Fiela se kind. Dalene Matthee
’n Ier.”
Toe hulle wegry, het Wolwekraal agter hulle tot ’n verslae stilstand gekom. Alles, behalwe die wyfie.
En Fiela se kop het na elke kant toe uitkoms gesoek. Sy moes die kind vat en bo in die fonteinkloof met hom gaan wegkruip. Nee, sy moes kruis toe loop, na miss Baby toe, en hom daar gaan wegsteek. Of by antie Maria. Maar antie Maria was kok by Petrus Zondagh-hulle en het in die werk gestaan. Sy moes na Petrus toe, hy sou weet wat om te doen. Nee, fonteinkloof toe sou die beste wees.
Selling het inmekaar op sy bankie langs die huis gaan sit. Kittie en Emma het by die peerboom gestaan en huil, en Dawid en Tollie het rantjiesveld toe geloop.
Benjamin het sy skuite op die water gaan sit.
Here wat op die mens neersien, wat moet ek doen?
Sy het varkhok toe geloop. Na die bok toe. Kamp toe. Vangdam toe. Veld toe. Terug. Net soos die wyfie kon sy nie tot ruste kom nie. Varkhok toe. Kombuis toe. Vangdam toe.
“Ma?”
“Bly stil, Benjamin, Ma dink.”
“Wat dink Ma?”
“Alles.”
Veld toe. Kamp toe. Varkhok toe. Here, watter kant toe? Lieg hulle of praat hulle die waarheid?
Teen die middag was daar twee kante oor: Die kind moes alleen in die fonteinkloof loop wegkruip en almal moes sweer dat hy verdwyn het soos hy gekom het. Weggeloop. Of sy moes klaarmaak en hom saamstuur Knysna toe en op haar knieë bly tot Saterdag toe en glo dat hulle hom sal terugbring. Die bosvrou se kind was hy nie, daarvoor sou sy sonder sien haar hand op die Bybel lê.
“Ma, die wyfie het bedaar, sy wei nou. Skopper ook.” Dit was of Benjamin haar daarmee wou troos.
“Loop speel, Benjamin, Ma is nog nie klaar gedink nie.”
Die kind het geweet hulle is vas, dit was in sy oë geskryf. En hy het nie teruggegaan sloot toe nie, hy het by Selling teen die muur gaan sit.
Nee, die kind kon nie alleen fonteinkloof toe nie. Dit was ’n bang dwaas se uitkoms. Daarby het ’n tier skaars ’n maand gelede weer daar deurgekom en een van die Laghaans se ou slingermaer skape kom vang.
Dawid en Tollie het agter die huis op die nabank gesit. Kittie en Emma het op die hoek van die huis gestaan. Sy het geweet hulle wag dat dit tot klaarte in haar moet kom, dat sy moet sê na watter kant toe.
Daar was net een kant oor.
“Dawid!” Sy het loop staan waar hulle haar almal kon sien en hoor. “Kry reg jou voete, jy moet dorp toe. Tollie, breek dunhout en pak ’n buitevuur aan vir warm water se maak. Emma, maak kleinvuur in die huis en hang vir ons kos oor. Kittie, loop haal die blik met die naaldegoed.” Hulle het haar net aangestaar. Sy sou moes reguit praat. “Benjamin gaan Knysna toe,” sê sy en sien Selling se hand uitgaan om oor Benjamin se kop te gaan lê. “Dit kan nie anders nie. Ek het oral gedink en ek kry nie ’n ander pad nie. Maar Saterdag sal hulle hom terugbring, sê ek vir julle. Hoor jy my, Benjamin? Saterdag sal hulle jou terugbring, en die Here help hulle as hulle ooit weer hulle pote op hierdie werf sit! Ma stuur jou saam sodat die magistraat en die bosvrou jou kan bekyk en klaar kyk. En Ma belowe jou, jy sal nie nodig hê om jou kop anderkant daardie berg te laat sak omdat jy as ’n Komoetie ingeskryf staan in die Goewerment se boek nie. Dawid gaan kortpad vat oor Jan Koles se kop dorp toe met die skaapvelle en ’n paar karwatse, en hy gaan vir mister Pace sê hy moet vir my daarvoor vir jou ’n mooie hemp en ’n paar winkelskoene stuur. Selling, trek af die kind se voet op ’n stukkie vel. Tollie, maak die vuur. Kittie, bring die naaldegoed, daar’s ’n naat los aan Benjamin se beste broek.” Die skrik was nog nie uit hulle uit nie, want hulle het haar nog steeds net bly aanstaar. “Haal asem! Ons moet die kind regkry, hy sal hom nie loop skaam nie!”
