Susanna M Lingua Gunstelinge 2. Susanna M. Lingua
in die rigting waarin hy Lecia gesien ry het. Hy wonder waarom sy hom nie gevra het om die perd vir haar op te saal nie. Sy kon maar net aan tafel gesê het dat sy ’n entjie wil gaan ry. Hy sou dan self aangebied het om die perd vir haar op te saal.
Dit tref hom meteens dat Lecia sedert hul gesprek vroeër vanoggend eienaardig stil en afsydig is. Hy wonder of dit te wyte is aan hul woordewisseling daar voor Lady se stal. Sy was beledigend teenoor Teresa, en hy het dit sy plig geag om die ouer meisie in haar afwesigheid te verdedig. Maar dit was tog nie die eerste keer dat hulle twee oor iets geargumenteer het nie . . . Hy wonder of hy nie straks te kras was in sy beskuldigings teenoor haar nie.
Hy dink ’n oomblik na oor hul argument, aan Lecia se kennismaking met Teresa, en dan tref dit hom dat Lecia in een opsig gelyk gehad het. Teresa het haar beslis ietwat onvriendelik ontvang, want sy het nie eens die gebruiklike woorde van verwelkoming teenoor Lecia, ’n vreemdeling in hul midde, uitgespreek nie . . . Ja, noudat hy daaraan dink, onthou hy dat Teresa die hele aand nie ’n woord met Lecia gepraat het nie. Hy voel meteens bitter skuldig oor die dinge wat hy die rooikop vanoggend voor die kop gegooi het. Hy sal haar dadelik moet vind en haar om verskoning vra . . .
Lecia stuur die swart perd in die rigting van die rivier, en na ’n rukkie hou sy onder ’n groot wilgerboom op die oewer van die rivier stil. Dis rustig en stil hier langs die water. Net die sagte gekabbel van die water en die weemoedige geroep van die bosduiwe is hoorbaar.
Stil soos ’n standbeeld sit sy op Lady se rug na die son en die skaduwees op die water en kyk. Die vars geur van wilgerblare hang soos die geur van parfuum in die lug. Sy voel lus om die hele middag hier langs die water te sit en ’n paar uur lank van alles te vergeet wat haar so ongelukkig stem, maar sy merk op dat Lady al begin ongeduldig word omdat sy hier so stil moet staan.
Nou goed, ek sal jou ’n bietjie oefening gee, gesels sy met die perd. Sy gly tussen die slap takkies van die boom deur, net betyds om te sien hoe Wouter op Blits na haar toe aankom. Sy trek Lady dadelik in en wag vir Wouter. Hy ry asof die duiwel op sy hakke is, en Lady begin rondtrippel van ongeduld.
’n Paar treë van die swart perd af trek Wouter die wit hings so hard in dat hy ’n paar tellings op sy agterpote steier en die lug wild met sy voorpote klief. Lecia trek haar perd vinnig uit die pad van daardie groot, kappende pote. Blits se bek staan oop, sy neusgate is wydgesper, en sy oë is groot en wild. Hy runnik soos ’n wildeperd, maar na ’n rukkie kom hy tot bedaring en kan Wouter van sy rug afklim. Vinnig maak hy die teuels aan ’n boomtak vas en stap na Lecia toe.
“Wie het jou geleer om Lady op te saal?” vra hy toe hy langs die swart merrie staan.
“Niemand nie, ek het maar net gekyk hoe Arrie dit doen,” antwoord sy bedaard, onbewus van die uitdrukking van hartseer om haar mond en in haar mooi groen oë.
“Laat ek eers sien of jy die buikgord styf genoeg vasgemaak het,” sê hy en buk af om die buikgord te ondersoek. Na ’n rukkie kom hy orent en vervolg verlig: “Alles is gelukkig in orde. Maar waarom het jy my nie gevra om Lady vir jou op te saal nie, Lecia? Katrien sê jy het gesukkel om die saal op Lady se rug te kry.”
“Dit sal volgende keer beter gaan. Ek weet nou hoe dit gedoen word,” sê sy sag. Lady begin weer ongeduldig rondtrippel. “Ek vrees jy sal my nou moet verskoon. Lady begin nou ongeduldig word vir ’n bietjie oefening.”
“Wag ’n bietjie,” keer hy en neem Lady se toom in sy hand. “Daar is nog iets wat ek wil sê. Dis in verband met ons argument vanoggend –”
“Verskoon my, ek is nie bereid om die onderwerp verder te bespreek nie,” val sy hom sag in die rede. “Ek sal jou gevoel vir haar respekteer. Moet net nie van my verwag om ook oor haar te voel soos jy nie. Dit is onmoontlik.”
