Schalkie van Wyk Keur 10. Schalkie van Wyk
neem aan die onderpunt van die lang geelhouttafel in die eetkamer plaas, tevrede dat dit die verste is wat sy van Wilhelm, wat die plek aan die bopunt van die tafel ingeneem het, kan sit. Links van haar sit Amalia wat nog nie haar kuiertjie beëindig het nie, en regs neem Karen en Sophia plaas.
“Eet die huishoudster dan saam met ons?” vra Amalia met liewe onskuld en glimlag vir Wilhelm.
“Kind, ek kap jou sommer oor jou kneukels met die vleismes!” ontplof Sophia met heilige toorn en vergeet van die bruin gebraaide skaapboud voor haar op die vleisbord. “Ek weet jy is ’n dom kind wat amper nie matriek gemaak het nie, maar is dit nou nodig om so ongepoets te wees? Nie dat ek iets beter van jou kan verwag nie, want jy het tussen die perde grootgeword en dis ook al wat jy kan doen: perdry en stalle skoonmaak. Ek kan my so vervies!”
“Die vleis word koud, tant Sophia. Sal ek verder sny?” vra Wilhelm rustig.
“Die vleis is mý werk, Wilhelm, maar dis jou werk om jou gaste met groter kieskeurigheid te kies, anders sal daar nooit vrede in hierdie huis heers nie!” blaf Sophia en sny dun snye vleis.
“Waar is Bartel en Jackie?” vra Wilhelm bedaard, klaarblyklik nie van plan om Sophia te weerspreek nie.
“Hulle eet in die kombuis,” antwoord Erika teësinnig toe hy haar direk aankyk.
“Waarom? Hulle sal nooit goeie tafelmaniere leer as hulle altyd in die kombuis moet eet nie,” sê hy.
“Maar wat lol jy nou weer, Wilhelm?” vra Sophia misnoeg. “Gee jou bord aan, Karen, sodat ek vir jou kan vleis inskep. Julle ander se borde ook.” Haar oë soek na Wilhelm se gesig. “Ek kan Jackie nie alleen laat eet nie, ingeval sy stik, en tot tyd en wyl haar ou gesiggie beter lyk, sal ek haar nie dwing om sonder haar masker voor ons ander rond te loop nie.”
“Die hele dorp praat oor die snaakse kind met die masker op haar kop. Is dit waar dat sy soos ’n kat lyk, tant Sophia?” vra Amalia.
Sophia word rooi in haar gesig, maak haar mond oop, maar maak dit dan weer vinnig toe.
“Ja, Amalia, en sy miaau ook as sy melk wil hê. Ek dan het sy boonop ’n lang, wollerige stert, maar moenie die ander mense daarvan vertel nie, want niemand sal jou tog glo nie,” sê Sophia met vrome erns.
Karen skaterlag en Amalia kyk haar nydig aan.
“Jy lyk baie vrolik ná my partytjie gisteraand,” sê Amalia katterig. “Het jy en Kallie toe darem veilig tuis gekom? Selfs my pa sê Kallie drink te veel vir ’n ou wat motorfiets ry.”
In die byna tasbare stilte wat op Amalia se woorde volg, kyk Erika oor die lengte van die tafel na Wilhelm, sien die misnoeë op sy gelaat en voel ’n warm blos van verleentheid oor haar gesig kruip.
“Dis net soos tant Sophia sê: jy is dom en onnosel en ’n verraaier, Amalia Davel!” blits Karen. Sy wag nie om toestemming te kry nie, maar spring op. “Verskoon my!” snou sy en storm die eetkamer uit.
“Wat ’n vertoning!” sê Amalia met ’n neerhalende glimlaggie. “Is sy nou skielik skaam om te erken dat sy en Kallie Brink saam uitgaan?” vra sy aan niemand in die besonder nie.
“Eintlik, ja,” kom dit ernstig van Wilhelm terwyl sy oë na dié van Erika soek. “Sien, Kallie is dol oor Erika en die twee het so ’n vurige verhouding dat . . . Help die meisie, tant Sophia. Sy stik haar asem weg,” versoek hy toe Erika onbedaard aan die hoes gaan.
Sophia tik-tik liggies met haar hand tussen die hoesende Erika se blaaie, lig haar hand dan hoog op en plant ’n gevoelige hou op Erika se rug.
“Eina!” skree Erika wat haar hoes en haar asem weggeskrik het. “Was dit nou nodig, tant Sophia?”
“Foei, ou dingetjie, ek was bang jy hoes jou longe uit, toe lê ek maar met die plathand in. Hier, kry vir jou ’n glasie water,” sê Sophia en trek die waterkraffie nader.
