Fiela se kind. Dalene Matthee
kan dit nie. Ek het al die hande nodig, want ek gaan die wyfie by Skopper injaag.”
“Fiela?”
“Vandag.”
“Jy maak ’n fout, Fiela, wag nog ’n week of twee.”
“Nee. Ek het hulle lank genoeg uitmekaar gehou. Ek het hulle weke lank in die veld gehad, ek het lampolie in hulle ore gegooi sodat daar nie ’n bosluis moet wees om hulle te hinder nie, ek het Skopper uitgehonger – ek wag nie langer nie.”
Die dou het nog nat oor die werf gelê toe sy elkeen se tak uitdeel. Tollie wou nie hoor nie, hy wou help.
“Asseblief, Ma.”
“Nou goed, keer jy dan dat Skopper nie uitkom nie. Staan binne die opening en maak jou klein as ons haar injaag sodat sy jou nie sien nie.”
By die wyfie se kamp het sy Kittie en Emma aangesê om onder te keer; sy en Benjamin sou bokant keer en hulle sou met haar bo om die huis gaan en dan af tot by die ander kamp.
Selling het op die hoek van die huis kom staan en haar ’n laaste keer probeer omhaal om te wag. “Fiela, jy’s te haastig, die mannetjie se skene verkleur nog nie eers nie.”
“Dalk verkleur hulle as sy by hom in die kamp is, Selling.” Vir die kinders het sy geskree om reg te staan. “As sy weghol, laat haar hol. Ons kan haar altyd weer aankeer, maar moenie haar verwilder nie.” Sy is alleen in die kamp in om die wyfie uit te keer. “Jy los nou jou beneuktigheid,” het sy paaiend met haar gepraat en die witdoringtak tussen haar en die volstruis gehou. “Dis die mooiste mannetjie in die Kloof en hy sal hom nie ophou met ’n beduiwelde wyfie nie.” In haar hart het sy gesê: Here, as ek vandag ’n fout maak, kyk tog net dat hulle mekaar nie tot niet baklei nie. Dit raak veretyd; as hulle die pluime verniel, kry ek niks daarvoor nie. Vir die wyfie het sy vermakerig bygevoeg: “As hy jou nie aanstaan nie, loop kry ek vir hom ’n ander een.” Toe het sy haar suutjies al nader na die opening toe gekeer en haar met die tweede probeerslag netjies uitgejaag en die kinders beduie om nader te kom en te kom help.
“Fiela!” Dit was Selling wat van die huis se kant af roep, maar Selling moes wag; die wyfie het langnek getrippel soos ’n perd wat lus het om te hol.
“Stadig!” het sy die kinders teëgehou. “Laat sak die takke effens en keer aan die kante.”
“Fiela!”
Die verbrande wyfie wou haar nie om die huis laat jaag nie en hulle moes teen die skuinste met haar uit en bo om die varkhok met haar gaan draai.
Sy weet goed dis nie vanmôre veld toe se jaag nie, het Fiela gedink. Die wyfie se kop het die hele tyd heen en weer op die lang nek gedraai asof die groot swart oë oral en alles wou sien. Nes ’n hoender wat uitgekeer word vir die slag en wantrouig begin raak.
“Pollie!” het Benjamin vir die wyfie geskree, “as jy met Skopper trou, bak Ma vir julle ’n geelkoek!”
“Lig jou tak, Benjamin, as die wyfie vandag omspring, gaan sy skop om raak te skop! Sy’t lus vir neuk.”
Toe hulle bo om die varkhok met haar draai en begin afkom na Skopper se kamp toe, het die perdekar onderkant die huis opgekom. Die skrik het Fiela se verstand uit haar kop uit geruk, maar haar lyf het bly draf en keer. Here, dit kan nie waar wees nie, nie na al die weke nie!
Hulle was amper by Skopper se kamp toe die wyfie skielik wegswenk en weer met hulle bo om die varkhok gaan draai. Met die tweede afkom het Kittie rats langs haar ingespring en haar ingekeer gekry.
Dit was dieselfde twee mans. Die lange en die dikke.
Haar kop het skielik op twee plekke gelyk begin dink.
“Kom uit daar uit die kamp, Tollie. Pak toe die opening!”
