om te werk en sy om vakansie te hou.”

      “En Bartel dan?” vra Erika. Sy dwing haarself om op die kind te konsentreer, want sy wil nie daaraan dink dat Wilhelm moontlik eenkeer Minette du Toit liefgehad het nie.

      “Bartel het eers ’n verpleegster gehad wat hom versorg het, maar later het Minette hom hier op Bergvallei by sy ouma Esmé kom aflaai. Wag, laat ek nou mooi uitreken: Esmé se man, Jacques, is nou vyf, ses jaar gelede dood en tot en met sy afsterwe het hulle nog op hulle wynplaas, La Rochelle, gewoon. Daarna het Esmé dorp toe getrek en ’n huisie daar naby my in Kerkstraat gekoop, en jong Morné Venter het plaasbestuurder op La Rochelle geword.”

      “Dan woon Bartel nog al die jare by sy ouma?” vra Erika, geskok oor die liefdeloosheid van sy ouers teenoor hom.

      “Eers was dit so dan en wan, maar toe hy begin skoolgaan, het Minette en Daniël besluit dit sal hulle beter pas as hy permanent by sy ouma bly. Daniël se werk het hom tydig en ontydig van die huis af weggehou en Minette was van kleins af soos ’n rooimier – dan hier en dan daar. Sy het rondgerits en sonder ’n titseltjie skaamte aan my vertel dat ’n geëmansipeerde vrou haar nie deur ’n kind aan ’n huis laat vasbind nie. Sy het seker maar bedoel sy is te sleg om vir Bartel ’n ma te wees,” vertel Sophia en skud haar kop.

      “Arme klein Bartel! Ek is darem bly sy ouma Esmé is bereid om hom groot te maak,” sê Erika simpatiek.

      Sophia kyk op, haar oë groot en skuldig soos ’n hond wat vleis gesteel het.

      “Haai, foei, ou dingetjie, ek wens ek kan sê dis waar, maar ek is ’n Christenmens, daarom kan ek nie met die een voet op die smal weg en die ander een op die wye pad loop nie. Nee, kyk, ou Esmé is ’n dierbare mens, so besorg oor die armes en haar naaste en bedrywig van ligdag tot donkernag met al haar verenigings en klubs, maar hoe om ’n kind groot te maak, is vir die arme siel duister. Kos sal hy kry en klere ook, maar aandag en liefde . . . En berispe ek haar, sê sy my sy gee hom hope sakgeld en as dít nie liefde is nie, dan weet sy niks van kinders grootmaak nie.”

      “Bartel is ’n onmoontlike entjie mens,” gee Erika toe. “Hy het gistermiddag vir Wilhelm daarvan oortuig ek is sy ma.”

      “Gie-gie! Het jy dan nie Wilhelm se oë gesien nie? Hy aard so reg na die eerste ou grondbaron, my oupa Wilhelm. Die ou man kon sy gesig in die plooi sit dat hy soos die duiwel self gelyk het, maar as ek daardie vonkellaggie in sy oë gesien het, had ek op sy skoot gaan klim en geweet ek gaan my sin kry,” vertel Sophia met ’n deernisvolle laggie.

      Om op ’n man soos Wilhelm van Vollenhoven se skoot te klim? wonder Erika en skud haar kop. O nee, hy lyk nie soos ’n man wat oor geduld of liefde beskik nie, seker omdat ’n man soos hy nie liefde in sy lewe nodig het nie. Of het hy dalk nog vir Minette du Toit nodig?

      “Is dit waarom Wilhelm tien jaar gelede oorsee is? Omdat Minette met Daniël Klopper getroud is?” vra Erika en hou haar asem onwillekeurig op terwyl sy op ’n antwoord wag.

      “Hulle het saam grootgeword, Wilhelm en Minette, en hulle ouers was boesemvriende. Wilhelm is vier jaar ouer as Minette en sy het hom van kleins af soos ’n hondjie oral gevolg. Ek glo hulle was lief vir mekaar; ek weet sý was baie lief vir hóm, want ná matriek wou sy met geweld met hom trou,” vertel Sophia terwyl sy op die voetenent van Erika se bed neersak, ’n sagte gloed van half vergete gister in haar oë.

      “Waarom is hulle toe nie getroud nie?”

      “Twee kinders van agtien en twee-en-twintig?” Sophia klink verontwaardig. “Gelukkig het Wilhelm meer verstand gehad, want hy was destyds besig met nagraadse studie in wynbou en hy het daarop aangedring dat Minette ook Stellenbosch toe gaan en verder studeer. Minette was kwaad, daarom het sy besluit om in Kaapstad te gaan studeer, en sy het ’n eie woonstel in Seepunt geëis.”

      “En haar ouers het ingestem?” vra Erika ongelowig.

      “Jacques kon sy koppige dogter nooit iets weier nie en Esmé was te besig met haar verenigingslewe om werklik beswaar te maak. Daarby was dit ’n uitgemaakte saak dat Minette en Wilhelm sou trou, daarom het hulle hulle nie werklik oor Minette gekwel nie. Sy is sewe maande later, pas ná haar negentiende verjaarsdag, met die ryk sakeman, Daniël Klopper, getroud,” beëindig Sophia haar vertelling met ’n wrang trek om haar lippe.

      “Sommer net so?” vra Erika ongelowig.

      “Sommer net so,” herhaal Sophia grimmig. “Daniël was vyftien jaar ouer as Minette en as sy hom nié liefgehad het nie, het die glans van sy besittings haar in elk geval betower. Esmé en Jacques het voorgegee hulle is dol oor hulle nuwe skoonseun en dat Wilhelm heel waarskynlik net met Minette wou trou sodat hy La Rochelle by sy talle ander wynplase kon voeg, want grond was nog altyd vir Wilhelm die grootste besitting wat ’n man kan hê.”

      “Dink Tannie dis die waarheid? Het Wilhelm haar nooit liefgehad nie?” vra Erika.

      “Wie sal met sekerheid kan sê, ou kindjie?” vra Sophia skouerophalend. “Wilhelm het soos die graf geswyg, sy studie aan die universiteit voltooi en toe is hy oorsee met die doel om verder te studeer. Hy het sy doktorsgraad in Heidelberg in Duitsland gekry en ons het gehoop hy sou huis toe kom, maar hy het weggebly. Later het hy geskryf dat hy aan die universiteit in Parys studeer, dat hy nóg ’n doktorsgraad verwerf het, en dat


Скачать книгу