Schalkie van Wyk Keur 10. Schalkie van Wyk
toe.
Sy hoor Wilhelm oor die telefoon praat, maar hy lui af en sy loop byna in hom vas toe sy by die deur van die studeerkamer indraai.
“O, jy het toe my boodskap gekry?” blaf hy en troon groot en dreigend bo-oor haar. “Het jy my nie gisteraand uitdruklik hoor sê dat ek Bartel slegs twee rand sal betaal as hy die kruidenierspakkies uit jou motor aandra kombuis toe nie? Waarom dring hy nou skielik daarop aan dat hy tien rand vergoeding moet kry? Dis mos om ’n kind tot in die afgrond te bederf!”
“Maar . . . ek het nie! Dis jý, nie ek nie! Jy het vir Bartel gesê jy sal my bont en blou klap as ek hom nie onmiddellik tien rand betaal vir sy werk die afgelope twee dae nie. Tien rand! Jy weet jou skelm broer het al my geld gesteel en nou moet ek van jou aalmoese lewe! Ek sal –”
“Steel! Dan noem jy my broer ’n skelm en ’n dief! Juffrou Marais, ek kan jou hof toe neem oor daardie aantyging! Ons Van Vollenhovens het nog nooit nodig gehad om van andere te steel nie en as jy –” val hy haar verwoed in die rede.
“En ek sal jou in die trónk laat stop!” skree sy hom stil, sien hoe hy sy hande op sy ore sit en ineenkrimp asof hy deur ’n weerligstraal getref is en sy wonder of dit sal help as sy begin huil.
“Wilhelm!” Sy hoor die helder, sonnige stem voordat ’n jong meisie met vlamrooi hare en ligbruin oë, omraam met donker wimpers, en geklee in vleiende rydrag die studeerkamer binnestorm en haar in sy arms werp. “Wilhelm, my skat, onthou jy jou belofte van tien jaar gelede aan my? Ek is nou vier-en-twintig en nou kan ons maar trou. Dis mos die rede waarom jy teruggekom het Bergvallei toe, nie waar nie, my liefling?”
4
Erika voel asof sy sonder om te klop iemand anders se slaapkamer binnegestap het. Sy wens sy kan omdraai en haar ongemerk uit die voete maak, maar haar voete is skielik dom en haar oë is vasgenael op Wilhelm se gelaat.
Sy merk hoe die uitdrukking van fronsende verbasing op sy gesig plek maak vir herkenning, en dan vat hy die meisie liggies aan die skouers en glimlag met warm spontaneïteit.
“Klein Amalia! Jy is mos oom Naas Davel se dogter?” vra hy hoorbaar in sy skik.
“Nie meer klein Amalia nie,” berispe sy hom met ’n pruilmondjie en streel met haar regterhand oor die kort hare in sy nek. “Tien jaar gelede was ek pas veertien en dolverlief op jou, maar nou is ek vier-en-twintig en weet ek wat dit beteken om lief te hê.”
“Regtig? Ek moet tog uitvind hoe groot jou kennis van die liefde is,” terg hy.
“Hoekom nie sommer nou nie?” vra sy, sluit haar oë en tuit haar lippe uitlokkend vir hom.
Hy lag geamuseerd, maak haar hande agter sy nek los en hou hulle voor hom vas.
“Het jy vergeet ek was die skaam prins op ’n wit perd?” spot hy. “Ek twyfel of dit wys sal wees om in die teenwoordigheid van my huishoudster ons intieme gesprek voort te sit,” sê hy met ’n waarskuwende blik op Erika.
Amalia ruk om, ’n nydige frons tussen haar geboë wenkbroue en ’n uitdrukking van skok en drif op haar gelaat wat Erika laat besef dat Amalia onbewus was van haar aanwesigheid in die studeerkamer.
Amalia is ’n beeldskone meisie met haar digte, koperrooi hare en hartvormige gesiggie. Sy is kort, maar met al die rondings en sagtheid wat ’n mens aan ’n spinnende, tevrede kat herinner. Amalia weet sy is aantreklik vir enige man, besef Erika, en sy sal nie huiwer om van haar kennis misbruik te maak nie.
“Huishoudster!” tier Amalia, haar oë smeulend in dié van Erika. “My pa het niks van ’n huishoudster gesê nie. Het jy haar saam met jou gebring? Kan die arme ding darem Afrikaans praat?” Sy lag smalend. “My liewe Wilhelm, jou verblyf in die buiteland het nie juis jou smaak verbeter nie: sy lyk maar vaal met haar muishare en groen ogies. Wat is sy? Engels?”
Erika hoop sy bloos nie van loutere ergernis nie en kyk na Wilhelm wie se gelaat dieselfde uitdrukkingloosheid as hare vertoon.
