Fiela se kind. Dalene Matthee

Fiela se kind - Dalene Matthee


Скачать книгу
flennie vir die afdroog. Toe die kind uitgetrek staan, het die nood haar van nog ’n kant af kom druk: Was hy nie te maer nie? Was hy nie te bleek nie? Wat van die skrape aan sy arms en sy bene? Aalweetyd was almal vol skrape, dis net dat die kind se witte vel die skrape so wys.

      “Ma …”

      “Klim in, Benjamin!”

      “Ma, die water is te warm.”

      “Hy’s nie te warm nie, ek het hom gevoel.”

      “Ek het vir Ma gesê ek sal by die sloot gaan was. Ek is nie ’n baby nie.”

      “Jy kan nie met die sloot se was voor die magistraat loop staan nie. Sit!”

      “Ma, ek is bang.”

      “Jaag weg die bang. En onthou om nie vir die magistraat baas te sê nie. Jy sê vir hom: my heer.”

      “Is hy die Here?”

      “Moenie jou aspris onnooslik hou nie, Benjamin! Hy’s die magistraat, die grootman van die wet. Die een wat voor hom loop staan en lieg, sit sommer met sy gat binne-in die tronk.”

      “Ma moet saamgaan.”

      “Daar’s nie plek op die kar nie.”

      “Eina! Ma was my ore van my kop af.”

      “Sit stil! Sê vir Ma, hoe het Ma gesê moet jy sê as die magistraat jou vra wat jou naam is?”

      “Benjamin Komoetie.”

      “Wie’s jou ma?”

      “Fiela Komoetie.”

      “Wie’s jou pa?”

      “Selling Komoetie.”

      “Waar woon jy?”

      “Wolwekraal in die Lange Kloof. Ons eie grond.”

      “Hoe’t jy Ma se kind gekom?”

      “Hoe’t Ma nou weer gesê moet ek sê?”

      “Die Here het jou aan Ma toebetrou.”

      “Die Here het my aan Ma toebetrou.”

      “Weer.”

      “Die Here het my aan Ma toebetrou.”

      “As hy jou laat skryf, dan skryf jy op jou mooiste. As hy jou laat lees, dan lees jy op jou mooiste, soos jy altyd vir Ma die Bybel lees. Oor die somme is Ma nie bekommerd nie.”

      “Ek ken nie meer die nege-maal-tafel nie, Ma.”

      “Hy sal dit nie vra nie.”

      “Wie sê vir Ma?”

      “Hy sal nie tafels vra nie.”

      “Ek is bang, Ma.”

      “Jaag weg die bang.” Here, het sy in haar hart gesê, vat weg my eie bang.

      “Ma, sê nou hulle bring my nie weer terug nie?”

      “Die magistraat sal kyk dat hulle jou terugbring. Saterdag, soos hulle gesê het. Die magistraat se woord is wet. Gee aan jou voet.”

      Selling het op die kooi kom sit en in die kers in vasgekyk asof sy kop ver van sy lyf af was.

      “Ma …”

      “Hou stil jou voet, Benjamin! Ma het jou goed in die klein trommel gepak; jou slaaphemp onder, dan jou ander goed en bo-op jou beste broek en jou nuwe hemp. Die hemp trek jy Vrydag aan, en jy trek dit weer uit as jy klaar voor die magistraat was en sit dit netjies terug in die trommel. Moenie hom opfrommel nie.”

      “Nee, Ma.”

      “En Dawid leen vir jou sy beste baadjie. Maar jy trek nie Vrydag die baadjie aan nie, jy trek jou ou hemp onder die nuwe een aan, en as dit koud is, trek jy jou flenniehemp ook onder aan.”

      “Ja, Ma.”

      “Die vyf sjielings wat Ma in die lap knoop, los jy net so in die trommel. Dis vir ingeval.”

      “Watse ingeval?”

