Fiela se kind. Dalene Matthee
Hy was nog glad nie gerus oor die ding wat by Stinkhoutkloof gebeur het nie. Wie sê daardie bogghers wag hom nie nog altyd iewers in nie? Hulle sê as ’n olifant eers sy oog op jou het, hou hy hom vir altyd op jou. Hulle kon darem nie ’n oog op hóm hê nie; hulle het nie gesien wie die boom gesaag het nie.
Barta het weer begin agter raak. “Vrou, jy moet vinniger aankom!” Hoe nader hulle aan die dorp kom, hoe swaarder het sy haar voete opgelig. “Ek kan nie vir die magistraat loop sê ons is laat omlat jy nie na my wou geluister het lat ons laas nag op die dorp moes loop slaap het nie!”
“Elias, sê nou dis nie Lukas nie?”
Dit was die honderdste keer dat sy dit vra. “Maar dis dan hoekom ons hier loop, Barta, om te gaan kyk of dit hy is!”
“Sal ek hom nog ken?”
“Jy staat eers net doodstil en jy kyk hom goed deur. Ek sal saam met jou kyk. Die magistraat sal ons genoeg tyd gee vir die deurkyk.”
Om ná nege jaar te hoor hulle het ’n kind gekry wat dalk joune kan wees, is nie tyding wat suutjies op ’n mens val nie. Dis so goed ’n graf gaan oop en een staan voor jou daaruit op; jy kry ’n skrik in jou wat nie van hierdie aarde is nie. Hulle moes Barta lawe. Anna en Malie moes kom help. Malie sê sy het nog al die jare met die gevoelentheid geloop dat die kind nie dood is nie.
En as dit die kind is wat hulle gekry het, sal net die Vader in die hemel weet hoe hy agter die berg in die Lange Kloof gekom het. Hy self was maar een keer daar. Nog saam met Gert Oog se wa om ’n vrag stinkhout vir ’n Zondagh-man te neem, en op niks na nie saam met Gert in die moeilikheid ook. Want toe kom die houtkoper op Knysna, waar Gert altyd lewer, van die vrag hout te hore en laat haal hy vir Gert uit die Bos uit om te kom please explain. Die houtkoper vra toe vir Gert waar sy smousliksens is en Gert wys hom ewe sy houtliksens. Dis vir kap, sê die houtkoper, nie vir handel dryf nie! Gert het dit ook geweet, maar domhou was toe al uitkoms, anders was hy voor die magistraat en sy houtliksens kwyt.
Hy wat Elias is, het nog agterna gesê die mense praat van agter die berg in die Lange Kloof, hulle moet liewers praat van agter die gopse en die klowe. Dis hoekom hy vir Barta gesê het om bedaard te bly en te wag totdat hulle eers die kind gesien het.
Maar as dit dalk die kind is, sou dit ’n aardigheid wees om skielik weer drie seuns te hê. Barta het nooit weer gedra ná die kind weggeraak het nie; tant Gertjie sê dis die skrik wat so maak. Martiens het kom sê as dit dalk Lukas is, sal hy vir hom ook plek maak in die span; hulle kort een vir die loswerk om die byle te kap. Hy het vir Martiens gesê hulle moet maar eers wag en sien. As dit Lukas is, wou hy hom nie sommer in ’n houtkapperspan sit nie. Willem en Kristoffel is klaar houtkappers, dalk moet hy Lukas by die balke sit.
“Jy moet aankom, Barta!” roep hy weer ’n slag oor sy skouer.
“Elias, sal jy nie maar alleen vooruit nie en vir die magistraat loop sê lat ek toe nie kon kom nie? Dit voel al vir my of ek weer die floute wil kry.”
Dis nou ritteltit omdat die dorp al nader kom, dink hy by homself. “Barta, dis jou maag wat leeg is. Ons kan ’n stukkie eet voorlat ons die dorp ingaan. Die magistraat gaat bitter ontevrede wees as ek alleen daar aankom, en dis nou die een man op die aarde wat ’n mens nie omkrap nie.”
“Dis hoekom ek so sonder krag is, Elias. Van die ontsteltenis omlat ek voor hom moet gaat verskyn. Dis nie onse klas dinge nie.”
“Ek weet, Barta, maar dis mos nou darem nie loop staan vir moeilikheid nie.”
“Jy kan alleen gaan, jy sal die kind sonder my kan uitken. Ek sal my hier iewers verskuil en vir jou wag.”
“Jy kan maar praat, Barta, jy sal nie vandag loskom nie.”
