Fiela se kind. Dalene Matthee
Nee, dit kon nie waar wees nie. Die man het geyl.
Elias het probeer opstaan, maar die skrik het hom teruggedruk op die stomp.
“Wat sê meneer daar?”
“Hulle het hom agter die berg in die Lange Kloof gekry.”
“Meneer, jy praat ’n ding wat my kop nie wil vat nie, ek sit bedol.”
“Jy beter maar eers bedaard bly, Van Rooyen. Die ding het ’n bietjie gesloer omdat dit destyds mister Blake was wat met die wegraak van jou seun gewerk het. Die nuwe magistraat moes nou eers weer alles opleer en so aan. Baie dinge dui daarop dat dit jou kind kan wees, maar die saak is nog nie uitgemaak nie. Dis hoekom die magistraat jou en jou vrou Vrydag op die dorp in die hof wil sien.”
“Jy sê hulle het die kind in die Lange Kloof gekry?”
“Ja. By bruinmense. Hy is glo al nege jaar lank daar.”
“Jy sê hulle het onse Lukas gekry?”
“Die moontlikheid lyk groot.”
Dit kon nie wees nie. “Waar’s hy nou, meneer?”
“Nog daar agter in die Kloof. Hulle laat hom môre haal.”
6
Toe Fiela die môre die agterdeur oopmaak, het sy geweet daar sou nie op daardie dag aalwee getap word nie. Die noordwestewind het gewaai. Al sou jy die vetste blare sny en onderstebo pak en dan self op jou kop gaan staan, sou hulle jou nie ’n lepel vol sap gee nie. Kom die noordwestewind, hou die aalwee sy sap in hom vas.
Agter haar in die skemer kombuis het Kittie dunhout gebreek om die vuur op te maak. Bokant die huis by die klein kraaltjie was Dawid besig om die bok te melk.
“Blaas maar dood die kers, Kittie,” het sy oor haar skouer gesê en buitetoe geloop.
Die nag se laaste donkerte het nog oor die aarde gelê: oorkant die Kloof, aan die voete van die koppe en die kranse, was dit sommer nog swart. Die maan was ver gekrimp en het blinkwit in die weste gesit. Bo by die varkhok het die rooi haan gekraai asof hy wou seker maak hy kry die dag gebreek.
Sy het die dag se pad vooruit geloop en dink. Tollie moes in die huis bly. Die wyfie het hom die vorige dag geskop. Deur die Here se genade net ’n lang bloedskraap teen die bobeen af tot by die knie, maar dit kon ’n lelike ding gewees het. Kinders dink mos jy praat wind as jy praat. Luister nie voordat hulle nie seergekry het nie. Sy het die Here sommer agter die varkhok op haar knieë gaan dank nadat sy klaar geskel het. Die kind kon dood gewees het. Maar dis omdat hulle nie weet wat dit is as ’n volstruis ’n regte skop skop nie. Sy weet. Sy was al uitgegroei toe die wilde volstruis die slag vir Nicolaas Dannhauser onder op Diepkloof oopgeskop het. Die Dannhausers was vreemde witmense wat kom intrek het, en toe loop sukkel die man deur die veld waar die wilde voëls aan’t broei was. Hulle moes hom met die perdekar loop optel en met hom injaag dorp toe. Een moes langsaan sit om die derms bymekaar te hou. Ou dokter Avis het hom darem toegewerk en deurgehaal gekry, maar Dannhauser was agterna nooit weer ’n gesonde man nie. En dan dink die kinders jy praat wind.
Sy het na die wyfie se kamp toe geloop.
“Jy’s omgemoer, nè?” skel sy oor die takheining. “As jy gister my kind oopgeskop het, het ek jou nek vir jou afgeknak!” Die voël het pik-pik gewei. Agter oor die koppe het die son uitgekom en die Kloof vol strepe warmte kom gooi.
Dit was toe sy wou omdraai dat die gedagte by haar opkom, eers versigtig maar toe al hoe astranter, totdat sy vir haarself moes walle gooi. Sê nou sy maak ’n fout? Sê nou sy beduiwel alles?
Die ding wou nie los nie. Dit was die dag waarop die wyfie by Skopper in die kamp moes kom en klaar. Maar sonder bedenking was sy nie toe sy voor die huis om na die mannetjie se kamp toe loop nie.