“Ek verwag nie so iets van jou nie, Lecia,” sê hy. “Ek wil jou om verskoning vra vir die beskuldiging wat ek vanoggend gemaak het. Terwyl ek agter jou aangery het om te kyk of Lady se buikgord behoorlik vasgemaak is, het ek oor jou en Teresa se kennismaking gedink en besef dat jy vanoggend gelyk gehad het. Sy het jou onvriendelik ontvang.”
“Ek neem jou verskoning aan,” sê sy afgetrokke. “Mag ek nou maar gaan?”
“Wag, ek ry saam. Ek wil jou die bergpoel wys,” sê hy.
’n Rukkie later ry hulle deur die veld in die rigting van die berg. Hulle volg ’n voetpaadjie teen die berg uit, en eindelik bereik hulle die eerste plato. Hulle ry tussen rotse deur, by bosse verby, en toe sien Lecia die poel met sy helder, skoon water.
“Ons kan die perde gerus eers laat drink,” sê Wouter.
Sy klim van Lady af en kyk hoe Wouter die diere na die water toe lei. ’n Dassie spring langs haar agter ’n klip uit en verdwyn in die bosse.
“Wil jy ’n rukkie hier in die koelte rus voordat ons teruggaan?” vra Wouter nadat die perde water gedrink het.
Lecia skud haar kop. “Ek moet nog vir tant Emma gaan skryf.”
“Ek kan nie verstaan waarom jy haar nie bel nie. Dis die maklikste en vinnigste manier om van haar te hoor,” sê hy en hou Lady se toom na haar uit.
“Ek weet,” antwoord sy, “maar ek is nie in ’n posisie om onnodige uitgawes aan te gaan nie. Ek het nie meer musiekleerlinge wat vir my ’n maandelikse inkomste besorg nie, dus sal ek van nou af elke sent moet tel.”
“Met die helfte van Blouberg se opbrengs het jy nie nodig om elke sent te tel nie,” herinner hy haar. “Die gesaaides is baie mooi. As ons nie hael kry nie, sal die lande ’n goeie oes oplewer. Die wol sal ook ’n goeie prys haal, en die slagosse is almal in ’n puik toestand.”
“Laat ons liewer nie oor Blouberg of sy opbrengs praat nie. Ek het geen aandeel in een van die twee nie, want ek is nie van plan om langer hier te bly as wat nodig is nie. En as jy en Teresa besluit om te trou voordat my proefjaar verstryk het, gee ek dadelik van Blouberg af pad.”
“Moet jou nie daaroor bekommer nie; ek sal nie trou voordat jou proefjaar verstryk het nie,” stel hy haar dadelik gerus. “Maar wat ek wou sê . . . Ek kan altyd vir jou geld voorskiet as jy dit nodig het.”
Sy skud haar kop. “Dankie, maar as ek my uitgawes laag hou, sal dit nie nodig wees nie.”
Hy neem sy pyp uit sy hempsak, stop dit en steek dit aan. Eers nadat hy ’n blou rookwolk die lug ingestuur het, kyk hy weer na haar en vra ernstig: “Wat is jou uitgawes, Lecia?”
“Op die oomblik nie veel nie,” antwoord sy met haar blik op die helder water van die bergpoel. “Net brandstof vir my motor en –”
“Die brandstof kan op Blouberg se rekening geplaas word,” val hy haar in die rede, maar hiervan wil Lecia niks weet nie.
“Dis baie vriendelik van jou,” sê sy sag, “maar ek het nog nooit op ander mense geteer nie, en ek is nie van plan om dit nou te doen nie. Ek dink ons moet liewer gaan, Wouter.”
Hy kyk haar etlike sekondes met ’n ligte frons aan en sê dan, terwyl hy sy pyp teen ’n rots uitklop: “Soms verstaan ek jou glad nie, Lecia. Hoe kan ek jou geldelik help as jy my nie wil toelaat om jou te help nie? Ek het oom Isak belowe dat ek jou sal help en bystaan. Hy het jou nie plaas toe laat kom om ’n jaar lank te krepeer van armoede en ellende nie.”
“Ek het nie op die oomblik geld nodig nie, dankie,” is egter al wat sy sê voordat sy op Lady se rug klim. “Ek dink dis tyd dat ons ry.”
Tuis het Lecia net ’n koppie koffie saam met Wouter en tant Elsa gedrink en haar toe na haar kamer onttrek om te kyk of sy geskikte klere het wat sy die volgende dag kan aantrek. Wouter het gesê sy moet ’n langmoubloes en ’n sonhoed dra, maar wat van geskikte skoene? Sy kyk na die swart leerskoene wat sy aanhet. Dis nou wel hofskoene, maar dis al wat sy het wat geskik sal wees vir die werk totdat sy die geleentheid kry om vir haar ’n paar duursame stapskoene te koop. Ja, en sommer ander werksklere ook.
Sy klim vroeg in die bed, want Wouter het haar reeds gewaarsku dat sy in die week vroeg sal moet opstaan.
Nou