Een ding sal hy van die houtkappers sê, al kry hy baie dae die gevoel dat hulle op hom afkyk; hy sal van hulle sê: as daar ’n donkerte oor jou huis kom, kom staan hulle in jou deur en kom maak dit vir jou ligter. Koos het gekom en die balke met sy span kom klaarmaak en Diepwalle toe gesleep ook nog. Martiens het gekom en die patats uitgehaal, en Dawid het dit onder die afdak in gedra. ’n Man se hande kan nie werk as daar ’n ding oor jou huis gekom het nie. Anna het aangebied om ’n oog oor Nina te hou en Malie het vir Barta ’n paar skoene geleen.
“Kom, Barta!”
Dit was darem seker nog nie tienuur op ’n horlosie nie, die son het so by nege-uur se kant gesit.
“Elias …” Barta het hom ingehaal, die lantern in die een hand en die skoene in die ander. “Dink jy ek sal hom herken, Elias?”
“Jy sal.”
“En as dit nie hy is nie?”
“Dan sê jy dit vir die edelagbare en ons gaat huis toe en ons vat dit soos ons dit destyds moes vat toe hy weggeraak het.”
“Hoe kon ’n kleine kind dit tot agter in die Lange Kloof gemaak het?”
“Niks is onmoontlik in die hande van die Vader nie, Barta.”
“Hoe sou hy deur die klowe en die waterstrome gekom het?”
“Die Bos was droog daardie jaar, Barta, die strome was laag.”
“Hulle kon die kind hier na die Bos toe gebring het, ek kon hom hier gekyk het.”
“Hou nou op met mor, Barta, dis nie hoe die magistraat se wil staat nie, en bowendien, jy weet die dorpnaars is maar skrikkerig om dieper as die rand in die Bos in te kom. Vandag moet ons maak soos dit die wil van die magistraat is, want sy wil is die wet. En jy moenie loop staan en sku raak voor die man nie, Barta. Jy kan partykeer so binne-in jou mond praat as jy sku is. Praat voor in jou mond as hy jou iets vra. Hy moet ’n goeie impressie van ons kry; mens weet nooit wanneer jy vorentoe weer voor hom moet gaat staan nie.”
“Wat meen jy?” vra sy en steek vas.
“Moenie jou so vir alles tot stilstand skrik nie, Barta! Kom! Ek sê maar net omlat ’n mens nooit weet wanneer die boswagter jou beloer as jy ’n ou strikkie stel nie. Almal stel strikke, want wie kan sonder vleis leef? Maar daar’s dae wat ek met die spesmaas sit lat net Elias van Rooyen dopgehou word.”
“Dis darem nie waar nie. Hulle het jou nog nooit gevang nie, en eintlik is dit maar net die bloubokkies wat hulle nie wil hê julle moet vang nie. Ek dink nie hulle sal sommer moeilikheid loop maak oor die bosbokke nie.”
“Ek wil nog altyd hê lat jy ’n goeie impressie moet maak, Barta, ’n mens weet nooit.”
Hy het dit naby tienuur geskat toe hulle oos van die dorp op die kruis kom waar die hardepad dorp toe swaai en die voetpad oor die voorste koppe Noetzie toe draai. Hy het Barta laat sit om te rus en hulle het van die patats en die askoek in die knapsak geëet. Toe hulle klaar was, het hy die sak en die lantern onder ’n kanferbos weggesteek, want dit sou sleg lyk om met die goed in die teenwoordigheid van die magistraat te loop staan. Hy sou dit weer kry as hulle terugkom.
“Trek nou aan die skoene, Barta, ons moet loop.”
“Elias?”
“Moenie so beangs lyk nie, vrou! As dit die kind is, is dit die kind, en as dit nie hy is nie, is dit nie hy nie!”
“Hy’t bloue oë gehad. Nes Nina. Nie donker soos joune en Willem en Kristoffel s’n nie.”
“Jy sal hom ken as dit hy is. Kom.”
Malie se skoene was te groot vir Barta. Met elke tree wat sy gee, het die goed aan haar voete geflap en sy gestel kon dit later nie uithou nie. Barta kon nie so by die magistraat instap nie. Hy sou ’n plan moes maak.
“Nee wragtig, Barta, jy klink nes ’n os. Trek uit!”
“Hoe gaan dit lyk as ek met kale voete voor die magistraat loop staan, Elias?”
“Jy sal nie kaalvoet voor die magistraat staan nie, maar jy sal ook nie so loop klink nie. Trek uit! Ek sal ’n plan maak.”
Hy het van die gras langs die kant van die pad gepluk en dit