“Sê vir jou meisie ek kan onverbeterlik in Afrikaans vloek en as sy nie hofliker aanmerkings oor my maak nie, doen ek dit dalk,” waarsku Erika gelykmatig en ervaar die genoegdoening om Wilhelm se mond ’n oomblik lank te sien oopval van ongeloof.
Amalia gluur haar aan, maar Wilhelm tik haar op die skouer en sê doodernstig: “Jy is gewaarsku, Amalia: sy kan vloek.”
Erika is op haar beurt verras oor sy reaksie en dink onwillekeurig aan Sophia se woorde oor die eerste grondbaron: Die ou man kon sy gesig in die plooi sit dat hy soos die duiwel self gelyk het, maar as ek daardie vonkellaggie in sy oë gesien het, had ek op sy skoot gaan klim . . .
Sy merk die vonkeling in Wilhelm se oë ten spyte van sy uiterlike mens, weet dat hy die situasie geniet, maar besluit dat die teenswoordige Wilhelm baie sterker na die ou bose moet lyk, want sy ervaar geen begeerte om op sy skoot te klim nie.
“Jy kan jou werknemers gerus met groter smaak kies, Wilhelm,” berispe Amalia hom en keer haar rug opsetlik op Erika. “Verbeel jou, ’n huishoudster wat vloek! Wat sal die mense daarvan sê?”
Wilhelm lag sag.
“Dis wat jou so dierbaar maak, Amalia: jy glo nog al die jare elke woord wat ek sê. Maar moenie jou kwel nie, want juffrou Marais is ’n huishoudkunde-onderwyseres en ek twyfel of sy wel skielik soos ’n wafferse matroos op ons sal begin swets,” sê hy gemoedelik. “Erika, dis Amalia Davel, die enigste dogter van my voorman, oom Naas.”
“Bestuurder, nie voorman nie,” sê Amalia geraak, maar doen nie die moeite om om te draai en Erika te groet nie. Sy vleg haar vingers om Wilhelm se linkerarm, leun teen hom aan en kyk op in sy gesig. “Hoekom het jy nie vir my gevra om vir jou te kom huishou nie, my skat? Pappa sê ek is ’n uitmuntende kok en ek sou nie ’n salaris geëis het nie. O, ek weet!” roep sy opgewonde uit en draai na Erika.
Netnou is sy aangegluur en nou word sy met ’n stralende glimlag bejeën, dink Erika, en sy wag met ’n uitdrukkinglose gelaat op Amalia se volgende woorde.
“As juffrou Marais so pas by jou begin werk het, is sy nog nie permanent aangestel nie, nè, Wilhelm? Jy kan haar net vier-en-twintig uur kennis gee en dan sal ék jou huishoudster word. Jy gee mos nie om nie, juffrou Marais?” vra Amalia met soveel onskuldige eerlikheid dat Erika haar nie eens vir die meisie kan vererg nie.
Amalia is dom – of uiters geslepe, dink Erika, en soek hulp met haar oë by Wilhelm.
“Onmoontlik, Amalia,” sê hy spytig. “Sien, Erika is nie net my huishoudster nie, maar boonop ’n aandeelhouer in Drie Eike. Al wil ek, kan ek haar nie in die pad steek nie.”
Wat ’n skat van ’n man! jubel Erika heimlik, en vererg haar dan vir haar eie gedagtes. Laat Amalia hom maar haar skat en haar liefling noem – vir haar sal hy altyd ’n lelike duiwel wees.
“O . . . Kan ek ook aandele in Drie Eike koop?” vra Amalia gretig.
“Ongelukkig nie, want ek deel nie graag my besittings met andere nie,” antwoord hy en Erika weet hy praat eintlik met haar.
“Maar jy verkoop aandele aan háár?” vra Amalia met ’n afgunstige blik op Erika.
“Nee, maar Riaan het voordat ek teruggekeer het. Verskoon my, asseblief, Amalia, maar ek en Erika het nog so ’n klein misverstandjie oor ’n seuntjie en tien rand gehad . . .” sê Wilhelm en rig ’n strydlustige blik op Erika.
Erika druk haar neus in die lug, snuif hard en aanhoudend, en sê besorg: “Die pampoen brand!”
Sy vlug die studeerkamer uit, hoop maar dat Wilhelm nie tydens die middagmaal sal agterkom dat sy wortels in plaas van pampoen gekook het nie, en slaak ’n sug van verligting toe sy die veiligheid van die kombuis bereik.
Dis tog vreemd hoe die plattelandse lug haar beïnvloed, dink sy terwyl sy die oond oopmaak om die skaapboud om te draai. In die stad het sy talle vriendinne gehad, maar hier op Bergvallei rys haar nekhare net by die aanhoor van ’n ander meisie se naam. Sy weet sy sal nie van Minette du