Moord in die beloofde land. François Bloemhof
laat hoor my liewe broer.
“Erik, sal ek en jy gaan tjips koop?” vra my pa.
Ek kyk hoe hulle wegstap: Erik groei vinnig, maar ek dink nie hy gaan ooit so lank soos my pa word nie.
Wie was daai dag saam met my pa in hierdie kar? kom die vraag weer. Iemand wat gesit het waar my ma nou sit. Iemand vir wie my pa bang is.
“Wat dink jy?” vra sy.
“Ag, sommer.”
Haar naam is Marie, soos die aktrise Marie du Toit. Ek dink mos net aan haar as “Ma”. Marie is ’n mooi naam, en my ma het ’n mooi gesig ook. Haar hare is weer hoog en rond. Soggens is dit aan die een kant plat gelê. Sy gaan elke week dorp toe om haar hare te laat doen.
Ek kyk na die groot wit doek, deur die wasemrige ruit. Ek verbeel my daar is ’n swart-en-wit serial aan die gang en dat my ma die heldin is, en ek red haar, ek is die hero.
Dis ’n storie waar hulle baie praat. Dit moet die eerste episode wees, want sy is nog jonk, seker maar ses of sewe jaar ouer as ek. Sy word stadigaan ’n bietjie ouer, maar daar gebeur nie juis veel nie, dan stop die episode waar ’n man haar vra om met hom te trou. Hy is ’n dokter.
Gaan sy ja sê?
Dan:
’N ANDER LEWE
Episode 2
DIE REGTE BESLUIT
Met Marie Verwey en Erik Daniël Smit
Die nuwe episode begin met dieselfde stukkie as waarmee die vorige een opgehou het. Die dokter vra die mooi jong meisie of sy met hom sal trou.
Maar nou het ek haar klaar gewaarsku oor hoe dit vorentoe gaan wees, daarom sê sy vir hom nee.
13
Hy hou nog die meisie se hand vas. Styf. Haar vingers is lank en dun. Die vingers van ’n tikster, dink hy.
Hardloop. Kom weg van die toneel af.
Van dié besef, dié wete, kan hy egter nie ontsnap nie. Hy het dit weer gedoen. Hy het so hard probeer, maar kon homself nie keer nie.
Hy het harder as die vorige kere probeer, dit weet hy, maar dit was nie genoeg nie. Hy weet nou: Hy sou dit vroeër of later weer gedoen het. Daar is geen keer nie, dis bedoel om te gebeur. Dit sal.
Hy hardloop vinniger, sy greep styf om die vingers, die hand soveel kleiner as syne, al het hy nog nooit aan sy hande gedink as besonder groot nie.
Hy versnel sy pas nog, asof dit ’n manier is om alles ongedaan te maak, asof, indien daar ’n groot genoeg afstand tussen hom en die toneel kom, dit nie gebeur het nie.
Sy is mooi.
Sy wás mooi.
Steeds klou hy aan die hand, asof hy dinge ook só kan verander. Dan besef hy hoe dit moet lyk, sien hy homself soos iemand anders sou, die vieslike mens wat hier hardloop, en laat los hy die hand. Hy kyk nie terug om te sien waar dit val nie, hy rek net sy treë om die afstand te vergroot tussen hom en waar hy haar gelos het.
Die hand was ’n trofee, daarom dat hy dit geneem het.
Die gevoel van walging kom. Hy wil opgooi, hy wil gaan stilstaan en sy liggaam laat ruk sodat die slegtigheid kan uitkom. Maar hy kan nie toelaat dat hulle hom vang nie, daarom hou hy aan met hardloop.
Siek. Jy is siek.
Daar is een troos en hy klou daaraan omdat niks anders kan help nie. Dit was nog elke keer so en dis iets wat hy net op oomblikke soos dié weet.
Môreoggend as hy wakker word, sal hy niks hiervan onthou nie.
14
Die polisie loods ’n moordondersoek, met die hoofverdagte ’n mank nieblanke man wat voor die moord minstens twee keer in die omgewing was. Dit was juis as gevolg van Choegoe se teenwoordigheid dat mevrou Van der Linde haar man gevra het om die gaspistool te gaan koop waarmee Lehnberg hom op die dag van die moord in die gesig sou skiet.
Aanvanklik is daar geen vermoede dat Lehnberg by die saak betrokke is nie – sy is immers nog ’n tiener – maar op 13 November 1974 kom luitenant Roland Fourie van die Brixtonse Moord en Roof-eenheid by haar oom se huis in Bryanston aan en vra dat sy hom na die polisiekantoor moet vergesel. Op pad soontoe erken sy dat Christiaan van der Linde haar minnaar was en dat sy verwag het die polisie sal met haar wil praat oor sy vrou se dood. Sy het by haar ma gehoor van die moord.
Toe sy uitgevra word oor haar verbintenis met Choegoe, ontken sy dat daar ’n verbintenis is. Sy kom vir Fourie uitermate gespanne voor. Hy vra of sy Robert Newman gevra het om vir haar sy pistool te gee sodat sy van mevrou Van der Linde kon ontslae raak, en sy erken dit, maar sê dit was ’n grappie.
Terwyl Fourie oor die telefoon praat, stel een van die ander speurders, majoor Van Aswegen, aan Lehnberg ’n paar vrae en sy erken skielik: “I took the guy there. I waited for him. He came back and I took him home.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.