Erika kyk op in Wilhelm se gelaat, sien die treiterende lag in sy oë en skuif haar stoel agteruit.
“Ek verkies ’n glas lemoensap. Verskoon my, asseblief,” maak sy verskoning en stap vinnig die vertrek uit.
In die kombuis kyk sy verras na Henno wat besig is om sy rugsak vol blikkieskos, sout, koffie en poeiermelk te pak.
“Haai!” roep sy onthuts uit en stap vinnig nader, net half bewus van Bartel en Jackie wat gretig blikkieskos vir Henno aandra.
“Ek háát aspersies, want dit proe nes gras,” sê Bartel van die kruidenierswarekas af. “Koeie vreet gras, nie kinders nie. Gee vir oom Henno al die blikkies aspersies, Jackie.”
“Hallo, sus,” groet Henno haar, oënskynlik onbewus van haar billike toorn. “Ek wou jou nie steur nie, want julle was besig om te eet, maar jy gee seker nie om as ek vir my ’n paar blikkies kos en ’n pakkie sop of twee inpak nie? Ek gaan berge toe en ek weet nie hoe lank ek sal wegbly nie.”
“ ’n Paar blikkies? Goeiste, Henno, dis my kosvoorraad vir die maand! Ek het ’n paar rand in my bankrekening en as jy al ons blikkieskos vat, sal ons seker van liefde en koue water moet leef!”
“My ouma Esmé sal vir ons kos gee,” verseker Bartel haar en lê ’n vertroostende hand op haar arm. “Weet Tannie, my ouma Esmé het ’n spenskas wat so groot soos . . . soos ’n hele skool is. Daar is miljoene en biljoene en triljoene blikkies kos in haar spens, alles net poeding en ingelegde vrugte en . . . kondensmelk, want ek haat groente en aspersies. Daar is gif in die aspersies, het Tannie geweet? Ek ken ’n man wat aspersies geëet het, en toe rek hy sy oë so groot en hy maak sy mond so wyd oop en hy sê: ‘Hu!’ en toe val hy pardoems! morsdood op die grond neer!”
Henno lag langs Erika.
“Die kind is ’n gebore toneelspeler. Oulike knaap, is hy nie?” vra hy en gespe sy rugsak toe.
“Oulik, ja,” sê Erika bedruk en kyk na Bartel wat net soos die man in sy storie op die grond neergeslaan het en nou stokstyf aan haar voete lê. “Bartel, wanneer kan ons die blikkieskos by jou ouma gaan haal? Moet ek tant Sophia vra om weer ’n trekker en ’n sleepwa te kry?”
Bartel sit vinnig orent, sy blik bekommerd op Erika. “Darem nie ’n hele sleepwa vol nie, Tannie, want dan het my ouma niks oor nie. Weet Tannie hoe baie kan my ouma eet? Ek wed sy kan twintig koeke en twintig terte eet en . . . dertig koppies tee drink . . . sommer net so!” Hy klap met sy vingers.
“Bartel ken sulke mooi stories,” fluister Jackie bewonderend onder haar wit masker uit.
“Ek dink self so, Jackie. Ons moet al sy stories neerskryf en dan maak ons ’n boek daarvan. Oom Henno kan vir ons die prentjies teken en dan noem ons dit Bartel se bobaas-stories en ek sal elke aand vir jou een van Bartel se stories lees voordat jy gaan slaap,” sê Erika met net genoeg entoesiasme om oortuigend te klink.
Bartel soek vergeefs na sy asem, sy oë blink soos sterre. “Dink Tannie rêrig ek kan mooi stories vertel?”
“Die kind jok soos ’n tandetrekker,” sê Henno onthuts. “hoekom prys jy hom nog daaroor?”
Erika merk die donkerrooi blos van verleentheid wat Bartel se ore laat gloei. Sy sien die sku, gekweste uitdrukking in sy oë en trek hom nader sodat hy voor haar staan, haar hande op sy skouers.
“Jy kan ook net prentjies teken, want jy weet niks van skrywers nie, nè, Henno?” vra Erika verpletterend. “Dink jy ’n man soos Bartel sal aspris vir my en Jackie jok? Hy vertel net mooi stories, maar dis nie jok nie.”
“Hy is ’n verbeeldingskind,” sê Jackie met ’n vername stem en vergeet skoon om te fluister. “My pappa sê altyd ek is sy verbeeldingskind, en Mamma . . .” Haar asem kom rukkerig en Erika wonder wat sy agter haar wit masker dink, en sy steek haar regterhand impulsief met ’n uitnodigende gebaar na Jackie uit.
“Tannie moet haar weer ’n drukkie gee en sê sy is Tannie se lappop, want sy verlang na haar dooie ma,” sê Bartel met besorgde erns.
“Sy