Kringe in 'n bos. Dalene Matthee
die geelvet so tussenin gesit en toe oor die vuur gebraai. Martjie het sulke plat skywe van die boude uitgesny en twee dae lank gekook – so sag soos murg, sê ek jou. Die derde dag moes hulle begin begrawe, die weer was te warm.”
“En die tande?” vra hy en steek sy walging weg.
“Freek Treblans het hulle uit die kaste laat kap en toe het hy hulle laat wegsleep. Ek sal jou nie kan sê waarnatoe nie.”
Die melk steek op sy tong en hy dwing hom om verby die vullis te kyk; daar lê ’n strawwe dag voor, om ’n olifant in te haal moet jy krag in jou lyf hê. Die askoek is egter onverbeterlik; Sanna had altyd ’n hand daarvoor.
“Is jy gelukkig, Sanna?” vra hy op ’n ingewing om meer te wil weet van wat onder haar swart kopdoek aangaan.
“Hoe dan anders?”
“Hoe kry jy jou dae om? Jy is tog seker nie heeldag by die tuin nie?”
“Ek sit!” sê sy weer verontwaardig.
“Waaraan dink jy die hele dag?”
“Sommer. Voorjare en alles.”
“Was jy ooit op die dorp?”
“Mos die slag toe ons moes vlug.”
Hy weet waarna sy verwys, maar hy hou hom dom. “Wanneer was dit?”
“Met die groot vuur.”
“Hoe goed kan jý die vuur onthou, Sanna?” por hy haar aan.
“Hoe sal ek dit nie onthou nie? Ek was dan al ’n groot vrou sonder tande! Ek had by Platbos huisgemaak saam met ander mense. ’n Niggie van Anneries. Onthou jy vir Stoffel Blik wat die slag getrap is? Nou dit was van hom ook ’n niggie. Lekker gebly by hulle, maar toe sit hulle my uit.”
“Vertel my van die vuur, Sanna,” por hy. Hy moet loop, maar ’n vreemde nuuskierigheid torring aan hom.
“Soos oordeelsdag,” slaan sy haar hande saam. “Toe ons die oggend wakker word, toe’s daar ’n warmte in die Bos wat ons nie ken nie, en toe ons uitkyk, is dit blou van die rook. Nie lank nie, toe kom die mans uit die Bos en hulle sê die wêreld brand en dit brand en dit brand na ons kant toe. Ons had nie veel huisgoed nie, maar ons vat als. Ons bind bondels aanmekaar en ons begin aanloop. By Keur-se-Rug voel dit die vuur is om ons bene. Jy sien nie vlamme nie, jy hoor hulle net en die lug is so warm lat dit voel jou longe skroei! Toe kom die wind. Booswarm, sê ek jou. Booswarm. En die Bos was droog daardie jaar. Later moet ons die huisgoed stuk vir stuk laat lê om vinniger voor te bly. Ek dog ek gaat af. En als wat leef, vlug. Bosbokke en grysbokke en galkoppies en bosvarke, soos mal goed by ons verby. Toe ons by die Homtini kom, had die vuur Witelskloof deurgekom en ons voorgespring. Lat ek daardie dag ’n kalander sien val lat die water om hom kook. Ons moes hoër op om boontoe te kon deur en die kinders skree. Jy kan nie almal dra nie, party moet jy maar aan die arms saamsleep. Kan nie anders nie, jy sien wat kom van bly lê – bráái. Uitgegroeide manne het daardie dag saam met die vroumense gehuil. En by die boonste Eiland kry ons mense wat van Kaagiesbos se kant af vlug. Hulle sê ons toe lat die vuur bergkant verbytrek en met ’n ander strook seekant toe. Ons hou toe Grootbos se kant toe. Kom ons by water, gooi ons die kinders en onsselwers nat en dan vlug ons maar weer. By Portland had die vuur in een van die Knysna se klowe opgehardloop en als wat ou mister Barrington had, afgebrand. Van sy perde en varke en hoenders is by ons verby. En toe dit donker word, word dit nie donker nie, dit word rooi. Die vlamme klap soos voorslagte in die klowe en die kinders kan nie meer nie en ons kan nie meer nie en arme Berta Krisjan se oorle skoonmoeder sak anderkant die diepkloof inmekaar en net daar het die engels haar kom vat.” Sanna bly skielik stil en staar voor haar vas soos een wat baie dinge sien.
“En toe, Sanna?”
