Fiela se kind. Dalene Matthee
Die wyfie het nog steeds gehol en Skopper het nog steeds in die middel van die kamp rondgetrippel. Dawid en Tollie en die twee meisiekinders was besig om die opening toe te pak, maar hulle oë het bly huis toe draai.
“Fiela, kom hier!”
Sy het haar tak teen die heining gesmyt en met elke tree wat sy gee, gevoel soos een wat aan die leeg bloei is.
“Môre!” Die lange het mildelik gegroet. “Ek sien julle is nog altyd doenig met die volstruise. Gaan julle laat broei?” Sy het hom nie antwoord gegee nie. “Ek hoor vere se pryse gaan sak.”
Dit was ’n lieg, maar sy het hom dit nie gesê nie. Hy kon staan en praatjies maak tot hy van sy eie praatjies moeg is. Sy sou hom ook nie vra wat hulle kom soek het nie.
Die dikke het skuldigweg nader gestaan. “Ek sien julle het darem ’n bietjie reën gehad … Ons het laas nag agter in De Vlugt geslaap, by die Standers. Ons is gisteroggend ’n bietjie laat weg op Knysna.”
Die wyfie se pote het egalig grond geraak en ’n hoender het bo by die varkhok aan die kekkel gegaan.
“Mister Goldsbury, die nuwe magistraat op Knysna, het ons gestuur,” het die lange gesê, maar hy het haar nie in die gesig gekyk nie. “Hy wil die kind sien.”
Sy het nie haar stem verhef nie. “Ek het daar niks op teë nie, hy kan kom kyk.”
“Hy wil die kind op Knysna sien.”
“Hy kan hom hier kom sien.”
Die lange het hom opgeruk. “Luister, atta, ek is moeg en jy moenie vandag moeilik raak nie. Ons het ver gekom. Die magistraat is nie ’n man met wie ’n mens sukkel nie. Hy wil die kind op Knysna hê en dis klaar.”
“Oormôre,” het die dikke bygevoeg. “Vrydag. Mister Goldsbury wil net die saak van die kind wat die slag in die Bos weggeraak het, opklaar. Dis al. Die ding sluit. Die ma van die kind sal ook Vrydag in die hof op Knysna wees. Sy moet kom kyk of dit haar kind is.”
“Dis nie haar kind nie.”
“Dan moet ons soveel te meer sorg dat sy en mister Goldsbury dit self ook vasstel,” het die lange gesê. “Laat die saak dan afgehandel kom.”
Hulle was haar aan die vaskeer. Sy het dit geweet. “Hoekom kom kyk die bosvrou dan nie hier as sy wil kyk nie?”
“Dis groot sake hierdie, atta, dis dinge wat voor ’n magistraat gesê en gedoen moet word. As sy hiernatoe kom, kan julle praat soos julle wil, maar voor die magistraat staan jy onder eed en moet jy reg praat. Daarby is die bosmense baie sku. Die boswagter sê juis hy weet nie hoe hulle Vrydag die vrou op die dorp gaan kry nie, wat nog te sê van in die hof.”
Hulle het jou klaar omgejaag, Fiela Komoetie, het sy vir haarself gesê, hulle pak nog net die opening toe. Sy het Selling se swakte deur haar lyf voel trek. Spartel en skree sou haar nie help nie, al wat oorgebly het, was om nie voor hulle te loop lê nie.
“Ek sal hom self Knysna toe vat.”
“Waarvan praat jy nou, atta?” Die lange se ongeduld het lelik begin deurslaan. “Die magistraat wil hom Vrydag in die hof sien, dis oormôre! Nie anderweek nie. Dit sal jou minstens twee dae te voet neem om daar te kom, en met die kind by jou nog langer! Dis te ver om met hom te loop.”
“Nou verstaan ek baas nie. Volgens baas het hy, toe hy maar drie jaar oud was, alleen oor die berge gekom tot hier, en nou dink baas dis ver vir hom om te loop?”
“Ek het nie gesê dit is die kind nie, ek het gesê die magistraat wil die kind sien om die saak op te klaar.”
“Ek sê vir baas julle mors julle tyd, dis nie daardie kind nie.”
“As jy dan so seker daarvan is, steek jy nie dalk vir ons iets weg nie?” het die lange agterdogtig gevra.