“Skopper, jy moet nou mooi vir my kom luister,” het sy met hom gepraat. Hy het sy nek regop getrek en haar aangekyk asof hy weet sy het gekom om ’n groot ding te sê. “Ek gaan Pollie vandag by jou injaag en ek waarsku jou van twee kante af: Sy’s beneuk en jy moet ligloop vir haar. Aan die ander kant wil ek hê jy moet haar goed aankyk sodat jy bekwaam kan raak vir haar. Moenie dat die skande oor jou kom en daar van Wolwekraal se mannetjie gesê word hy was te sleg nie. Mooiste mannetjie in die Kloof met slapte in die swingel, hoe sal dít klink?” Hy wás mooi. Sy lyfvere was roetswart en blink teen die spierwit pluime van sy vlerke. “Pollie is vet en pragtig en jy moet haar vat, want ek het nie vir jou ’n ander wyfie nie. Jy baklei haar nie vandag hier uit nie, ek vra jou mooi.”
Die huis het na oggend geruik toe sy terugkom in die kombuis; die renosterhoutvuur het lustig onder die koffiewater geskiet en Kittie was besig om van die varsgebrande koffie in die sak te skep.
Almal behalwe Selling was op.
“Ons sal nie vandag veld toe gaan nie, die aalwee sal nie tap nie,” het sy gesê.
“Noordwestewind, ek het ook so gedink,” stem Dawid saam.
“En jy lyk verniet so bly, Benjamin, jy sal eers die werf vee en die hoenderhok help skoonmaak voor jy loop speel.”
“Ja, Ma.”
Sy het self die brood gesny en die melkwit varkvet opgesmeer en elkeen s’n uitgedeel. Oor die volstruise het sy eers stilgebly.
“Maak die koffie en skink vir ons, Kittie. Emma, jy moet later in die dag kruis toe loop en vir miss Baby en vir antie Maria elkeen ’n stukkie seep loop wegbring. Sê vir hulle die seep is nie hierdie keer so mooi soos miss Baby s’n laas was nie, maar Ma maak weer volgende keer reg.”
“Sê dis Benjamin se skuld,” snip Kittie. Sy en Benjamin was die hele week al haaks in die aalweekoppe. “Sê dis hy wat in die seeppot gestaan en roei het in plaas van roer.”
“Jy jok! Dis jy wat nie jou beurt kom roer het nie!”
“Skei uit, kinders! Skink die koffie, Kittie. Emma, jy moet sommer by die winkel ook aangaan en vir ons ’n emmer meel saambring. Benjamin, loop sê jou pa moet opstaan. Ons moet klaarkry, die wyfie gaan vandag by Skopper in die kamp kom.” Sy het geweet hulle sou stom staan. “Julle het my reg gehoor.”
“Ma speel seker,” sê Dawid.
“Ek speel nie. Vandag is die dag. Tollie moet in die huis bly met sy been, ons ander sal haar injaag.”
“My been is reg, Ma!”
“Reg lyk nie so nie – loop sê jou pa moet opstaan, Benjamin!”
“Sê nou Skopper wil haar nie hê nie, Ma?” vra Kittie onrustig.
“Dan weet ek nie so mooi nie.”
Benjamin het teruggekom van die kamer af en nog brood gevra. “Baas Koos het die ander dag by die winkel gesê ek moet vir Ma sê hy ruil Ma twee mannetjies vir Skopper.”
“As hy dink ek sal Skopper vir twee van sy ou motgevrete mannetjies verruil, kan hy weer loop dink. Ek is nie onnooslik nie.”
“Ek het vir hom gesê Ma is nie onnooslik nie.”
“Benjamin!” Sy het sommer ’n hou met die nat doek na hom gepiets. “Van wanneer af praat jy met grootmense asof hulle jou maters is?”
“Die oubaas het nie gehoor nie, Ma, mens moet skree om hom te laat hoor.”
“Eet ordentlik, moenie jou mond so vol prop nie.”
“Dis die brood wat so lekker is, Ma.”
Toe Selling die kombuis inkom, het sy hom net een kyk gegee en geweet die noordwestewind is nie net in die aalwyne in nie.
“Skink jou pa se koffie, Kittie.”
“Gee eers vir my ’n slukkie van die bakbossietreksel, Fiela, die wêreld draai vanmôre met my.”
“Die wêreld kan nie vanmôre met jou draai nie, Selling. Rossinski kom anderweek en die karwatse en die