Moord in die beloofde land. François Bloemhof
hy ons gesien. Sy bril is donker, maar ek weet hy het.
“Hy groet nie,” sê Erik.
“Korrek, Einstein.”
“Dis vakansie!” skree hy toe hy by die trappies op hardloop. Die voordeur sal nie gesluit wees nie, ons sluit dit nooit in die dag nie.
Hy steek vas en ek ook. Dis of ek iets aanvoel.
Ons huis sit op ’n bult en ek kyk terug dorp se kant toe. Ek sien nie van hier af die kerkgebou nie, nog minder Andrew Murray op sy preekstoel voor die kerk, net die toring wat soos ’n vinger hemel toe wys asof dit waarsku: Onthou, Hy kyk! Die skool is agter geboue en bome, en ek is bly daaroor want ek wil nou vir vyf of ses weke vergeet dat daar so ’n plek bestaan. Dis warm en die lug stink, want net buite die dorp, ook daardie kant toe, is die Western Tanning Company. Op dae soos vandag as die wind van daar af kom, ruik dit nes poep.
My ma sê dis “die een ding wat hierdie pragtige Bolandse dorp ontsier”.
Dis stil.
Té stil. My ma kom altyd dadelik vorentoe om ons te groet.
“Ma?” roep ek.
Dis ’n groot huis met dik mure, geluide raak weg hier.
“Johanna!” roep Erik.
’n Geluid van ver af. Hulle is dalk buite, of dit het meer geklink asof dit van diep uit die huis kom, dalk by my pa en ma se slaapkamer.
Erik hardloop voor my in die breë gang af, dan steek hy in die kamerdeur vas. Ek sien aan sy stywe nek iets is verkeerd, dan is ek by hom en kyk oor sy skouer.
My ma sit op die bed en Johanna hou haar vas. Dis die eerste keer dat ek hulle aan mekaar sien raak, dink ek. My ma huil en Johanna hou haar vas soos ’n babatjie en vat oor haar hare. Die bed is deurmekaar.
Erik se stem bewe: “Wat is dit, Ma?”
Sy kyk net na ons met nat oë en druk haar gesig in Johanna se skouer.
Hoe kan Erik nog vra? Dít is dan wat my pa hier kom maak het. Met haar kop so weggedraai, sien ek die merke aan haar nek. Hy het haar gewurg. Die merke was nog nooit so erg nie, of sy het dit ander kere met iets toegesmeer.
Erik draai om, beur verby my en hardloop weg.
“Ma …” Ek wil na haar toe gaan, maar Johanna lig haar hand. Dis asof sy ’n ray gun het wat ’n energiestraal uitskiet, want ek steek net daar vas.
“Nie nou nie, Samuel.”
“Maar …”
“Gaan buitentoe.”
“Is sy orraait?”
“Gaan uit en speel!”
My ma hou nie op huil nie. Sy het haar liggroen broekpak aan. Die broek is nie heeltemal opgezip nie en ek kan haar panty sien uitsteek. Daar is …
“Sy bloei, Johanna!”
“Gaan uit!”
Ek hardloop in die gang af, agterdeur toe. Ek kan klaar hoor hoe Erik ’n bal teen die muur gooi en gooi.
• • •
Johanna Plaatjies het saam met ons van Victoria-Wes na Wellington toe gekom. Sy was op ’n tyd getroud; haar man is dood; ons weet nie hoe of waarvan nie. Sy het nooit kinders gehad nie. Sy is baie ordentlik, “nog van die ou soort” soos my ma vir my pa gesê het toe hy laatmiddag by die huis kom en sy vertel dat sy ’n nuwe bediende gekry het. Sy rook nou wel, het sy vir tannie Olivia gesê, maar wat kan jy nou doen, sy drink ten minste nie.
My pa is “Master”, my ma is “Mêrrem” en ek “Kleinbaas Samuel”. Erik is “Kleinbasie”.
Johanna het haar eie kamer aan die agterkant van die huis – dit is deel van die huis, maar die studeerkamer se deur wat soontoe lei, is permanent toe. Dis nie regtig meer ’n studeerkamer nie, dis waar ek en Erik nou ons speelgoed hou: soldaatjies en ketties en pistole wat caps skiet. Johanna se kamer het ook ’n groot wit bad en dis nie iets wat alle bediendes kan sê nie. Sê my ma. Partykeer in die aand kan jy hoor sy’s besig om te bad. Ek en Erik het al aan dié kant van die deur staan en gesigte trek om mekaar te laat lag as ons weet dat sy kaal daar sit, net so twee meter van ons af.