Skemer was Dawid terug van die dorp af. Die hemp was ’n bietjie groot, maar dit was beter as te klein. ’n Mooi hemp. ’n Bloue. Die skoene was net reg.
En die kinders was nie meer so verskrik nie. Dit was amper soos Oujaarsdag se regmaak om na antie Rosie onder op Haarlem te gaan.
“Jy moet vir ons iets moois van Knysna saambring, hoor?”
“Hulle sê daar’s olifante in die Bos, dalk sien jy een.”
“Dink net hoe lekker gaan jy perdekar ry!”
“Moenie huil nie, Benjamin, miskien kan jy nog vir ons ’n lekker vis loop vang!”
Sy het hulle laat begaan. Dit het Benjamin beter laat voel en ’n bietjie belangrik daarby, en dit het gehelp dat hulle nie agterkom hoe bekommerd sy is nie. Net Selling het haar onrustig bly dophou.
Daar was baie vir haar eie hande te doen. Die wit haan moes geslag kom, sy moes vetkoek knie en bak. Die kind moes genoeg kos saamkry om na Saterdag toe te hou. Sy het sy hare gesny, sy naels geknip, sy voete met lampolie en kersvet ingesmeer sodat daar nie ’n skurftetjie aan hulle moes agterbly nie. Sy wou haar nie skaam nie. Daar sou nie ’n vinger na ’n Komoetie gewys word nie.
Sy het die kinders laat terg en praat. Háár praat sou sy praat wanneer sy hom in die kamer in die bad het vir die groot skrop. Sy voete moes net eers saf word.
Kort na Dawid gekom het, het hulle geëet. Die kos wou in haar keel bly sit, maar sy het aangehou met eet, want Benjamin het haar dopgehou asof hy wou seker maak dat sy nie bang is nie.
Solank Kittie en Emma die skottelgoed was, het sy buitetoe gevlug. Dawid was by die vuur.
“Die water is reg, Ma.”
“Ek wag dat die meisiekinders klaarkry in die kombuis.” Dawid was besig om man te word. Daar was grootmensonrus op sy gesig in die gloed van die vuur. “Ma loop sommer ’n bietjie na die volstruise toe.”
“Sê nou hy is die kind wat agter in die Bos weggeraak het, Ma?” het Dawid haar gekeer.
“Hy is nie. Wag tot jy gesien het hoe dit hier agter oor die berge lyk en jy sal ook weet dat dit nie hy kan wees nie. Jy ken die wêreld maar net kortpad deur besemgoedkloof tot agter in De Vlugt. Ek ken hom pad langs. En De Vlugt is maar agter die eerste berg. Nee, Dawid, dis al troos wat ons vanaand het, die bosvrou se kind is hy nie. En Vrydag sal sy dit ook weet. ’n Ooi ken haar lam.”
Sy het weggedraai en die donker in geloop. Die sterre het blink bo die Kloof gehang, rustig, asof daar geen sorge bokant die aarde is nie.
Gaan saam met Benjamin, Here, het sy loop en bid. Bly by hom, hy’s safter as ons, want hy’s wit. Staan langs hom as hy voor die magistraat moet verskyn. Kyk dat hy netjies en skoon daar staan en kyk dat sy skoene vas is.
By die volstruise se kamp het sy oor die heining gesoek tot waar sy die wyfie sien sit.
“Gedink jou gô sal uit wees,” sê sy vir haar en loop tot waar Skopper onder in die hoek staan. “En as jy nou só staan? Dink jy nou of jy haar sal vat of uitbaklei? Jy neuk net nie môre of oormôre of die dag daarna nie, ek sê jou. Hier’s genoeg hartseer op Wolwekraal.”
Bo in die rante het die naguiltjie sy droewige roep gegee. Toe Benjamin klein was en die naguil het naby die huis kom torre soek en sy roep kom roep, het dit altyd die kind tussen haar en Selling in die kooi gejaag.
“Wat maak so, Pa?”
“Naguiltjie.” Selling het maar sleg geslaap en van gesels in die nag gehou.
“Dit klink dan nie soos ’n uil nie.”
“Lyk ook nie soos een nie. Jy sal in die kliprantjies loop en bo-oor hom trap en hom nie raaksien nie. Hy lyk nes die klippe en hy hou sy lyf plat as jy aankom.”
“Tollie sê dis ’n spook wat so maak.”
“Tollie lieg.”
Selling se stories oor die veld en die diere – party ook maar dik liegstories – kon die kind soms ure lank laat rieme vashou as daar langsweep gevleg moes word. Daar was tye wat dit vir haar gelyk het of Benjamin meer geduld met sy pa se swakte het as die ander kinders.