Moord in die beloofde land. François Bloemhof
plek wat dikwels toe staan. Benoud.
Exciting.
Ek kyk rond, weet nie wat om te doen noudat ek hier is nie. Links van my is die oop deur wat garage toe lei, waar ek weet daar niks interessants is nie, net my ma se kar wat die helfte vol staan.
Dis donkerig en ek beter nie die lig aansit nie, maar daar kom genoeg sonlig by die venster in, wat ek trek sodat dit weer lyk of dit toe is. Nou kan ek rondkyk. Die vertrek is rêrig nie groot nie, ongeveer vier by drie meter. Ek trek ’n laai oop en sien dis net vol houtwerkgoeters: ’n passer, ’n rooi HB-potlood met swart strepies en ’n afgebreekte punt, skroewe wat rondrol.
Maar in die laai onder dit, ’n tydskrif.
Penthouse.
Ek het nog nooit een gesien nie, maar van die ouens het al daarvan gepraat, dit en Playboy. Dis rowwer as die Scope, sê hulle. Ek lag byna, maar raak nog meer benoud, want nou’s dit rêrig ’n oortreding om hier te wees. As my pa moet weet …!
Die Penthouse is al baie deurgeblaai, die bladsye is geriffel. Jy kry dit nie in Suid-Afrika nie, dis verban. Die meisies is kaal daarin. Ek verstaan nie mooi hoekom nie – hulle is mooi, maar lyk snaaks so sonder klere.
Ek weet my ma het ’n koekie, maar het nie geweet dit lyk só nie. Ek het op ’n keer haar tieties gesien toe ek by die kamer ingeloop het sonder om te klop. Sy was kwaad, maar die deur was dan halfpad oop. Dit voel snaaks om hierdie meisies só te kyk. Almal se tieties lyk verskillend. Party se koekies het hare en ander het nie.
Nou hoef ek nie meer nuuskierig te wees nie. Dis seker hoekom mans dit kyk, sodat hulle kan ophou om nuuskierig te wees. Eendag as ek trou, het ek al gedink, sal ek saans in die badkamer my pajamas aantrek sodat my vrou my nie kaal hoef te sien nie. Ek hoef haar ook nie kaal te sien nie, want ek weet nou.
Skielik die geluid.
Ek raak koud, maar dis nie hierdie plek nie, dis ek. Ek laat val die Penthouse.
Ek het gedink dis my pa se Mercedes, maar ek weet dit het net so geklink oor ek skuldig voel.
Maar dan is die geluid hard – dis hier voor die garagedeur.
Die kar hou stil.
Ek wil skree. Daar’s nie tyd om pad te gee nie! Ek sal nooit betyds deur die venstertjie kom voordat –
Ek hoor die slot, die skarnier wikkel, hy gaan die deur begin oopmaak.
Ek gryp die tydskrif van die vuil sementvloer af, prop dit in die laai, druk die laai toe. Maar dis nie genoeg nie, ék is nog hier!
Maar hy weet nie van jou nie, sê ek vir myself. Dalk kom hy nie deur agtertoe nie, dalk bly hy daar voor. Ek weet nie hoe hy maak elke keer as hy by die huis kom nie. Hoekom is hy al hierso? Dis te vroeg! My hart klop verskriklik.
Ek kyk rond. Behalwe vir my wat hier is, is alles soos dit was, die venster is toe, die lig is nie aan nie …
Die garagedeur swaai op. Ek hoor hom steun en terug kar toe loop, die deur klap toe en die enjin dreun, hier kom hy ingery. Die geluid van die briek, hy hou stil en die enjin gaan dood.
Ek probeer myself kleiner dink en druk myself teen die muur vas. Hier’s nie plek om weg te kruip nie, ook nie onder die werkbank nie. Die kaste is te klein en dis in elk geval vol goed.
Ek moes gehardloop en onder my ma se kar gaan lê het, maar dit help nie ek dink nou eers daaraan nie.
My oog val op die sambok. Jimmy is sy naam. Dis hier waar my pa dit altyd kom haal voor hy vir my of Erik slaan. As ons stout was, sê my ma altyd: “Wag net tot julle pa kom.” Dan gaan die tyd so vinnig verby. Party kere is sy nie meer so kwaad teen die tyd dat hy by die huis kom nie, maar ander kere sê sy vir hom wat ons gedoen het en dan slaan hy ons. Dis wat nou gaan gebeur, hy gaan my slaan soos dan, maar harder. Gevlegte sambok, dit moes iemand lank gevat het om dit te maak.
Lank en dun.
My pa klim nie uit nie, hy bly in die kar sit.
