Susanna M Lingua Gunstelinge 2. Susanna M. Lingua
ek dag jy het gesê jy is ’n gereelde kerkganger,” terg hy. “Wat gaan maak jy eintlik in ’n kerk as jy nie eens na ’n gebed kan luister nie?”
Sy kyk hom snaaks aan, so asof hy verstandelik effens vertraag is en sy dit nou eers agterkom.
“Ek dink dis tyd dat ons mekaar eens en vir altyd goed verstaan, Wouter,” sê sy. Sy sit die lepel waarmee sy eet versigtig neer en kyk hom vas aan – presies soos oom Isak as hy iets ernstigs op die hart gehad het. “Ek het nie gesê dat ek gereeld kerk toe gaan omdat ek so danig baie daarvan hou om kerk toe te gaan nie. Ek het gesê ek gaan gereeld kerk toe omdat my ma my geleer het dat ’n ordentlike mens Sondae kerk toe gaan.”
Toe bars Wouter hartlik uit van die lag, en selfs tant Elsa kan nie help om onderlangs te glimlag nie.
“Lecia, Lecia!” kry hy dit hortend tussen lagbuie uit. “En jy noem jouself ’n Christen . . . Julle Branks is almal eenders, my liefie. As dit die rede is waarom jy elke Sondag kerk toe gaan, kan jy dit gerus staak en tuis bly. ’n Mens gaan nie om daardie rede kerk toe nie.”
“Man, vergeet nou hierdie dinge en vertel my liewer of jy my na ontbyt gaan leer skiet,” maak sy ernstig beswaar teen sy ontydige prekery.
“Nou goed, ek sal vanoggend al my werk los en jou eers leer skiet,” belowe hy. “Eet nou, jou kos word koud.”
Vir ’n wonder praat sy nie teë nie.
Lecia se groen oë blink opgewonde toe sy ’n rukkie later buite vir Wouter wag terwyl hy die geweer en patrone gaan haal. Sy dink aan die ellendige tarentale, en besluit dat hulle nie weer die geleentheid gaan kry om Lady te laat skrik nie. Ja, en die ou bokram sal ook in sy spoor moet trap as sy eers goed kan skiet!
Na ’n rukkie sluit Wouter hom by haar aan. Hy vertel haar omslagtig hoe die geweertjie werk en wys haar hoe sy korrel moet vat en die geweer moet laai. Dit duur ook nie lank nie, toe vuur sy die een patroon ná die ander op die skyf af.
Instink moet tant Elsa se pluimvee, speenvarkies en die ou bokram gewaarsku het dat dit ’n ongeskoolde persoon is wat die geweer hanteer, want almal het die loop geneem. Net Wouter se twee geliefkoosde bulhonde het nader gestaan om die gedoente te aanskou, blykbaar onder die indruk dat daar op ’n haas of ’n ding gevuur word en dat hulle aanstons die slagoffer sal kan verslind.
Boel, die reun, is gans te manhaftig, want hy waag dit selfs om effens skuins voor die skut te kom staan.
Hoe dit gebeur het, weet Lecia nie, maar toe sy die geweer se slot toedruk, gaan die skoot onverwags af en tref Boel vol in die regterboud.
“Nou wat de duiwel makeer jou om my hond te skiet?” dring Wouter se ontstoke stem tot haar deur toe die hond tjank. “Kan jy nie kyk wat jy doen nie, of is jy blind?”
Sy kyk hom verskrik aan toe hy die geweer uit haar hande neem.
“Moenie verspot wees nie,” snou sy hom ergerlik toe. “Ek het nie die ellendige hond opsetlik geskiet nie. Dink jy ek is gek? Moenie my hier staan en verskree nie, Wouter Fouché. Gaan kyk liewer hoe ernstig die hond beseer is.”
Sy blou oë is donker en ongenaakbaar toe hy grimmig sê: “As Boel vrek, draai ek jou nek om. Jy moet liewer jou motor uit die waenhuis gaan haal sodat jy hom na die veearts kan neem.”
“Dis nie nodig om my so aan te gluur nie,” bestraf sy hom. “Ek weet dis my plig om hom veearts toe te neem.”
Hy meet haar met ’n kil blik. “As ek nie nog jou nek omdraai nie –”
“Toemaar, jy het dit al gesê, dis nie nodig om dit te herhaal nie,” knip sy sy tirade kort en stap haastig huis toe om haar motor te gaan haal. Sy besef dat Boel sonder versuim behandeling sal moet kry. Hy is nou wel die lelikste hond wat sy al ooit in haar lewe gesien het, maar sy wil darem nie die oorsaak van sy dood wees nie.
Tant Elsa is die ene besorgdheid oor die hond toe sy hoor dat Lecia die dier per ongeluk raak geskiet het. Sy gaan ook sommer dadelik buitentoe om vas te stel hoe ernstig die wond is en of sy Wouter met iets kan help.
