Kringe in 'n bos. Dalene Matthee

Kringe in 'n bos - Dalene Matthee


Скачать книгу

      “As ’n grootvoet jou jaag, pluk jou baadjie of jou hemp uit en smyt dit neer,” het sy pa hulle geleer. “Hy sal dink dis jy en dit eerste vertrap. Solank hy sy mistake uitvind, hardloop jy of jy klim!”

      Saul het die sak met die kos neergegooi en vinnig ’n wit-els gekies en geklim. Halfpad boontoe het die vrees hom sy arms om ’n dwarstak laat gooi en sy bene om ’n ander een laat vasknel. Toe hy afkyk, was daar twee olifante onder die boom: die grote wat hy eerste gesien het en ’n jonger een. Op die plek waar hy die sak neergegooi het, was hulle besig om die onderbos uitmekaar te trap en in sy angs het hy gebid dat hulle tog hul woede op die sak moes uittrap en van hom vergeet. Maar die jonger een het eerste die mensreuk teen die boom gekry en toe begin stamp om hom daar uit te kry. Die grote het ná ’n ruk kom help.

      Hulle sê as ’n vuur wit brand, is hy op sy warmste; as vrees wit in jou brand, is jy op jou bangste. Dit het hy daardie dag geleer … Solank die wit-els hou, moes hy hou, het hy hom voorgeneem. Hy wou nie doodraak nie, hy wou nie onder hul pote beland en saam met die kos in die aarde in verflenter word nie. Hulle het met die koppe hul woede teen die boom uitgehaal terwyl hul pote die klam bos-aarde tot ’n pappery vertrap het en sloef-sloef uit die modder gesuig het voor elke nuwe aanslag teen die ou wit-els se stam. En elke keer het hy gedink: Met die volgende stamp skud hulle my uit en dan’s ek dood! Elke keer dat hy sy oë oopgemaak het, het dit gelyk of die skurwe boggelskofte nader aan sy voete is.

      Hulle het hom daar probeer uitskud totdat die skemerte oor die bosvloer begin kruip het. Toe het hulle sommer net weggestap. Dikbos in en hy kon nie sien hoe ver nie. Hy het net die geswiep van die ruigte gehoor en toe was dit stil. Hy het gewag. Sy arms was styf en seer, sy bene bloedvel geskuur, en hy het nou eers agtergekom dat hy sy broek natgemaak het.

      Toe dit nag was, het hy sy lyf versigtig in ’n ander mik ingewerskaf sodat hy beter sou kon klou wanneer hulle terugkom.

      Hulle het nie weer gekom nie. Ligdag het sy pa gekom. Hy het teen die aand onrustig geword en voordag kom soek.

      Hulle moes die hout op patats en die vleis van ’n bloubokkie klaar maak. Sy ma het by Magrieta, oom Gert Oog se vrou, vir hulle ’n paar treksels koffie geleen.

      2

      Vandat hy kan onthou, is Oupoot die mees gevreesde olifant in die Bos. Geen houtkapper het sonder respek van hom gepraat of sy spoor gekry en nie onmiddellik gekyk watter kant die wind waai nie.

      Hy was veertien toe hy Oupoot vir die eerste keer gesien het. Baie dinge het met hom gebeur toe hy veertien geword het …

      Die godsiekte het twee maande voor sy verjaardag deur die Bos getrek: masels, kinkhoes en plek-plek waterpokke. Magdalena moes eerste gaan lê. Toe Sara inval, het hul ma ook siek geword. Masels. Hy en sy pa en Jozef en ou Anneries het ver van die huis af kalander vir dwarslêers gewerk en van niks geweet nie.

      Tant Martjie van oom Martiens Botha, wat ook by Groot Eiland huisgemaak het, het ou Maska gestuur om hulle te soek. As jy die Bos ken en weet in watter rigting om te soek, kan jy soek, so nie moet jy wegbly uit hom. Mens hoor ’n byl se kap diep Bos in en ou Maska het hulle die derde dag gekry. Oom Gert Oog-hulle het ’n paar myl huiskant van hulle gekap en hom gesê waar hulle is.

      Hulle het die vuur doodgegooi en dadelik huis toe begin stap. Ses ure se harde stap. Toe die sewester vir middernag sit, het hulle Groot Eiland se oopte binnegeloop.

      Die huis het na bossiegoed geruik, tant Martjie se gesig was dik en vreemd in die kerslig en sy het hom en Jozef by die kamerdeur voorgekeer.

      Houtkappers maak nie wonderlik huis nie; as die Bos om jou uitgekap raak, gaan maak jy huis in ’n ander oopte. Hulle huis had net twee vertrekke. Hy en Jozef het die katel in die voorvertrek gedeel. Sara en Magdalena en Izak het by sy ma-hulle in die kamer geslaap. Ou Anneries het vir hom ’n skerm buite teen die agterste muur gemaak.