Nou en dan kom van haar vriendinne vir haar kuier nadat sy klaar vir ons aandete gemaak het. Hulle raas nooit nie.
Die res van die tyd is dit maar Johanna daar in haar kamer. Sy is ver van haar mense af, haar susterskind Mieta en die res op Hopetown. Ek het al gewonder of sy partykeer alleen voel.
Maar sy het mos vir ons.
• • •
My ma kom sê hallo en haar oë is rooi maar droog. My pa kom soos gewoonlik laat die middag van sy spreekkamer af en Johanna maak soos gewoonlik vir ons aandete.
Steak en gebakte eier en tjips.
Ons praat ’n bietjie, of eintlik praat ons nie, ons luister radio en praat dáároor, en gaan slaap, ek en Erik elkeen in ons eie kamer en my pa en ma soos altyd in hulle s’n, en Johanna is by die agterdeur uit na háár kamer, en só word dit een dag later.
Ek word wakker en dis die eerste dag van die Desember-vakansie en oor ’n week gaan ons Strand toe. In Kay’s Karavaanpark is almal so naby mekaar, met netjiese rye bome tussen die staanplekke, dat my pa nooit iets verkeerd doen nie omdat iemand sou hoor. Ons het ’n Jurgens-karavaan met ’n lekker groot, groen tent. Daar is dan selfs tye dat ek so half en half van my pa wil begin hou. Noudat hy weer uitgehaak het, beteken dit buitendien hy’s weer orraait vir ’n ruk.
Ek dink ek is so mal oor vakansie omdat dit nie rêrig is nie. Om dae lank, weke lank niks te doen nie, om niks te hoef te leer nie, om net rond te loop en nie môre die een of ander prys daarvoor te hoef te betaal nie, dis mos nie werklikheid nie. Werklikheid is nie goed vir jou nie. Kyk net hoe lyk die meeste grootmense, hulle het seker te veel daarvan gehad.
Ek sien uit na die lê en lees in die karavaan, of om kleinplaatjies te speel op die rooi pickup wat ek nou laas vir my verjaardag gekry het. My gunsteling is nog altyd Alan Garrity se “I need someone”, al is dit twee jaar oud. Ek speel ook elke dag John Edmond se “Toy train” en Maria se “Clap your hands and stamp your feet”, hulle gaan beslis saam. En ek is lus vir elke dag see toe loop saam met Erik, om rooi te brand, te kyk hoe die kinders op hulle Choppers ry …
Ek wou laat bly lê het, maar ek ruik bacon uit die kombuis uit, Johanna sal al ontbyt reg hê, en ek dink ek hoor Erik rondbeweeg. Ek staan op, trek my kamerjas en pantoffels aan en slof kombuis toe.
“Jy weet die bacon is vir vanaand,” hoor ek my ma voor ek by die deur kom.
“Maar, Mêrrem,” keer Johanna, “Master het gesê hy wil vanaand worsies hê, toe dink ek …”
“Dis ék wat sê wat jy hier doen! Jy weet ons eet Saterdagoggende worsies!”
“Mêrrem, ek het net gedink …”
“Jy word nie betaal om te dink nie!”
“Dis nou klaar gaar …”
“En wie se skuld is dít?”
My ma kom by die kombuis uit en loop my byna onderstebo. Sy is so kwaad dat sy nie môre sê nie. “Voor-op-die-wa-meid,” brom sy, “om vir my in my eie blerrie huis te kom voorskryf!”
7
As ’n mens die koerante en hofgetuienis van die tyd moet glo, is die volgende wat gebeur het:
Op 4 November 1974 word mevrou Susanna Magdalena van der Linde, toe ses-en-veertig jaar oud en ’n moeder van drie, met ’n skêr doodgesteek in die gesin se huis in Boston, ’n uitbreiding van Bellville in die noordelike voorstede van Kaapstad.
Eers, egter:
Haar man, Christiaan, was nog in ’n verhouding met Marlene Lehnberg, maar die