Maar Wouter het reeds alles onder beheer, en toe Lecia ’n paar minute later langs hom stilhou, het hy Boel op ’n sak gemaklik gemaak vir die rit Dennevlei toe.
Nadat hy die hond langs Lecia se voete in die motor neergelê het, verduidelik hy aan haar waar dokter Frans le Roux se spreekkamer is.
Sy kyk hom ’n oomblik stil aan en sê dan sag: “Ek is jammer oor jou hond, Wouter. Ek het hom nie opsetlik geskiet nie. Regtig, dit was ’n ongeluk en . . . Wel, ek weet nie wat gebeur het dat die skoot so onverwags afgegaan het nie.”
“Nou goed, ek neem jou verskoning aan. Maak net gou sodat Frans die hael uit sy boud kan verwyder voordat daar ontsteking in kom,” maan hy besorg.
Met ’n handgebaar wat tot siens beteken, trek sy versigtig van die werf af weg. Die hond steun, en sy verwens haarself omdat sy die geweer nie versigtiger gehanteer het nie. Dis nie aangenaam om ’n dier te sien ly nie.
Etlike minute is Lecia diep in haar gedagtes versonke, dan merk sy ’n troppie skape op wat ’n entjie vorentoe langs die pad wei. Sy verminder dadelik die voertuig se snelheid, want ’n mens weet nooit wanneer ’n dier dit in sy kop kry om die pad oor te steek nie, en sy het reeds ’n beseerde hond by haar in die motor.
Sy voel verlig toe sy merk dat daar darem ’n wagter by die troppie skape is, maar sy besluit nietemin om maar stadig te ry. Sy nader die troppie skape en merk dat die wagter besig is om hulle van die pad af weg te keer, maar die volgende oomblik spring een kortom en hardloop voor die motor in. Sy trap die rempedaal diep weg, maar die kant van die buffer tref die skaap teen die blad.
Sy klim haastig uit en draf na die skaap toe waar hy spartel om orent te kom. Die ou wagter wat die skape oppas, is egter eerste by die beseerde dier.
“Ai, juffrou, meneer Wouter gaan baie kwaad wees,” sê die wagter bekommerd. Sy verplooide gesig is behoorlik vaal van die skrik. “Dis net ’n paar maande gelede dat meneer Wouter dié ram gekoop het, hy’t baie geld gekos.”
“Jy sê dis ’n ram?” Sy kyk bekommerd na die skaap. “Is hy ernstig beseer?”
“Dis sy blad, juffrou. Ek moet vir meneer Wouter . . .”
“Nee, wag,” keer sy haastig. Sy voel werklik nie lus om nou weer onder Wouter se tong deur te loop nie. Twee ongevalle op een dag . . . Ja-nee, dis beslis nie vandag haar gelukkige dag nie. “As ek die motor nader bring, sal jy die skaap in die kattebak kan laai?” vra sy na ’n oomblik. “Ek dink dit sal beter wees as ek die skaap dokter toe vat.”
“Ja, juffrou moet maar so maak,” beaam die ou wagter.
Met ’n groot gesukkel lê die ram later in die motor se kattebak. ’n Leë oliekannetjie word gebruik om te keer dat die klap heeltemal toegaan. Om te verhoed dat dit op pad oopgaan en die skaap uitval, het die wagter die klap met ’n dun riempie aan die buffer vasgemaak.
“Nou ja, ek gaan nou ry . . . e . . . Wat is jou naam?” Sy kyk die wagter vraend aan.
“Kiewiet, juffrou,” kom dit beleef.
“Hm, interessante naam. In elk geval, ek gaan nou ry, Kiewiet. Jy moet maar vir meneer Wouter gaan vertel wat hier plaasgevind het en dat ek die ram dokter toe gevat het.”
“Ek sal so maak, juffrou,” belowe hy plegtig.
Hierna klim Lecia in die motor, en na ’n rukkie is sy buite Blouberg se grense. Met al die gesukkel met die skaap het sy skoon van Boel vergeet. Uit die hoek van haar oog merk sy dat hy darem nog asemhaal, dus lewe hy nog.
Hy moet tog nie besluit om nou sy laaste asem uit te blaas nie, dink sy, want dan slag Wouter my lewend af . . . Vervlaks, nou is daar nog die ellendige skaap ook waarvoor hy my tot verantwoording sal roep. Hy sal natuurlik nie glo dat ek geen skuld aan die ongeluk het nie . . . Dis Kiewiet se skuld. Hy moes nie die skape so naby die pad laat wei het nie. In elk geval, sodra ek tuis is, sal ek self aan Wouter verduidelik hoe die ongeluk plaasgevind