      Toe sy pa uit die kamer kom, was sy oë vreemd. Soos blind.

      “Hoe’s dit dan met Ma?” wou Saul onrustig weet.

      “Nie goed nie.”

      “Waar’ s Izak en Magdalena?”

      “Oorkant by oom Wiljam-hulle se huis. Die siekte is nog nie daar nie. Magdalena is beter.”

      Tant Martjie het waterpatats en mielies op die tafel gesit, maar net Jozef het geëet.

      “Ek wil Ma sien,” het Saul vir tant Martjie gesê. Sy pa het met die kop beduie dat sy hom moes neem.

      Sy ma het nie haar oë oopgemaak nie. Toe hy sy hand op haar voorkop sit, was dit koud en nat en agter haar het Sara geroggel. Die huil het soos spelde in sy keel gesteek.

      “Hoekom lyk Ma só?” wou hy van tant Martjie weet.

      “Binnetoe geslaan. Die masels.”

      “En Sara?”

      “Selle.”

      “Sê sy moet hoes, tant Martjie! Hoor hoe roggel sy.”

      “Sy sal nie hoor nie.” Die ou vrou het haar hand oor haar oë gesit en begin huil.

      Hy het buite in die naglug verder gaan skrik … Sy ma sou tog nie doodraak nie? Sara ook nie? Sara was maar tien en so fluks; sy kon patats plant soos ’n seun, sy’t hul ma met alles gehelp. Magdalena was maar sewe en het die meeste van die tyd vir Ma met Izak gespeel. Sara was mooi en slim. Sy ma het haar ook leer lees en skryf en Sara kon die Bybelboeke se name aframmel sonder om te dink of weer van voor af te begin. Die twaalf apostels se name ook. En die Tien Gebooie. Kort tevore, toe die predikant deur die Bos gekom het, wou Sara nie saam met hom en sy pa en Jozef gaan wegkruip nie; sy het by Ma in die huis gebly en dit vir die predikant ook opgesê.

      Ma en Sara sou tog nie nou staan doodraak nie?

      Sy pa het agter hom by die huis uitgekom.

      “Saul?”

      “Hier is ek, Pa.”

      “Ons moet vuurhout inbring. Tant Martjie wil ’n groot vuur hê, die huis word koud.”

      Gelukkig was dit somer. Wintertyd en reëntyd het die koue en die klamte swaar uit die plankmure getrek.

      Hulle is saam hout toe. Rondom Groot Eiland het die Bos soos ’n dik, swart boggelmuur gelê; oorkant die diepsloot en teen die skuinste was lig in oom Freek Terblans se huis. Die godsiekte het daar ook ingetrek. By oom Stoffel Weyers-hulle ook.

      “Pa,” het hy beangs in die donker gesê, “Ma en Sara is baie siek.”

      “Moenie so sê nie!” het sy pa geskrik. “Jy roep dinge aan! Jou ma en Sara is nie wel nie, jy sê só.”

      “Ja, Pa. Hulle is nie wel nie.”

      “Nee. Hulle is nie wel nie.”

      “Oom Anneries het eendag van ’n dokter op die dorp gepraat. Ek en Jozef kan die osse gaan aanhaal en wa toe jaag, ons kan die wa tot by die boonste sleeppad bring en dan dra ons vir Ma en Sara tot by die wa. As ons voordag begin draf, kan ons hulle môre teen die aand op die wa hê.”

      “Nee, Saul, die dokter kan niks meer doen as tant Martjie nie. Dis die godsiekte, hy loop sy loop en hy kies sy eie kant.”

      Hulle het die vuur hoog aangepak. Na ’n ruk het hy by Jozef op die katel gaan lê en aan die slaap geraak. Die lig was grysvaal in die huis toe sy pa hulle kom wakker maak.

      “Die engels het julle ma kom haal,” het hy gesê en buitetoe geloop.

      Saul het nog vir Jozef gesê: “Dis nie waar nie, Ma slaap seker net, Pa het verkeerd gekyk!” Maar tant Martjie het in die middeldeur kom staan en gesê sy wil die katel vir Sara hê.

      ’n Uur later had die engels Sara ook weg.

      Saul het so bang geword dat hulle hóm ook sou kom vat dat hy sommer die Bos in gehardloop en gaan wegkruip het. Maar sy pa het hom daar kom uitroep. Hy en Jozef moes Diepwalle toe om sy ma se mense te gaan sê, en Diepwalle toe is ’n hele dag


Скачать книгу