“Ek het niks om weg te steek nie, ek sê net vir baas-hulle dis nie daardie kind nie. Hy’t nie van die Bos af gekom tot hier nie. Iemand het hom hier kom neersit toe dit nag was sodat niemand moes sien nie. Maar ek is gewillig om die kind Maandag op Knysna vir die magistraat en vir die bosvrou te loop wys sodat hierdie ding kan end kry.”
Toe het die dikke se geduld ook begin lol. “Jy kan nie die magistraat voorsê nie. As hy gesê het Vrydag, is dit Vrydag of hy skryf vir jou aan die verkeerde kant van die wet in en jy staan Maandag vir minagting in die hof!”
“Dan ry ek saam met julle met die kar.”
“Daar’s nie plek op die kar nie,” het die lange gekeer. “Jy weet self hoe ellendig die pad hier agter oor die berg is. Die poskar had verlede maand nog weer ’n ongeluk, op dieselfde plek waar mister MacPherson met die poskar verongeluk het.”
“Nou wil julle mý kind loop staan en verongeluk?”
“Maar dis dan hoekom ons sê ons kan jou nie ook oplaai nie; ons wil nie die kar te swaar hê nie.” Die lange was ergerlik. “Môre vroeg kom laai ons die kind op, môreaand slaap hy by my in my huis op Knysna, Vrydagoggend neem ek hom vir mister Goldsbury hof toe en die bosvrou kom kyk of dit haar kind is.”
“Dis nie haar kind nie!”
“As dit nie haar kind is nie, bring ons hom Saterdag terug.”
Sy het geweet hoe die kloekhen voel as die valk in die lug kom hang en daar is geen skuilte vir haar om heen te vlug nie. Al wat vir háár oorgebly het, was om te pleit.
“Here, baas, ek het die kind belowe dat ek hom nie sal laat vat nie. Hy’s so vas aan my, baas. Hy’s maar nog net ’n kind en hy’t min wil. Ons is sy wil en God kyk op ons af en Hy skryf iedere traan op wat ’n kind deur onse wil stort. Het baas dan nie ’n hart nie? Al wat ek vra, is dat baas my saam met die kind vat. Ons sal terugloop.”
“Ons kan nie,” het die dikke gesê. “Maar ons sal mooi na hom kyk, jy hoef nie bang te wees nie.”
Sy wás bang. Hulle het met ’n ding gekom waarteen sy nie langer kon baklei nie. Hulle had die wet aan hulle kant en die wet is baas. As die magistraat net die kind vir die bosvrou wou wys, was daar niks te vrees nie, maar daar was so baie ander redes wat hulle in hulle koppe kon wegsteek en waarvan sy nie kon weet nie. Dít was die vrees wat haar in wanhoop laat staan het en die woede in haar laat kom het.
“As baas-hulle nie loop sê het van die kind nie, as julle julle bekke gehou het, het hierdie ding nie nou oor ons gelê nie!”
“Jy kon tog nie die kind vir ewig weggesteek het nie!” het die lange haar uitgedaag.
“Ek het hom nie weggesteek nie!” het sy gestry.
“Die mense sê die kind kom nie in die kerk nie, hy verheiden.”
Sy het van voor af geskrik. “Met ander woorde, julle het by andere oor die kind loop praat? My agter my rug loop verskinder?”
“Hulle sê die kind is nie saam met jou ander kinders skool toe nie.”
“Ek leer hom van die Here. Tollie en Dawid het hom geleer soos hulle in die skool geleer het. Iedere middag. Miss Baby Stewart, onder op die kruis langs die winkel, het hom twee middae in die week somme geleer omdat Tollie en Dawid self nie die somme altyd verstaan het nie. Benjamin kon húlle later van somme leer. Nee, baas, ek het hom nie weggesteek nie, ek het hom net uitgespaar waar ek kon omdat hy wit is. Ek het hom maar net weggehou van adders soos julle!”
“Fiela!” Selling het haar geken as sy duiwel vat. “Die baas sê mos hulle sal hom Saterdag terugbring.”
“Hoe weet ek hulle staan nie en lieg nie?” het sy vir Selling geskree.
“Baas, lieg baas-hulle?” het Selling bedremmeld en reguit vir die lange gevra.
“Ons lieg nie, maar as die magistraat van jou vrou se houding moet verneem, gaan dinge sleg lyk vir julle. Die magistraat wil net die kind vir die bosvrou wys, maar nou moet ek my van ’n bruinvel laat staan en beledig. Ek het nou genoeg gehad. Môre voordag kom