      “Vir ingeval die magistraat vra of jy geld het. Sodat hy kan sien die Komoeties is nie kaalgat nie.”

      “En as Ma die geld nodig kry?”

      “Ma sal dit nie na Saterdag toe nodig kry nie. Maar jy loop gee nie die geld uit nie, jy bring dit net so weer terug. Jou kos sal hou.”

      “Sê nou ek verloor die geld?”

      “Dan foeter ek jou.”

      “Sê nou hulle vat dit?”

      “Dan maak jy maar liewers nie moeilikheid nie.”

      Langsaan in die ander kamer het sy Kittie hoor snuif. Sy het geweet die ander kinders luister na elke woord wat daar gepraat word. Selling se hande het om en om inmekaar bly woel.

      “Fiela …”

      “Ja, Selling?”

      “Ek wonder of dit nie beter sal wees as hy liewerster vir die magistraat ‘weledele heer’ sê nie?”

      Weledele heer. Dit het mooi geklink.

      “Was Pa al voor die magistraat?” het Benjamin gevra. Sy het Selling sien skrik en self ook geskrik. “Tollie sê Pa was in die tronk.”

      Sy dog haar hart gaan staan. “As jy voor die magistraat loop sê jou pa was in die tronk, kom daar moeilikheid!”

      “Ek het mos nie gesê ek sal sê nie, Ma.”

      “Jissus!”

      “Ek sal nie sê nie, Ma.”

      Sy het voordag opgestaan, die vuur opgemaak, koffiewater oorgehang, brood gesmeer, seker gemaak dat die kind se goed reg is. Haar kop was lig, sy het nie geslaap nie. Sy het vir die Here gesê as Hy kyk dat haar kind veilig terugkom, vat sy Augustusmaand die helfte van Skopper se pluksel en loop gee dit net so vir die kerk op die dorp. As die volstruise broei, vat sy die drie sterkste kuikens en verkoop hulle en loop gee dié geld ook. Die Here ken haar, Hy sal weet sy sal nie in benoudheid lieg nie.

      Die ander het opgestaan en kombuis toe gekom en hulle het min gepraat. Benjamin het sy koffie gedrink en sy brood geëet en sy oë was bang en vol trane. Toe Selling begin huil, het sy buite gaan staan tot die lig van die perdekar se lantern onder in die Kloof uitslaan. Toe het sy binne gaan wag.

      Die lange het nie gegroet nie, hy was stuurs. Tollie en Dawid moes Benjamin op die kar tel, want hy wou nie self opklim nie.

      7

      Waar die nou kronkelpad oor die nek van Avontuur se berg loop, het hulle die perde vir die eerste keer laat rus. Die dikke het afgeklim om die lantern dood te blaas.

      “Wil jy nie ook ’n bietjie afklim nie, boet?”

      Hy het die trommel langs hom op die agterste sitplek neergesit en versigtig oor die voorste bankie getrap en afgeklim.

      Dit was bibberkoud.

      Ver agter hulle, noord, het die Kloof se koppe swartblou in die vroeë oggend gelê, en waar die son wou uitkom, het die lug rooi geword.

      Soms, op ’n Sondag, as dit ’n baie helder dag is, het hulle napad teen die koppe langs tot op Avontuur se berg gekom om na die see in die verte te kom kyk. As dit effens dynserig is, kan jy nie die see sien nie. As dit baie stil is en die luggie stoot van die oostekant af, kan jy die see hoor. Tollie het altyd gesê dis die wind deur die besembosse wat hulle hoor, maar sy ma het gesê dit is die see. Alhoewel die eintlike see, waar die skepe deur ’n groot gat in die koppe in die Knysnarivier op kom, suid lê. Dit is swaar om te glo. Suid is daar net berge. Wes ook.

      “Waar begin die Bos dan?” wou Dawid altyd weet.

      “Anderkant die berge.”

      Hulle het weer begin ry. Solank die twee mans nie met hom praat nie, het dit


Скачать книгу