Die wyfie het al langs die binnekant van die heining af begin hol; onder het sy gedraai dat die klippers spat en weer tot bo gehol. Af. Op. Sy was vasgekeer en het uitkomplek gesoek.
Die twee mans het die perde vasgemaak en na Selling toe aangestap. Benjamin het ’n entjie van haar af gestaan met sy doringtak voor hom uitgehou, en sy het geweet hy weet dis die dag wat sy gesê het vir hulle mag aanbreek.
Die wyfie het al vinniger gehol, op en af teen die heining. Skopper het in die middel van die kamp gestaan asof hy nie kon besluit of hy self ook aan die hol moes gaan en of hy haar daar uit moes baklei nie.
Fiela het skielik nie omgegee wat hy doen nie. Sy wou vir Benjamin skree om die koppe in te hol en weg te kruip, maar haar mond wou nie oop nie en haar hart wou nie bedaar nie.
Benjamin het haar eendag in die aalweekoppe na die dinge gevra. Hulle was aan’t aalwee tap en hy moes help blare sny en in die rondte opmekaar pak: snykante ondertoe sodat die taai, bitter geel sap oor die stuk plaat kon drup.
“Ma?”
“Pak nog ’n laag, Benjamin.”
“Ma, Ma sê altyd ek is Ma se hanskind.”
“Ja – moenie dat die dorings jou so skraap nie, kind. Vat die blaar soos jy ’n pofadder sal vat, bly weg van die sye af waar die dorings sit.” Sy het geweet waarheen hy wou praat en probeer uitstel soek. “Ons moet opskud. Emma en Kittie het al twee hope wat tap. Môre sal ons weer ’n slag kan uitkook.”
Benjamin het van die tap gehou, maar as hulle die dag die bymekaargemaakte sap in die drom op die buitevuur moes uitkook tot dit dik en swart en glaserig is, het hy altyd ’n plan gemaak om weg te kom.
“Alles proe bitter, Ma, tot die lug ook! Die rook maak ’n mens se klere en ’n mens se lyf en alles bitter. Ek sal vir Ma iets anders doen.”
Sy het hom maar altyd laat wegkom, by die tap was hy darem so fluks.
Maar sy kon nie van sy vrae af wegkom daardie dag nie.
“Hoekom was Ma so bang toe hulle die dag die mense kom tel het?”
“Ek was g’n bang nie.”
“Ma was bang. Ek het gesien.”
“As ’n mens met ’n adder te doen het, is dit nie te sê jy’s bang as jy jou klippe vir hom regkry nie.”
Hulle het saam die kwylende blare om en om op die hoop gepak. Na ’n ruk het sy gedink hy het die ding gelos, maar toe begin hy weer torring.
“Hoekom is ’n mens wit of bruin, Ma?”
“Vra jy my nou na die Here se geheim? Hoekom is ’n spreeu swart en ’n vink geel?”
“Hoekom is ek wit en Ma-hulle bruin?”
“Omdat jy ’n hanskind is. Pak vorentoe daardie blaar, hy drup mis.”
“Hoekom het Ma die dag gesê hulle sal Ma eers moet keel-af sny voor hulle my kan vat? Wou hulle my vat?”
“Dit was wind se praat. Waar kan jy ’n ander mens se kind sommer kom staan vat?”
Sy het van haar hurke af opgestaan, maar Benjamin het bly sit.
“Ma?”
Daar was onrus in die kind. Sy het weggekyk na die verte toe, tot onder waar die vaalblou bergspitse die Kloof sluit, en sy het geweet die kind gaan ’n ding vra waaroor sy nie vir hom sou kon lieg nie.
“Ja, Benjamin?”
“Gaan hulle my kom vat, Ma?”
Die kind het ’n manier gehad om na jou te kyk asof hy uit sy hart in jóúne in kyk. “Ma sal jou nie laat vat nie, Benjamin. Maar êrens wag daar vir ons ’n dag waarop net die Here ons sal kan help.”
“Gaan hulle terugkom?”
“Ek weet nie. As hulle nie kom nie, sal ’n ander adder op ’n ander dag kom. Ons sal maar moet wag en sien. Maar Ma sal jou nie laat vat nie.”
“Hoekom tap die aalwee nie as die noordwestewind waai nie, Ma?”
“Dis die aalwee se