“Die volgende dag het ons mense gekry wat van Maraisbos af vlug en hulle sê ons toe dit brand nie op die dorp nie, lat ons by Gouna sal kan deurkom tot onder. So kom ons toe die aand op die dorp en almal is uit hulle huise uit en op die straat om te kyk hoelat die wêreld verbrand. Toe gee hulle vir ons plek in die tronk en oral waar baie mense kan in. Nou net nie in hulle huise nie. En die mense is goed vir ons, hulle het kos en komberse vir ons gebring en ons het twee dae so gesit, toe vat ek my komberse en van die ander goed en toe loop ek saam met jou ouma Diepwalle toe, want die ander had toe klaar gesê ek moet uitskuif.”
Dit voel vir Saul of hy skielik swaar sluk aan die kos en hy stuur in ’n ander rigting. Opsetlik. Hy wil háár uitleg hoor.
“Sanna, ek verstaan hier het baie diere in die Bos verbrand met daardie vuur.”
“Gaar en verkool.”
“En die grootvoete?” vra hy wat hy eintlik wou vra.
“Hulle brand mos nie. Van alles het verbrand, maar nie van hulle nie. Hulle weet mos dinge.”
“Hoe bedoel jy?”
“Hulle het geweet waar dit sal brand en nie sal brand nie. In watter klowe jy kon skuil en uit watter jy moet uitbly. Hulle weet mos dinge. Oorle Wiljam se hele span het agter die grootvoete aan gevlug en hulle sê toe hulle nog dink hulle is vas, toe’s hulle oop … Maar jy moet mos weet van die vuur, Saul? Het julle dan nie by Gouna geskuil nie?”
“Ja. Ek was nege. Pa het ons met rieme aanmekaar vasgebind en in die water laat lê.”
Sy breek nog ’n askoek voor hom op die tafel oop en waai die vlieë weg. “Ja, dit was ’n groot vuur.”
“Gee jy om as ek hierdie askoek saamneem vir later?”
“Ek gee jou nog een.”
“As ek geweet het jy woon nog hier en dat ek hierlangs sou kom, het ek vir jou iets gebring, Sanna.”
“Bring vir my ’n stukkie bontgoed vir ’n rok en ’n trekseltjie koffie as jy dalk weer kom.”
Hy staan op en haal twee goue muntstukke uit sy sak en sit dit op die tafel neer. “Ek glo nie ek sal weer hierlangs kom nie, Sanna. Vra iemand om dit vir jou op die dorp te gaan koop.”
Sy is soos ’n dier toe sy die geld van die tafel af gryp en tot by haar oë bring om te probeer uitmaak wat dit is. “Hoeveel is dit?” vra sy en kyk verskrik op.
“Genoeg vir bontgoed en koffie en skoene en ’n paar ander goed wat jy nodig mag hê.”
“God sal jou seën, Saul Barnard!” En die ongeloof staan soos angs in haar oë.
Op die onderpunt van Groot Eiland, waar sy ma en Sara en sy pa begrawe lê, gaan staan hy ’n oomblik stil. Oor sy pa bult die aarde nog effens en hy kan die plek uitken; oor sy ma en Sara het die onderbos oorgeneem. Waar hulle naasteby moet lê, is die onderbos uitgekap en daar lê die vars graf van Jozef se kind. ’n Handvol varklelies hang verlep in ’n verroeste blik.
Kort voor halfdag is hy terug op Oupoot se spoor en sukkel hy met ’n skuldgevoel wat al dieper in hom invreet. ’n Skuldgevoel teenoor al die Sannas van die Bos, al die Jozefs, die Anneriese en die Maskas. Skuldgevoel waaroor?! skree dit hom later tot besinning. Hulle het hom as verraaier in hierdie bos besweer, soos hulle Oupoot as moordenaar besweer het! Saul Barnard skuld niemand nie en niemand skuld hom nie!
Waarom het hy dan teruggekom Bos toe? Veronderstel die skip was aan anker lig toe Maska kom sê het van Jozef se kind en dat Freek vir Oupoot kom skiet, sou hy dan nog steeds omgedraai het? Dis ’n onredelike vraag, skerm hy vir homself en ruk terselfdertyd sy baadjie uit ’n doringbos los. Op plekke is die onderbos oopgekneus waar Oupoot deur is; halfgevrete takke en blare hang in die ruigtes en verraai die pad waar hy vooruit is. Dis duidelik dat hy tydsaam geloop en vreet het …
’n Uur later loop die spoor in ’n sleeppad in en ’n entjie verder kry hy die bol mis: gesond en nog nie heeltemal koud nie. Oupoot is dus nog lank nie op die laaste tand in sy bek nie, vir hom het die stadige hongerdood van die ouderdom nog nie begin nie … En hy kan nie te ver voor wees nie …
Veronderstel die Pictor was aan anker lig? kom koggel die vraag weer by hom. Sou hy sy rug op Maska gedraai het? Op Oupoot?