Dis snaaks. Die garagedeur staan nog net so oop.
Dan hoor ek hom praat.
“Los my net uit.”
Daar’s iemand by hom in die kar. Wie sou hy saamgebring het? Hy laat altyd my ma weet omdat sy op haar senuwees is as iemand kom wat sy nie verwag het nie, en as dit iemand is wat gaan eet, moet Johanna meer kos maak.
Die een by hom is stil. Ek weet nie hoekom nie, maar ek neem aan dis ’n man.
“Ek kan nie meer nie,” sê my pa. Hy klink moeg, sy stem bewe. Sy ruit moet afgedraai wees, dis hoekom ek hom so duidelik kan hoor.
As hy met mense gesels, is hy altyd vriendelik. Hy’s nie nóú nie, dis nie iemand van wie hy hou nie. Ek het hom nog nooit so met iemand hoor praat nie en ek wonder byna of hy dronk is.
Ek wag dat hy nog iets moet sê, dan hoor ek sy deur oopgaan. My bene is lam. As hy hierheen kom!
Maar ek hoor hom buitentoe loop – en dan maak hy die garagedeur toe. Hy en die man sal nou met die trappies opgaan voordeur toe.
Ek is so verlig dat ek wil pie. Ek moet net nie te lank wag voor ek hier uitklim nie, dan wonder hy dalk waar ek is en kan hy hier kom kyk. Ek moet ook nie te gou nie, dalk is hy in die kombuis en kyk by die venster uit en sien my uitklim …
Ek tel die minute op my horlosie af. Vyf van hulle.
Ek klim uit. Dis baie makliker uit as in.
Ek stof my T-shirt en kortbroek af en gaan by die agterdeur in, waar ek byna in Erik vasloop, of hy in my. Hy mompel iets, ek dink dis: “Bly buite.” Daarom bly ek maar buite, ek speel net nie saam toe hy sy rugbybal begin skop nie. Hy lyk nie lekker nie, hy draai heeltyd só dat ek nie sy gesig kan sien nie. Dalk traak hy tog nie so min as wat ek gedink het nie.
Elke keer as ek weet dit gebeur, dit wat nou daar binne gebeur, is dit of ek nie genoeg asem kan kry nie. Of daar iets naby is wat al die lug uitsuig. Ek probeer om nie daaraan te dink nie, of wens die tyd wil vinniger verbygaan, dat dit al môre hierdie tyd kan wees. Maar hoe meer ek nie daaraan wil dink nie, hoe meer wonder ek hoe dit lyk as hy dit doen, wat hy vir haar sê, of sy iets vir hóm sê en of sy dit nie waag nie, hoe sy gesig lyk, wát hy alles doen en hoe lank dit aanhou, wat hom laat ophou, en dit word nie môre hierdie tyd nie, dit bly vandag, nou.
Maar dit word tog later. Seker net omdat ek daarvoor geluister het, hoor ek weer die garagedeur oopgaan. Dan my pa se kar. Hy gaan seker terug werk toe.
Toe ek my ma ’n uur later weer sien, gewaar ek geen merke aan haar nie.
“Samuel, is jou huiswerk gedoen?” Haar stem klink nie snaaks nie.
“Nee, Ma.” Ek wonder hoekom ek nie jok nie.
“Myne is klaar, Ma,” sê Erik.
“Is dit? Mooi.”
Skielik hou ek van my broer, al weet ek dit sal verbygaan. Hy doen iets wat haar goed laat voel. Hy doen altyd iets wat haar goed laat voel, dis net ek wat …
“Ek sal myne gaan doen,” sê ek.
Ek weet nie waarvoor ek gehoop het, of sy bly sal raak nie. Sy gee ’n glimlaggie, maar haar oë lag nie saam nie. Hulle is rooi.
Erik bly staan en wag vir iets.
“Ek gaan ’n rukkie lê.” Sy loop weg, vinnig. Die kamerdeur gaan hard agter haar toe.
Ek kyk na Erik. Hy trek sy skouers op. Hoekom skok dit my?
Ek gaan lê op my bed. Ek doen nie huiswerk nie, want my ma weet tog nie of ek dit doen of nié. Ek lees Rocco de Wet: Grensvegter. Of eintlik kyk ek net die foto’s.
Ek dink nie die ander man was in die huis nie. Hy het ook nie in die kar bly sit toe my pa ingegaan het nie, want ek het gekyk en daar was niemand nie. Hy moes geloop het toe hulle by die garage uit is.
Maar nou weet ek daar is so iemand. ’n Man van wie my pa nie hou nie. Hy het selfs